Last update: April 11, 2012 08:22:16 AM E-mail Print

 

Erosiebestrydingsmaatreëls vir die takslote van dongas

J de Szabo

 

As 'n verspoelde streek noukeurig ondersoek word, sal dadelik opgemerk word dat die hoofdongas of slote talryke takslote het. Laasgenoemdes is natuurlik kleiner slote as die hoofdonga waarin hulle van weerskante soos die takke van 'n boom inloop. Gewoonlik is sulke syslote kort; vlak en smal, maar gewoonlik het hulle 'n steil val. As daar geen stappe gedoen word om erosie in hierdie syslote te bestry nie, sal die ergste verspoelde streek geleidelik wyer word. Dit is derhalwe wenslik dat aandag aan hulle bestee word wanneer herwinningswerk in die hoofdonga onderneem word.

Die hoeveelheid afloopwater wat deur die kort sylope bygebring word, is kleiner as die wat in die hoofdonga vloei, en om hierdie rede bring die behandeling daarvan nie die bou van sulke blywende strukture mee as wat in die geval van die hoofsloot noodsaaklik, is nie. Ook is dit nie waarskynlik dat skade, wat later aan die erosiebestrydingswerke in die sylope aangerig word, ernstige gevolge vir die hele herwonne streek, sal hê nie, soos die geval sou wees as die versperrings in die hoofdonga beskadig word. Weens hierdie omstandighede moet boere hulle dit ten doel stel om die syslote so eenvoudig en goedkoop moontlik te behandel.

'n Goedkope en doeltreffende metode vir die bestryding van erosie in die takslote word in die bygaande tekening geïllustreer. Betreklik lae, klip-in-draad-versperrings, met sirkelvormige deursnee en van een tot twee voet hoog, word gebou en stewig in die grond vasgeanker deur middel van houtpale 3 tot 5 voet lank, en 2 tot 3 voet van mekaar af ingeplant. Hierdie versperrings word rondom die inlope aangebring, terwyl ‘n paar binne in die kleiner slote geplaas word waar die getal wat gebruik word, en hulle afstand van mekaar af, van die geaardheid van die grond, asook die val en die lengte van die slote, afhang.

 

 

Die versperrings hou nie alleen die afloopwater van die sylope af weg nie, maar hou ook 'n sekere hoeveelheid grond tee. Die gebruik daarvan is baie voordelig in die onmiddellike nabyheid van dongas waar afloopwater al spore gemaak en "vinger-erosie" al begin het.

Dit is raadsaam om tussen die klip-in-draad-versperrings of keerwalle, soos hulle genoem word, bome of struike te plant, wat verdere erosie deur hulle groei sal verhoed en sodoende 'n blywende beskerming sal uitmaak nadat die kunsmatige bouwerk nie meer bestaan nie. Wanneer plantasies langs dongas aangelê word, kan vore weerskante van die donga gegrawe word, om die afloopwater van die plantasies af weg te keer totdat die plantegroei goed gevestig is. Die grond wat uit sulke vore uitgegrawe word, moet aan die donga se kant gegooi word om sodoende 'n klein grondwal daar te bou.

Die klip-in-draad-versperrings van draadnet is baie eenvoudig en kan gou gemaak word, hoewel 'n mate van sorg nodig is. Die pale word eers in die grond ingeslaan en die draad op die grond aan die bokant daarvan uitgestrek. Dan word die klippe daarop gestapel. Daarna word die ogiesdraad oor die klippe getrek en die kante van die draad aan die bokant van die versperring aan mekaar vasgemaak. Ten slotte word hierdie klip-in-draad-rolle (wat in Europa as " worse" bekend is) stewig aan die pale vasgebind. Ten einde te verhoed dat hulle weggespoel word, is dit raadsaam om 'n klein grondwal aan die bokant teen die versperrings te gooi.

Die gedeeltelik permanente “keerwalle" wat hier beskrywe word, sal baie doeltreffend gevind word by die bestryding van sydelingse erosie in dongas. Hulle is 'n noodsaaklike aanvulling van die duurder en groter gemesselde klipwalle wat gebruik word by die bestryding van erosie in die hoofslote.

 

Published

Boerdery in Suid-Afirka 15