Last update: April 10, 2012 08:16:08 AM E-mail Print

 

Skaap- En Wolnavorsing As Die Taak Van Die Skeikundige

P. L. le ROUX

 

GEDURENDE Junie 1951 is 'n skeikundige aan die Landboukollege Grootfontein aangestel om spesifiek met skaap- en wolnavorsing behulpsaam te. wees. Sedertdien is met die hulp van een tegniese beampte navorsingswerk op verskeie onderwerpe aangepak. 'n Kort oorsig van die belangrikste resultate tot dusver verkry, word vervolgens gegee:

 

VOEDINGNAVORSING

Die Karoostreek is 31,228,626 morg groot, waarvan 0.5% vir akkerboudoeleindes gebruik word, terwyl 10,569,230 skape in die streek aangetref word, of een skaap vir elke 3.05 morg. Een van die grootste probleme in hierdie streek is die voorsiening van genoegsame hoeveelheid aanvullende voedsel vir skape. Teling by merinoskaapboerdery het 'n baie hoë  peil bereik, maar die voorsiening van voer het nie hiermee tred gehou nie. Voeding is dus vandag die grootste beperkende faktor in wolproduksie.

Beter voeding vir die skaapkuddes van hierdie streek sal nie alleen die vleis- en wolproduksie verhoog nie, maar ook die gehalte en kwaliteit van die wol baie verbeter. Dit is dus duidelik dat enige voedingnavorsing in die Karoostreek veral op die weiveld en die voorsiening van aanvullende voer toegespits moet word

Weens die gebrek aan geskikte tegnieke is dit 'n uiters moeilike taak om 'n studie van die Karooweiveld te maak, waar een kamp tot 30 of selfs meer plantspesies bevat. Die grootste probleme in hierdie verband is om 'n verteenwoordigende monster van die weiveld te kry soos die skaap dit vreet en om die hoeveelheid wat van elke plantsoort deur die dier ingeneem word, vas te stel. Die kwaliteit en kwantiteit van voedselinname sal feitlik daagliks varieer aangesien dit gevoelig is vir seisoenverskille, reënval, groeistadium, intensiteit van beweiding en so meer.

In 'n poging om die voedselinname vas te stel, is 'n proef uitgevoer waar 'n sekere aantal plante van elke plantsoort voor beweiding gemonster word. Na beweiding word 'n dergelike monstering op elke plantsoort herhaal Deur 'n plantopname te maak kan die gewig plantmateriaal deur die skape gevreet vir elke plantsoort bepaal word. Alhoewel hierdie tegniek redelike resultate gelewer het, is dit te omslagtig vir roetinegebruik.

'n Ander tegniek wat uitgetoets is, is die lignienverhouding-tegniek vir die bepaling van skynbare verteringskoëffisiënte. Met behulp van hierdie onverteerbare referensiestof in die voer, verkry deur al die mis te kollekteer en 'n verteenwoordigende monster van die weiveld te neem, is dit moontlik om die hoeveelheid voedselinname en die skynbare verteringskoëffisiënte by benadering vas te stel.

Dis bevind dat hierdie tegniek redelik goed werk met droë voergewasse, maar met groen voere lewer dit onbevredigende resultate.

In die Karoostreek is daar nog maar min gedoen om die voedingswaarde en verteerbaarheid van individuele weiplante te bepaal. Die waarde van 'n weiplant word op die oomblik op 'n bloot praktiese wyse beoordeel, d.w.s. deur die graad van smaaklikheid en gewigstoename van die diere op 'n bepaalde soort veld. Om 'n beter begrip van die voedingswaarde van sommige weiplante te kry, is verteringsproewe gedoen met verskillende grassoorte wat op Grootfontein aangetref word. Die resultate van hierdie werk toon aan dat die grasse gedurende die winter baie lae voedingswaarde het en dat die ru-proteïen heeltemal onverteerbaar is. Verskille is in die voedingswaarde en chemiese samestelling tussen die grasse in die natuurlike opeenvolging van Aristida-spesies (steekgras) na Themeda triandra (rooigras) verkry. Dis bevind dat die voedingswaarde van die grasse geleidelik verbeter in die natuurlike opeenvolging van Aristida-spesies, Eragrostis lehmanniana (oulandgras) na Digitaria argyrograpta (vingergras). Tot dusver het Themeda triandra, wat die toppunt van hierdie natuurlike opeenvolging vorm, teleurstellende resultate gelewer van 'n voedingsoogpunt gesien.

In Suid-Afrika behoort die produksie van aanvullende voer, deur aanplanting van voerbome, meer aandag te geniet. In hierdie verband is 'n omvattende ondersoek na die smaaklikheid, voedingswaarde en verteerbaarheid vir skape van die peule van die voerboom Gleditsia triacanthos, ook bekend as "Honey Locust", reeds voltooi. Dis bevind dat die gemaalde peule vir skape nie besonder smaaklik is nie, terwyl die gemaalde saad alleen wel smaaklik was. Hierdie saad net 'n baie hoë voedingswaarde en bevat plus minus 27% ru-proteïen, terwyl hierdie proteïen ongeveer 82% verteerbaar is. In teenstelling met die saad blyk dit dat die peul sonder die saad besonder onsmaaklik en onverteerbaar is.

 

WOLNAVORSING

Navorsing oor die wolvesel is besonder belangrik en behoort baie aandag te geniet, veral onder die huidige omstandighede waar die verskillende sintetiese vesels al meer met wol begin meeding. Oorsese wolnavorsingsinrigtings spits hulle veral op die tegnologiese en teoretiese aspekte van wolnavorsing toe. Biologiese wolnavorsing moet deur die wêreld se wolproduserende lande self onderneem word, omdat voeding, teling, klimaat en so meer 'n groot invloed op die produksie van wol kan uitoefen. Die werk aan oorsese inrigtings word verder dikwels aan die bande gelê omdat hulle selde genoegsame gegewens het omtrent die wol wat hul ondersoek. Daarteenoor is Grootfontein met sy groot merinokudde en ander skaaprasse ideaal geskik om wolmonsters van bekende oorsprong aan navorsers, wat besig is met 'n skeikundige ondersoek van die wolvesel, te verskaf.

Wolnavorsing deur die skeikundige op die Landboukollege Grootfontein is veral op drie hoofrigtings toegespits:

(i) Die Beskadiging van Wol:

In Suid-Afrika met sy uiterstes van klimaat en hoë intensiteit van sonlig is die foto-chemiese ontbinding van wol 'n belangrike faktor.

Navorsing in hierdie laboratorium het aangetoon dat die tip halfduime van alle wolstapels beskadig is. Hierdie beskadiging is, veral as dit dieper as 'n halfduim in die wolstapel strek, uiters onwenslik by fabriseringsprosesse. Dis ook bevind dat wolstapels wat baie wololie bevat, nie beter beskerm word as die wat 'n matige hoeveelheid bevat nie. Van veel groter belang onder die faktore wat beskadiging beïnvloed, skyn die digtheid van die vag en die chemiese en fisiese eienskappe van die wolwas te wees. In 'n digte vag, tesame met 'n vloeibare wololie, kan die vesels dig in die wolstapels saampak en sodoende die indringing van grond en ander onsuiwerhede teenwerk. Onder hierdie omstandighede word verwag dat die beskadiging van wol tot 'n minimum beperk sal wees.

 

(ii) Uitwerking van dipstowwe op Wol en Sybokhaar:

Proewe is onlangs begin om die uitwerking van dipstowwe op wol en sybokhaar vas te stel. By die registrasie van dipstowwe word hoofsaaklik op die konsentrasie en doeltreffendheid van die verskillende insektedoders gelet. Die nadelige uitwerking wat hierdie dipstowwe op die wol van skape mag veroorsaak, word nie by registrasie in aanmerking geneem nie. Dat dipstowwe wel 'n nadelige uitwerking op,die wol van skape mag hê, word geïllustreer deur die staande gebruik by ramtelers om onder geen omstandighede waardevolle stoetramme te dip nie. Die tegniek wat in hierdie proewe gebruik word, is om die skaap aan die een kant te dip, terwyl die ander kant onbehandeld gehou word. Wolmonsters word vervolgens van die vagwol aan die behandelde en onbehandelde kante van die skape geneem en met mekaar vergelyk.

 

(iii) Kwaliteit in Merinowol:

Die presiese definisie van die term "kwaliteit" soos gebruik deur die wolbeoordelaar is nog 'n raaisel vir die wetenskap. Gewoonlik word twee bepaalde betekenisse aan die woord "kwaliteit" geheg. Eerstens, die tegnologiese betekenis wat verwys na veseldikte en tweedens, die relatiewe betekenis wat 'n ideaal probeer omskryf. Die term "kwaliteit", soos in Suid-Afrika gebruik, verwys na hierdie tweede betekenis.

Geen bepaalbare waarde kon tot dusver aan kwaliteit gekoppel word nie en gevolglik bestaan daar vandag heelwat verwarring oor hierdie belangrike eienskap. Kwaliteit in merinowol kan op die oomblik alleen subjektief bepaal word. Die volgende grade van kwaliteit word gewoonlik deur die praktiese wolbeoordelaar onderskei, nl. goed, redelik en swak. Wol van goeie kwaliteit word deur sagtheid van aanvoeling en 'n duidelike, egalige karteling gekenmerk.

'n Groot aantal wolmonsters van verskillende kwaliteite is die afgelope paar jaar intensief bestudeer en baie belowende resultate is verkry. Ontleding waarin die plastisiteit van wolmonsters, met verskillende grade van kwaliteit, met mekaar vergelyk is, het aangetoon dat die plastisiteit van goeie kwaliteit wol betekenisvol hoër is as die van redelike en swak kwaliteite. Hierdie resultaat beteken dat die verhouding van sekondêre tot primêre follikels in vagte van goeie kwaliteit hoër is as die in vagte van redelike en swak kwaliteite. Die waardes verkry vir plastisiteit toon ook aan dat daar verskille in chemiese samestelling en molekulêre struktuur tussen die verskillende tipes wol bestaan.

Plastisiteit kan dus gebruik word om kwaliteit in merinowol kwantitatief te bepaal. Die metode van bepaling is egter langdradig en dit is gevolglik geensins geskik vir roetinegebruik nie. Van die plastisiteitwaardes verkry van wolmonsters met verskillende kwaliteite kan egter afgelei word dat die kohesie van die keratien in wol van goeie kwaliteit minder doeltreffend is as in wol van redelike en swak kwaliteit. Ander metodes vir die bepaling van kwaliteit, met hierdie feit as agtergrond, word tans ondersoek.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 34 (5)