Last update: April 5, 2012 08:47:17 AM E-mail Print

 

STERTAFSIT VAN MERINOLAMMERS

Walter een van die vyf metodes is die beste?

 

WD Basson & Dr KM van Heerden, Landboukollege Grootfontein

 

'N NUWE apparaat vir die stertafsit van lammers is onlangs ontwikkel wat na bewering met welslae in Nieu-Seeland en Australië gebruik word. Hierdie apparaat bestaan uit 'n verhitte, puntige yster wat die wond skroei terwyl die stert afgesit word.

Die vernaamste voordele wat vir die skroei-yster voorbehou word is dat die lam minder bloei met stertafsit en dat die stertwond toegeskroei word. Sodoende word die indringing van kieme wat tetanus (kaakklem), sponssiekte of bloedvergiftiging kan veroorsaak, verhoed.

Om die praktiese nut van hierdie metode van stertafsit by Merinolammers te bepaal, is 'n proef uitgevoer waar die skroei-ystermetode met die reeds bestaande en bekende metodes van stertafsit vergelyk word.

 

VYF METODES UITGETOETS

Vyf groepe lentelammers van drie tot ses weke oud is in die proef gebruik. Daar was eerstens 'n kontrolegroep waarvan die sterte nie afgesit is nie. By die tweede groep is die bloedlose stertknippermetode gebruik. Die mesmetode is vir groep 3 gebruik, die skroei-ystermetode vir groep 4, die rubberringmetode vir groep 5 en die rubberring- en mesmetode vir die sesde groep, waar die lammers se sterte met 'n mes afgesny is twee dae nadat die rubberringe aangesit is.

Geen ontsmettingsmiddel is na die operasie op die stertwonde gesit nie. Sodoende is verhoed dat die mate en spoed van genesing van die wonde beïnvloed word. Waar infeksie van die stertwond wel ingetree het, is die wond met 'n geneesolie behandel. Waar brommeraanvalle voorgekom het, is soveel moontlik van die maaiers verwyder en die wond met 'n brommermiddel behandel. Die lammers is volgens die normale praktyk voor stertafsit teen sponssiekte ingeënt.

Na stertafsit is die lammers met gereelde tussenposes geweeg. Daar was geen noemenswaardige verskil in die gewigstoename van die ses groepe nie. Dit blyk dus dat die afsit van die stert nie die groei van die lammers nadelig beïnvloed het nie.

 

VERGELYKING

Die bloedlose stertknippermetode (groep 2)

In vergelyking met die mesmetode (groep 3) het hierdie metode van stertafsit minder bloeding onmiddellik na die operasie tot gevolg gehad, maar die bloeding het langer aangehou. Vier weke nadat die sterte afgesit is, het 6.7 persent van die lammers in hierdie groep nog bloeding van die stertwond getoon. Hierdie "vertraagde" bloeding is 'n aanduiding dat 'n mooi skoon wond nie verkry word nie en hou dus gevaar van besmetting met kieme in soos byvoorbeeld die wat kaakklem veroorsaak. Die stertwonde het ook langer geneem om te genees en het 'n hoër mate van besmetting as die wonde van die mesmetode getoon.

Die bloedlose stertknipper is ook moeiliker om te hanteer as die mes, veral waar die stert dik is of met lang wol bedek is. Hierdie operasie is pynlik vir die lam deurdat die stertwerwels in 'n mate met die operasie vergruis word. Die bloedlose stertknippermetode blyk dus geen werklike voordeel bo die mesmetode te hê nie.

 

Die mesmetode (groep 3)

Onmiddellik nadat die sterte met 'n mes afgesit is, het die wonde meer gebloei as met enige van die ander metodes. Binne ongeveer 20 minute het die wonde opgehou bloei, of net nog effens gebloei. Twee weke na die operasie het die stertwonde van hierdie groep die minste bloeding in vergelyking met die ander metodes getoon.

Die mate van besmetting van die stertwonde van hierdie groep skape was laer as vir enige van die ander groepe skape gedurende die eerste twee weke na die operasie. Na vier weke egter, het 'n hoër persentasie lammers in hierdie groep infeksie van die stertwond getoon as in die geval van die skroei-ystermetode.

Met die mesmetode word 'n mooi skoon wond verkry wat betreklik gou droog word. Die operasie neem baie minder tyd in beslag, is baie makliker om uit te voer en is minder pynlik as enige van die ander maniere van stertafsit.

 

Die skroei-ystermetode (groep 4)

Slegs 6.7 persent van die lammers waarvan die sterte op hierdie manier afgesit is, het 'n geringe mate van bloeding net na die operasie getoon. Hierdie min bloeding word toegeskryf aan die feit dat die warm yster die bloedvate toeskroei. Die wond wat met hierdie metode nagelaat word, is egter baie leliker as wat met enige van die ander metodes die geval is. Heelwat dooie weefsel word om die stertwond gevorm en sug word afgeskei. Twee weke nadat die sterte afgesit is, het 53.3 persent van die stertwonde nog sug afgeskei. Dit is egter opmerklik dat vier weke na stertafsit, al die stertwonde wat met die skroei-yster afgesit is, genesing getoon het in vergelyking met 86.7 persent genesing in die geval van die mesmetode.

Hierdie verskynsel kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat

  1. 53.3 persent van die lammers waarvan die sterte met die skroei-yster afgesit is, twee weke na stertafsit met 'n geneesolie behandel is omdat infeksie van die stertwond ingetree het; of dat

  2. gedurende die eerste twee weke na stertafsit 80 persent van die skape waarvan die sterte met die skroei-yster afgesit is, minstens een stert brommeraanval gehad het. Dit is 'n bekende feit dat 'n wond wat met brommermaaiers besmet is, gouer genees nadat die maaiers verwyder is as soortgelyke wonde wat nie besmet was nie. Die verklaring hiervoor is dat die maaiers die dooie weefsels en selle wegvreet en 'n skoner wond nalaat om te genees.

Die dooie weefsel gepaard met die afskeiding van sug uit die stertwonde van hierdie groep skape mag moontlik ook 'n goeie kweekbodem wees vir kieme, soos byvoorbeeld die van kaakklem.

Met die skroei-yster is die operasie pynlik vir die lam. Dis ook moeiliker uitvoerbaar en kom duurder te staan as die met die mesmetode.

 

Die rubberringmetode (groep 5)

Net nadat die rubberringe aangesit is, spring die lammers gedurig rond, of rol hulle op die grond van die pyn wat die drukking van die rubberring op die stert veroorsaak. Die pyn bedaar blykbaar na sowat 'n uur en gedra die lammers hulle weer heeltemal normaal.

Met die rubberringmetode neem die ringe ongeveer twee weke om deur die vel van die stert te sny, en die gedurige, hoewel geringe mate van bloeding wat plaasvind, mag gevaar inhou van besmetting met kieme wat tetanus of bloedvergiftiging kan veroorsaak. Dit duur egter baie lank voordat die sterte afval. Vier weke nadat die rubberringe aangesit is, het 27.7 persent van die sterte nog vasgesit en na agt weke het 20 persent van die sterte nog nie afgeval nie. Na twaalf weke egter was al die sterte af.

Die persentasie lammers wat infeksie van die stertwond gedurende die tweede week na stertafsit getoon het, was betreklik laag. Vier weke na die operasie het 'n hoër persentasie van die lammers in hierdie groep infeksie van die stertwond getoon as in enige van die ander groepe.

Dit is opvallend dat geen brommeraanvalle op die sterte van hierdie groep skape voorgekom het nie.

 

Die rubbering-en-mesmetode (groep 6)

In vergelyking met die mesmetode hou hierdie saamgestelde metode geen ekstra voordele in nie en regverdig dus nie die bykomstige hantering van die skape nie.

Hoewel die stertwonde van hierdie groep skape net na die operasie minder gebloei het as waar die sterte met 'n mes afgesit was, was die bloeding van die stertwonde 6.7 persent hoër as by die mesmetode twee weke na stertafsit. Na twee weke het die lammers in hierdie groep 'n hoër mate van stertwondbesmetting as enige van die ander groepe skape getoon. Hierdie besmetting is waarskynlik te wyte aan die kneusing veroorsaak deur die rubberring voordat die sterte met 'n mes afgesit word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 39 (4)