Last update: April 2, 2012 09:14:59 AM E-mail Print

 

Die rol van vloeimiddels saam met oksi asetileensweising

A O Roberson
Ambagsman-instrukteur: Sweis- en Metaalkunde
Landboukollege, Grootfontein

 

 

Die meeste metale sal in hul gesmelte toestand, met absorbering van suurstof uit die atmosfeer, oksideer. Aluminium, byvoorbeeld, het altyd 'n lagie oksied op sy oppervlakte by normale temperatuur en het 'n groot aantrekking vir suurstof. Om te verseker dat die hoeveelheid oksidasie tot 'n minimum beperk sal word, en dat enige oksied opgelos of weggedryf sal word, en dat die sweiswerk so maklik moontlik en sonder 'n gesukkel gedoen kan word, word vloeimiddels gebruik.

Die chemiese samestelling van vloeimiddels is van so 'n aard dat dit oksidasie en ander ongewensde chemiese reaksies verhoed. Vloeimiddels bring mee dat die sweisproses vergemaklik word, en verseker 'n goeie gesonde sweislas.

Die gewone soldeerproses is 'n goeie voorbeeld. Dit is bekend dat dit amper onmoontlik is om die soldeersel aan die oppervlakte van 'n werkstuk te laat kleef voordat dit nie eers goed skoongemaak is nie. Selfs dan kleef die soldeersel nie egalig me. As die oppervlakte nou liggies met soutsuur gesmeer word, sal die soldeersel maklik op die oppervlakte wat deur die suur skoongemaak is, vloei. Die vloeimiddel sal deur 'n chemiese reaksie alle oksied en onsuiwerhede verwyder en 'n skoon oppervlakte nalaat wat 'n goeie las sal verseker. Vloeimiddels wat saam met oksi-asetileensweising gebruik word verrig ook so 'n taak.

 

Geelkoper en Brons

'n Goeie vloeimiddel moet met die sweising van geelkoper en brons gebruik word, gewoonlik 'n boraks tipe. Die vloeimiddel moet alle oksied van die metaaloppervlakte wat gesweis moet word, verwyder, en 'n beskermende laag vorm wanneer die metaal verhit word, om oksidasie te verhoed. Dit moet ook die oksied en ander onsuiwerhede waarmee dit gebind het na bo dryf.

 

Aluminium en aluminium allooie

Met die sweis van aluminium moet die vloeimiddel:

1. Die laag aluminiumoksied (smeltpunt 2000°C+) wat altyd op die oppervlakte van die metaal teenwoordig is, aanval en oplos.
2. Verdere oksidasie gedurende sweising verhoed.
3. Teen 'n laer temperatuur as die metaal smelt sodat dit die oppervlakte-oksied kan oplos voordat die metaal smelt.
4. Ligter as die aluminium wees wanneer dit gesmelt is, sodat die onsuiwerhede na die oppervlakte kan dryf waar dit maklik verwyder kan word.

 

Om 'n suksesvolle sweis te verseker is die keuse van 'n geskikte hoëgraadse vloeimiddel belangrik. Die meeste aluminiumvloeimiddels is baie higroskopies, dit wil sê dit absorbeer maklik vag uit die lug, en word dan nutteloos. Daarom moet dit altyd lugdig gehou word wanneer dit nie gebruik word nie.

Die vloeimiddel werk met 'n chemiese aksie, en om te verseker dat net die korrekte hoeveelheid gebruik word (oormaat is 'n vermorsing en skadelik), word die warm punt van die sweisstaaf in die vloeimiddel gedruk, en die klos wat aan die punt vaskleef word met die vlam gesmelt sodat dit vir 'n lengte van ongeveer 100 mm teen die staaf afvloei en dit omhul. Dit is dan die korrekte hoeveelheid benodig.

Aluminiumvloeimiddel het 'n wegvretende aksie as dit toegelaat word om op die werkstuk agter te bly. Daarom moet alle spore van die vloeimiddel verwyder word (skrop met warm water) na voltooiing van die sweislas.

 

Gietyster

Wanneer smeeyster en sagte staal gesweis word, het die oksied wat vorm 'n laer smeltpunt as die moedermetaal, en omdat dit ligter as die metaal is, styg dit na die oppervlak en vorm 'n laag, wat maklik na voltooiing van die sweiswerk verwyder kan word. 'n Vloeimiddel is dus onnodig vir smeeyster- en sagte staalsweising.

Gietyster oksideer egter baie vinnig by 'n rooi warm kleur en die smeltpunt van die oksied is hoër as die van die moedermetaal. 'n Vloeimiddel is dus nodig om met die oksied te meng en ook om die metaal gedurende sweising teen oksidasie te beskerm. Die vloeimiddel kombineer met die oksied en vorm 'n slak wat na die oppervlakte dryf en verdere oksidasie verhoed.

 

Koper

Koper kan sonder 'n vloeimiddel gesweis word. Die meeste sweisers verkies egter om wel een te gebruik wat die oppervlakte-oksied sal verwyder en oksidasie gedurende sweising sal verhoed. Boraks is 'n goeie vloeimiddel. Die enigste nadeel is dat die harde glasagtige dop wat op die oppervlakte vorm moeilik is om te verwyder. Daar is spesiale vloeimiddels wat, alhoewel dit hoofsaaklik uit boraks bestaan, ook ander bestanddele bevat wat die vorming van hierdie harde dop verhoed.

Kommersiële vloeimiddels vir koper, geelkoper, gietyster, aluminium, ensovoorts, bevat klein hoeveelhede verskillende chemikalieë bo en behalwe die standaard bestanddele. Dit verduidelik hoekom verskillende vervaardigers s'n verskillende resultate sal lewer, alhoewel hulle basies dieselfde is.

Om op te som, kan ons se dat vloeimiddels gebruik word om:

1. Oksidasie te verminder; en
2. Ander onsuiwerhede te verwyder.

Gevolglik kry ons deur 'n vloeimiddel te gebruik:
1. 'n Sterker, meer buigsame las; en
2. 'n Makliker manier van las.

Dit is belangrik om nooit te veel vloeimiddel te gebruik nie, omdat dit 'n nadelige uitwerking op die sweislas sal hê.

 

 

Published

Karoo Agric, Vol 2, no 2, 1981, 39-40