Last update: April 11, 2012 02:36:29 PM E-mail Print

 

'n Paar Slagpluimveerasse en hul Ekonomiese Waarde

A. M. Gericke

 

HEELWAT studie is reeds aan mak pluimveerasse gewy en 'n menigte rasse en soorte is ontwikkel, omdat telers in verskillende dele van die wêreld verlang om hul eie besondere soort pluimvee te besit. In een land was telers begerig om wit hoenders te produseer, terwyl in 'n ander swart hoenders verlang is. Sommige telers het groot hoenders geteel, ander middelmatiges en party klein hoenders.

 

Klassifikasie

Hedendaagse pluimveerasse word geklassifiseer volgens die land van herkoms en die tipe van hoender. Dus vind ons die ou gesegde: " die tipe maak die ras," en die kam en die kleur van die hoender die soort. Die Leghorn wat waarskynlik die mees bekende ras is, bestaan uit 'n aantal soorte wat in kleur verskil, byvoorbeeld, wit, swart en bruin. Daar is twee soorte wit Leghorns, een met 'n enkel kam, en die ander met 'n dubbel kam.

Daar bestaan nie direkte bewys op watter stadium in die menslike ontwikkeling wilde pluimvee die eerste makgemaak is nie. Volgens die groot natuurkundiges, soos Darwin, is dit duidelik dat al die pluimveerasse van een voorouer afkomstig is, naamlik die Gallus Bankiva. Die benaming gallus beteken kam, d. w .s. 'n voël met 'n kam.

Die eerste slag-pluimveerasse, asook die bantams, is in Suid-Asië ontwikkel. Blykbaar is rasse, soos die Brahrua, Cochin en Langshan, vir hul vleiseienskappe geteel. Al word hierdie rasse teenswoordig nie baie geteel nie, het hulle tog 'n groot invloed uitgeoefen op die evolusie van die nuwer rasse. Die hedendaagse Wyandotte, Orpington, Plymouth Rock en Rhode Island Red verteenwoordig almal tot 'n sekere mate die Brahma en Langshan wat tipe betref.

Hoenders van middelmatige grootte met geel skene en velle en rooi oorbelle, wat eiers met bruin doppe lê, is tipies van al die hoenders wat in Amerika ontwikkel is. Hierdie hoenders word beide vir eiers en vleis geteel. Gedurende die afgelope paar jaar het Amerikaanse rasse, soos die Rhode Island Red, Wyandotte en Plymouth Rock, baie populêr oor die hele wêreld geword. Party lê baie eiers, groei gou uit en word in hul eie land hoofsaaklik gebruik vir die handel in jong hoenders wat van 1 tot 2 lb. weeg.

 

Engelse Rasse

In teenstelling met die rasse wat ons in Amerika kry, het Engelse telers baie aandag geskenk aan slagpluimvee met wit vleis. Vandag toon Old English Game-hoenders 'n goeie borsontwikkeling gevul met wit vleis, en is baie fyn van gebeente. Hulle is veral geskik om met ander pluimveerasse te kruis.

'n Ander populêre slaghoender is die Dorking-hoender wat waarskynlik gedurende die Romeinse Ryk in Groot-Brittanje ingebring is. Daar bestaan die volgende soorte, naamlik Donker of Gekleurd, Rooi, Silwergrys, Rooskam Wit en Cuckoo. Hierdie hoenders is nooit vir eierproduksie geteel nie. Hulle is hoofsaaklik ontwikkel vir hul skoon wit vleis wat in so 'n groot hoeveelheid op die bors ontwikkel. 'n Taamlike interessante kenmerk van die Dorking-ras is dat hulle vyf tone het en eiers met wit doppe lê. In die reël lê alle hoenders met wit oorbelle eiers met wit doppe, en die met rooi oorbelle eiers met bruin doppe; die Dorking is dus 'n uitsondering want dit het rooi oorbelle.

Die Dorking-ras is nou nie meer so populêr nie omdat die Sussex-ras ontwikkel het, in die ontwikkeling waarvan Dorking- en Brahmabloed die vernaamste rol gespeel het. Die Sussex-hoender is die populêrste slaghoender in Engeland omdat hulle so 'n skoon wit vleis het. In die handel is dit bekend as die " Surrey-hoender ", 'n naam wat gebesig word in verband met spesiale metodes van vetmaak, d. w .s. 'n kuiken wat op melk gevoer word"

Die " Cornish Game " of beter bekend as die" Indian Game" is waarskynlik afkomstig van Cornwall. Hulle is populêre slaghoenders met 'n goeie borsontwikkeling, dog is te grof van gebeente, en word grotendeels gebruik vir kruisteelt met ander soorte wit-vleishoenders, soos die " Light Sussex." Die" Indian Game " het geel skene, vel en vleis.

 

Vastelandse Rasse

Die enigste hoenders wat vergelyk kan word met die Surrey-kuiken is die Poulet de Bruxles van België en die Poulet de Bresse van Frankryk. Hierdie rasse verteenwoordig die Italiaanse rasse wat tipe betref. Die Poulet de Bruxles kom gewoonlik ooreen met die Concou de Malines, 'n ras wat oor die hele België opgemerk kan word. Hulle is dubbeldoel-hoenders met baie fyn romerige-wit vleis. Die henne weeg van 8 tot 10 lb., en die hane van 9 tot 11½ lb.

Die Franse Bresse is 'n hoender van middelmatige grootte en is bekend vir sy fynheid van gebeente en borsvleis. Die hane weeg van 6 tot 6½ lb., en die henne van 4½ tot 5½lb. Die Faverolle is 'n populêre hoender in die noordweste van Parys, en word deur die handel as die beste plaashoender beskou. Hulle is waarskynlik beter geskik vir koue lande, want omdat hulle goed bedek is met donserige vere is, hulle 'n geharde ras. Die hane weeg van 6½ tot 8½ lb., en die henne van 5 tot 7 lb.

 

Vleiskleur

Meeste lande het hul eie tipe van hoenders wat vir slagdoeleindes geskik is. Party verkies 'n hoender met geel vleis, ander weer 'n hoender met wit vleis. Albei kan vir slagdoeleindes grootgemaak word. Party hoenders, soos die Barnevelder wat van Holland ingevoer is, het 'n geel vel en vleis. Holland is essensieel 'n eier-produserende land, wat bekend is vir die produksie van donkerbruin eiers. In Engeland word groot aantalle opregte of gekruisde hoenders met geel velle en vleis gevind, soos die Wit Leghorns en Rhode Island Reds. As hierdie hoenders op melk vetgemaak word, verander die kleur in roomwit. Daar bestaan nie besware teen hierdie kondisie vir markdoeleindes nie.

Slegs in die Unie het ons twee klasse verbruikers, waarvan een 'n hoender met wit vleis, en die ander 'n hoender met geel vleis verkies. Die mense wat van hoenders met geel vleis hou, dink dat hoenders met wit vleis nie vetgemaak kan word nie. Die sienswyse het waarskynlik ontstaan as gevolg van die geloof dat 'n bleek hoender abnormaal en siek is, in teenstelling met 'n hoender met geel vleis, wat gesondheid en krag vertoon. Die kleur van die vleis is 'n kenmerk van die ras, en dit volg dus nie noodwendig dat die een gesonder as die ander is nie.

Die geel kleur kan verskerp word by die soorte hoenders wat vleis met 'n geel kleur het, deur hulle baie groenvoer of geelmielies te voer. Waar daar 'n aanvraag is vir hoenders met 'n wit of romerige wit vleis, is dit wenslik om hulle kleurlose kos te voer. Op die wyse kan 'n hoender met geel vleis vetgemaak word en baie aantreklik lyk as dit geslag is. Een van die mees praktiese maniere om 'n gesonde wit vleis te ontwikkel, is om die hoender afgeroomde melk en pap te gee. In die rasse met 'n wit vleis kan die kleur nie verander word soos in die geval van die soorte met 'n geel vleis nie.

Enige teler wat hoenders vir slag-doeleindes wil teel, moet probeer om 'n ras aan te hou wat aan die vereistes van die mark sal voldoen.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 8