Last update: April 11, 2012 12:43:43 PM E-mail Print

 

Teling en Paring van Merinoskape

G. J. Schuurman

 

DIE teling van diere is 'n wetenskap sowel as 'n kuns. Deur die toepassing van wetenskaplike metodes in verband met teeltprobleme kan sekere gewenste resultate verkry word, maar dit vereis die geoefende oog van 'n waarnemer van diere, die kunstenaar, om die betreklike waarde van daardie resultate op te som en te bepaal. Daarop berus die sukses van die toepassing van teeltbeginsels, en in die opsig kan die wetenskap nie veel help nie. Dit geld veral in die geval van die teling van Merinoskape, omdat daar so min bekend is wat betref die genetiese uitwerking van die verskillende kenmerke wat deel uitmaak van die samestelling van die dier en sy wolbedekking.

Die doel van elke teler is in die eerste plaas om enige vee van middelmatige gehalte wat hy mag besit, te verbeter en om, wanneer 'n hoë standaard van voortreflikheid bereik is, daardie standaard in die trap of kudde te handhaaf.

Grondige kennis van teeltbeginsels is nodig; ten einde hierdie doel te kan bereik, en tensy die belangrikheid en betekenis van suiwerheid van bloedlyne verstaan en besef word, kan sukses nie bra behaal word nie.

 

Samestelling van die Individuele Dier

Die individuele dier het sekere eienskappe, en daardie eienskappe is afhanklik van genetiese faktore waartoe die manlike en vroulike geslag in gelyke mate bydra. In die proses van bevrugting ontstaan daar kombinasies van genetiese faktore waarvan die uiteindelike voorkoms van die individuele dier afhang. Aangesien seleksie berus op uitwendige kenmerke, sal dit geredelik besef word dat dit in werklikheid neerkom op die keuse van genetiese faktore.

Voortdurende seleksie vir sekere gewenste genetiese faktore sal uiteindelik die uitskakeling van ongewenste oorerflike eienskappe tot gevolg hê. Op die manier word 'n eienskap verkry wat suiwer is, en daarmee ontstaan dan 'n suiwer bloedlyn vir daardie bepaalde eienskap. Dit sal voortduur totdat daar 'n paring plaasvind waar een van die ouers nie suiwer geteel is ten opsigte van daardie besondere eienskap nie. Ongewenste oorerflike kenmerke word ingevoer en die gevolg is ongewenste kombinasies. Hierin lê die belangrikheid van suiwerheid van bloedlyne.

'n Teler van diere kom ongelukkig te staan voor die vraagstuk dat die materiaal waaroor hy beskik, saamgestel is uit tallose eienskappe en dat in die proses van seleksie vir en teling met die doel om bepaalde gewenste eienskappe in te teel, bestaande ongewenste eienskappe ook meer opvallend word, of dat sulke eienskappe tot uiting mag; kom.

Hierdie moeilikheid lyk soms byna onoorkomelik in verband met die teling van Merinoskape, vanweë die hoë eise wat gestel word wat betref die wol wat die dier moet lewer, en vanweë die spesiale gestelseienskappe wat nodig is sodat die dier aan al die vereistes kan voldoen. Nogtans is daar moontlikhede om die ideaal te bereik deur 'n standaard te stel wat nie noodwendig deur voedingsfaktore gestrem sal word nie, deur suiwer bloedlyne te vestig deur middel van 'n stelsel van strenge lynteling, en deur strenge seleksie toe te pas.

 

Noodsaaklike Vereistes in verband met Teling

Elke teler moet aan die volgende vereistes voldoen:-

(1) Teel met die doel om 'n bepaalde standaard van voortreflikheid of ideaal te bereik.

(2) Teel alleen van ouers wat aan daardie ideaal of standaard van voortreflikheid voldoen.

(3) Teel van ouers, veral ramme, wat van opreggeteelde skape afstam.

(4) Volg 'n paringsbeleid wat gebreke van die ouers sal uitskakel in die geval van die nakomelinge.

(5) Ken elke individuele dier; dit vereis die hou van stamboekrekords.

(6) Ken die geskiedenis van die ras of tipe, sowel as die geskiedenis van die ramme en ooie.

(7) Soek die skape gereeld uit en hou die uitgegooides eenkant.

(8) Handhaaf 'n voldoende hoë standaard van voeding.

 

Die  Ideale Skaap

Die eerste vereiste vir sukses is dat die teler die " ideale " skaap in gedagte moet hê, en wanneer ooie geklasseer of gepaar of ramme gekoop word, moet dit gedoen word met die besliste doel om die ideaal te nader of te handhaaf. Die neiging by meeste skaaptelers om baie verskillende tipes te teel, word afgekeur. Mens vind in dieselfde trop skape van die gladdelyftipe, en ook skape met min plooie en ander met baie plooie, terwyl die vliese afwissel van sterk tot fyn. So 'n teeltstelsel bevorder nie die vestiging van erfdwang, of suiwerheid van bloedlyne nie.

By die vasstelling van die "ideaal" is dit nodig om rekening te hou met:

(a) die tipe skaap wat die beste sal aard onder die klimaatstoestande waarvoor dit bestem is;

(b) die tipe wat die grootste wins aan wol en vleis sal oplewer;

(c) die vereistes van die handel, waar die voorneme is om wol te produseer wat die beste sal verkoop.

 

Die Gladdelyftipe

Skrywers hiervan is die mening toegedaan dat die gladdelyf-Merinoskaap met wol van middelmatige kwaliteit die ideale skaap is om na te streef in die grootste deel van Suid-Afrika. Oor die algemeen voldoen hierdie tipe die beste aan bostaande drie vereistes.

Aangesien die term gladdelyf so dikwels verkeerd verstaan word, is dit nodig om dit kortliks te beskryf en te omskryf. 'n Gladdelyfskaap behoort geen sigbare plooie van agter die blad tot voor die boud te hê as die skaap twaalf maande wol het nie. 'n Plooistert en nekplooie kan toegelaat word, maar dis nie noodsaaklik nie. Dit word beklemtoon dat die skaap se wol goed uitgegroei moet wees.

Klein lyfplooie, wat onsigbaar is wanneer die skaap se wol lank is, kan nogtans aanwesig wees. Derhalwe is dit verder nodig om die vlies in 'n lyn parallel met die ruggraat langs die blad, ribbes en broek te ondersoek, ten einde vas te stel of 'n skaap 'n gladde lyf het want dan sal lyfplooie wat te groot is 'n opvallende onreëlmatigheid in die fynheid van die vlies vertoon.

Die doel behoort te wees om 'n vlies van egalige kwaliteit en fynheid te verkry.

Die gladdelyfskaap voldoen aan die vereistes van die handel, en dit is bewys dat so 'n skaap 'n groter gewig aan skoonwol kan lewer as sy mededinger, die plooitipe. Eersgenoemde aard ook beter onder afwisselende toestande wat betref hitte en koue; die hamels is groter, die ooie is beter moers, en al die geslagte is minder vatbaar vir brommeraanvalle.

Bostaande argumente word algemeen aangeneem ten opsigte van kuddeskape, maar meeste telers meen dat heelwat meer plooie noodsaaklik is in die geval van stoetskape.

Daardie mening word egter nie deur die meerderheid van die Australiese en Duitse skaapboere aanvaar nie, en die voorneme bestaan om proewe te onderneem ten einde meer lig op die saak te werp. Intussen kan redelikerwys 'n mate van vryheid toegelaat word, byvoorbeeld 'n klein plooi tussen die blaaie en 'n bietjie plooie om die lies, wat die skaap 'n diep voorkoms gee, maar dit is die maksimum hoeveelheid plooie wat in stoet of kuddeskape toegelaat behoort te word.

Spesiale aandag behoort gewy te word aan die kwaliteit van die wol op die plooie; skape wat growwe, harige wol op die plooie het, moet vermy word.

Indien die tipe, soos beskryf, deur 'n teler die mees gewenste tipe geag word, behoort hy voortdurend seleksie toe te pas om daardie tipe te verkry, en die invoering van plooie vermy, ten einde sekere gebreke onder sy eie stoet of kuddeskape uit te skakel. Enige verbeterings behoort aangebring te word deur die gebruik van ramme wat volgens dieselfde stelsel geteel is as sy eie en wat die gewenste eienskappe openbaar wat in sy skape afwesig is. Die gewoonte om onoordeelkundige, onverskillige en uiterste parings te maak, lei noodwendig tot mislukking.

 

Rekords, behoorlike Bestuur en Voeding

'n Gebrek wat dikwels aangetref word by telers van Merino-stoetskape is die algehele afwesigheid van betroubare rekords. 'n Stelsel vir die hou van rekords is 'n eerste vereiste, nie alleen ten einde betroubare individuele teelskape, ramme en ooie, wat betref kwaliteit en vrugbaarheid, te teel nie, maar ook om sekere families te teel wat sal uitblink in die eienskappe waarna die teler streef. Die gebrek aan sodanige rekords is dikwels oorsaak dat goeie teelooie uitgegooi word eenvoudig omdat hulle 'n onaantreklike voorkoms het as gevolg van siekte of 'n ander veroorsakende faktor.

Dit lei mens tot die oorweging van die noodsaaklikheid van behoorlike bestuur en voeding. Hoe goed die ingebore kwaliteit van 'n dier ook mag, wees, gebrek aan behoorlike versorging en voeding sal dit laat agteruitgaan en onder die prulveeklas verval. Die dier kan alleen behoorlike uiting gee aan sy aangebore eienskappe as hy gevoer word in ooreenstemming met sy produksievermoë. Gedwonge voeding en vertroeteling word nie aanbeveel nie, want as sulke diere dan weer normale behandeling geniet, ly hulle baie en gaan hulle ook agteruit, in sommige gevalle so erg dat hulle onherkenbaar word. Dit is 'n klagte wat kuddetelers dikwels teen stoettelers aanvoer, alhoewel hulle self dikwels te blameer is omdat hulle die diere wat hulle koop selfs nie in die geringste mate behoorlik behandel nie. Nog 'n algemene klagte is dat die nuttige kommersiële skaap nie behoorlik tot sy reg kom by landbouteentoonstellings nie. Sommige beoordelaars is geneig, wanneer hulle pryse toeken om sekere kenmerke, soos bedekking op die pens en punte, te soek, en gevolglik diere uit te skakel wat in ander opsigte baie beter is. Sulke beslissings moedig die teling aan van tentoonstellingdiere wat dikwels verkry word deur buitensporige parings en derhalwe 'n ongewenste tipe is om vir teeltdoeleindes te gebruik.

Ten slotte moet met nadruk verklaar word dat 'n dier sal produseer volgens die kos wat hy kry, en diegene wat streef na hoë produksie moet bereid wees om behoorlik voorsiening te maak vir sy diere, hetsy deur weiveld te verbeter of voergewasse te verbou. Suid-Afrika is bekend as 'n land van teenstellings en onsekerheid, en die verstandige produsent sal hom daarna skik.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 10