Last update: March 30, 2012 12:17:23 PM E-mail Print

 

Swelsiekte by angoras ondersoek

S Vermeulen 

 

'n Allergiese reaksie mag betrokke wees by die oorsaak van swelsiekte, het dr. Stephan Vermeulen, Staatsveearts van die Veterinêre Streekslaboratorium op Middelburg, Kaap, op die sybokhaardag gesê.

Volgens hom het onlangse uitslae sterk op so 'n moontlikheid gedui, alhoewel die ontstaan daarvan as gevolg van 'n proteïenverlies, geensins uitgesluit kan word me.

Besmetting met bruin maagwurm kan beide 'n proteïenverlies en 'n allergiese reaksie tot gevolg hê, veral in 'n sensitiewe dier soos die Angora. Dit lyk egter in hierdie stadium asof ander bydraende faktore ook betrokke is by die tipiese beeld van swelsiekte, het hy gesê.

Swelsiekte-simptome, d.w.s. onderhuidse watersug van die bors, buik en pote, is aan die einde van 1981 in 'n proef veroorsaak waar verskillende dosisse bruin maagwurmlarwes aan Angoras gedoseer en verskillende behandelings toegepas is. Die aantal bokke wat die tipiese simptome getoon het, was egter te min om te bevestig dat die parasiet die enigste oorsaak van die siekte is.

In hierdie stadium lyk dit steeds asof die oorsaak van swelsiekte baie kompleks is, aangesien dit uit verlede jaar se proewe geblyk het dat groot individuele verskille voorkom.

So het byvoorbeeld nie al die diere met 'n baie lae bloed-proteïenvlak of 'n hoë parasietbesmetting swelsiekte ontwikkel nie. By die diere wat wel swelsiekte ontwikkel het, het dit egter ontwikkel in die stadium waar die dier se bloed-proteïenvlak op 'n laagtepunt was, het hy gesê.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Herfs