Last update: April 5, 2012 09:28:45 AM E-mail Print

 

SLYP MESSE EN KAMME REG

WD Basson

 

MESSE en kamme word geslyp op 'n noukeurig gemasjineerde slypskyf waarop amarildoek vasgelym is. Om 'n skerp kant aan die tande van die kam of aan die roes te verkry, moet die slypmasjien teen tussen 2,300 en 3,000 o.p.m. loop. Dit is noodsaaklik dat 'n swaardiens-karborundumammarildoek gebruik word aangesien dit goed sny en 'n langer lewensduur het as amaril van goedkoper gehalte. Growwe amaril word gebruik om kamme en fyn amaril. om messe te slyp.

 

VOORBEREIDINGS

Die slypskywe, klemplaat, moere en wasters van die slypmasjien moet voor gebruik deeglik skoongemaak word. Om die gebruikte amarildoek te verwyder, word die skyf vir ongeveer vyftien minute in warm water geweek sodat die amarildoek kan loskom. 'n Borsel en warm water word gebruik om die vlak van die skyf skoon te maak. Moet nooit 'n skroewedraaier, beitel of amaril, ens. gebruik nie, want dit sal die vlak van die skyf beskadig. Spoel die skywe in skoon water af en laat hulle in die ope lug lê sonder om hulle af te vee.

 

 

Om die amaril aan te sit, word daar in die middel van die amarildoek 'n gat gemaak wat groot genoeg is om oor die pen op die klemplaat te gaan. Die amaril word dan, met die skuurvlak ondertoe, op die klemplaat gesit.

Nadat die gom (wat in water oplosbaar moet wees) met 'n sagte kwas egalig aan die skyf gesmeer is, word die skyf op die klemplaatbout geskuif en 'n slag gedraai om alle lugblasies te verwyder voordat dit vasgebout word. Hou die amaril oornag styf vasgeklem, haal die skyf dan af en laat die amaril deeglik droog word. Sny die amaril wat oor die kant van die skyf uitsteek met 'n skerp mes af, maar sny na die skyf toe sodat die amaril nie losgetrek word nie. Voordat die skyf aan die masjien gemonteer word, word die amaril met 'n skerp mes uit die versonke gat in die skyf gesny. Moet nie 'n hamer gebruik nie, want dit sal die vlak van die skyf beskadig.

 

 

STEL VAN SLINGER

Die magnetiese slinger moet in die juiste verhouding tot die vlak van die skyf gestel word om egalig te kan slyp en om te verseker dat die kam of mes op die regte plek holgeslyp word. Die ou tipe slinger met die veerklem wat nog deur baie boere gebruik word, is verouderd en behoort as ondoeltreffend uitgeskakel te word.

Die volgende metode moet by die stel van die slinger gevolg word.

Vir die slyp van messe (wat kleiner is as die kamme) moet die magneethouer gelig word: die slingerarm word 'n kwartduim diep in die magneethouer ingedraai sodat die onderste pool van die magneethouer 'n kwartduim bokant die horisontale middellyn van die skyf is.

 

 

HOE OM TE SLYP

 

Wanneer daar geslyp word, moet die kam of mes van die een na die ander kant oor die slypskyf beweeg word. Maak seker dat die kam of mes net oor die binneste en die buitenste rand van die slypskyf gaan sodat die slypvlak egalig afslyt. Begin en eindig altyd deur die kam of mes in die sentrale posisie te hou. Dit is om te verseker dat die draad van die sny reguit teen die tande van die kam of die mes op loop en dat dit holgeslyp word.

'n Ferm maar nie oormatige druk op die mes of kam behoort aangewend te word terwyl dit been en weer oor die vlak van die slypskyf beweeg word. Om seker te maak dat die druk reg aangewend word, moet slegs die werwel vasgehou word en nie die magneethouer nie. Albei hande word gebruik wanneer 'n kam geslyp word en slegs een hand in die geval van 'n mes.

Daar moet veral gesorg word dat die kam of roes nie gedurende die slypproses oorverhit word nie. Oorverhitting, wat deur 'n blou verkleuring aangedui word, maak die metaal sag en verminder die snylewensduur. As 'n kam of roes lank geslyp moot word, is dit raadsaam om dit so af en toe te laat afkoel.

 

 

Die snykante van 'n kam of roes moet skerp wees, anders sal dit nie behoorlik sny nie. Om vas te stel of dit skerp genoeg is, moet die kam of roes noukeurig ondersoek word. Hou die kam of roes met die ent na u toe in 'n goeie lig. Kyk goed na die snykante. As daar enige gladde, blink kante sigbaar is, is die kam of mes nie behoorlik geslyp nie. Draai dit van kant tot kant en ondersoek die ander snykante. Slyp totdat alle blink, gladde kante verdwyn.

Solank as die amaril nog nuut is, moet lig op die kam of roes gedruk word terwyl dit geslyp word. Namate die amaril afslyt, word geleidelik harder gedruk.

Kamme en messe moet deeglik skoongemaak word voordat hulle geslyp word om te verhoed dat die amaril aangepak raak. Die beste manier om dit te doen, is om hulle in water te borsel sodra hulle uit die handvatsel uitgehaal word en nog warm is.

Opmerking - 'n Belangrike punt waarop 'n mens moet let Wanneer jy slyp, is dat die vonke reguit opwaarts moet trek. Dit dui aan dat die slypmasjien reg ingestel is.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (9)