Last update: April 10, 2012 12:02:41 PM E-mail Print

 

Vroeë Speen van Lammers vir Besparing op Wintergraanweiding

S. W. Bosman en H. C. Bonsma

 

WAAR vetlammers op groot skaal geproduseer word vir die mark, is die koste in verband met die voer van ooie en lammers ‘n belangrike item. Om na te gaan in hoeverre die produksiekoste verminder kan word deur die lammers op vroeë ouderdom te speen, is in 'n voorlopige proef op die Grootfonteinse Landboukollege gevind :

(1) Dat dit moontlik is om in hierdie opsig 'n besparing van naasteby 20 persent te bewerkstellig as die lammers op 'n ouderdom van 8 weke gespeen word in vergelyking met lammers wat bly suip totdat hulle die bemarkbare gewig bereik het. In die proef is Merino-ooie met kruisgeteelde lammers gebruik; die ooie en lammers is gevoer op 'n droë rantsoen, bestaande uit lusernhooi en mielies, en geen besondere vertraging in die groei van die lammers is opgemerk nie.

(2) Dat goeie resultate verkry is deur die Merino-kruislammers op die ouderdom van 8 weke te speen en dan op wintergraan te laat wel.

Die voer van lammerooie op 'n droë rantsoen is egter nie ekonomies nie, en ook ontbreek die rantsoen aan sappigheid, wat 'n stimulerende uitwerking het op die melkproduksie van die ooi. Deur gebruik te maak van wintergraanweiding kan dus verwag word dat die lammers vinniger sal groei, en gevolglik kan die produksiekoste aan voer minder wees as in die geval van 'n droë rantsoen.

In verband met die produksiekoste van lammers wat aan bogenoemde twee stelsels van bestuur onderwerp is, is dit interessant om die volgende syfers aan te haal: Bonsma en Engela het bevind dat as die ooi en lam daagliks 3 lb. lusernhooi en 1 lb, mielies kry, die produksiekoste aan voer om die lam op 'n gewig van 60 lb. te bring, 198 pennies is, en dat die lam hierdie gewig in 118.4 dae bereik. Turpin en Marais het gevind dat die weidingskoste per skaap per maand 34.94 pennies is indien koring drie maal in die seisoen afgewei word.

As dus aangeneem word dat 'n Merino-ooi 'n kruislam binne 3½ maande op 'n gewig van 60 lb. kan bring op groen weiding, en verder dat die lam oor hierdie periode ¼ van die koning verbruik as wat die ooi kry, dan kom die produksiekoste van so 'n lam op 153 pennies te staan.

In albei gevalle is die arbeidskoste in verband met voergee nie by die produksiekoste ingesluit nie, want anders sal die verskil tussen die produksiekoste by die twee vorms van bestuur nog groter wees, omdat heelwat meer arbeid vereis word om die skape op 'n droë rantsoen te voer as in die geval van weidingsgewasse; waar koste aan omheining, in bogenoemde beraming ingesluit is.

Met 'n intensiewe stelsel van vetlamproduksie op groen weiding onder besproeiing, hang die sukses van die onderneming hoofsaaklik af van die vinnige groei van die lammers tot bemarkbare gewig. Hierdie vinnige groei van die lammers word bepaal deur die tipe ooi, haar kondisie wanneer sy lam, en die voeding wat beskikbaar is vandat die ooi gelam het totdat die lam bemark word, d.w.s. die lam moet op 'n ouderdom van 3 tot 3½ maande 'n gewig van 60 tot 651b. bereik, met 'n karkasgewig van 30 tot 35 lb.

 

 

In die praktyk gebeur dit egter dikwels, as .gevolg van klimaatsomstandighede of ander faktore, dat die groen weiding nie genoegsaam is om beide die ooie en lammers te onderhou totdat laasgenoemde markklaar is nie.

In die Karoo kom so 'n kritieke periode van weidingskaarste meesal gedurende Julie en Augustus voor; baie min groei vind plaas as gevolg van die heersende koue, en hierdie periode kan tereg beskrywe word as die dooie maande . Tensy wintergraan dus vroeg, d.w.s. vanaf Februarie tot Maart ingesit word, en verskillende kampies beskikbaar is, bestaan daar altyd die gevaar dat 'n tekort aan weiding gedurende die end van Julie en die begin van Augustus ondervind sal word.

Ten einde die periode van skaarste te oorbrug, is daar verskillende metodes wat onder praktiese toestande gevolg kan word. Die ooie met lammers kan bv. vir slegs twee uur per dag (1 uur in die oggend en 1 uur. in die namiddag) op die groen weiding gebring word en vir die res van die dag op goeie veldweiding in 'n aangrensende kamp loop.

Nog 'n moontlike uitweg wat op 'n plaas waargeneem is, is om die ooie en lammers op die weiding te hou totdat die lammers goed vreet (d.w.s. op 'n ouderdom van 4 tot 6 weke), waarna die lammers bedags vir die grootste gedeelte van die dag afgehok en toegelaat word om alleen op die weiding te kom, terwyl die ooie dan op 'veld gehou, word. In die namiddag word die lammers by die ooie gesit en weer die volgende more afgehok. Goeie resultate is reeds volgens hierdie metode met Merino-lammers verkry. Die lammers kan die maksimum gebruik maak van die groen weiding en die ooie kan, nadat hulle gewoond is om bedags weg van die lammers te wees, rustig wei sonder om gedurig deur die suig van. Die lammers gesteur te word. 'n Aansienlike besparing op weiding word deur hierdie metode bewerkstellig, die lammers groei blykbaar net so vinnig as wanneer hulle altyd by die ooie is, en die ooie voel nie die invloed van die suip van die lam so erg as wat andersins die geval sou wees nie. Die voordele verbonde aan die vroeë speen van lammers is uiteengesit in die voorlopige resultate van bogenoemde proef.

 

Geskikte Speentyd en Weidingbesparing

Die doel van die tweede proef was dus: (1) om te bepaal wat die vroegste ouderdom is waarop lammers van kruisgeteelde Merino-ooie gespeen kan word sonder enige nadelige uitwerking op die groei van die lammers, waar beide ooie en lammers op groen weiding gehou word vanaf, of kort na, die geboorte van die lam, en (2) om by benadering te bepaal wat die besparing op weiding sal wees.

Die proef is gedurende die winterseisoen van 1941 uitgevoer op koringweiding. Die ooie was almal Merino-kruise, geteel uit Merinokudde-ooie met Dorset Horn-, Border Leicester-, en Romney Marsh-ramme. Die driehoekskruislammers in die proef was van hierdie ooie met Southdown-ramme. Die proefgroepe het elk bestaan uit 11 ooie en 11 lammers, en die spenery het as volg geskied :-

Groep I.-Gespeen op ouderdom van 6 weke (42 dae).

Groep II.-Gespeen op ouderdom van 8 weke (56 dae).

Groep III.-Kontrole, d.w.s. nie gespeen nie.

 

Die liggaamsgewigte van die ooie en lammers is elke 14 dae geneem na 'n uithongeringsperiode van 14 tot 18 uur; die lammers het egter by die ooie gebly en is dus nie verhinder om te suip nie. Toe die lammers gespeen is, is hul gewigte ook geneem, waarna die ooie van die weiding weggehaal en op veld gesit is.

Die lammers is geslag sodra hulle met die 14-daagse wegings 'n lewende gewig van 60 lb. en meer bereik het. Lammers van 55 tot 60 lb. is ook geslag sodra hulle as markklaar beskou is of as hulle gedurende die laaste 14-daagse periode voor weging baie min in gewig toegeneem het. Volledige slagbesonderhede van al die lammers is geneem, waarna die karkasse gegradeer is volgens die uitvoerstandaarde vir vetlammers. Daar is gebruik gemaak van 'n punteskaal wat vetbedekking en bouvorm in aanmerking neem; 60 punte word vir elkeen hiervan toegeken en die gradering word dan as volg vasgestel: Graad A, 76 punte en oor; Graad D, 66 tot 75 punte; Graad C, 56 tot 65 punte met afkeuring van karkasse wat minder as 56 punte kry.

Daar was nie ‘n voldoende aantal kampies beskikbaar om elke groep apart van die ander te hou nie, ten einde die besparing op weiding te bepaal. Al die ooie en lammers het saam gewei. Die weiding verbruik is dus in skaap-dae bereken.

Die besparing op weiding word dan as volg bepaal: Van die aantal skaap-dae vir die kontrolegroep ooie, vandat die groepe van onderskeidelik 6 en 8 weke gespeen is, totdat die lam 'n gewig van 60 lb. bereik het, word afgetrek die verskil in lamdae tussen die groepe van 6 en 8 weke en die kontrole tot 60 lb, gewig. Skrywers is nie bewus van enige proefgegewens wat die verhouding aandui tussen die voerverbruik van die lam en die ooi op onbeperkte groenweiding nie. Gevolglik is die voerverbruik van die lammers as volg by benadering bepaal: 4 lam-dae, vanaf geboorte tot 60 lb. gewig, is geneem as gelykstaande met een skaap-dag; hierdie gemiddelde is aangeneem aangesien die voerverbruik van die lam op 'n baie vroeë ouderdom feitlik nietig is, terwyl dit ongeveer die helfte van die van die ooi is wanneer die lam 'n gewig van naby 60 lb. het. Die weiding verloor deurdat die speengroepe langer geneem het om 60 lb gewig te bereik, is bereken deur aan te neem dat twee lam-dae gelyk is aan een skaapdag, want dan is die gewig van die lammers van die speengroepe al betreklik naby aan 60 lb.

Die uitwerk van die weidingbesparing word deur die volgende voorbeeld geïllustreer: Die kontrolegroep neem 91 dae om 60 lb. gewig- te bereik, en die 6-weke-groep neem 123 dae. Weidingsdae verbruik deur die kontrolegroep is dan 91 skaap-dae vir die ooi +  skaap-dae vir die lam = 113.75 skaap-dae. Vir 91 dae verbruik die 6-weke-groep 42 skaap-dae vir die ooi +  skaap-dae vir die lam=64.75 skaap-dae. Die lam verbruik nog 'n verdere (123-91) = 32 dae, en vir hierdie periode word 2 lam-dae geneem as gelyk aan 1 skaap-dag. Die totale verbruik van die lam is gevolglik 64.75 + = 80.75 skaap-dae. Die persentasie weidingbesparing deur die 6-weke-groep is dan  x 100 = 29.0 persent.

 

Resultate en Bespreking

1. Groei van Lammers

Die gemiddelde tweeweeklikse gewigte van die drie groepe lammers word in Tabel 1 (A) aangegee, asook die berekende ouderdom in dae om 'n gewig van 60 lb. te bereik. Die gewigte is bereken presies op tweeweeklikse periodes, en ook is die ouderdom in dae om ‘n lewende gewig van 60 lb. te bereik, bereken volgens die indiwiduele groeikurwes van die lammers. Die groeikurwes van die lammers word in grafiek 1 aangetoon. Vir vergelykingsdoeleindes word ook die gegewens van die vorige proef in Tabel 1.(B) aangegee.

 

 

By die vergelyking van die resultate van die twee proewe moet die volgende in aanmerking geneem word:-

(a) Voeding.-In hierdie proef het Groepe I tot III [Tabel 1 (A)] op wintergraan geloop vandat die ooie gelam het totdat die lammers geslag is, terwyl die diere in die vorige proef [Tabel 1 (B)] in elke geval 'n droë rantsoen van lusernhooi en mielies gekry het, behalwe in die geval van groep V (a.), (b) en (c) waar die lammers na speen op wintergraan geplaas is.

(b) Teling.-In die vorige proef was die ooie almal Merino's met kruislammers. In hierdie proef is kruisgeteelde Merino-ooie gebruik met Southdown-driehoekskruislammers.

As die groeikurwes, en veral die ouderdom in dae om 'n lewende gewig van 60 lb. te bereik vergelyk word, is dit opmerklik dat die lammers van hierdie proef aansienlik vinniger gegroei het as die van die vorige proef (kontrolegroepe en 8-weke-speengroepe). Hierdie resultaat bewys dus dat vir die vinnige groei van lammers, teling en voeding van besondere belang is.

Dit is dan hierdie feit wat die noodsaaklikheid daarvan beklemtoon om proefgegewens in te win om te bepaal of dit wel moontlik is om lammers op 'n vroeër ouderdom as 8 weke te speen as hulle vinnig vanaf geboorte gegroei het.

 

2. Groei van Lammers voor Speen

Die volgende is opgemerk aangaande die groei van lammers voordat hulle gespeen is:-

(a) Op 'n ouderdom van 14 dae was daar geen besondere verskil tussen die gewigte van die verskillende groepe nie.

(b) Op 'n ouderdom van 42 dae was die gemiddelde gewigte van Groepe I, II en III.onderskeidelik 31.8, 34.9 en 34.8 lb., dus 'n klein verskil ten voordele van Groepe II en III in vergelyking met Groep I. Die verskil moet toegeskryf word aan die indiwiduele variasies in die groei van lammers binne die groepe.

(c) Die groei van al drie groepe lammers vanaf geboorte tot 42 dae kan as bevredigend beskou word vir vetlammers.

 

3. Groei van die Lammers na Speen

Soos vermoed kan word, sal die mees kritieke tydperk in die groei van speenlammers die eerste twee weke na speen wees. Dit is te wyte aan die feit dat die lam dan onafhanklik van die ooi vir homself moet sorg en hom dus aan nuwe toestande van voeding moet aanpas. In hoeverre die lammers in staat was om hierdie kritieke periode te oorkom, word weerspieël in hul latere groei om 'n bemarkbare gewig te bereik. Hierdie groei van die lammers word in Tabel II ontleed.

Tabel II – Vergelyking van Groei van die verskillende groepe

 

 

Uit Tabel II word opgemerk:-

(a) Gedurende die 14-dae-periode onmiddellik voor speen het die lammers van al drie groepe 'n goeie gewigstoename getoon.

(b) Gedurende die 14-dae-periode wat direk na speen volg, word 'n aanmerklik vertraging in die snelheid van groei by die twee speengroepe waargeneem. Hierdie vertraging is groter in die geval van, die groep wat op die ouderdom van 6 weke gespeen is as in die geval van die groep wat op 8 weke gespeen is.

(c) Gedurende die periode vanaf speen tot die ouderdom van 98 dae het die speengroepe albei stadiger gegroei as die kontrolegroep. Die gemiddelde daaglikse toename in gewig by die groep wat op 6 weke gespeen is, was swakker as die by die groep wat op 8 weke gespeen is.

Uit voorgaande opmerkings blyk dus dat die speen van die lammers 'n algemene vertragende uitwerking uitgeoefen het op die mate van groei.

Gevolglik is die tydperk in dae wat elke groep geneem het om 60 lb. lewende gewig te bereik, statisties ontleed, en 'n opsomming daarvan word in Tabel III aangegee:

 

 

Volgens hierdie statistiese ontleding blyk dit dus dat die mate van groei van die lammers tot 'n beduidende mate beïnvloed is deur speen op 'n ouderdom van 6 weke, terwyl speen op 'n ouderdom van 8 weke nie 'n betekenisvolle vertragende uitwerking op die mate van groei van die lammers uitgeoefen het nie.

By nadere ondersoek van die syfers word egter gevind dat daar binne die groepe 'n groot variasie bestaan tussen die gewigte van die lammers op die ouderdom van 6 en 8 weke. Hierdie syfers is gevolglik verder statisties ontleed om te bepaal of daar enige korrelasie bestaan tussen die gewig van die lam met speen en die getal dae wat hy neem om 60 lb. lewende gewig te bereik. 'n Opsomming van hierdie ontleding volg in Tabel IV.

 

 

Dit word dus opgemerk dat daar 'n beduidende negatiewe korrelasie bestaan tussen die gewig van die lam met speen en die getal dae wat so 'n lam neem om 'n lewende gewig van 60 lb. te bereik, d. w .s. hoe swaarder die lam met speen, hoe korter sal die periode wees om 60 lb. gewig te bereik.

Aangesien daar 'n noue korrelasie bestaan tussen die speengewig van die lam en die getal. dae nodig om 'n bemarkbare gewig te bereik, is dit dus wenslik om met speentyd liewer op gewig as op ouderdom uit te soek. Dit sal ook meer prakties wees om alle lammers bo 'n sekere gewig te speen as om volgens ouderdomme te gaan.

Uit Tabel V is dit duidelik dat die lammers van die speengroepe in alle opsigte swakker was as die kontrolegroep. Die 6-weke groep was swakker as die 8-weke-groep. Van praktiese belang is die feit dat die lammers van die speengroepe heelwat ligter karkasse gegee het as die kontrolegroep, hoewel hulle ouer was, en veral van belang is die punt dat ook die gradering van die karkasse nadelig beïnvloed is deur die vroeë speen.

Die groeikurwes en veral die slaggegewens van die twee speengroepe dui aan dat wanneer dit die bedoeling is om prima-lammers te produseer, die speen van lammers nie aan te beveel is nie.

Waar die speen van lammers op hierdie vroeë ouderdomme van 6 en 8 weke egter van baie groot praktiese belang sal wees, is nie soseer by vetlammers nie as by Merino-lammers. - hier word alleen verlang dat die lam in 'n goedgroeiende kondisie sal bly. Dit word dus gereken dat wanneer die veld te swak word om die ooie en die lammers te onderhou, die ooie en lammers baie daarby sal baat as die lammers op hierdie ouderdom gespeen en na groen weiding verplaas word. '

 

Besparing van Weiding deur Vroeë Speen van Lammers

Die berekening van die weiding bespaar, word in Tabel VI aangedui:-

 

 

[Die getal skaap-dae nodig om 'n lam markklaar te kry, is die som van die getal dae wat die kontrole-ooi op weiding bly saam met die kontrole-lam. (4 lam-dae vanaf geboorte tot 60 lb. gewig is gelyk aan 1 skaap-dag.) Kontrole het 91 dae geneem. Die getal skaap-dae = 91 +   = 113.75. Die skaap-dae wat verloor is deur speen, is die verskil tussen die speengroepe en die kontrole. (2 lam-dae is geneem as gelyk aan 1 skaap-dag, want op hierdie stadium was die lammers al naby 60 lb. gewig.)] .

Uit Tabel VI kan gesien word dat die besparing in weiding deur op 6 weke te speen, in vergelyking met die kontrole, 29 persent was, teenoor 22.9 persent besparing indien op 'n ouderdom van 8 weke gespeen word.

 

 

Op dieselfde land waar hierdie proef uitgevoer is, was die gemiddelde drakrag van koring 12.4 skape per morg vir 4 maande oor 'n tydperk van 5 jaar. Dit beteken dus dat 'n aansienlike besparing in weiding bewerkstellig kan word deur lammers vroeg te speen.

 

Opsomming en Gevolgtrekkings

1. Deur kruislammers op 'n ouderdom van 6 weke te speen, is hul groei  nadelig beïnvloed; ook het hul karkasse swakker gegradeer as die van 'n vergelykbare groep wat nie gespeen is nie.

2. Deur op 'n ouderdom van 8 weke te speen, is die terugslag in die groei van lammers onbeduidend.

3. Deur op 'n ouderdom van 6 en S weke te speen, is die besparing in weiding onderskeidelik 29 en 22.9 persent. In die vorige proef op 'n droë rantsoen is ongeveer 20 persent van die voerkoste gespaar deur op die ouderdom van 8 weke te speen.

4. Die voordeel behaal deur vroeë speen, word gedeeltelik geneutraliseer deur die feit dat die lammers nie die gewenste markklaarheid behaal op 'n gewig van 60 lb. en meer nie.

5. Daar bestaan 'n betekenisvolle negatiewe korrelasie tussen die gewig van die lam met speen en die getal dae wat nodig is om markklaarheid te bereik (r,= -0.82, P<.01).

6. Vir vroeë speen word aanbeveel dat gewig 'n beter grondslag is waarvolgens gespeen kan word as ouderdom.

7. Vroeë speen is meer wenslik en prakties waar Merino-lammers in plaas van kruisgeteelde primalammers geproduseer word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 19