Last update: April 3, 2012 09:11:16 AM E-mail Print

 

SIEKTES VEROORSAAK DEUR ORGANIESE GIFSTOWWE: GIFTIGE SWAMME EN ALGE

GF Bath

 

Die belangrikste swamme en alge wat vergiftiging by skape veroorsaak, is die volgende:

Vergiftiging word ook deur talle ander swamme veroorsaak, waaronder swam me wat waarskynlik op hierdie stadium nog onbekend is.

Diplodea maydis groei op mieliekoppe tydens warm, vogtige weer. Swakheid en verlamming is die vernaamste siektetekens maar skape vrek seIde.

Claviceps purpurea veroorsaak die siekte "Ergot". Die swam groei in die saad en vervang dit uiteindelik. Afgesien van raaigras word hierdie verskynsel ook by ander grassoorte teëgekom. Die uitwerking van die gifstof op die dier is hoofsaaklik beskadiging van kleinere bloedvate en stimulering gevolg deur onderdrukking van breinfunksie. Siektetekens is derhalwe mankheid en droë gangreen van die pote, ore en stert, asook opgewondenheid wat deur bedruktheid gevolg word.

Aspergillus flavus word veral in oliekoekmeel wat van vermufte grondboontjies gemaak is, gevind. Die grootste gevaar Iê derhalwe in voerpille wat vermufte oliekoekmeel bevat. Die siekte kom egter seIde onder skape voor aangesien voerpilvervaardigers sulke vermufte besendings gewoonlik afkeur. Die gifstof tas die lewer aan.

Die laaste drie soorte in bygaande lys word onder "Liggevoeligheid en geelsug" bespreek.

 

BLOUSUURVERGIFTIGING

Die siekte staan algemeen bekend as geilsiekte en hoewel dit sporadies voorkom, is dit 'n baie belangrike oorsaak van skaapvrektes. Dit word dikwels met bloednier verwar (kyk elders).

Die gifstof blousuur (HCN) kom in gebonde vorm in 'n groot aantal plante voor, maar selde in genoegsame hoeveelhede om vergiftiging te veroorsaak. By uitsondering kan ongediertegif of nywerheidsafval wat blousuur bevat die bron van vergiftiging wees.

Daar bestaan 'n groot aantal plante wat wel op sekere tye gevaarlike hoeveelhede blousuur kan bevat. Die bekendste voorbeelde is kweekgras (Cynodon spp.) en bietou (Dimorphotheca spp.). Soedangras en manna (Sorghum spp.), akasias, mielies, bloekombome, lusern en talle ander plantsoorte mag ook verantwoordelik wees.

Vinnige, geil groei, asook verwelking en beskadiging wat deur ryp, hael, vertrapping, swaar beweiding of baie warm weer veroorsaak word, kan die vorming van blousuur in plante bevorder.

Uitgehongerde of vreemde skape word dikwels aangetas terwyl skape wat die kamp gewoond is niks oorkom Die omdat hulle die plante of vermy of baie klein hoeveelhede daarvan vreet.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Die gif maak diere so vinnig dood dat siektetekens seIde opgemerk word. Swaar, vinnige asemhaling en stuiptrekkings word soms waargeneem en in lig aangetaste gevalle mag opblaas die vernaamste simptoom wees.

In die meeste gevalle word slegs 'n aantal dooie skape, wat dikwels naby 'n drinkbak Iê, aangetref.

Nadoods vertoon die oog- en bekslymvliese dikwels bloupers en skuim wat soms bloederig mag wees, loop by die neus uit. Onderhuidse bloedvate is duidelik sigbaar, en weer eens is daar 'n opvallende bloupers verkleuring van die bloed wat tydens afslagting uit die bloedvate sypel.

Bloedvate van inwendige organe, veral die derms, is ook baie opvallend. Die lewer het 'n donker, rooiblou, bloederige voorkoms. Die longe vertoon blouerig, is swaar en rubberagtig, en daar word skuim in die lugpype aangetref.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Indien dit vroegtydig toegedien kan word, is behandeling met Hypo (natriumtiosulfaat) en natriumnitriet baie doeltreffend. Die middels kan deur die bek ingegee word, of onderhuids of binneaars ingespuit word. Die voorsiening van 'n swaellek (3-5% in sout) sal vergiftiging heeltemal of gedeeltelik voorkom. Bestuursaspekte behoort egter ook aandag te geniet. Skape moet of glad nie of slegs vir beperkte periodes in gevaarlike weiding ingejaag word. Honger diere sal meer vreet en dus makliker vergiftig raak, daarom moet vreemde diere nie te lank op kraal staan voordat hulle in nuwe weiding ingejaag word Die.

Gevaarlike kampe m.et veral in die lente vermy word, want dan word verlepte plante dikwels aangetref. Wanneer die toestand verbeter het, kan die kampe weer bewei word.

 

OKSAALSUURVERGIFTIGING

Hierdie gif veroorsaak nierskade en 'n daling in bloedkalsium. In groot hoeveelhede is dit gevaarlik maar as diere geleidelik daaraan gewoond raak, kan hulle sonder gevaar redelike groot hoeveelhede daarvan vreet.

Die plante wat gevaarlike hoeveelhede oksaalsuur bevat, sluit in die garingboom, suring, vygies en beet, terwyl menige ander plante en selfs swamme ook gevaarlik kan wees.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Aangetaste skape kan gewoonlik nie opstaan nie of lyk kroes en maer. Die asemhaling is vinnig en vlak. In chroniese gevalle is kenmerkende kristalle sigbaar wanneer die niere oopgesny word. By sulke skape is die karkas waterig as gevolg van die nierbeskadiging.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Diere wat Iê, kan met kalsuimboroglukonaat behandel word ten einde die bloedkalsium te verhoog. Daar is geen spesifieke behandeling vir die nierskade nie, ofskoon sulke diere soms sonder behandeling kan herstel.

Skape moet geleidelik gewoond raak aan oksaalsuurbevattende plante ten einde hulle daarby aan te pas. Byvoeging van kalsium in die vorm van voerkalk kan ook van nut wees. Omdat dit nogtans gevaar inhou, moet waardevolle diere verkieslik nie toegang he tot hierdie plantsoorte nie.

 

NITRAATVERGIFTIGING

Nitrate word hoofsaaklik in plante aangetref maar kom ook in drinkwater en afloopwater voor. Nitrate verminder die vermoë van die bloed om suurstof te dra, en verander die kleur van die bloed na 'n kenmerkende donkerbruin. soos by blousuurvergiftiging is dit veral verlepte en beskadigde plante wat 'n hoë nitraatinhoud het.

Skape wat geleidelik aan hierdie plante gewoond raak, sal ook baie beter teen vergiftiging bestand wees omdat die grootpens daarby kan aanpas om die nitrate na skadelose stowwe af te breek.

Nitrate word veral in hanekam (Amaranthus spp.), hawerhooi (Avena satura), koolraap, beeskool en beet aangetref.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Ofskoon diere gewoonlik baie skielik vrek, word soms vooraf waargeneem dat hulle baie swaar en vinnig asemhaal en stuiptrekkings kry. Swakheid en buikloop kan ook vooraf waargeneem word. Die donkerbruin kleur van die bloed is die opvallendste kenmerk by nadoodse ondersoek.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Metileenblou word as spesifieke behandeling teen nitraatvergiftiging gebruik. Voorkoming berus op die verwydering van gevaarlike plante, veral wanneer hulle verlep is.

Geleidelike aanpassing van diere by sulke plante is ook raadsaam omdat hulle dan redelike groot hoeveelhede sonder gevaar kan vreet.

 

LIGGEVOELIGHEID EN GEELSUG

Hierdie bekende siektebeeld staan algemeen bekend as dikkop, geeldikkop en dikoor. Aangesien die siekte 'n nouverwante uitwerking maar verskillende oorsake het, word die sindrome saam bespreek terwyl die plante en die toestande waaronder hulle giftig word, kortliks afsonderlik bespreek word.

 

DIE OORSAAK

Daar bestaan sekere stowwe wat, sodra hulle aan sonlig blootgestel word, die lig absorbeer en dit daarna weer met korter golflengtes en 'n hoër energie uitstraal. Hierdie strale kan weefsel erg beskadig. Die beskadiging kom veral in die vel voor aangesien dit aan sonlig blootgestel word.

Sulke stowwe kom wel as sodanig in sekere plante (bv. skelkruid en bokwiet) voor, maar meer dikwels is dit 'n produk van chlorofiel wat in die grootpens gevorm word. Normaalweg word hierdie stof deur die lewer in die gal uitgeskei, maar as die lewer erg beskadig word, bereik dit die vel in genoegsame hoeveelhede om liggevoeligheid (fotosensitisasie) te veroorsaak. Dus word die meeste gevalle van liggevoeligheid deur lewerskade voorafgegaan. Sommige vorms van lewerbeskadiging lei egter gewoonlik nie tot liggevoeligheid nie, en in hierdie gevalle van vergiftiging word slegs geelsug waargeneem.

 

VEROORSAKENDE PLANTE EN SWAMME

1. Tribulus terrestris (Dubbeltjie)

Ofskoon daar nog twyfel bestaan of dit die plant self of 'n swam wat in of op die plant is wat verantwoordelik mag wees, is vasgestel dat die inname van dubbeltjies in sekere toestande beslis geeldikkop veroorsaak, terwyl die plant andersins heeltemal skadeloos en trouens baie voedsaam is.

Hierdie vorm is die bekende en gevreesde geeldikkop wat in die droë dele van Suid-Afrika, veral die Karoo, teëgekom word. Dit verskyn by uitstek twee tot drie weke nadat redelike goeie reën 'n somerdroogte gebreek het. Warm, wolklose dae en warm winde sal die voorkoms van die siekte aanhelp, vermoedelik deur 'n ontwateringseffek op die plant. Ware geeldikkop gaan altyd met verlepte dubbeltjies gepaard, hoewel verlepte dubbeltjies nie altyd geeldikkop veroorsaak nie.

 

2. Panicum-grassoorte (Dikoor)

Dikoor wat deur die grasse veroorsaak word, is minder ernstig as geeldikkop. Dit kom veral in die Noordelike Vrystaat, Transvaal en Natal voor, en kan ook deur ander grassoorte veroorsaak word. Weer eens kan 'n swam wat op die gras voorkom vir die siekte verantwoordelik wees.

 

3. Asaemia axillaris (Vuursiektebos)

Die bossie wat in die Noordelike Kaapprovinsie groei, veroorsaak vuursiekte.

 

4. Lippia -soorte en Lantana camara

Die plantsoorte word meesal in die Transvaal en Natal teëgekom en veroorsaak liggevoeligheid en geelsug.

 

5. Lasiospermum bipinnatum (Ganskweek)

Dit kom in bergagtige dele van die Oos-Kaapse Middeland voor, en kan gedurende die laat winter en lentemaande swaar verliese veroorsaak omdat dit dan feitlik die enigste groen plant is wat voorkom.

 

6. Phomopsis Leptostromiforme (Op lupien)

Bitterlupien veroorsaak 'n siekte waar senuweesimptome die hoofkenmerk is. Soetlupien is gewoonlik skadeloos maar sodra dit met bogenoemde swam besmet raak, veroorsaak dit 'n vorm van geeldikkop. Dit gebeur wanneer die plante aan warm, nat toestande onderhewig is. Die siekte kom veral in Wes-Kaapland voor.

 

7. Pithomyces chartarum (Op raaigras, ens.)

In gunstige toestande kan hierdie swam wat op aangeplante weiding (veraI meerjarige raaigras) voorkom, gesigsekseem veroorsaak. Daar is nie soseer swelling van die kop nie, maar eerder 'n rooiwording en afskilfering van die vel (vandaar die naam).

 

8. Microcystis Toxica (Die giftige alg)

Hierdie alg groei in damme in die warm dele van die Transvaal. Dit hou veral gevaar in wanneer wind dit in 'n hoek gewaai het waar diere dit geredelik kan bykom. Dikwels is die lewerbeskadiging wat hierdeur by die dier veroorsaak word so erg dat geen liggevoeligheid voorkom nie en diere dan van primêre lewerbeskadiging vrek.

 

9. Fagophyrum esculentum (Bokwiet) en Hypericum-Boorte (Skelkruid)

Hierdie plante veroorsaak primêre liggevoeligheid, met ander woorde geen lewerskade vind plaas nie.

 

10. Ander oorsake

Die lys hierbo is nie volledig nie en heel moontlik is daar sommige gifplante en swamme wat later bygevoeg sal moet word. Daar moet verder onthou word dat ander oorsake vir swelling van die kop (bv. haarwurmbesmetting en ramdikkop) en geelsug (bv. slenkdalkoors en geelsiekte) bestaan wat glad nie met gifstowwe wat liggevoeligheid veroorsaak, gekoppel is nie.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Die graad van die simptome hang af van die hoeveelheid gif wat ingeneem is asook die hoeveelheid sonlig waaraan die diere blootgestel is. Tydens bewolkte dae sal relatief min velskade aangerig word. Die ems van die skade en gevolglik die siektetekens staan ook in verhouding tot die hoeveelheid chlorofiel (in groenvoer) wat ingeneem is.

Lammers word gewoonlik die eerste en ergste aangetas, en witvelrasse (bv. Merino) is baie meer aan velbeskadiging blootgestel as rasse met donker velIe, veral oor die gesig (bv. die Dorper). Nogtans word laasgenoemde rasse dikwels op die bene en ander ongepigmenteerde dele erg aangetas.

Die eerste teken van liggevoeligheid is 'n jeukerigheid, veral van die kop, en die dier soek dus na skaduwee. Daarna begin die ongepigmenteerde deel van die vel rooi word waar dit aan sonlig blootgestel word (veral die ore, gesig, uier en bene). In lig aangetaste gevalle is dit soms die enigste waarneembare simptome.

Die gesig en ore begin dan skielik en dikwels kwaai te swel, wat sekerlik die bekendste en opvallendste siekteteken van liggevoeligheid is. Die skape soek naarstiglik na skaduwee en steur hulle aan feitlik niks anders nie. Soms loop daar 'n helder gelerige vloeistof by die geswolle dele uit. By die bek en oogslymvliese is soms 'n gelerige kleur waarneem baar, ofskoon hierdie verskynsel nie altyd voorkom nie.

Na 'n paar dae sak die swelsel en die vel oor die aangetaste dele droog uit. Dit vertoon dan hard en onbeweegbaar. Die boonste lae kan afskilfer en deur nuwe vel vervang word, maar in ernstige gevalle sterf die volle dikte van die vel af. Diere kan nie met stywe en dooie lippe vreet of drink nie en vrek derhalwe dikwels aan uithongering en dors. Die heIe oor mag ook afgewerp word sodat daar net 'n stompie oorbly.

'n Kenmerkende teken van die siekte is 'n eweredige rooi ring waar die kloutjie of horing en die vel bymekaar kom. Weer eens mag afwerping geskied sodat die horinggedeelte heeltemal los word.

Benewens bogenoemde tekens word verdere aanduidings by nadoodse ondersoek bevind. Die karkas het dikwels 'n gelerige voorkoms en die lewer is geelbruin en geswolle. Die grootpens en derminhoud is gewoonlik hard en droog.

'n Lewermonster in 10% formalien mag van waarde wees om die diagnose te bevestig en moontlik ook om die verantwoordelike plant of swam aan te dui.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Omdat lewer- en velskade reeds plaasgevind het voordat siektetekens by diere opgemerk is, is behandeling nie baie doeltreffend nie.

Skape moet dadelik doeltreffend teen sonlig beskerm word. Sagte weiding behoort ook voorsien te word, en water kan deur middel van 'n doseerspuit ingegee word indien diere nie kan drink nie. Melasse wat saam met die drink water ingegee word, het 'n heilsame uitwerking.

Voorkoming geskied deur die kampe waarin die plante voorkom veral in gevaarlike tye te vermy. Dit behoort met die plaaslike veearts bespreek te word.

 

KRIMPSIEKTE

Die oorsaak van die siekte is verskillende plakkiesoorte (Cotyledon en Kalanchoe spp.). 'n Soortgelyke siekte word ook deur die bobbejaantou (Cynanchum spp.) veroorsaak. Die plakkie is 'n vetplant wat dikwels onder bosse groei en gewoonlik tydens lang droogtes of net nadat skape ; in 'n kamp gejaag is, gevreet word.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Die opvallendste siektetekens word opgemerk terwyl skape aangejaag word of net daarna. Diere word rusteloos, vertoon swak en het 'n waggelende gang. Die toestand word gekenmerk deur kwaai bewerasie. Skape sak uit en kan nie opstaan nie terwyl die nek dikwels, soos by bloutong gevalle, skeef trek. Soms word stuiptrekkings ook waargeneem. Dikwels word die voorafgaande tekens nie waargeneem nie, maar slegs die verlammingstadium. As die diere met rus gelaat word, herstel hulle gewoonlik.

Kenmerkende letsels kom nie by nadoodse ondersoeke voor nie. Vloeistof in die buik en borsholtes, klein bloedinge, en degenerasie van interne organe en spiere kom soms voor.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Kampe waar plakkies groei, behoort nie tydens droogtes bewei te word nie. Verder is oorbeweiding besonder gevaarlik. Pasaangekoopte skape moet liewer in veilige kampe ingejaag word. Daar bestaan geen spesifieke behandeling vir krimpsiekte nie, ofskoon die skape dikwels sonder enige behandeling herstel. Aangetaste skape moet nooit aangejaag word nie en moet met rus gelaat word totdat hulle volkome herstel het.

 

VERMEERSIEKTE

Verskillende vermeerbossoorte (Geigeria-spp.) veroorsaak die siekte. Hulle word veral in Noord-Kaapland en Griekwaland-Wes asook Wes-Vrystaat aangetref. Hulle kom dikwels oorheersend voor op uitgetrapte veld.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Kwyl by die bek kan die kenmerkende vomering van pensinhoud voorafgaan. Diere kan ook opblaas en swak of selfs verlam voorkom. Buikloop is soms 'n bygaande simptoom. Die diere se kondisie gaan vinnig agteruit, en dikwels vrek diere van die inaseming van pensmis of later van longontsteking.

Pensmis om en onder die bek asook op die voorpote word by nadoodse ondersoek as kenmerkende tekens gesien. Verder kan longontsteking voorkom en ingeasemde pensmis in die longe teenwoordig wees.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Daar is geen spesifieke behandeling nie. Die voorkoms van die siekte kan egter verlaag word deur die bos te beheer. Die bosse kan met die hand verwyder word, hoewel hierdie tydrowende proses in elk geval met behoorlike veldbeheer gepaard moet gaan. Veldbeheer is die beste metode van bekamping. Sekere Geigeria-soorte is egter nie giftig nie en dus moet die voorkoms van die siekte en die betrokke plante eers vasgestel word.

 

KAALSIEKTE

Bitterbos (Chrysocoma tenuifolia) veroorsaak hierdie siekte by jong lammers slegs wanneer die bos in groot hoeveelhede deur die ooi gevreet word. Die gifstof word vermoedelik in die melk afgeskei.

 

SIMPTOME EN NADOODSE ONDERSOEK

Die lammers ontwikkel 'n gevoeligheid vir sonlig (soos by geeldikkop). Die aangetaste vel word gedurig deur die lam gelek, en groot kaal kolle word dus gevorm. Hierdie kolle word rooi of selfs swart as gevolg van blootstelling aan sonlig. Lammers kan as gevolg hiervan vrek, maar kan ook later aan longontsteking of haarbolle in die melkpens beswyk. Hierdie tekens kan met nadoodse ondersoek waargeneem word.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Sonbrand moet by lammers voorkom word. As hulle die eerste week aan die lewe gehou kan word, herstel hulle dikwels. Die siekte kan heeltemal voorkom word deur bitterbos deur goeie veldbestuur te bekamp.

 

SENEClOSE

Sekere Senecio-soorte (bv. sprinkaanbos en kraakstewel) is vir hierdie siekte wat veral in Oos-Kaapland en Natal voorkom, verantwoordelik. long plante in die voorblomstadium is veral gevaarlik.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Diere vrek skielik en feitlik sonder siektetekens aan akute vergiftiging. Die dier is uitgeteer, lusteloos en maer. Nadoods word waterige of jellieagtige verdikking van die dermwand, melkpens en galblaas aangetref. Bloedinge kom dikwels by die hart en lewer voor. In akute gevalle is die lewer opgeswel, bloederig en bros. In chroniese gevalle vertoon dit uiters hard en knopperig.

'n Stukkie lewer in 'n 10%-formalienoplossing kan help om die diagnose te bevestig.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

As die lewer erg aangetas is, is behandeling van min waarde. Sorgvuldige verpleging en dosering met melasse mag egter heilsaam wees. Vanselfsprekend is dit noodsaaklik om vee uit Senecio-bevattende kampe te verwyder, veral waar ander weiding skaars is en die gifplant in die vroeë groeistadium verkeer. Verkieslik moet sulke kampe in die winter bewei word.

Behoorlike veldbestuur sal kraakstewel se voorkoms geleidelik verminder en dus die beste langtermynoplossing bied.

 

GOUSIEKTE

Gousiektebossies (Pachystigma, Fadogia en Pavetta-soorte) wat veral in Transvaal maar ook in Natal en die Vrystaat voorkom, is vir die siekte verantwoordelik.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Skape vrek gewoonlik baie skielik (vandaar die naam) en dus word siektetekens seIde opgemerk. Diere word skielik swak en steier voordat hulle vrek. Vrektes kom veral voor nadat skape aangejaag is.

By nadoodse ondersoek kan baie min waargeneem word omdat die hart aangetas is en diere dus van hartversaking vrek. Opvallende blouerige bloedvate dwarsdeur die karkas is 'n aanduiding van die siekte.

'n Monster van die hartpunt in 10% formalien kan geneem word om die diagnose te bevestig.

 

VOORKOMING

Kampe waar gousiektebos voorkom, moet veral in die vroeë somer vermy word. Deur die veld te verbeter, sal die voorkoms van die siekte ook verminder aangesien daar dan meer gras en gesonde bossies gal wees wat die skape kan vreet.

 

GIFBLAAR

Die plant (Dichapetalum cymosum) word veral in Noord- en Oos-Transvaal aangetref, asook die noordelike deel van Suidwes-Afrika. Gifblaar is uiters giftig en is veral in die vroeë lente gevaarlik wanneer dit dikwels die enigste groen plant in die veld is.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Soms word stuiptrekkings en steiering waargeneem maar gewoonlik word diere dood aangetref omdat vergiftiging snel verloop. Dikwels word diere naby suipbakke aangetref omdat die inname van water die opname van die gifstof versnel. Soms vrek diere terwyl hulle aangejaag word. Geen kenmerkende nadoodse veranderinge word aan die karkas waargeneem nie.

 

VOORKOMING

Aangesien gifblaar 'n uiters giftige plant is, moet dit indien enigsins moontlik uitgeroei word. Deur vee uit besmette kampe te hou totdat die veld verbeter het (d.w.s. nadat goeie reën geval het) sal vrektes afneem maar nie heeltemal uitgeskakel word nie.

 

TULP, SLANGKOP EN VIOOLTJIES

Aangesien baie lede van die lelie-, iris- en amarillisfamilie giftig is en soortgelyke siektetekens tot gevolg het, word hulle saam bespreek. Tulp en slangkop kom oral in Suid-Afrika voor maar word seIde deur skape gevreet. Vreemde of baie honger skape vreet soms die twee plante en hulle kom soms in hooi voor.

Viooltjies kom veral in Suid- en Suidwes-Kaapland voor.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE ONDERSOEK

Die siekte word gewoonlik gekenmerk deur strawwe, waterige of selfs bloederige buikloop, ofskoon dit in sekere gevalle nie waargeneem word nie.

Algemene swakheid en spiertrillings asook ontwatering word dikwels waargeneem. Skape wat aangejaag word sak dikwels inmekaar en vrek.

By nadoodse ondersoek vertoon die melkpens en derms baie rooi as gevolg van die ontsteking en bloeding kan voorkom.

Bloeding kom ook elders voor, veral om die hart.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Ofskoon daar geen spesifieke behandeling is nie, is dit noodsaaklik dat skape nie aangejaag moet word voordat hulle volkome herstel het nie. Maklik bekombare voer, water en skuiling moet voorsien word en kaolien en tanniensuur sal help om die buikloop te verlig.

Hierdie plante moet nooit by hooi ingesluit word nie. Hoewel dit 'n tydrowende proses is, moet die plante verwyder word voordat voergewasse gesny word. Honger skape moet ook nie in sulke kampe ingejaag word nie.

 

WATERPENS

Kraalbos (Galenia africana) word veral in die Karoo en Klein-Karoo aangetref, en is na oorbeweiding oorheersend.

Indien skape deur droogtes genoodsaak word om kraalbos oor 'n lang tydperk te vreet, is chroniese lewerbeskadiging die gevolg. Diere teer uit hoewel die buik dik vertoon as gevolg van 'n waterige vloeistof in die buikholte.

 

ANDER GIFPLANTE

Die groot aantal gifplante wat bestaan, kan nie hier volledig bespreek word nie. Nog 'n paar van die belangrikstes word slegs genoem:

1. Argemone subfusiformis (bloudissel of Mexikaanse papawer)
2. Arthroselen polycephalus (Januariebos)
3. Aster filifolius (draaibos)
4. Cestrum laevigatum (inkbessiebos)
5. Crotolaria-spp. (klapperbos)
6. Cucumis-spesies (wildekomkommer en -spanspek)
7. Helichrysum argyrosphaerum (sewejaartjie)
8. Hertia pallens (sprinkaanbos)
9. Lasiosiphon burchellii (harpuisbos)
10. Melianthus comosus (kruidjie-roer-my-nie).

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie E 6.3 / 1977