Last update: April 5, 2012 10:14:22 AM E-mail Print

 

DIE GEVAAR VAN STEEKHAAR IN DIE MERINOVAG

HG Scholtz 

 

STEEKHAAR (kemp) is 'n ongewenste vesel in die merinovag. Weens die groot verskille in voorkoms, struktuur en fisiese eienskappe tussen die wolvesel en steekhaar, kan wol wat steekhaar bevat, nie gebruik word vir die vervaardiging van kledingstowwe van hoë gehalte nie.

 

EIENSKAPPE

Die tipiese steekhaarvesel is kort, reguit, bros, ovaalvormig en loop aan albei kante af met 'n skerp punt. By die Merino het dit gewoonlik 'n dowwe, kalkagtige wit voorkoms, maar dit kan ook ander kleurvorme hê soos bruin en swart. Net soos by die wolvesel is steekhaar ook opgebou uit die eiwit keratien.

In teenstelling met die soliede wolvesel het steekhaar 'n dik murg of medulla waarvan die selle hol is en lug insluit (soos aangedui in die tekening). Die medulla is die oorsaak waarom steekhaar so bros en onbuigsaam is. Jong skape toon gewoonlik nie steekhaar voor op 'n jaar ouderdom nie. Die steekhaar is dan slegs in geringe hoeveelhede teenwoordig, maar namate die dier ouer word, neem die kempagtigheid toe.

 

 

SOEK STEEKHAAR HIER

Steekhaar is die maklikste waarneembaar op die nie-wolgedeeltes van die kop, en veral op die brug van die neus waar die haarbedekking en die kuif saamloop, op die ooglede en op die bene en nie-wolgedeeltes soos onder die blad, op die uier, en op die skrotum. Dit kom ook in die vag voor en is dan as losdrywende vesels sigbaar.

Kemp op die gesig kan maklik waargeneem word deur die grysagtige voorkoms wat dit aan die. andersins roomkleurige haarbedekking gee. Harde hare op die gesig word dikwels verkeerdelik vir steekhaar aangesien. Die twee tipes kan egter maklik onderskei word deurdat die hare blink is, in teenstelling met die kalkagtige, dowwe kleur van steekhaar.

In die kuifwol kan kemp ook maklik waargeneem word, maar aangesien gewone hare ook afsteek teen die wolvesels, is hierdie waarneming nie betroubaar nie. Aangesien kemp van tyd tot tyd uitval, sal skape gedurende sommige tye van die jaar nie steekhaar toon nie. 'n Geringe hoeveelheid sal egter altyd op die ooglede waarneembaar wees.

 

NADELE

 

OORSPRONG

Deur te let op die bedekking van ander skaaprasse (veral die Swartkop-Persie), bokke en soogdiere in die algemeen, kan in 'n mate afgelei word waar steekhaar vandaan kom.

In sy natuurlike staat bestaan die bedekking van meeste soogdiere uit twee lae-'n buitenste laag van lang growwe vesels en 'n onderlaag van fyn sagte vesels om die liggaam warm te hou. Deurdat die Merino ook ontwikkel is uit primitiewe rasse, kan aangeneem word dat dit oorspronklik ook twee lae bedekkings gehad het. Deur slegs vir die fyn wolvesel te selekteer, het die kempagtige buitelaag verdwyn sodat die hedendaagse Merino as die mees steekhaarvrye vag beskou kan word. Die feit dat by baie pasgebore lammers die moederhaar nog kempagtigheid toon, staaf hierdie veronderstelling dat die merinovag ook eers bestaan het uit 'n growwer buitelaag en 'n fyner onderlaag.

Proewe het bewys dat steekhaar oorerflik is, en ramme wat steekhaar het, sal dit dus ongetwyfeld oordra op hul nageslag. Indien nie streng daarteen selekteer word nie, kan dit na die vaggedeeltes versprei en sodoende die waarde van die wol verlaag.

Dit is dus raadsaam om diere wat steekhaar toon, liefs nie te gebruik vir teeldoeleindes nie. Kemp kan ook op ander maniere in die wol kom deurdat basters of rasse met kemp, byvoorbeeld Dorpers, in dieselfde kampe loop of deur in dieselfde krale en skure met Dorpers en Merino's, te werk. So 'n praktyk moet sover moontlik vermy word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37(5)