Last update: April 10, 2012 11:10:16 AM E-mail Print

 

Strafplante

S. W. Pienaar 

 

IN die natuur is daar geen stilstand nie. Ons natuurlike weiveld lewer ‘n treffende bewys van hierdie stelling. Veld wat reg bewei word, moet nadat dit nuttig gebruik is, eers 'n kans kry om ten volle uit te groei en saad te skiet. Net soos met die snoei van vrugtebome, het beweiding 'n prikkel en de uitwerking op die groei van 'n plant. Voedsame plante word stomp gevreet en dus gereeld geprikkel tot nuwe groei en saadproduksie. Om hierdie rede verbeter veld indien oordeelkundige beweiding toegepas word.

Boere beweer dat as veld te lank gespaar word, dit dan suur word. Wat werklik gebeur is dat smaaklike plante versmoor word onder die dooie plantemateriaal wat ophoop en dan vervang word deur minderwaardige plante wat gewoonlik ruig en weelderig groei.

Dog deur aanhoudende beweiding kry vee die kans om die smaaklike plante kort te hou. Dit verhoed dus dat daar reserwe voedingstowwe opgebou kan word waaruit die wortelstelsel versterk en ook saad geproduseer kan word. Sulke smaaklike plante verswak dan geleidelik en sterf later uit: Oorbeweiding verhaas hierdie proses en het as gevolg dat die grond letterlik blootgestel word aan erosie in al sy skrikwekkende vorms. Op die ontblote grond dring dan minderwaardige plante in - baie waarvan skadelik en selfs giftig is. Aan sulke skadelike plante kan ons met reg die benaming van strafplante toeken.

Solank dit slegs eenjarige gewasse is wat indring, is die gevaar nie so groot nie, want die beheer daarvan is betreklik eenvoudig. In die geval van struike en bome wat as strafplante voorkom, word die vraagstuk bepaald ernstig, want in die meeste gevalle moet dit uitgekap word teen hoë koste.

Die strafplante wat in Griekwaland-Wes aangetref word, is beperk tot slegs 'n paar families. Soorte binne daardie families is ewe beperk, maar in baie gevalle tree hulle so prominent op die voorgrond dat dit 'n dreigende gevaar vir die toekoms inhou.

In die Griekwaland- Wesstreek word hoofsaaklik net drie grondtipes aangetref, nl. Kalk - rooi dolomiet- en sandgronde. Die plantbedekking op elk van die grondtipes verskil radikaal, en dus sal een strafplant bespreek word uit elk van die drie groepe.

 

(1) Swarthaak of Haakbos (Acacia detinens). Alhoewel hierdie bos een van die nuttige voerbome van Griekwaland- Wes is, en deur die wet beskerm word teen uitroeiing, is dit in sommige gevalle 'n werklike straf. Dit kom meesal voor in die vorm van 'n struik, veral as dit te, straf bewei was of voorheen afgekap was. Grondtipe skyn ook in sommige dele die groeiwyse te beïnvloed.

Op rooigrond en sanderige leemgronde van dolomiet-oorsprong kom swarthaak in groot hoeveelhede voor. Op die rooi dolomietrante is die plantbedekking meesal beperk tot slegs swarthaak, driedoring en kapokbossie, omdat ander plante reeds uitgetrap is.

Deur die vinnige vermeerdering van die plant word ondeurdringbare plantasies gevorm. Toevallige tellings wat gemaak is, het gevalle aangetoon waar daar van drie tot agt klein plantjies per vierkante jaart voorkom. As slegs die helfte hiervan tot die struik stadium ontwikkel, is sulke plekke ondeurdringbaar vir veediere. Ondeurdringbare kolle van hierdie aard kom reeds algemeen voor teen die hange van berge en rante. 'n Interessante verskynsel is dat binne sulke selfbeskermde kolle meerjarige grasse soos rooigras en vingergras algemeen voorkom.

Afkap van die bos as uitroeiingsmaatreël vererger die toestand, daar die bos dan enigiets van vier tot agt stamme ontwikkel in plaas van een. Permanente uitroeiing kan alleen geskied as die plant met wortel en tak verwyder word, en dit kan alleen teen hoë koste uitgevoer word.

Swarthaaksaad is hardskalig en ontkiem nie maklik nie tensy dit direk deur die son bestraal word. As die plantbedekking dus as gevolg van goed beplande weiveldbeheer so toeneem dat die oppervlakte weer dig bedek raak, sal die verdere toename van swarthaak stopgesit word.

Dus, tensy weidingbeheer spoedig toegepas word, sal swarthaak, wat 'n waardevolle voerboom van Griekwaland- Wes is, in sy struikvorm een van die grootste strafplante van die streek word.

 

(2) Vermeersiektebossie (Geigeria passerinoides) .- Hierdie welbekende giftige bossie wat aan boere reeds al duisende ponde in klein- en grootveeverliese besorg het, kom meesal op die kalkgronde van die Ghaapse hoogland voor. Op die rooi dolomietgronde maak die bossie ook sy verskyning, maar in baie geringer mate, selfs waar die dolomietveld meer uitgetrap is as die kalkveld.

Gelukkig kom meestal net die minder giftige soort, nl. Geigeria passerinoides voor in Griekwaland-Wes. Die giftigste soort, nl. Geigeria aspera. kom glad nie voor nie. Geigeria zeyheri en Geigeria passerinnoides is nooit deur skrywer persoonlik aangetref nie.

Die bewering van boere dat Geigeria passerinoides in matige hoeveelhede, goeie skaapkos is, kan deur persoonlike waarnemings gestaaf word. Terwyl 8 tot 10 lb. vermeerbos nodig is om 'n skaap dood te maak, is dit duidelik dat die plant werklik eers dodelik is as dit die uitsluitlike voeding van die skaap uitmaak.

Op erg uitgetrapte veldweidings, wat deur vermeerbos ingeneem is, kom hoë sterftesyfers onder skape voor. Gevalle van 73 persent sterfte in 'n skaapkudde is reeds bekend. Dit toon aan watter strawwe maatreëls die natuur in die streek al toepas in gevalle waar uittrapping deur wanbestuur en oorbeweiding veroorsaak word.

Een van die opvallendste resultate wat verkry is op die Koopmansfontein-weldingnavorsingstasie, is die definitiewe verhouding wat daar is tussen die digtheid van die plantbedekking op veld en die hoeveelheid vermeerbos aanwesig. Namate voedsame plante deur uittrapping verdwyn, dring vermeerbos in.

Dus, sodra die aantal vee op 'n plaas te veel word en daardeur die normale stand van die plantegroei bedreig word, tree vermeerbos as 'n strafplant op die voorgrond en dun dan die veestapel uit.

 

(3) Wilde-ui of Malkop-ui (Dipcadi glaucum) - Hierdie gifplant van Griekwaland- Wes toon 'n duidelike voorliefde vir sandgronde. In die sanderige vierkant tussen Kimberley, Douglas, Belmont en Schmidtsdrif was verliese onder beeste, te wyte aan malkop-uivergiftiging, aansienlik hoog na die somerreëns van 1946. Hierdie verliese was in werklikheid groter as gedurende die droogte van 1944-1946. Veral uitgetrapte plase is swaar getref.

Net soos die vermeerbos, is die wilde-ui alleen skadelik as dit in te groot hoeveelhede gevreet word.

Die toename van wilde-ui staan in direkte verhouding tot die mate van uittrapping op 'n plaas. Baie gevalle is bekend waar 'n grenslyn tussen plase ook 'n versperring vorm vir hierdie gifplant. Aan die kant waar die veld taamlik stelselmatig bewaar word, kom enkele verspreide plante voor terwyl net aan die ander kant, op die uitgetrapte veld die gifplant in groot getalle floreer. Gevalle is gevind waar die. toename so erg was dat die knolle mekaar letterlik

uit die grond gelig het. Die telling in so 'n uiterste geval was 14 plante per vierkante jaart. In 'n verlate kerkhof wat omhein is, het 'n digte en weelderige grasbedekking ontwikkel. In hierdie ou kerkhof is geen wilde-uiplante aangetref nie, terwyl die gifplante in die onmiddellike omgewing daarvan feitlik die enigste plantbedekking uitgemaak het.

In hierdie sandvelddele is die onderverdeling van plase in 'n groot persentasie van gevalle tot onekonomiese eenhede deurgevoer; nl. tot groottes van 500-800 morge. Omdat 'n sandplaas so maklik uitgetrap kan word, en die plaas-eenhede in menige geval te klein is, word die belangrikheid van hierdie gifplant sterk op die voorgrond gestel.

Dus sal die wilde-ui, net soos die vermeerbossie, daarvoor sorg dat daardie nodige verhouding tussen die aantal diere en die beskikbare plantegroei gehandhaaf word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 23