Last update: September 2, 2011 03:14:24 PM E-mail Print

 

SLAGEIENSKAPPE VAN AFRINO X MERINOKRUISINGS

 

J J OLIVIER, JAN CLOETE1, KS VILJOEN2 & J P DE WIT2

Diereproduksie navorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

MIDDELBURG K P

5900

 

1. Carnarvonproefstasie, Carnarvon

2. Landboukollege Grootfontein, Middelburg, 5900

 

 

Kruisings van Merino-ooie met nie-woldraende rasse het vanaf die sestigerjare besoedelingsgevare vir die Suid-Afrikaanse wolskeersel ingehou. Dit het aanleiding gegee tot 'n versoek van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie vir die ontwikkeling van 'n witwolvleisskaap wat as vaderras vir slaglamproduksie vanaf die Merino-ooie gebruik kan word. So 'n ras is sedert 1969 op die Carnarvonproefstasie ontwikkel wat uit 25% Merino, 25% Ronderib-Afrikaner en 50% S A Vleismerino bestaan (Olivier, Marais & Cloete, 1984). Hierdie ras staan tans as die Afrino bekend.

Volgens Olivier et al., (1984) voldoen die Afrino aan meeste van die vereistes wat tydens ontwikkeling aan die ras gestel is. Die Afrino is 'n vrugbare ras wat kemp- en kleurvry is en goed in die droë dele van die land aangepas is. Die kruisingsvermoë van die Afrino met die Merino vir die produksie van slaglammers is egter nog nie ondersoek nie. In hierdie artikel word die slaglamproduksie van Merino-ooie wat met die Afrino, sy ouerrasse en die Dorper gepaar is, vergelyk. Die slaglamproduksie van suiwer Afrino's word ook bespreek.

 

PROEFUITLEG

Die proef is op die Carnarvonproefstasie onder natuurlike toestande uitgevoer. Die proefstasie is in die Noordwes-Karoo geleë en die weidingskapasiteit is in 1982 volgens die Ekologiese lndeksmetode (Vorster, 1982) op 5,6 ha per KVE beraam. Die gemiddelde jaarlikse reënval is 200 mm waarvan 60% in die herfsmaande voorkom. In 1983 is vyf groepe Merino-ooie van 50 elk, met vier Ronderib-Afrikaner(RA)-, vier Merino(M)-, vier SA Vleismerino(SA VM)-, vier Afrino(A)- en vier Dorper(D)- ramme gepaar. Tydens die 1984 en 1985 paarseisoene is die Dorperramme nie weer gebruik nie en is die groep vervang met 50 F3- en F4-Afrino-ooie wat met vier Afrinoramme gepaar is. Al die groepe is as een trop bestuur. Ramlammers is op ongeveer 3-weke-ouderdom gekastreer. Op speenouderdom is die lammers binne geslagte ewekansig aan die verskillende slagbehandelings toegeken. Vyf-en-twintig persent van die lammers is in elke behandeling geslag. Die behandelings was as volg : slagouderdom 100 dae, slagouderdom 120 dae, slagmassa 35 kg en slagmassa 40 kg (lewende en ongevas). Die lammers wat in 1985 gebore is, is na speen na die Landboukollege Grootfontein vervoer en in voerkrale geplaas. In die voerkrale is al die groepe op 'n ad lib-basis, met 'n rantsoen bestaande uit 40% gemaalde lusern en 60% sjokolade mielies, gevoer. Al hierdie lammers is op 'n lewende massa van 38-42 kg geslag. Vier lammers in elke groep is lukraak vir TOH-behandeling geselekteer. Voor slagting is aIle diere vir 12 uur lank gevas. Na slag is die karkasse vir 24 uur by 4°C geberg voordat metings geneem is. Die oogspiervetdikte is in 1983 tussen die laaste torakale en eerste lumbale werwel, 25 mm vanaf die middellyn (V4-vetmaat), soos beskryf deur Starke & Joubert (1961), gemeet. Die vetheidsmaat wat die vetheid van die karkas die beste voorspel, is die maat wat tussen die derde en vierde lumbale werwels, 25 mm vanaf die middellyn (V3-vetmaat) geneem word (Bruwer, Naudé & Vosloo, 1984). Gedurende 1984 en 1985 is albei hierdie vetmates geneem en die V3-mates van 1983 is binne groepe en geslagte volgens die verskille tussen die V3- en V 4-mates van 1984 gekorrigeer. Die data is met behulp van die kleinste kwadratemetode ontleed (Harvey, 1977), wat vir die vaste effekte van jaar van geboorte, geslag, geboortestatus en moederouderdom gekorrigeer.

 

RESULTATE EN BESPREKING

Die resultate van die drie paarseisoene word afsonderlik in Tabel 1 aangetoon, omdat aborsies in aIle groepe gedurende die 1983-lamseisoen voorgekom het.

 

Die aanteeltempo gedurende die 1984 en 1985-seisoene was bogemiddeld vir Merino-ooie in hierdie betrokke gebied, waar 'n gemiddelde aanteeltempo van 70 lammers gespeen per 100 ooie gepaar oor die afgelope 20 jaar verkry is (Olivier, 1982). In vergelyking hiermee was die aanteeltempo van die M x M-groep byvoorbeeld gedurende 1984 ongeveer 22% hoër (Tabel 1). Die aanteeltempo was ook heelwat hoer as die wat deur Erasmus (1965) en Hofmeyr (1982) gevind is. Die aanteeltempo van die RA x M was die hoogste en die van die SA VM x M-groep die laagste. Hierdie hoë aanteeltempo kan deels aan die afwesigheid van 2- en 3-jarige ooie in die onderskeie groepe toegeskryf word. Die aanteeltempo van Merino-ooie styg normaalweg met 'n toe name in ouderdom tot op ongeveer 6 jaar, waarna dit afneem (Olivier, 1982). Dit is interessant om daarop te let dat die Merino-ooie wat met Ronderib-Afrikanerramme gepaar is, deurgaans 'n hoër persentasie meerlinge as die Merino-ooie wat met ramme van die ander rasse gepaar is, getoon het. Slippers, Van Wyk & Hobbs (1983) het gevind dat Afrikanerramme op S A Vleismerino-ooie ook aanleiding gegee het tot 'n hoë persentasie meerlinggeboortes. Die hoë aanteeltempo van die A x A-groep is in ooreenstemming met die langtermyn gemiddelde vir die Afrino van 134% lammers gespeen per ooie gepaar (Olivier, 1983).

Die skoonwolmassas van ooie in elke groep word in Tabel 2 aangetoon. Volgens Charlick & Arnold (1980) is die wolproduksie van Merino-ooie wat kruislammers soog nadelig beïnvloed. Geen betekenisvolle verskille is egter in die wolproduksie van Merino-ooie wat met verskillende ramme gepaar is, gevind nie (Tabel 2). Afrino-ooie het egter betekenisvol (P < 0,01) minder wol as die Merino-ooie geproduseer.

 

Karkasmassa, graad en die slagouderdom is die belangrikste ekonomiese eienskappe vir die produsent. Volgens die riglyne wat deur die Vleisraad aanbeveel word (Anon, 1981), moet slaglamproduksie gerig word op 'n karkas wat 18-20 kg weeg. Lammers wat in 1983 en 1984 gebore is, is vanaf die veld volgens die onderskeie behandelings geslag en die resultate word in Tabel 3 aangetoon. Volgens Tabel 3 voldoen nie een van die karkasse wat op 100 dae of 120 dae geslag is, aan hierdie vermelde vereiste nie. Alhoewel daar betekenisvolle (P < 0,01) verskille in die karkasmassa van die verskillende groepe voorgekom het, was die karkasse deurgaans te lig en te maer (Tabel 3).

 

Volgens Anon (1981) word aanbeveel dat vleiswol-tipe skape op 'n lewende massa van 38-40 kg bemark word. Vanuit Tabel 3 is dit duidelik dat die karkasmassas en vetdiktes van lammers wat op 40 kg geslag is, gunstiger as die wat op 35 kg lewende massa geslag is. Hierdie resultate is dus in ooreenstemming met die aanbeveling van die Vleisraad.

Op 35 kg lewende massa was die karkasse van die M x M- en SA VM x M-groepe betekenisvol ligter as die van die ander groepe. Hierdie laer karkasmassas was hoofsaaklik die gevolg van die betekenisvolle (P < 0,01) laer uitslagpersentasie wat by hierdie groepe voorgekom het. Die D x M-lammers het 35 kg massa op gemiddeld 150 dae bereik wat betekenisvol (P < 0,01) laer was as die 168 dae tot 182 dae vir die RA x M-, SA VM x M-, A x M- en A x A-groepe. Daarteenoor het die M x M- lammers hoogs betekenisvol (P < 0,01) langer geneem as laasgenoemde groepe om die bepaalde massa te bereik.

Met die uitsondering van die M x M-lammers wat 'n hoogs betekenisvolle (P < 0,01) laer karkasmassa gehad het, is geen betekenisvolle verskille in die karkasmassas van lammers van die verskillende groepe wat op 40 kg lewende massa geslag is, gevind nie. Die karkasse van die RA x M- en A x A-lammers was egter ongeveer 1 kg swaarder as die van die ander groepe. Die laer karkasmassa van die M x M-lammers kan weereens aan die betekenisvolle (P < 0,01) laer uitslagpersentasie toegeskryf word. Die RA x M-lammers het die hoogste uitslagpersentasie en vetdiktes gehad. Die betekenisvolle (P < 0,01) hoër vetdikte van die RA x M-lammers is 'n aanduiding dat hierdie kruislammers vet gouer deponeer en moontlik vroeër as die ander groepe oorvet kan raak. Wat die slagouderdom betref het die M x M- lammers betekenisvol (P < 0,01) langer as die ander groepe geneem om 40 kg te bereik (247 dae teenoor 200 tot 207 dae vir die ander groepe).

Die slageienskappe van die onderskeie groepe wat op 'n lewende massa van 38-42 kg uit die voerkrale geslag is, word in Tabel 4 aangetoon. Die RA x M-lammers se karkasmassas was soos met die veldproewe weereens die hoogste en die van die suiwer Merinolammers die laagste. Aangesien die slagmassas min of meer dieselfde was, kan die verskille in karkasmassas aan verskille in die uitslagpersentasies toegeskryf word, waarskynlik as gevolg van meer karkasvet, soos deur die hoër gemiddelde V3-vetmate aangedui word. Die gemiddelde vetdikte van 101 mm van die RA x M-lammers dui daarop dat van die karkasse moontlik oorvet kon wees, aangesien die V3-vetmaatgrense vir 'n superlam tussen 40 en 90 mm is. Vanaf Tabel 3 en Tabel 4 is dit duidelik dat die gemiddelde karkasmassa van die voerkraallammers by dieselfde lewende massa ongeveer 2 kg swaarder was. Die uitslagpersentasies en die V3-vetmates was by die voerkraalgroepe ook beter as die van die veldgroepe. Min verskille in die slageienskappe het tussen die onderskeie groepe in die voerkrale voorgekom, behalwe dat die suiwer Merinogroep, soos verwag, 'n laer gemiddelde karkasmassa en 'n hoër slagouderdom as die ander groepe gehad het. Opvallend uit Tabel 4 is dat die slagouderdom van die onderskeie groepe in redelike ooreenstemming is met die slagouderdomme van die lammers wat vanaf die veld op 'n lewendige massa van 40 kg geslag is (Tabel 3). Dit kan moontlik aan aanpassingsprobleme in die voerkrale toegeskryf word. Die A x A-groep en die SA VM x M-groep bet ten opsigte van die aantal dae in die voerkraal en die groeisnelheid in die voerkraal nie betekenisvol van mekaar verskil nie. Hul groeisnelhede was ook betekenisvol (P < 0,01) hoër as die van die ander groepe. Die laer groeisnelheid van die M x M- groep (164 g per dag) bet ook gedeeltelik tot die gemiddelde van 104 dae wat die groep in die voerkraal was, bygedra.

 

Volgens Bruwer, Naudé & Vosloo (1984) is bevind dat proteïenvolwassenheid van die vetvrye spiere - dit is 19;5% proteïen- bereik word sodra die vetinhoud van die karkas 22% bereik het. Geen verdere toename in proteïenkonsentrasie van spiere vind na hierdie stadium plaas nie en slegs die vetinhoud van karkasse neem daarna toe. Uit 'n produksiedoeltreffendheidsoogpunt gesien, behoort 'n 22% vetinhoud van karkasse dus as die optimale slagstadium beskou te word. Om te bepaal op watter massa die onderskeie kruisings die gewenste vetheid bereik, is 4 lammers(2 hamels en 2 ooie) uit elke groep met TOH behandel en die karkassamestelling by verskillende massas volgens die metode soos beskryf deur Meissner & Bieler (1974), bepaal. Die lewende massas waarby die onderskeie groepe ongeveer 22% karkasvet bevat het, word in Tabel 5 aangetoon. Die rede waarom die RA x M-lammers oorvet was, is omdat die optimum vetinhoud op 'n heelwat laer massa (38 kg vir hamels en 33 kg vir ooie) bereik is. Hierdie resultate is in ooreen. stemming met die van, onder andere, Marais (1984) wat bevind het dat ooie gouer as ramme of hamels vet neerlê. Dit wil dus voorkom asof die Afrino 'n laatryp ras is wat die gewenste vetheid op 'n hoër liggaamsmassa bereik. Hierdie resultate kan egter net as 'n riglyn dien, omdat die betroubaarheid van resultate deur die klein getal diere betrokke gekortwiek word.

 

GEVOLGTREKKING

Die swak slageienskappe (laer karkasmassa en langer tydperk tot bemarkingsmassa) van die M x M-groep- in vergelyking met die ander groepe, is in ooreenstemming met die resultate van Mare (1934) en Erasmus (1965). Erasmus (1965) het lammers op 'n lewende massa van 32 kg geslag en gevind dat nie een van hierdie kruisgroepe die gewenste vetheidsgraad bereik bet nie. Dit word bevestig deur hierdie resultate, naamlik dat kruislammers vanaf Merino-ooie op 'n lewende massa van 38 - 40 kg bemark behoort te word.

In hierdie proef het die Afrino, Dorper, S A Vleismerino en Ronderib-Afrikaner deur kruisings met die Merino-ooi die slageienskappe van die suiwer Merino verbeter. Nie een van hierdie rasse het egter betekenisvolle beter slageienskappe as enige van die ander gelewer nie. Dit wil voorkom of die RA x M-lammers vinniger vet aansit as die ander kruisings. Onder hierdie ekstensiewe toestande was die gemiddelde bemarkingsouderdom 200 dae. Op die ouderdom kan die lammers alreeds geskeer word om sodoende 'n addisionele inkomste te lewer. Hierdie resultate bewys ook dat kruisings van die Dorper met die Merino nie beter slageienskappe as witwolvleisrasse gee nie, met die addisionele nadeel van die besoedeling van Merinowol met kemp en gekleurde vesels.  Verder blyk dit dat ten opsigte van die totale massa vleis per ooi geproduseer, die Ronderib-Afrikaner as vaderras in hierdie proef 'n effense voordeel bo die ander rasse het, hoofsaaklik omdat meer lammers vanaf ooie wat met die ras gepaar is, verkry is.

 

VERWYSINGS

ANON, 1981. Die produsent se belange in die graderingstelsel. Vleisraadfokus. Junie 1981,19.

BRUWER, G.G., NAUDé, R.T. -& VOSLOO, W.A., 1984. Objektiewe evaluering van die karkasgraderingstelsel van lammers en skape. Vleisraadfokus. Nov/Des 1984,8.

CHARLICK, A.J. & ARNOLD, G.W., 1980. The effect of reproduction on wool production and soundness in Merino sheep. Proceedings of the Australian Society of Animal Production. 13,520.

ERASMUS, L.S., 1965. Slaglamproduksie met die Merino as moederooi. M.Sc.(Agric)-verhand. Univ. Stellenbosch.

HARVEY, W.R., 1977. User's guide for LSML 76 – mixed model least squares and maximum likelihood computer program. Ohio State University.

HOFMEYR, J.H., 1982. Implications of experimental results of crossbreeding sheep in the Republic of South Africa. In: Proceedings of the World Congress on sheep and beef cattle breeding. Eds. Boston, R.A. & Smith, W.C. Vol 1 : 157, Dunmore Press Limited, Palmerston North, New Zealand.

MARAIS, P.G., 1984. Die doeltreffendheid van voerverbruik met betrekking tot groei en liggaamsamestelling by Dorperskape. M.Sc.(Agric)-verhand. Universiteit van Pretoria.

MARé, G.S., 1934. Kruisgeteelde lammers op Karooveld. Boerdery S.A. 9,64.

MEISSNER, H.H. & BIELER, E.U., 1974. A note on the validity of using combinations of predictive equations for estimating body composition from tritiated water space. South African Journal of Animal Science. 5, 7.

OLIVIER, J.J., 1982. Reproduksie-eienskappe van Merinoskape in ekstensiewe weigebiede. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Veekunde. 12,379.

OLIVIER, J.J., 1983. Navorsing te Carnarvon-proefplaas. Ongepubl. Vertroulike verslag. Direkteur Karoostreek, Middelburg, K.P.

OLIVIER, J.J., MARAIS, P.G. & CLOETE, J.A.N., 1984. Evaluasie van verskillende raskruisings in die ontwikkeling van 'n witwolvleisras: Die Afrino. Suid-Afrikaanse Tydskrifvir Veekunde. 14,105.

SLIPPERS, S.C., VAN WYK, J.B. & HOBBS, N.P., 1983. Increased lamb production through crossbreeding. Meat Board Focus. May/June 1983, 18.

STARKE, J.S. & JOUBERT, D.M., 1961. A score card for lamb and mutton carcasses. Journal of Agricultural Science. 57,319.

VORSTER, M., 1982. The development of the Ecological Index Method for assessing veld condition in the Karoo. Proceedings of the Grassland Society of southern Africa. 17,84.

 

Published

Karoo Agric 3 (9), 17-20