Last update: April 3, 2012 11:09:21 AM E-mail Print

 

Skape kan soutbosse goed benut

GA Jacobs 

 

Aan die Landbounavorsingsinstituut van die Karoostreek word proewe gedoen om vas te stel hoe goed verskillende droogtebestande voergewasse deur skape benut word. Daar is reeds 'n hele aantal soutbossoorte (Atriplex-spesies) gevind wat aan skape 'n volwaardige onderhoudsrantsoen kan verskaf, maar die drakrag van genoemde soutbossoorte is nie ewe hoog nie en wissel ook heelwat by sommige soorte tussen seisoene. Die ou bekende Oumansoutbos (Atriplex nummularia) bly egter nog steeds die beste, waar een enkel soort aanbeveel moet word.

In 'n onlangse proef (November 1974) is gevind dat die drakrag van soutbossoorte gedurende tye van normale reënval skouspelagtig hoog kan wees. Vir A. nummularia, A. canescens, A. brewerii en A. lentiformis is onderskeidelik drakrag syfers van 10,3, 5,9, 3,2 en 3,2 skape per hektaar per jaar gevind. Hierdie gegewens is verkry nadat 'n groot hoeveelheid opslag eers vooraf uitgeskoffel en verwyder is. Vir die berekening van bostaande drakrag syfers is die tydperk wat elke spesie geneem het om te herstel, in berekening gebring. Na volledige ontblaring het dit vir A. nummularia, A. canescens, A. brewerii en A. lentiformis onderskeidelik 7, 2, 8 en 8 maande geneem om volkome te herstel na die hoeveelheid materiaal aanvanklik beskikbaar. Die drakrag syfers vir A. canescens geld slegs gedurende die groeiseisoen, aangesien hierdie soutbossoort in die winter sy blare verloor. Die drakrag syfers gedurende droogtes, wanneer vir alle soorte soutbosse net een volledige beweiding per jaar in berekening gebring word, is vir A. nummularia, A. canescens, A. brewerii en A. lentiformis onderskeidelik 6, 0, 1, 7, 2,2 en 2,2 skape per hektaar per jaar. Hieruit blyk dit duidelik dat die drakrag van die Oumansoutbos,veral gedurende droogtetye, verreweg die hoogste is.

Ten einde ‘n aanduiding te kry van die voedingswaarde van die vier beste soutbossoorte, is die massaveranderings van skape wat op hierdie soutbossoorte aangehou is, bepaal. Op persele van A. nummularia, A.canescens. A.brewerii en A. lentiformis is elk 16 nie-dragtige Merino-ooie gehou en die gemiddelde massaveranderings na 25 dae was onderskeidelik -0,1, +0, 7, 0, o en -0, 1 kg. Die gemiddelde beginmassa was vir alle groepe ongeveer 42 kg. Geen statistiese betekenisvolle verskille in massa veranderings tussen spesies kon gevind word nie, wat daarop dui dat hier nie enige verskille in voedingswaarde tussen genoemde soutbosspesies opgemerk kon word nie.

Dit is reeds baie jare al bekend dat droë skape vir lang tye op skoon soutbosweidings onderhou kan word. Onlangs (1975) is dit ook bevestig dat ooie met ‘n geringe hoeveelheid byvoeding suksesvol op soutbosweidings kan lam, hoewel die resultate natuurlik nie goed vergelyk met die onder goeie veldtoestande nie. Agt-en-veertig Merino-ooie is voor paartyd op soutbosweidings oorgeplaas. Geen byvoeding is voor of tydens paring gegee nie. Vanaf een week voor lamtyd is ‘n lek van geel mieliemeel en melasse teen 120 g per ooi per dag bykomstig tot die soutbosweiding vir drie maande lank voorsien. Die lampersentasie uitgedruk as aantal lewende lammers geproduseer per aantal ooie beskikbaar vir paring, was 79 persent. Dit word egter aanbeveel dat daar reeds drie weke voor lamtyd met so ‘n lek begin sal word vir beter resultate. Die aantal lammers gespeen as persentasie van die aantal ooie beskikbaar vir paring, was 69 persent, maar van hierdie lammers is 36 persent hans grootgemaak as gevolg van ooie wat nie hul lammers geneem het nie en ander wat te min melk gehad het.

Die ooie wat gelam het se gemiddelde liggaamsmassa was voor paring en na speen presies dieselfde, naamlik 38 kg. Die ooie wat nie gelam het nie, het oor ses maande gemiddelde kg per ooi in massa toegeneem.

Hoewel die hanslammers goed versorg is volgens ‘n vroegspeenstelsel, het die lammers wat by hul moeders op Soutbosse gebly het ‘n statisties betekenisvol hoër daaglikse massatoename gehad. Tot op vier maande ouderdom, het die soutboslammers gegroei teen gemiddeld 133 g per dag, terwyl die ooreenstemmende syfer vir die hanslammers 111 g per dag was.

Dit moet in gedagte gehou word dat hierdie proef waarin die ooie op soutbosse, gelam het, uitgevoer is gedurende ‘n tydperk van bo-gemiddelde goeie reënval. Soutbosweidings word hoofsaaklik aanbeveel as addisionele hulp tydens droogtes.

Dit kan verwag word dat swakker produksieresultate met soutbosweidings tydens droogtes verkry sal word, aangesien opslag tussen die plante dan ‘n kleiner rol sal speel.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie