Last update: March 30, 2012 11:00:59 AM E-mail Print

 

Grasdraertermiete as plae van natuurlike weiding in die Karoo

M.W. PRETORIUS Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming Landboukollege Grootfontein, Privaatsak X529, MIDDELBURG K.P. 5900

 

 

INLEIDING

Grasdraertermiete is bekende plae op natuurlike weiveld in die Karoo. In hierdie artikel word hulle biologie, invloed op weiveld en bestryding verduidelik. Dit is hoofsaaklik 'n opsomming van Coaton (1950, 1958), Le Clus et al. (1972) en Nel (1967).

 

BIOLOGIE

Termiete word in twee breë groepe ingedeel, naamlik houtvreters (swamkwekers) en grasdraers (stokkiesdraers). Vir die veeboer is laasgenoemde groep (veraI die grootgrasdraers) van die grootste belang. Volgens Nel (1967) word die grasdraers in drie groepe ingedeel, naamlik die miershooptermiete of snuitgrasdraers (Trinervitermes spp.), die Karoo- of suidelikegrasdraers, Microhodotermes viator (Latreille) en die groot- of noordelike grasdraer, Hodotermes mossambicus (Hagen).

Hierdie insekte word dikwels rysmiere genoem. Rysmiere is egter nie miere nie, maar behoort tot 'n heel ander groep insekte. Die termiete is sosiale insekte wat in kolonies saamwoon. Die kolonies is saamgestel uit verskillende vorms of kastes wat elk spesifieke funksies in die nes verrig. So, byvoorbeeld, moet die werkerkaste die voedsel versamel en omsien na die algemene versorging van die neste, die soldate moet die neste beskerm en die voortplanters (wat almal potensiële konings en koninginne is soos later verduidelik word) die voortbestaan van die soort verseker.

Voortplanting geskied volgens Nel (1967) op twee maniere. Die eerste manier bestaan uit swermvlugte van gevleuelde voortplanters wat in die nes ontwikkel word. Swermvlugte vind na reënbuie gedurende die lente- en somermaande plaas (Coaton 1958; Nel & Hewitt 1978). Elke paar van hierdie gevleuelde mannetjies en wyfies kan 'n nuwe kolonie in die grond begin en word die primêre konings en koninginne genoem. 'n Baie klein persentasie van hierdie pare slaag egter daarin om suksesvol nuwe kolonies te stig. Hulle word ywerig deur predatore soos voëls, miere, akkedisse, meerkatte en talle ander verslind (Nel 1967). Baie kom ook weens gebrek aan vag om. Dit neem in elk geval 'n paar jaar vir so 'n jong kolonie om talryk genoeg te word om noemenswaardige skade aan te rig.

Afstigting of 'botselvorming' is die tweede manier van voortplanting. In hierdie geval versamel 'n aantal soldate en werkers om een of maar pare van die voortplanters in die nes en begin 'n nuwe kolonie in 'n uithoek van die bestaande kolonie. Mettertyd word die afgestigte kolonie onafhanklik van die moederkolonie.

As die voortplanters van 'n gevestigde kolonie (hetsy 'n moederkolonie of 'n afgestigte kolonie) verwyder of gedood word, word daar deur 'n fisiologiese-sosiale proses een of maar nuwe of sekondêre voortplanters uit die voortplanterkaste binne die kolonie ontwikkel om die voortplantingsfunksie oor te neem. Hierdie vermoë van die termiete om hulle voortplanters te vervang, maak 'n kolonie bykans onsterflik.

 

 

Die verspreiding van die grasdraers is soos in fig 1. aangedui. Die miershooptermiete kom oor die grootste gedeelte van die Republiek voor, terwyl die Karoograsdraers en grootgrasdraers tot die droër dele beperk is. Die Karoograsdraers is slegs in die droër dele van die Karoo van beperkte belang.

 

 

Die nesstelsels (fig. 2) bepaal in 'n groot mate die toepaslike bestrydingsmaatreëls. Let op dat dit soms moeilik is om tussen die termietsoorte (veral grootgrasdraers en Karoograsdraers) te onderskei en moet soveel eienskappe as wat moontlik is, in ag geneem word. As daar twyfel bestaan oor die termietsoort, moet die plaaslike Landbouvoorligter genader word.

Alle neste is ook nie noodwendig aktief nie (sien fig. 3.). Aktiwiteit word aangedui deur die skade aan die veld (die deurslaggewende maatstaf of bestryding geregverdig is), varsheid van grondhopies en aktiwiteit in die neskorwe sowel as om die oesgate.

 

 

Net soos die nesstelsels, is die voedingsgewoontes van grasdraers ook van kardinale belang by die oorweging en toepassing van die bestrydingsmaatreëls, wat later bespreek word. Die grasdraers is betreklik kieskeurig wat hulle kos aanbetref (Le Clus et al. 1972). Oor die algemeen word droë plantmateriaal bo groen, sappige materiaal verkies en hulle kan nie uitsluitlik van groen plantmateriaal lewe nie (Nel et al. 1970).

Omdat grasdraers droë plantmateriaal verkies, geskied die meeste voedselversameling gedurende die wintermaande. So beperk die natuur die periode waarin hulle kos versamel hoofsaaklik tot die winter en dus ook die skade wat hulle aan plante aanrig (Le Clus et al. 1972). In 'n droë somer is meer droë materiaal beskikbaar sodat die termiete waarskynlik dan in groter getalle oorsomer en sodoende die daaropvolgende winter in groter getalle voorkom. Die hoë temperature en lae lugvog gedurende droë somers het ook waarskynlik 'n nadelige invloed op die getalle van sommige natuurlike vyande van die termiete, wat 'n bydraende faktor tot hoër termietpopulasies in die daaropvolgende winter is. Gedurende die somermaande word daar soms vir kort periodes snags ook voedsel versamel, omdat die grasdraers nie die hoë dagtemperature en lae lugvog kan weerstaan nie. Hoewel termiete aangeplante weidings ook kan aanval, is die skade wat veral die grootgrasdraers aan natuurlike weiveld in die Karoo aanrig van die meeste belang.

Die vreetskade van grasdraertermiete is kenmerkend. Die rande van grasstingels en takkies van bossies het 'n netjiese, gerasperde voorkoms waar hulle afgebyt is, terwyl stingels wat deur vee afgevreet is 'n 'gebreekte' voorkoms het.

Met die bostaande inligting oor die biologie van grasdraertermiete as agtergrond, word die skade wat hulle aan die natuurlike weiveld aanrig nou van nader beskou.

 

TERMIETSKADE

Veldagteruitgang word soms verkeerdelik aan die bedrywighede van grasdraers toegeskryf en termiete se rol in die verswakking van veld word hier in perspektief geplaas. Omdat termiete inheemse insekte is wat op inheemse plante teer, behoort hulle in ewewig met hulle omgewing te wees en nie plaagafmetings aan te neem nie. As hulle wel 'n plaag word, dui dit op 'n ekologiese versteuring (Nel et al. 1974).

Om die termietprobleem realisties te benader, is dit noodsaaklik om daarop te let dat die natuurlike plantegroei oor die afgelope eeu ontsaglike veranderings ondergaan het en dat die proses nag voortduur (Acocks 1975). Die grasveld het oor groot gebiede verswak (of selfs verdwyn) en word deur kort bossieveld vervang. Die belangrikste en miskien die enigste oorsaak van hierdie plantegroeiveranderings is waarskynlik onoordeelkundige beweidingspraktyke en die daarmeegepaardgaande gronderosie, indringing van minderwaardige plantsoorte en swak plantbedekking (NeI1967).

Onder natuurlike toestande, dit wil sê op veld waar daar nog geen boerderypraktyke plaasgevind het nie, is daar gewoonlik 'n oorvloed kos vir termiete beskikbaar, daar hulle op grassoorte en takkies van nie-houterige struike voed (Coaton 1950). Op ongerepte grond is hierdie insekte eintlik voordelig. Coaton (1950) stel dit: 'Op nuwe grond wat nog nie deur die mens aangeraak is nie, speel termiete 'n uiters waardevolle rol in die skepping en instandhouding van grondvrugbaarheid'. As die mens met sy boerdery- en ander bedrywighede op die toneel verskyn, verander die toedrag van sake skielik en die ewewig van die natuur word soms drasties versteur. Coaton (1948, 1949, 1960) wys daarop dat oorbeweiding van veld geneig is om grasdraertermietbevolkings geweldig te laat toeneem.

Om termietskade reg te verstaan, moet verskeie faktore in ag geneem word. Dit is kenmerkend van die grootgrasdaers om in sogenaamde termietkolle voor te kom. Sulke termietkolle bestaan gewoonlik uit verskeie kolonies en kan 'n oppervlakte van 0,1 tot 8 ha beslaan (Nel et al. 1974). Volgens Nel (1967) sentreer die ontstaan van termietkolle om die aan- of afwesigheid van natuurlike vyande. In digbedekte veld vind termiete dit moeilik om vinnig aan te teel weens die aanwesigheid van hulle predatore soos erdvarke, spinnekoppe, jagspinnekoppe, miere, verskeie grondkewers en die wat reeds genoem is. In sulke veld is daar gewoonlik net 'n paar kolonies, wat nie juis opsigtelike skade aanrig nie. Hierteenoor, kom in ontblote veld minder predatore voor (as gevolg van die veranderde mikroklimaat op sulke veld), met die gevolg dat termiete bykans ongehinderd vermeerder. Nuwe kolonies word om die bestaande kolonies gestig, totdat 'n termietkol ontstaan. Termietkolle het dus hul oorsprong op ontblote veld waar die natuurlike weerstand verdwyn het, maar territoriale gedrag van die termiete en selfregulering van getalle verhoed dat hulle so talryk word dat hulle al die voedsel opgebruik en hulself sodoende vernietig.

Die verwantskap tussen termietskade en beweidingspraktyke is deur verskeie navorsers ondersoek (Le Clus et al. 1972; Nel 1967, 1968a, 1968b, 1970; van Ark 1966, 1969a, 1969b). Daar is bevestig dat aansienlik meer oesgate op yl- as op digbedekte veld voorkom en dat die termiete 'n groter probleem is op sulke ylbedekte veld waar geen weidingstelsel toegepas word nie. Dit is ook gedemonstreer dat oorbeweide veld wat min of meer 'normaal' met termiete besmet was, merkwaardig herstel het nadat die weidingsdruk daarop verlig is (Nel 1967, 1968a, 1970). Van Ark (1966, 1969a, 1969b) het ook gevind dat termiete van sekondêre belang is en slegs ekonomies belangrik word nadat die natuurlike plantegroei deur onoordeelkundige beweiding, gevolg deur ongunstige klimaatstoestande, 'n knou gekry het.

Op 'n plaas in die Oranje-Vrystaat is daar vasgestel dat gedurende een jaar 15% van die totale plantproduksie van die veld deur grootgrasdraers verwyder is, terwyl dit twee jaar later net 1% beloop het (Nel 1970). Le Clus et al. (1972) het in 'n ander proef gevind dat grasdraertermietskade in 'n kamp oor 'n tydperk van 5 jaar gewissel het van 27% tot so min as 0,4%, met 'n gemiddeld van 7,39%. Dit is dus duidelik dat die skade wat grasdraers aanrig nie altyd ewe straf is nie en ook van plek tot plek kan wissel. Dit kan egter gesê word dat as 15% van die plantegroei op digbedekte veld deur termiete verwyder word, die skade nie as baie straf beskou kan word nie, maar as 1% van die plantproduksie op ylbedekte veld deur hulle verwyder word, die skade baie meer opsigtelik sal wees. Anders gestel, op 'goeie veld' is die persentasie veevoer wat deur die termiete weggedra word, gering (Le Clus et al. 1972).

Kompetisie tussen die vee en die grasdraers word maklik oorskat. Daar is bewys dat termietkolonies baie vinnig agteruitgaan as hulle net groen materiaal as voedsel kry (Nel et al. 1970; Botha & Hewitt 1978) en dat hulle droë plantmateriaal verkies. Dus behoort die kompetisie tussen vee en termiete nie so straf te wees soos wat soms beweer word nie. Hierdie kompetisie ontstaan net wanneer die hoeveelheid plantmateriaal op die veld skaars raak en die vee gedwing word om droë gras en bossies te vreet, soos byvoorbeeld waar die veld 'n oorbelading van vee moet dra. Onder sulke toestande kan termiete soms ernstige skade aanrig (Basson 1972).

Termiete is geneig om hulle op kaal kolle in swak veld te vestig en Le Clus et al. (1972) beweer dat 'Swak veld is soms 'n oorsaak van termietbesmetting in plaas van 'n gevolg daarvan', en 'Termietbeheer alleen is beslis geen towerstaf om vernielde weiveld te herstel nie'.

 

BESTRYDING

Om te besluit wanneer termietbestryding geregverdig is, is veraI in die Karoo met sy wisselvallige reënval en relatief lae opbrengs moeilik en boere is daarop aangewys om hulle besluite op ondervinding te baseer. Daar moet 'n redelike skatting gemaak word van die persentasie plantmateriaal (wat andersins deur vee benut kan word) wat deur grasdraers weggedra word. Daarna moet besluit word hoeveel geld lonend aan termietbestryding bestee kan word. Die koste van insektemiddels sowel as die toediening daarvan moet uiters versigtig in berekening gebring word; dikwels is hierdie kostes onrealisties hoog. By bestryding van grootgrasdraers sal die gif alleen, teen huidige pryse, meer as R5,00 per ha beloop terwyl die gif vir bestryding van miershooptermiete en die Karoograsdraer, ongeveer R0,05 per hoop sal kos. Navorsers is daarmee eens dat termietbestryding in die Karoo slegs in uiterste gevalle geregverdig is.

Soos reeds genoem, word die bestrydingsmetodes deur die grasdraertermiete se nesstelsels en voedingsgewoontes bepaal. By die grootgrasdraers, waar die neskorwe ondergronds versteek en moeilik bereikbaar is, is die aanwending van lokaas op termietkolle die aangewese metode. Aangesien grasdraers die meeste voedsel gedurende die wintermaande versamel, is die toediening van lokaas teen die grootgrasdraers gedurende die tye die doeltreffendste. Twee gifstowwe, naamlik karbariel en natriumfluosilikaat, is as lokase teen grootgrasdraers geregistreer (Bot & Hollings 1981).

Karbariel is onder verskillende handelsname in 'n verpilde vorm te koop. Dit kan met die hand om aktiewe oesgate gestrooi, of deur middel van 'n vliegtuig uit die lug toegedien word. Die gebruik van vliegtuie in die Karoo is egter onprakties. Indien termietaktiwiteit na behandeling nag opgemerk word, moet die behandeling twee tot vier dae later en weer tien dae later herhaal word. Die aanbevole dosis vir toediening vanaf die grond is 10kg per ha, terwyl 6kg per ha per vliegtuig toegedien moet word. In albei gevalle moet drie dae na behandeling verloop voordat diere in behandelde kampe mag wei.

Natriumfluosilikaat is as 'n klaargemaakte lokaas, of in watermengbare poeiervorm waarin gekerfde grasstukkies gedoop word, verkrygbaar. Om self lokaas aan te maak, word gras in kort stukkies gekerf en in 'n draadmandjie wat met fyn sit (voëltjiesif) oorgetrek is, gestop. Die mandjie moet verkieslik in 'n houer soos 'n 200 l petroldrom pas. Dompel dan die mandjie met gekerfde gras in 'n oplossing van 2 500g natriumfluosilikaatpoeier (98% sterkte) in 200 l water, genoeg om ongeveer 2ha te behandel. Die volume van die oplossing kan aangepas word by die grootte van die houer. Sodra die gras goed benat is, rig die mandjie uit en laat die oortollige gifmengsel terugloop in die houer. Gedurende die aanmaak proses moet die gifmengsel dikwels geroer word, omdat die gifpoeier geneig is om af te sak. Sprei daarna die lokaas op 'n harde oppervlakte oop om droog te word. Sodra die lokaas droog is, word dit in mudsakke gestop en op termietkolle teen 4 mudsak per ha uitgestrooi. Nadat die gedroogde lokaas in sakke gestop is en voor dit uitgestrooi word, moet dit so min as moontlik hanteer word, aangesien die giflagie op die grassnysels mag afgaan en die doeltreffendheid verminder. Die klaargekoopte lokaas is eintlik meer vir kleiner oppervlaktes bedoel en word om die aktiewe oesgate gestrooi. Na toediening van natriumtluosilikaatlokaas word geen onttrekkingsperiode vir vee vereis nie.

Die hope (met neskorwe direk daaronder) van die miershooptermiete en die Karoograsdraers is die maklikste mikpunt. Om die gif toe te dien, word een of twee gate in die bopunte van aktiewe hope met 'n pyp (2,5-5cm in deursnit) gekap en DD van 100% sterkte teen 'n dosis van 30-60 ml per hoop in die gate afgegooi. Verseël die gate daarna met modder. Indien nodig, kan die een kant van die pyp skerp geslyp word sacs 'n grondboor. DD het 'n berokingseffek op die termiete. Sulke behandelde hope kan na ongeveer drie maande opgekap en omgekeer word om te verhoed dat hulle weer gekoloniseer word. Vee hoef nie uit kampe waar slegs die hope behandel is, onttrek te word nie.

 

OPSOMMING

Omdat beide grasdraertermiete en hulle voedsterplante inheems is, kan verwag word dat die insekte in balans met hul omgewing moet wees. Waar die natuurlike ewewig deur droogtes en/of onoordeelkundige beweiding versteur word, word termietskade meer ooglopend. Verswakking van veld is eerder 'n oorsaak van hoe grasdraertemietbevolkings as 'n gevolg, omdat vertrapping van veld veroorsaak dat die skuilplek van menige predatore van grasdraertermiete verdwyn. Ondersoeke het daarop gedui dat besmette veld in die meeste gevalle deur oordeelkundige beweiding genormaliseer kan word.

Boere moet hulle veld ken, dophou en 'n goeie skatting kan maak van hoeveel geld lonend aan termietbestryding bestee kan word. Chemiese bestryding van grasdraertermiete moet in elk geval slegs as 'n laaste uitweg en die eerste stap in 'n baie omvangryke veldherwinningsprogram beskou word, anders sal dit vrugteloos wees.

 

DANKBESTUIGINGS

Ek dank dr. J.D. Mohr (Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming, Middelburg K.P.) vir leiding, asook mnr. A.J. du Plessis (Navorsingsinstituut van die Karoostreek, Middelburg K.P.) en professor P .H. Hewitt (Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein) vir fotografiese dienste en materiaal.

 

VERWYSINGS

ACOCKS, J.P.H. 1975. Veld types of South Africa. Memoir of the Botanical Survey of South Africa 40: 1-128.

ANONYMOUS, 1961. National survey of Isoptera genus distribution maps, 1960-61. South African Department of Agriculture, Project 1 - Pr. 11.

BASSON, N.C. J. 1972. Beskadiging van natuurlike weiveld in die Noord-Vrystaat deur die grasdraertermiet Hodotermes mossambicus (Hagen). Phytophylactica 4: 67-72.

BOT, J.J.B. & HOLLINGS, N. 1981.A guide to the use of pesticides and fungicides in the Republic of South Africa, 23rd Revised Edition, Government Printer, Pretoria, 309 pp.

BOTHA, T.C. & HEWITT, P.H. 1978. Influence of diets containing green material on laboratory colonies of Hodotermes mossambicus (Hagen). Phytophylactica 10: 93-97.

COATON, W.G.H. 1948. Die Miershooptermiet. Unie van Suid-Afrika. Departement van Landbou, Entomologiese Reeks Nr. 23, Pamflet 261, 23pp.

COATON, W.G.H. 1949. Die Grasdraertermietvraagstuk in Suid-Afrika. Unie van Suid-Afrika, Departement van Landbou, Entomologiese Reeks Nr. 25, Pamflet Nr. 292, 38pp.

COATON, W.G.H. 1950. Termiete en hul bestryding in bewerkte gebiede in Suid-Afrika. Unie van Suid-Afrika, Departement van Landbou, Pamflet Nr. 305, 28pp.

COATON, W.G.H. 1960. Grasdraertermiete vernietig ons grasvelde. Boerdery in Suid-Afrika 35 (10): 6-9.

COATON, W.G.H. & SHEASBY, J.L. 1974. National survey of the Isoptera of southern Africa. 6. The genus Microhodotermes Sjostedt (Hodotermitidae) Cimbebasia (A) 3: 47-59.

COATON, W.G.H. & SHEASBY, J.L. 1975. National survey of the Isoptera of southern Africa. 10. The genus Hodotermes Hagen (Hodotermitidae), Cimbebasia (A) 3: 105-138.

LE CLUS, C.F., NEL. J.J.C. & OPPERMAN, D.P.J. 1972. Bestee volgens skade as u termiete bestry. Boerdery in Suid-Afrika 47 (11): 30-34.

NEL. J.J.C. 1967. Grasdraertermiete verrinneweer ons veld. Boerdery in Suid-Afrika 43 (3): 41-47.

NEL, J.J.C. 1968a. Die grasdraertermiet, Hodotermes mossambicus (Hagen), as plaag van natuurlike weiveld. Journal of the Entomological Society of Southern Africa 31: 309-321.

NEL, J.J.C. 1968b. Aggressive behaviour of the harvester termites, Hodotermes mossambicus (Hagen) and Trinervitermes trinervoides (Sjostedt) Insectes Sociaux, Paris 15:145-156;

NEL, J.J.C. 1970. Aspekte van die gedrag van die werkers van die grasdraertermiet, Hodotermes mossambicus (Hagen), in die veld. Journal of the Entomological Society of Southern Africa 33: 23-34.

NEL, J.J.C. & HEWIITT, P.H. 1978. Swarming in the harvester termite Hodotermes mossambicus (Hagen). Journal of the Entomological Society of Southern Africa 4: 195-198.

NEL, J.J.C., HEWITT, P.H. & JOUBERT. L. 1970. The food preferences of laboratory colonies of the harvester termite, Hodotermes mossambicus (Hagen). (Isoptera: Hodotermitidae). Phytophylactica 2: 27-32.

NEL, J.J.C., WALTERS, M.C. & PRETORIUS, M.W. 1974. Pests of pastures. Department of Agricultural Technical Services. Republic of South Africa, Government Printer, Pretoria, Entomology Memoir 41: 1-12.

VAN ARK, H. 1966. The control and bio-ecology of the harvester termites in the Karoo (Hodotermitidae: Isoptera) Unpublished M.Sc. (Agric.) thesis, University of the Orange Free State, 89pp. VAN ARK, H. 1969a. Control of the Karoo harvesting termite, Microhodotermes viator (Latreille) (Hodotermitidae: Isoptera). Phytophylactica 1: 1-8.

VAN ARK, H. 1969b. Control of Hodotermes mossambicus (Hagen), in the Karoo (Hodotermitidae: Isoptera). Phytophylactica 1: 41-49.

 

Published

Karoo Agric, Vol 2, No 4, 1982, 2-9