Last update: April 2, 2012 02:31:14 PM E-mail Print

 

GOEDKOOP SKUILINGS VIR VEE

 

D de Jager

 


WANNEER 'n mens op 'n snikhete somersdag deur die Karoo reis, is dit opmerklik hoe skape kop-omlaag die klein skaduweetjies opsoek vir koelte of saambondel onder skadubome om verligting te vind teen die brandende sonstrale.

Hoewel die diere vir hulle eie gerief skuiling soek gedurende die warmste tye van die dag, is daar veel meer redes waarom skaduweevoorsiening van die uiterste belang is in die warm veeweidingstreke van Suid-Afrika. Let maar net op na die volgende stellings.

Reeds in 1940 is die invloed van klimaat op die weigewoontes van lammerooie op aangeplante weiding deur Bosman ondersoek. Deur gebruik te maak van direkte observasie en noukeurige aantekeninge, is vasgestel dat skape vir die grootste gedeelte van die dag wei, indien temperature gunstig is. Wanneer die temperatuur egter hoog is, is die diere onaktief, en word daar slegs gedurende die koeler tye, naamlik vroegoggend en laatnamiddag gewei. Die belangrikheid van hierdie waarneming blyk veral duidelik uit die volgende stelling.

Gedurende die somer van 1942-1943, het Bosman (1948) ondersoek ingestel na die invloed van skaduweevoorsiening op die groei van vetlammers. Hy het gevind dat lammers wat oor voldoende skaduwee beskik vinniger groei en gouer die gewenste slaggewig bereik as die groep sonder enige skaduweevoorsiening.

In sy artikel "Reduce the weathering in wool" - Karoo Agric Volume 1 No.2, wys dr. J.J. Venter daarop dat die verwering van wol in die Karoo en Vrystaat aansienlik hoër is as in ander weistreke, hoofsaaklik as gevolg van die hoër son-energie in hierdie dele.

Die voorsiening van skaduwee vir diere het dus ten doel, die bevordering van dieregesondheid en meer ekonomiese produksie. Dit behoort 'n algemene boerderypraktyk te wees, en moet veral hoe prioriteit geniet in die dorre westelike dele van die Karoo. Vanselfsprekend geld dit vir die wol- sowel as die vleisprodusent.

 

NATUURLIKE SKUILINGS

Bome is een van die natuurlike vorms van skaduweevoorsiening. Afgesien van die lang tydsduur vir 'n boom om groot te word, en voldoende skaduwee te voorsien, vereis dit veral in sy jong groeistadium gereelde aandag en versorging. Temperatuurskommelings, droogtes, peste en plae is ook verantwoordelik vir vrektes van bome in die veld.

 

 

Die klein getal bome by suipings, en in die kampe van veeplase is 'n aanduiding van hoe onsuksesvol boere tot dusver was met die aanplant en grootmaak van bome. Dit wil dus voorkom of ons grootliks moet konsentreer op die oprigting van kunsmatige skuilings as 'n vorm van skaduweevoorsiening.

 

PLASING VAN SKUILINGS

Skuilings moet sover moontlik naby bestaande suipings en hanteringskrale geplaas word omdat dit normaalweg die plekke is waar die grootste konsentrasie van vee plaasvind. So 'n versamelpunt vergemaklik roetine-inspeksies  geweldig.

Skuilings moet verkieslik op stabiele, gruiserige grond opgerig word wat maklik dreineer, en nie gou verpoeier nie. Waar omstandighede dit vereis, kan 'n dik laag gruis onder die skuiling gegooi word om stof- of moddertoestande te verhoed.

 

 

Die rigting van die lang-as van skuilings moet loodreg met die heersende windrigting wees. Dit het die voordeel dat los mis maklik onder die skuiling wegwaai.

Die korrekte plasing van skuilings kan dus 'n rol speel in die voorkoming van wolbesoedeling. Dit werk ook die maklike bereikbaarheid van vee in die hand, en vergemaklik dus veebestuur.

 

KONSTRUKSIE VAN SKUILINGS

Goedkoop, ligte en redelik duursame konstruksiemateriaal moet gebruik word om skuilings op te rig. Die uitgangspunt moet wees om sover moontlik ou bou- en dekmateriaal te gebruik, wat maklik plaaslik bekombaar is.

'n Standaardskuiling bestaan uit 'n raamwerk van houtpale wat met staaldraad verbind is. Die bedekking kan bestaan uit sink, oopgekapte teerdromme, skaalplanke, fluitjiesriet of biesies. Die stutpale kan van plaaslik gekapte bome wees, maar dit moet verkieslik behandelde pale wees met 'n dikte van 75mm-100mm. Goeie tweedehandse staaldraad kan as verbindingsdrade gebruik word.

 

 

Die hoeveelheid en tipe bedekking bepaal die afstand tussen die oorhoofse drade (L 1). Die afstand sal wissel van 0,225 meter vir skaalplanke en sink tot 0,45 meter vir riet en biesies. Die afstand tussen die stutte (L 2) moet verkieslik nie 3 meter oorskry nie, aangesien dit te veel spanning in die drade meebring wat kan lei tot swigting. Die afstand tussen die stutpale (L 3) is gelyk aan drie-vyfdes van die volle wydte van die skuiling. Die volle wydte van die skuiling moet nie 4 meter oorskry nie.

Die lewensduur van 'n onbehandelde rietbedekking is ongeveer 8 jaar. Indien die riete met 'n middel wat vir grasdakhuise gebruik word, of met 'n olie-teermengsel behandel word, kan dit die lewensduur aansienlik verleng.

Stutte by die punte van die skuiling moet baie deeglik geanker word (kyk Fig. 1).

 

 

KOSTEBERAMING

'n Skuiling van 30 meter x 3 meter (90m2) kan aan ongeveer 300 stuks kleinvee skuiling verskaf. Die koste verbonde aan so 'n standaardskuiling wat met riete gedek is, is ongeveer R1,30 per vierkante meter. Die verwagte lewensduur van so 'n skuiling is ongeveer 8 jaar, wat die koste per kleinvee-eenheid op 5 sent per jaar te staan bring.

Teen so 'n geringe koste kan skuilings beslis beskou word as 'n belegging, indien 'n mens al die voordele daaraan verbonde in berekening bring.

 

SLOT

Na daar sowat 40 jaar gelede al bevind is dat warm toestande, soos dit in die Karoo aangetref word, nadele vir die veebedryf inhou, is dit onrusbarend dat daar steeds weinig aandag hieraan gegee word. Die oprigting van skuilings in die ariede veestreke verdien beslis meer aandag. Alles in ag genome oortref die voordele van skaduweevoorsiening dus die geringe uitgawe daarvan by verre, sodat daar geen werklike verskoning vir die gebrek aan skuilings in die Karoo bestaan nie.

 

 

LlTERATUURVERWYSINGS

BOSMAN, S. W., 1948. Climatological study on sheep in the Karoo. Reprint No.10. Reprinted from Farming in South Africa, March 1948.

VENTER, J.J., 1978. Reduce the weathering in wool Karoo Agric Vol. 1 No.1, 37-39.

 

Published

Karoo Agric 1 (3)