Last update: September 2, 2011 12:04:12 PM E-mail Print

 

DIE VOEDINGSWAARDE VAN BEHANDELDE EN ONBEHANDELDE SUURPOL (MERXMUELLERA DISTICHA)


P G MARAIS, M J HERSELMAN en H G J LINTVELT
Landboukollege Grootfontein

 

1. INLEIDING

Periodieke langdurige rampdroogtes is eie aan die Karoostreek. Die veetroppe van hierdie Streek is hoofsaaklik op die natuurlike veld vir weiding aangewese. Gedurende hierdie droogtes ontwikkel gewoonlik ernstige tekorte aan beskikbare ruvoer. Dit gebeur ook dikwels dat ruvoer, veral lusern gedurende hierdie tye onverkrygbaar is en dat buitensporige pryse vir ander minderwaardige voere, wat oor lang afstande vervoer moet word, betaal word.

Groot hoeveelhede onbenutte lae graadse ruvoere is in die Karoo en ariede gebiede beskikbaar, byvoorbeeld renosterbos (Elytropappus rhinocerotis), suurpol (Merxmuellera disticha) en fluitjiesriet (Phragmites australis) is enkele voorbeelde. Van hierdie is suurpol die mees beskikbare.

Weens die lae proteïen-inhoud (2,6 tot 4,0 %) en lae verteerbare energie, hoë ruveselinhoud en lae inname van suurpol is dit egter nie geskik om as hoofkomponent in onderhoudsrantsoene vir skape gebruik te word nie. Dit is derhalwe wenslik dat geskikte metodes gevind sal word om die benutting van suurpol in hooi-vorm te verbeter. Moontlike metodes waarvolgens energie in lae kwaliteit ruvoere vir herkouers meer toeganklik gemaak kan word, is hoofsaaklik fisies, chemies en biologies van aard.

Chemikalië wat in hierdie verband aangewend word, is veral bytsoda (Jackson, 1977) en ammoniak (Sundstol, Coxworth & Mowat, 1978). Beide hierdie chemiese stowwe het 'n verhoging in verteerbaarheid en smaaklikheid van die behandelde produk tot gevolg. Weens prys en. beskikbaarheidsoorwegings word plaaslik voorkeur aan bytsoda behandeling verleen.

Sukses is ook behaal deur ruvoer, byvoorbeeld graanstrooi, in 'n waterige medium vir 'n tydperk met ureum in te kuil (Van der Merwe, 1976; Kritzinger & Franck, 1981). Met die behandeling word die beskikbare ureum ensiematies afgebreek om ammoniak vry te stel.

Voordele verbonde aan hierdie metode is dat daar met 'n relatief veilige chemikalie gewerk word en dat onveranderde ureum na afloop van die behandeling as 'n bron van NPN benut kan word. Die belangrikste nadeel van hierdie behandeling is dat die droging van die eindproduk relatief moeilik is.

Die doel van hierdie studie was om die doeltreffendheid van bogenoemde metodes vir die behandeling van suurpol te ondersoek.

 

2. PROEFPROSEDURE

2.1 Behandeling van suurpol

Alle suurpolhooi vir hierdie proef is met 'n Drotsky-hamermeul (13 mm sif) gemaal en met die onderskeie chemikalie behandel.

 

2.1.1 Bytsodabespuiting

Gemaalde hooi is met 5 % NaOH behandel, deur 'n 20 % oplossing daaroor te spuit, deeglik te meng en daarna te droog tot 'n droë materiaal-inhoud van ongeveer 90 % (Hofmeyr, Jansen & Roux, 1982).

 

2.1.2 Bytsoda-ureumbehandeling

Van die bytsodabehandelde hooi (2.1.1) is verder met ureum benat (2.1.3).

 

2.1.3 Ureumbenatting

Gemaalde hooi is deeglik met 'n ureum-oplossing van 75 g ureum en 400 g water per kg lugdroë hooi vermeng (Kritzinger & Franck, 1981).

 

2.1.4 Ureuminkuiling

Dieselfde metode as in 2.1.3 beskryf is bier gevolg en die hoeveelheid hooi wat benodig was, is vir ses weke in lugdigte houers ingekuil en daarna tot ongeveer 90 % droë materiaal gedroog. Hierdie droging het ook vir al die ander behandelings gegeld.

 

2.2 Inname en in vivo verteringstudie

Dertig volwasse Merinohamels (43,1 ± 0,187 kg Iiggaamsmassa), opgedeel in vyf behandeIingsgroepe, is oor 'n periode van 14 dae in individuele hokkies op die onderskeie proefrantsoene gevoer. Uit die onderskeie groepe is 4 hamels, wat die beste tot die rantsoen aangepas het, is vir in vivo-bepaIings gebruik. Die in vivo-verteringstudie is dus met 20 hamels uitgevoer en die versamelperiode was 7 dae lank. AIle diere is teen ongeveer 15 % bo ad lib. inname gevoer. Verteenwoordigende mis- en voermonsters is geneem en volgens die Weende-stelsel (A.O.A.C. 1970) ontleed.

 

3. RESULTATE

3.1 Chemiese samestelling

Die invloed van die onderskeie behandelings op die chemiese samestelling van die proefrantsoene word in Tabel 1 aangetoon.

Dit blyk uit Tabel 1 dat daar nie groot verskille in die DM-inhoud tussen verskillende behandelings voorgekom het nie. Ten opsigte van die as-inhoud het die NaOH-behandelde suurpol die hoogste waarde gehad, terwyl die ureumbehandeling daartoe gelei het dat die ruproteïen (RP) aansienlik verhoog het. Verskille in ruvesel (RV) tussen behandelings was gering, terwyl die ingekuilde suurpol 'n hoer eterekstrak (EE)-inhoud gehad het. Die ureumbehandelings het weer 'n afname in die stikstof. vrye-ekstrak (NVE) tot gevolg gehad. Wat veral opmerklik was, is dat die NaOH plus ureumbehandeling die laagste NVE-waarde gehad het.

 

Verteerbare voedingstowwe

Die verteerbaarheid van die verskillende voedingstowwe van die proefrantsoene word in Tabel 2 en 3 aangetoon.

Wat proteïen betref het die NaOH + ureumbehandeling, ureumbenatting en die ureuminkuiling die verteerbaarheid van proteïen (Tabel 2) asook totale verteerbare proteïeninhoud (Tabel 3) hoogs betekenisvol verhoog. Die negatiewe verteerbaarheidssyfer van proteïen by die NaOH-bespuiting kan aan 'n groot variasie en 'n negatiewe stikstofbalans toegeskryf word. In die geval van totale verteerbare ruveselinhoud en ruveselverteerbaarheid het slegs die ureumbenatting en ureuminkuiling 'n betekenisvolle verhoging teweeg gebring. As gevolg van groot variasie het NaOH + ureumbehandeling nie 'n betekenisvolle verbetering in verteerbare ruvesel veroorsaak nie, alhoewel daar 'n geringe verskil tussen die gemiddelde waardes van die NaOH en ureumbehandeling waargeneem is. Die vetverteerbaarheid en die totale verteerbare vet is hoogs betekenisvol deur die NaOH-bespuiting en die NaOH + ureumbehandeling verlaag. Slegs die ureumbenatting het die verteerbaarheid van NVE betekenisvol beïnvloed. Wat die TVV -waardes betref, het slegs die ureuminkuiling 'n betekenisvolle verhoging tot gevolg gehad.

 

VRYWILLIGE VOERINNAME

Vrywillige voerinname van die verskillende rantsoene verskyn in Tabel 4.

Uit Tabel 4 is dit duidelik dat slegs ureumbenatting nie die vrywillige voerinname betekenisvol verhoog het nie.

 

BESPREKING

Ureumbehandeling het die ru-proteïeninhoud van suurpol dramaties vanaf 3,8 % na 12,7 %, 11,9 % en 12,6 % vir NaOH + ureum-, ureumbenatting en ureuminkuiling, onderskeidelik verhoog (Tabe1 1). Die verhoging in die persentasie ru-proteïen in die bogenoemde behandelings is waarskynlik die gevo1g van onafgebreekte ureum en ammoniak wat aan die suurpol gebind is. Hierteenoor was die verteerbare ru-proteïeninhoud van die drie rantsoene 8,51 %,8,10 % en 6,82 % onderskeidelik gewees (Tabel 3). Hierdie resultate kan verklaar word aan die hand van die effek van ureumbehandeling op ruveselverteerbaarheid wat deur ureumbehandeling betekenisvol verhoog is. Dit is bekend dat lignien, wat onverteerbaar is, deur middel van esterbande aan strukturele koolhidrate soos sellulose en hemisellulose gebind word (Tarkow & Feist, 1969). As gevolg van hierdie binding is sellulose en hemisellulose in 'n mate ontoereikend vir vertering. Na hidrolise van ureum veroorsaak NH3 'n breking van die esterbande tussen lignien en hemisellulose. Tydens hierdie proses raak hemisellulose gedeeltelik oplosbaar terwyl sellulose uitswel sodat die verteerbaarheid daarvan verhoog. 'n Tweede tipe reaksie wat veral by 'n hoe voginhoud plaasvind, is die hidrolise van die esterband deur NH4OR. Tydens hierdie prosesse word die NH3 wat in die reaksie reageer, gebind en word onverteerbaar. As bogenoemde drie gevalle weer in oënskou geneem word, word die afname in proteïenverteerbaarheid in die vaslegging van NH3 verklaar, terwyl die gepaardgaande styging 'n ruveselverteerbaarheid die direkte gevolg van die breking van die esterbande is. Alhoewel al die behandelings die TW en organiese materiaal van suurpol verhoog het, was slegs die waardes vir ureuminkuiling betekenisvol verskillend van die onbehandelde suurpol gewees. Hierdie verhoging in TW en OM kan hoofsaaklik aan die verhoogde verteerbare ruvesel en ruproteïen toegeskryf word.

Die toename in die asfraksie wat met NaOH-behandeling voorgekom het, was weens die toevoeging van NaOH te wagte en het waarskynlik tot 'n verlaging in die bruto-energiewaarde van die betrokke diëte gelei (Meissner, Franck & Hofmeyr, 1973). Die verlaging in NVE- inhoud van die drie rantsoene weens ureumbehandeling is die direkte gevolg van 'n verhoging in die ruproteïen-inhoud (NVE = 100 - (As +ruproteïen +vet +ruvesel)).

 

GEVOLGTREKKING

lndien vrywillige voerinname, ruveselverteerbaarheid, verteerbare RP en TVV as maatstawwe gebruik word om te bepaal watter behandeling die beste resultate gelewer het, blyk dit dat ureuminkuiling die beste gevaar het en dat aanvulling van suurpol met ureum (ureumbenatting) die ondoeltreffendste was. Die grootste enkele voordeel van NaOH-behandeling en ureuminkuiling van suurpol is waarskynlik die drastiese verhoging in vrywillige voerinname wat hierdie behandelings tot gevolg het. Hierdie behandelings behoort dus eerstens vir 'n verhoging in vrywillige inname aangewend te word, terwyl die verhoging in ru-proteïeninhoud as bonus beskou kan word.

Uit hierdie studie is dit duidelik dat ureuminkuiling en ureumgesupplementeerde NaOH-behandelde suurpol as 'n gedeeltelike vervanger van ander ruvoere vir die instandhouding van onderhoud by kleinvee gebruik kan word. Verdere navorsing sal nog gedoen moet word ter bepaling van die insluitingspeil wat gemaak kan word.

 

VERWYSINGS

A.O.A.C., 1970. Official methods of analysis of the Association of Official Agricultural chemists 11th Ed. Edited by W. Horwitz, Washington: Ass. of Off. Anal. Chem.

HOFMEYR, H.S., JANSEN, T.H. & ROUX, C.Z., 1982. The replacement of maize meal with sodium hydroxide treated straw in growth diets for lambs. S. Afr. J. Anim. Sci. 12, 113.

JACKSON, M.G., 1977. Reviewarticle. The alkali treatment of straws. Anim. Fd. Sci. Tech. 2,105.

KRITZINGER, N.M. & FRANCK, F., 1981. Die effek van ureum inkuiling op die in vitro verteerbaarheid van koringstrooi. Els. J. 5 (1), 15 - 18.

MEISSNER, H.H., FRANCK, F. & HOFMEYR, H.S., 1973. 'n Kort mededeling oor die invloed van Natriumhidroksied op die verteerbaarheid en inname van winterveldgras van 'n swak kwaliteit. S. Afr. Tydskrif, Veek. 3,51.

SUNDSTOL, F., COXWORTH, E. & MOWAT, D.N., 1978. Improving the nutritive value of straw and other low-quality roughages by treatment with ammonia. W. Anim. Rev. 26,13.

TARKOW, H. & FEIST, W.C., 1969. A mechanism for improving the digestibility of lignocellulose materials with dilute alkali and liquid ammonia. In: Celluloses and Their Applications,Adv. Chem. Ser. 95,197.

VAN DER MERWE, P.K., 1976. Animal feed material. Chern. Abstr. 87. 20 898 Y.

 

Published

Karoo Agric 4, 9-12