Last update: April 3, 2012 10:41:12 AM E-mail Print

 

Tekortsiektes

GF Bath

 

'n Tekort aan enige lewensbelangrike stof, hetsy 'n mineraal, vitamien, proteïen of iets dergeliks, sal vanselfsprekend tekens van swak gesondheid of agterlikheid veroorsaak indien die gebrek ernstig genoeg is. Net vier van die algemeenste tekortsiektes word hier bespreek.

 

PROTEïENTEKORT

Dit word gewoonlik droë galsiekte genoem. Omdat die mikro-organismes in die grootpens proteïen benodig om die sellulose in gras en bossies te kan verteer, sal 'n verlaging van die proteïeninhoud hul werking benadeel en vertering vertraag. Dit beteken weer dat voedsel nie vinnig genoeg uit die grootpens verwyder word nie, sodat die dier minder sal vreet. Die uitwerking van die verminderde inname is dat die mikro-organismes van die grootpens nog minder proteïen kry, en so ontaard die proses in 'n bose kringloop. Die gevolg is dat geen voedsel ingeneem word nie en dat die inhoud van die grootpens uiters hard, droog en grof is..

Die siekte kom veral in die winter voor wanneer die proteïengehalte van plante 'n laagtepunt bereik. Dit kom veral in suurgrasveldstreke voor, aangesien gras 'n groter daling in proteïeninhoud toon as bossies en suurgras weer 'n groter daling as soetgras.

 

SIEKTETEKENS EN NADOODSE SIEKTEKENS

Die diere toon 'n geleidelike afname in kondisie met gepaardgaande verlies in eetlus. Verder is daar geen ander waarneembare siektetekens nie.

Afgesien van uiterste vermaering is die nadoodse tekens beperk tot die grootpens. Die grootpens is verklein en die papille binne aan die wand is baie klein of selfs afwesig. Die inhoud is baie hard en droog en gewoonlik baie grof.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

'n Mengsel van asyn en melasse, verdun met water, moet toegedien word ten einde die mikro-organismes te stimuleer. lndien die vars grootpensinhoud van 'n gesonde, geslagte skaap verkry kan word, kan 'n aftreksel daarvan ook toegedien word. Raadpleeg u veearts in hierdie verband.

Proteïenbyvoeding is absoluut noodsaaklik op suurgrasveld gedurende die winter. Dit kan aangebied word in die vorm van 'n lek wat diereproteïen (bv. vismeel), plantproteïen (bv. grondboonoliekoekmeel), of ureum of biuret bevat.

 

KOOLHIDRAATTEKORT

Tydens strawwe droogtes en veral in streke soos die Karoo is die grootste behoefte nie soseer aan proteïen as aan energie nie (daarmee word koolhidrate soos stysel en sellulose bedoel).

 

VOOR- EN NADOODSE SIEKTETEKENS

Gedurende 'n strawwe droogte is dit vir die boer opvallend hoe die vee se kondisie vinnig verswak. Tydens 'n minder ernstige droogte mag hierdie agteruitgang nie so opvallend wees nie, maar is tog belangrik. By nadoodse ondersoek word ernstige vermaering en 'n byna leë spysverteringskanaal gevind.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Byvoeding in die vorm van 'n hoe energielek moet verskaf word, verkieslik voordat die skape begin agteruitgaan. Mieliemeel en melasse is baie waardevol, terwyl gemaalde lusern ook bygevoeg kan word. Die presiese samestelling daarvan sal wissel van gebied tot gebied, na gelang van die beskikbaarheid van voer en hoe straf die droogte is. Die formule behoort deur 'n plaaslike voedingspesialis bereken te word.

 

KOPERTEKORT

In sekere dele, veral die Oos-Kaaplandse kusgebiede, word lae of selfs grenswaardes van koper in die grond aangetref. Diere wat in hierdie gebiede wei is onderhewig aan kopergebrek - beter bekend as lamkruis (swayback) en staalwol.

Koper is noodsaaklik vir die groei van normale, gesonde wol, vir die vorming van sekere breinweefsels en vir ander funksies soos beenontwikkeling en bloedvorming. 'n Kopertekort by skape word gekenmerk deur die voorkoms van staalwol of lamkruis of beide toestande gelyktydig.

 

SIEKTETEKENS

Lammers van ooie met 'n ernstige kopergebrek kan by geboorte nie staan nie of is uiters onvas op hulle bene. Minder ernstige aangetaste gevalle is oënskynlik normaal by geboorte, maar word progressief swakker en wankelriger, veral in die agterlyf. Gebrek aan koördinasie, waggeling en swaaiing van die agterlyf is die opvallendste siektetekens.

Alhoewel niks by die nadoodse ondersoek waarneembaar is nie, kan monsters van die lewer en brein of rugmurg geneem en in formalien bewaar word vir laboratoriumondersoek.

Volwasse skape toon die uitwerking van 'n kopergebrek hoofsaaklik in die wol. Die karteling word baie grof of verdwyn selfs, en die wol is derhalwe reguit en voel hard. By gekleurde diere verdof die kleur van die haar of wol en dit word rooierig. Bloedarmoede kan ook voorkom en bene breek maklik.

In aIle -gevalle is die ontleding van vars, behoorlik bewaarde bloed nuttig by die diagnose van die siekte by lewende diere.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Daar bestaan geen metode om aangetaste lammers te behandel nie, omdat skade aan senuweefsel permanent is. Baie goeie resultate word verkry met behandeling sowel as voorkoming van staalwol deur die byvoeging van koper by 'n lek.

As aangeplante weiding benut word, kan koper in 'n bepaalde vorm by die kunsmis gevoeg word vir opname deur die plant.

Omdat skape besonder vatbaar is vir kopervergiftiging, is dit noodsaaklik om 'n volledige ontleding van die grond en plante en van die bloed en lewers van skape te verkry. Deur die omvang van die gebrek vas te stel kan onopsetlike vergiftiging deur te veel koper by te voer, voorkom word. Kopersoute soos blouvitrioel moet nooit in lekke ingesluit word sonder dat 'n mens seker is dat 'n gebrek wel bestaan nie, en dan moet hulle net in klein hoeveelhede gegee word (sien kopervergiftiging).

 

SELENIUM.VITAMIEN E-TEKORT

Dit is algemeen bekend as vlekspiersiekte (white muscle disease). Die toestand kan toegeskryf word aan 'n tekort van vitamien E, of selenium, of albei. Tot dusver is die siekte meestal by skape waargeneem wat op lusern. afkomstig van 'n besproeiingskema (bv. Vaalharts) gevoer is. Selenium kan uit die grond geloog word, of vitamien E kan gedurende die opberging van hooi geoksideer word.

 

VOOR- EN NADOODSE SIEKTETEKENS

Lammers word soms doodgebore of leef net 48 uur lank, in welke geval hulle baie swak is en kan nie opstaan of suip nie. Ander lammers raak na vier tot ses weke aangetas. Hulle kwyn stadig en word al hoe swakker en maerder totdat hulle vrek. Soms kom 'n soortgelyke siekte by ouer skape (tot 'n jaar oud) voor. By ooie kan 'n seleniumtekort onvrugbaarheid veroorsaak.

By pasgebore lammers word die belangrikste teken van die siekte na die dood in die hartspier aangetref. Wit, kalkagtige strepe en spikkels kan in die hartspier waargeneem word. veral in die binne- en buitekant van die pompkamer.

Alhoewel dieselfde tekens by ouer lammers aangetref kan word, is verandering in die liggaamspiere, veral in die nek en langs die rugwerwels, meer algemeen as in die hartspiere. Hierdie gedeeltes is baie bleek en plek-plek byna wit. Ofskoon hierdie kolle self onreëlmatig is, word albei kante van die liggaam ewe veel en simmetries aangetas. As gevolg van die geleidelike vermaering staan die siekte bekend as agterlikheid by ouer lammers wat ten spyte van oënskynlik goeie voeding tog nie goed ontwikkel nie.

 

BEHANDELING EN VOORKOMING

Spesiale inspuitbare preparate van vitamien E en selenium is beskikbaar vir behandeling en voorkoming van die siekte. Ander samestellings in die vorm van lekke of doserings kan toegedien word om die siekte te voorkom. wat in elk geval verkies word bo behandeling veral nadat permanente skade reeds aangerig is. Die toediening van selenium aan ooie wat onderhewig aan die tekort is voor paring en gedurende dragtigheid sal normale, sterk lammers tot gevolg hê.

Anti-oksideermiddels word dikwels by kommersiële voer gevoeg om so vitamien E gebrek te voorkom. Indien nodig kan selenium ook by die voer gevoeg word.

Soos by koper kan 'n oordosis selenium maklik toegedien word en tot vergiftiging lei. Om hierdie rede moet die metode van byvoeging en ook die dosis deur 'n deskundige vasgestel word nadat die aanwesigheid van 'n gebrek bevestig is.

 

Published

Bladskrif : Wolproduksie E 5 / 1976