Last update: April 10, 2012 11:06:34 AM E-mail Print

 

Die Swartkop-Persie

F. J. Labuscagne

 

VAN al die verskillende skaaprasse is daar seker geeneen wat 'n aanskouliker toneel verskaf as 'n trop goedgeteelde Swartkop-Persieskape nie. Die aandag word dadelik getrek deur die skrille teenstelling van die pikswart koppe en die spierwit lywe en ook deur die opvallende eenvormigheid van voorkoms. Die prag van hierdie vertoning word verder verhoog deur die effens wilde maar fiere houding, wat dadelik die indruk van gehardheid skep.

Die Swartkop-Persie is 'n vleisskaap, en sy harebedekking het geen kommersiële waarde nie. Dit is een van die vetkruisrasse wat oorspronklik in Noord-Afrika (Somaliland) en Klein-Asie (Arabië) aangetref is.

Die naam "Persie " is ietwat misleidend, daar hierdie skaapras nie aan Persië inheems is nie, maar vermoedelik in Suid-Afrika so genoem is omdat die eerste Persieskape wat in ons land gekom het, as slagvee vanaf die Persiese Golf ingeskeep is.

Wyle mnr. S. M. Gadd., Springfield, Tafelberg, Middelburg, K. P., het onderstaande interessante geskiedenis van die Swartkop-Persieskaap in Suid-Afrika verstrek.

" Omstreeks die jaar 1870 het 'n beskadigde seilskip by Fort Beaufort aan die Swellendamse kus aangedoen. Aan boord was daar onder andere 'n ram en drie ooie van die swartkopskape wat vir slagdoeleindes vanaf die, Persiese Golf ingeskeep is. Wyle die weled. here Barry en Heatlie, wat 'n besoek aan die skip afgelê het, was baie ingenome met die voorkoms van hierdie onbekende en eienaardige skape, wat hulle daar aan boord opgemerk het. Hulle het toe die kaptein genader om die skape re koop, en daarin geslaag om die diere in ruil te kry vir ander slagvee.

Die vier swartkopskape is op 'n ander skip gelaai en na Kaapstad verskeep. Vandaar is hulle per spoor gestuur na Wellington, vanwaar hulle per ossewa vervoer is na die plaas Glen Heatlie.

Kort na hulle aankoms op die plaas is een van die ooie deur 'n bul doodgestoot. Een van die ander ooie het egter tweeling lammers gekry - 'n rammetjie en 'n ooitjie. Die ooilam het 'n bruin, in plaas van 'n swart kop gehad, en so ook haar afstammelinge. Die kudde is later verskuif na die plaas Angora, maar uiteindelik weer teruggebring na Glen Heatlie.

Die eerste Swartkop-Persieskape wat na die oostelike Kaapprovinsie gekom het, is n ram en 'n ooi wat aan wyle mnr. Hockly van Cullendale, Bedford, verkoop is.

Omstreeks 1894 het wyle mnr. John. E. Wood, van Grahamstad, wat baie belang in hierdie skaapras gestel het, die stoetkudde van mnr. Heatlie, bestaande. uit 34 ooie en een ram, aangekoop en dit na mnr. S. M. Gadd, Springfield, Tafelberg, Middelburg, K. P., gestuur om daarmee om 'n deel te boer. Hierdie kudde het binne ses jaar tot oor die 500 skape vermeerder.

Wyle mnr. Wood het ook vir 'n aantal jare met Swartkop-Persies op sy plaas Krantzplaats in die distrik Cradock geboer. Na sy dood is Swartkop-Persie-ooie vir soveel as £8 12s. 6d. Stuk verkoop – ‘n hoë prys vir 'n skaap in daardie dae.

As gevolg van die baie goeie eienskappe soos gehardheid, vrugbaarheid, ens., het hierdie skape spoedig bekend geraak en hulle word vandag dan ook byna oor die hele Unie en selfs tot in Rhodesië aangetref.

Sedert 1900 is skape van hierdie ras 'n paar keer deur die gebrs. Barry van Robertson ingevoer, maar hulle was nie van dieselfde hoë standaard as die verbeterde Suid-Afrikaansgeteelde skape nie.

Met die opstel van 'n Suid-Afrikaanse stamboek in 1906 was daar ook 'n afdeling vir Swartkop-Persieskape. Die vereistes om ingeskrywe te word, is baie hoog gestel en slegs 'n paar stoeterye en 'n klein aantal diere is geregistreer. In 1930 het die aantal stoeterye egter reeds tot 38 gestyg met byna 4,000 geregistreerde skape.

 

Beskrywing van Ras

(1) Die kop en nek moet swart wees, die swart moet gelyk om die nek afsluit en nie laer as die nek strek nie. Horings moet nie by ramme of ooie voorkom nie. Die bek en die neus moet sterk wees. Die sakkie onder die keel moet goed ontwikkel wees en vry hang. Die ore moet taamlik .lank en sag wees en reghoekig van die kop af wegstaan. Die nek moet dik en sterk wees en goed by die lyf aansluit.

(2) Simmetrie.- Die lyf moet .breed; diep en redelik lank wees. Daar moet veral op breedte oor die skof en die rug, wat so reguit moontlik moet wees. en op goeie diepte van lyf gelet word. 'n Prominente breë bors wat reghoekig na vore uitstaan, goedgevulde blaaie en boude verleen goeie vleiseienskappe aan die skaap. Die bene moet taamlik kort, reguit en goed geplaas wees. Die hoefies is swart

(3) Grootte en gewig.- By vleisskape is dit belangrik dat diere so groot en swaar moontlik moet wees, daar dit 'n belangrike rol speel by bemarking, veral met betrekking tot die opbrengs per skaap. Goeie grootte en gewig sal egter nie slegs met teling verkry word nie, maar hoofsaaklik deur voeding. Volgroeide ramme en ooie moet ongeveer onderskeidelik 150 en 115 pond weeg.

(4) Die stert bestaan uit drie dele. Die grootste of hoofdeel moet breed en stewig wees en teenaan die kruis sit. Dit moet nie hang of spits wees nie. Die tweede lit van die stert buig regop teenaan die middel van die eerste deel, loop spits na die bopunt, en vertoon 'n swart skoon veloppervlak. Hierdie lit moet nie te groot of te grof wees nie. Vanaf die bopunt, wat soveel moontlik in 'n reguit lyn met die rug moet wees, hang die derde dun ronde litjie of sambokkie loodreg op die kaal vel van die tweede lit. Die sambokkie wat ongeveer tussen 2 en 3 duim lank is, is met kort gladde hare bedek. Die stert as geheel moet goed gebalanseer wees en nie skeef aan die kruis sit nie.

(5) Die bedekking van die Swartkop-Persieskaap het geen kommersiële waarde nie. Die kop en nek is bedek met swart hare en die res van die lyf met kalkagtige wit steekhare, wat merendeels in 'n agterwaartse rigting platlê en dus 'n redelike gladde voorkoms aan die bedekking verleen. Die hare op die lyf is ongeveer 1 tot 1½ duim lank, maar baie kort.er op die gesig en bene.

Alhoewel 'n onderbedekking van fyn wolvesel aangetref word, is die aanwesigheid van te veel sigbare wol in die bedekking onwenslik, daar dit veral die leerwaarde van die vel benadeel.

'n Breedvoerige artikel oor die bedekking van Swartkop-Persieskape kan gevind in pamflet No. 82 " Die Swartkop-Persiese Skaap, 'n Primitief-geklede Vetstert-skaap " deur professor J. E. Duerden en mej. Evlyn Boyd.

 

Diskwalifikasies

By die uitsoek van Swartkop-Persieskape moet die volgende as diskwalifikasies beskou word.

  1. Horings by ramme en ooie.

  2. Wit kolle op die kop of wit in die swart van die nek. Wit hare aan die bek van 'n skaap wat ouer as tweetand is, is nie foutief nie.

  3. Swart kolle op die lyf en bene, of as die swart van die nek heelwat verder as die nek strek. Swart hare aan die stert van 'n skaap wat ouer as tweetand is en 'n swart kolletjie aan 'n been, nie groter as 'n ertjiepit nie, word nie as foutief beskou nie.

  4. Sigbare wit kolle op die swart vel van die tweede lit van die stert.

  5. Enige opvallende fout aan die vorm van die stert, soos byvoorbeeld 'n spits stert, 'n te groot laaghangende stert, ens.

  6. Te veel wollerigheid in die bedekking.

  7. Enige ernstige gebreke in die bouvorm soos kortbek, platbors, spits skof, hol rug, plat sye, x-hakke, te klein vir ouderdom, foutiewe teelorgane, ens.

Sommige van bogemelde foute of tekortkomings, veral wat kleur betref, is nie ekonomies so nadelig, nie, maar is in stryd met die vereistes van die vasgestelde raseienskappe soos oorspronklik in die stamboek opgestel. By kuddeskape sal daar op sulke foute nie te streng gelet word nie.

 

Bestuur

Die goeie eienskappe soos gehardheid en weerstandsvermoë teen sekere siektes is van besonder groot belang, want as gevolg hiervan aard hierdie skaapras goed selfs in sekere streke waar moeilik met wolskape geboer kan word. Met hierdie ras kan dus met sukses geboer word in streke waar steekgras baie erg voorkom, op bergagtige en bosagtige veld en in die droër dele van ons land. Dit aard egter nie so goed in koue en in hoë reënvalstreke nie. Strawwe koue veroorsaak dan ook dikwels swaar verliese onder vet Persieskape.

Swartkop-Persies word in die reël nie deur skaapbrommers aangeval nie en is feitlik onvatbaar vir bloutong en baie bestand teen hartwater wat deur die bontpootbosluis veroorsaak word. Hierdie skape word dus geskik geag as 'n pionierras vir uitroeiing van hierdie bosluis, daar hulle gereeld gedip kan word sonder dat die bedekking daardeur enigsins benadeel word soos in die geval van woldraende skape.

Swartkop-Persies kry egter ook geilsiekte en is veral baie vatbaar vir inwendige besmetting met wurms. Lammers moet vanaf ongeveer 'n maand na hul geboorte dopgehou word vir lintwurmbesmetting. Vir die bestryding van bogenoemde kan die groot skape en die lammers gedoseer word met die middels wat deur die Afdeling Veeartsenydiens van tyd tot tyd aanbeveel word.

Swartkop-Persies word ook aangeval deur klein rooi luisies en deur die verlammingsbosluis. Vir die bestryding van eersgenoemde kan hulle in een of ander arseendipstof gedip word en vir laasgenoemde moet hulle gereeld deur 'n voetbad gaan wat 'n 2½ persent oplossing van natriumarseniet bevat.

Dis die allerbeste om Swartkop-Persieskape soveel moontlik ongehinderd te laat loop in goed omheinde kampe of in kampe met jakkalskerende draad. Die kampdrade behoort in elk geval goed gespan te wees, anders sal die skape maklik deurkruip.

Skoon drinkwater in beton- of soortgelyke drinkbakke is wenslik om wurmbesmetting te voorkom. Sout- en beenmeellekke is nodig om te voorsien in die tekort aan fosfaat in die weiding in sekere streke of gedurende sekere tye, soos in die wintermaande of tydens droogtes. Waar moontlik, kan groenweiding gedurende die wintermaande of veral met lamtyd ook aan die ooie verskaf word. Hierdie behandeling sal die ooie meer melk laat gee en dus verseker dat die lammertjies nie gebrek ly nie, maar gouer en groter uitgroei.

Vrugbaarheid is ‘n opvallende kenmerk van die ras, en die geslagseisoen strek oor byna die hele jaar. Lammers kan dus omtrent enige tyd van die jaar aankom. Onder gunstige weidingstoestande kan Persie-ooie drie lammers in twee jaar grootmaak. Dis egter raadsaam om nie die ooie te ooreis nie en lamtyd ook tot sekere gereelde tye te beperk.

Wanneer die ooie lam, moet hulle so min moontlik gesteur word. Hulle is baie goeie moers en gooi selde hul lammers weg. Dis onwenslik om jong ooitjies te paar voordat hulle minstens 'n jaar oud is en goed uitgegroei het.

Ramlammers wat vir slagdoeleindes geteel word, word gekastreer sodra hulle ongeveer twee tot drie weke oud, is. Lammers kan op die ouderdom van ongeveer drie maande gespeen word. Ramlammers wat nie gekastreer word nie, moet ook so vroeg moontlik of liewer 'n paar weke eerder as die ooitjies gespeen word, anders sal hulle die ooie dek as hulle te lank by hul moers gelaat word.

Dis noodsaaklik om hier ook te waarsku teen die slegte gebruik om Persieskape en merino's in dieselfde kamp of kraal deurmekaar in een trop te jaag, omdat die hare van die Persie, wat gedurende sekere tye van die jaar uitval, in die merinowol te lande kom en sulke wol dan benadeel en die waarde aansienlik verminder.

 

Verbetering

Om 'n verbetering in 'n kudde aan te bring, behoort die ooie minstens eenmaal per jaar deeglik geklasseer te word. Dit word gedoen deur klein klompies van 20 tot 30 in 'n klein kraaltjie te jaag en hulle dan gelyktydig op die oog vir moontlike foute of tekortkomings, waarvoor skape afgekeur kan word, deur te kyk. Nadat die afgekeurdes of prulle verwyder is, kan die bekke van die ander ooie vir ouderdom of foutiewe kakebene ondersoek word.

Om egaligheid van grootte en bouvorm doeltreffend te beoordeel, is dit wenslik om die jong ooitjies apart van die ouer of volgroeide ooie te klasseer.

By die goedgekeurde ooie behoort egalige stelle goedgeteelde ramme gebruik te word. Sulke ramme moet van so 'n gehalte wees dat hulle die algemene goeie eienskappe van die kudde kan behou en die algemene swakhede kan verbeter.

Ramme met dieselfde swakhede as waarvoor ooie afgekeur is, moet nie gebruik word nie.

 

Vir Slagdoeleindes

Alhoewel die Swartkop-Persieskaap in ons land taamlik hoog aangeskryf staan as 'n vleisskaap, laat die karkas egter heelwat te wense oor wanneer dit met die van die beste bekende uitheemse vleisrasse vergelyk word. Hierdie agterstand is veral toe te skryf aan eerstens die groot hoeveelheid oortollige vet in vergelyking met die hoeveelheid vleis; tweedens die onegalige verspreiding van die vet oor die .lyf, of liewers die groot ophoping of versameling van vet op sekere dele van die lyf, soos bo-op die kruis en aan die sye; derdens die gebrek aan vleis veral aan die laer dele van die boud en blad; en vierdens ook sekere swakhede in die konformasie van 'n vleisskaap, soos byvoorbeeld die neiging tot 'n skerp skof.

Dis nie ekonomies om Persie-hamellammers aan te hou totdat hulle groot en uitgegroei is nie. By 'n vleisskaapboerdery is dit belangrik om die lammers wat van die hand gesit gaan word, jonk en in goeie kondisie op bemarkbare gewig te kry, sodat hulle verkoop kan word sonder 'n langdurige verskaffing van goeie weiding. Die vraag na lammers van tussen agt en tien maande is goed en die pryse op hierdie ouderdom is meer lonend in verhouding tot die pryse vir skape wat eers op 'n volgroeide stadium verkoop word. Met redelike goeie weidingstoestande behoort die lewende gewig van lammers op bogemelde ouderdom ongeveer tussen 60 en 70 lb. te wees.

 

Kruisteling

Swartkop-Persieskape neem 'n vername plek in by die kruisteling van ander vleisskaaprasse. Die ooie word ook dikwels as stamvee by die produksie van Karakoelvelletjies gebruik deur hulle met suiwergeteelde Karakoelramme te kruis en op te gradeer.

Die kruisteling van Persieskape met sekere Britse vleisrastipes soos by. die Dorset Horn, die Southdown, ens., lewer baie goeie resultate, aangesien die kruisgeteelde lammers gouer uitgroei en dus op 'n jonger stadium bemarkbaar is. 'n Groter melkproduksie by die kruisgeteelde ooie kan ook verwag word. 'n Merkbare verbetering in die vleiseienskappe in vergelyking met die van die suiwer Persie word ook verkry deurdat die kruisskaap 'n kleiner maar egaliger vetverspreiding toon en oor die algemeen beter gevleis is in die boud, blad en lende. Die goeie eienskappe van die Swartkop-Persie, soos bv. gehardheid en onbeperkte geslagseisoen, word egter in die kruisskaap behou. Dorset x Persie-halfslagramme word met sukses gebruik op nie-woltipes ooie vir die produksie van slagdiere van goeie gehalte.

Proewe met die kruisteling van Swartkop-Persies en bogemelde Britse vleisrasse, wat by sekere proefstasies onderneem word, blyk so 'n sukses te wees dat daar slegs 'n poging aangewend word om nuwe vleisrasse daaruit te ontwikkel wat beter sal aard onder Suid-Afrikaanse toestande as die suiwer Britse rasse.

Die kruising van Swartkop-Persies met merino-ooie word nie aanbeveel nie, aangesien die kruising, behalwe vir 'n vermindering in die hoeveelheid vet, geen noemenswaardige verbetering in vleiseienskappe en karkasgewig meebring nie. Afgesien van die gevaar van steekhare in die wol van merino-ooie as hulle met Persieramme gepaar word, lewer die kruisskaap 'n minderwaardige soort kruiswol, wat soms deur boere saam met merinowol geklasseer word en sodoende die goeie naam van ons Suid-Afrikaanse merinowol benadeel.

 

Velle

Die velle van Swartkop-Persieskape staan in die handel bekend as handskoenleer (Cape glovers) en is van baie groot waarde. Velle word per stuk en nie per gewig verkoop nie. In die afgelope paar jaar het die prys van onbeskadigde velle gestyg tot ongeveer 10s. en meer.

Groot sorg moet egter aan die afslag, sout en droogmaak van die velle bestee word. Vir verdere inligting omtrent die noukeurige bewerking van velle kan pamflet No. 263, " Bereiding van Velle vir die Mark", deur mnr. P. D. Rose, Senior Lektor in Skape en Wol aanbeveel word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 23