Last update: April 12, 2012 01:43:33 PM E-mail Print

 

Die Voer van Spekvleisvarke

H. J. van der Merwe

 

OM spekvleisvarke met sukses te teel, moet 'n mens aan die begin sterk, gesonde varke hê, wat in die toestand gehou moet word. 'n Mens begin hulle by of selfs voor hulle geboorte al voer.

Van hulle geboorte af totdat hulle gespeen word, moet die varkies deur die moer gevoer word. Hierdie metode is goedkoper en dit beantwoord beter as wanneer hulle afsonderlik gevoer word. Op die ouderdom van drie weke begin hulle in die moer se kos belangstel. Hierdie belangstelling moet aangemoedig word, maar die volste gebruik word eers daarvan gemaak ongeveer 14 dae voordat hulle gespeen word. Die varkies kry nie ekstra kos nie, maar wel 'n deel van die moer se rantsoen. Hierdie deel word geleidelik vermeerder totdat hulle gespeen word, sodat hulle teen die tyd dat die sog van hulle weggeneem word, nie meer haar melk nodig het nie. Hierna moet 'n mens sorg dat die varkies aanhou groei en die voer kry wat hulle nodig het. Die waarde van afgeroomde melk vir jong varke op hierdie stadium kan nie oorskat word nie. As afgeroomde melk nie beskikbaar is nie, moet die varke 'n ander diereproteïene soos vleis- of vismeel by hulle rantsoen kry.

Om spekvleisvarke op ekonomiese wyse te produseer, moet hulle rantsoen goed gebalanseer wees. As afgeroomde melk gebruik word om die proteïene aan te vul, kry die varke die volgende hoeveelheid voer:

 

 

Varke tot 50 lb lewende gewig

Varke van 50 tot 100 lb lewende gewig

Varke van 100 tot 150 lb lewende gewig

Varke van 150 tot 200 lb lewende gewig

Gebruik vir elke 1 lb graan

4 tot 5 lb afgeroomde melk

3 tot 3½ lb afgeroomde melk

2½ tot 3 lb afgeroomde melk

2 tot 2½ lb afgeroomde melk

 

As afgeroomde melk skaars is, kan bogenoemde diereproteïenes gebruik word.

Vir varke tot 50 lb. word 15 persent gebruik, vir die van 50 tot 100 lb. 12 persent en vir die van 100 tot 200 lb. 10 persent. Die graan wat gebruik word, kan mielies, gars of kafferkoring wees. Hawer kan vir jong varke gebruik word as die meeste doppe uitgesif word.

As die varke op hok gehou word, moet hulle omtrent 4 lb. voer per 100 lb. lewende gewig kry. As 'n mens die varke dophou wanneer hulle vreet, kan jy ook skat hoeveel hulle moet kry. Die trog moet na 15 minute leeg geëet wees.

Behalwe bogenoemde voer is groenvoer en minerale ook baie noodsaaklik vir die gesondheid en groei van jong varke, veral as hulle op hok gevoer word.

By die voer van spekvleisvarke moet die volgende punt in gedagte gehou word:-

  1. Varke wat in dieselfde groep gehou word, moet almal ewe groot wees.

  2. Die groep moenie te groot wees nie -10 tot 12 varke is 'genoeg.

  3. Sorg dat die trôe groot genoeg is vir die varke in die groep.

  4. Sorg dat al die varke vreet en dat elkeen sy deel van die rantsoen kry. As dit nie die geval is nie, moet hulle die volgende keer minder voer kry, sodat al die varke nie hulle eetlus verloor nie.

  5. Waak teen wurmbesmetting. Varke wat met rondewurm (Ascaris) besmet is, is nie winsgewend nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 20