Last update: April 5, 2012 10:29:27 AM E-mail Print

 

VELDBRAND IN DIE SNEEUBERGREEKS

Met spesiale verwysing na struikveld

 

deur

J. L. V AN DEB WALT

Voorligtingsbeampte,

Graaff-Reinet

In samewerking met die Veldbrandkomitee, Karoostreek

 

 

DIE groot vure in die Sneeuberge die afgelope paar jaar is met groot kommer waargeneem. Ten einde leiding op hierdie gebied te kan gee, is 'n spesiale komitee van beamptes van die Karoostreek aangestel om ondersoek in te stel na veldbrand en die implikasies daarvan en om aanbevelings daaromtrent te doen. Hierdie artikel handel hoofsaaklik oor die eerste deel van die verslag.

Die komitee was dit volkome eens dat die maatreël slegs as 'n desperate middel vir 'n desperate toestand aanbeveel kan word en beskou dit as sy eerste plig om baie duidelik en nadruklik te wys op die moontlike gevare wat ondervind kan word.

 

GEVARE

Die ontbloting van die oppervlakte

Vanweë die algehele verwydering van die plantegroei tydens brand, word die grondoppervlakte regstreeks aan die sterk laat-winter- en lentewinde asook moontlike donderstorms blootgestel. Grondverliese kan op die wyse aansienlik vererger word.

 

Die indringing van ongewenste plante kan voorkom

Tydens die ondersoek het die komitee gevalle teengekom waar minder gewenste plante soos Senecio sp. en Eumorphia sp. na die brand ingedring en 'n groter probleem geskep het as die plante wat afgebrand is. Die gevaar is ook dat giftige pionierplante hul verskyning in die, ontblote veld kan maak.

 

Verwydering van humus

Deur die verbranding van plante en plantreste word die grond beroof van 'n massa materiaal wat later in die vorm van humus tot die produktiwiteit van die bodem sou bygedra het.  Indien hierdie verbrandingsproses dikwels herhaal word, moet 'n verarmde, toegeslane grond wat moeilik water opneem en behou, verwag word. Op sulke grond sal beslis nie goeie veld aangetref word nie.

 

Verandering van die veldtipe

Deur brand, met gereelde beweiding daarna, ontstaan die gevaar dat grasveld in bossieveld omgeskep kan word. Hierdie praktyk kan nogal 'n skynvoordeel vir skaapboerdery inhou, maar sal egter op die lange duur veral teen die berghange, op 'n gewisse ramp afstuur.

 

REGVERDIGING

Die komitee vind dat brand van veld in die Sneeubergreeks slegs geregverdig is wanneer die veld in so 'n mate met nuttelose of ongewenste struike begroei is dat die verwydering daarvan deur uitkap of afsIaan met instrumente onekonomies of onprakties is; of as die suurpol, koperdraad of "gwashu" so ruig uitgegroei is dat dit nutteloos geword het.

Wat die struike betref, is gevind dat in hierdie bergdele renosterbos (Elytropappus rhinocerotis).J harpuis (Euryops spp.), pakaan (Passerina montana) en die windmakerbos (Eumorphia sp.) die belangrikste van die ongewenste struike is. Hulle kom gewoonlik op doleriet sowel as doleriet-op sandsteengrond voor waar gewoonlik gebrand word met die doel om 'n soetgrasveld te ontwikkel. Met hierdie doel voor oë kan veldbrand geregverdig word in dele wat erg besmet is met genoemde struike en waar die meganiese uitroei daarvan onprakties of baie onekonomies sal wees. Ook in hierdie gevalle moet dit egter gedoen word met inagneming van die volgende aanbevelings.

 

AANBEVELINGS

Ten einde meer bevredigende kontrole oor die brand van veld te verseker, word daar teenswoordig vereis dat aIle aansoeke om veld te brand op die voorgeskrewe vorms aan die betrokke sekretaris van die grondbewaringskomitee gerig sal word. Die komitee en beampte(s) sal dan inspeksie van die terrein doen en die aansoek, volgens die meriete van die geval, aanbeveel of afkeur.

In elke geval van veldbrand moet altyd sorg gedra word dat die bepalings in die Wet op Veld- en Bosbrande vervat, stiptelik nagekom word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (5)