Last update: August 15, 2011 10:18:09 AM E-mail Print

 

KLEINVEE MOET BESKERM WORD TEEN SLENKDALKOORS

E Snyman

 

Slenkdalkoors is 'n akute virussiekte by skape, bokke en beeste en die mens kan ook die siekte opdoen. Die siekte word deur muskiete oorgedra en kom sporadies in Suid-Afrika voor, se dr. Eddie Snyman, veearts verbonde aan die Veterinere Streekslaboratorium op Middelburg KP.

Slenkdalkoors word gekenmerk deur aborsies by dragtige diere en daar is ook 'n hoë vrektesyfer by jong lammers, bokkies en kalwers. Die pasgebore lam is baie vatbaar vir die siekte en tot 90 % van alle lammers kan vrek tydens 'n uitbreking van slenkdalkoors. By jong lammers kom minder vrektes voor, terwyl tussen 20 en 30 % van die volwasse ooie kan vrek.

'n Baie kort inkubasieperiode is een van die kenmerke van die siekte. Die volgende kliniese simptome kom by jong lammers voor: 'n hoë liggaamstemperatuur, hulle kan nie staan nie, verswak gou en gaan dood. Ouer lammers en ooie is onvas op hul bene, toon 'n bloederige neusuitloopsel en soms is daar 'n bloederige diarree aanwesig. Dragtige ooie aborteer in enige stadium van dragtigheid.

Dr. Snyman wys daarop dat 'n nadoodse ondersoek toon dat die lewer aangetas is. By lammers is die lewer ligter van kleur (soms het dit 'n geel kleur), terwyl die van volwasse skape rooibruin gevlek is, as gevolg van klein, dooie virusbeskadigde areas. Klein puntbloedings kan gesien word onder die lewer- en miltvlies en ook op die hartspier. Soms is daar 'n rooi verkleuring en bloedings onder die vel. Die derminhoud kan bloederig wees.

Dr. Snyman beklemtoon dat hierdie kliniese simptome en nadoodse letsels baie maklik met bloednier, bloutong of Wesselsbronsiekte, waar aborsies voorkom, verwar kan word.

In Suid-Afrika was daar al twee groot slenkdalkoorsuitbrekings, naamlik in 1950/1951, toe ongeveer 1 00 000 skape gevrek het, en weer in 1974/75.

Tans is daar verskeie faktore wat die uitbreek van 'n slenkdalkoors-epidemie by kleinvee tot gevolg kan hê.

Na die goeie wydverspreide somerreëns in Transvaal en die Vrystaat het die muskietpopulasie skerp toegeneem. Nog 'n faktor van belang is dat muskiete wat die slenkdalkoorsvirus huisves maklik vanaf gebiede buite Suid-Afrika suidwaarts kan versprei gedurende gunstige klimaatstoestande.

Volgens dr. Snyman is die belangrikste faktor dat daar in Suid-Afrika 'n oorwegend vatbare dierepopulasie is. As gevolg van die droogtetoestande het boere die afgelope paar jaar hulle vee minder teen slenkdalkoors ingeënt. Die verkope van slenkdalkoorsentstof het gedaal van 13 miljoen dosisse in 1975/76 tot minder as 200 000 gedurende die 1992/93-boekjaar.

Om 'n epidemie by kleinvee te voorkom, is dit noodsaaklik om alle vee voorkomend in te ent. Vir skape en bokke is lewende entstowwe teen slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte beskikbaar, terwyl 'n dooie (geïnaktiveerde) slenkdalkoorsentstof vir beeste en dragtige skaap- en bokooie gebruik kan word. Die dooie entstof bied ongeveer 'n jaar lank beskerming en beeste moet dus jaarliks ingeënt word.

Die lewende entstowwe teen slenkdalkoors en Wesselsbronsiekte is baie doeltreffend en gee na toediening lewenslange beskerming. Die twee entstowwe kan saamgemeng word en 1 ml/skaap/bok moet onderhuids toegedien word. Jong lammers van ooie wat reeds ingeënt is, moet eers na speentyd ingeënt word, terwyl kleinvee wat nag nie tevore ingeënt is nie, op enige ouderdom ingeënt kan word.

Soos met alle lewende verswakte entstowwe, gee slenkdalkoors- en Wesselsbronsiekte-entstof 'n koorsreaksie na toediening, wat spoedig verdwyn. Dragtige ooie moet in geen omstandighede met die lewende entstowwe ingeënt word nie weens die gevaar van aborsie.

In 'n krisissituasie kan dragtige ooie wat nie tevore ingeënt is nie, die dooie (geïnaktiveerde) slenkdalkoorsentstof ontvang en weer ingeënt word met die lewende entstof na 6 tot 9 maande.

Daar is ook ander beheermetodes wat toegepas kan word, veral net na die toediening van die entstof. Deur dipstowwe oor skape en bokke te spuit, kan muggies en muskiete vir lang periodes weggehou word, mits die nawerkende aksie van die dipstof nie afreën nie. Die verskuiwing van vee na hoërliggende gebiede kan ook oorweeg word.

Dr. Snyman wys daarop dat 'n diagnose van slenkdalkoors deur 'n veearts of veterinêre laboratorium bevestig moet word. Hy waarsku ook dat persone wat met aangetaste en dooie diere werk, hulself moet beskerm deur byvoorbeeld handskoene en, gesigmaskers te dra. Die mens kan maklik deur die onverskillige hantering van besmette materiaal slenkdalkoors opdoen.

Slenkdalkoors by die mens is gevaarlik, waarsku dr. Snyman. Simptome soos die van griep, blindheid, lewerskade en selfs die dood kan intree.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief, No 2, 1994