Last update: April 5, 2012 09:37:49 AM E-mail Print

 

10 000 HET REEDS OP GROOTFONTEIN ONDERRIG ONTVANG

 

Cilliers JJS, Landboukollege Grootfontein

 

Die eerste student wat hom aangemeld het vir die eerste kursus wat op Grootfontein aangebied is, het dit reeds drie dae voor die aanvang van die kursus gedoen! So groot was die geesdrif. Sedertdien het meer as 10,000 studente kursusse op Grootfontein gevolg. Dit dui daarop dat toekomstige boere aI hoe meer die belangrikheid van wetenskaplike opleiding besef.

REEDS in die eerste jaar na die aankoop van die plaas Grootfontein in 1910, is die eerste kursus, 'n tweejaar-diplomakursus, ingestel. Die inrigting was destyds 'n landbouskool met mnr R. W. Thornton as die prinsipaal. Vir die kursus wat aangebied is, het 42 studente ingeskryf. Die eerste student wat hom aangemeld het, was J. J. Duvenage, wat uit gretigheid om die kursus by te woon, drie dae voor die aanvang daarvan, opgedaag het! Mnr. Duvenage lewe vandag nog en boer op die plaas Swawelkrans in die distrik Steynsburg.

 

KURSUSSE AANGEBIED

Die eerste kursus wat aangebied is, was inderdaad 'n goedgebalanseerde kursus. Dit het nie alleen vakke ingesluit wat betrekking gehad het op alle boerderybedrywe in die Karoo nie. Die belangrikheid van vakke soos landbou-ekonomie en plaasboekhou is destyds reeds besef en derhalwe is dit dan ook in die leerplan ingesluit. 'n Ander besondere kenmerk van die destydse kursus was die opleiding wat studente in volstruisboerdery ontvang het.

Die kursus self is egter van tyd tot tyd en na gelang van omstandighede, verander. So byvoorbeeld is die belangrikheid van spesiale opleiding in Merinoskaapboerdery spoedig besef. Vanaf 1919 is 'n sesmaande-kursus in skape en wol gelyktydig met die diplomakursus aangebied. Die diplomakursus is egter vanaf 1927 in 'n eenjaar-kursus omgeskep en van 1930, op die vooraand van die depressie, is die twee kursusse saamgevat in 'n eenjaarkursus, met die vak Skaapteelt en Woltegnologie as hoofvak.

Behalwe ten tye van die twee Wêreldoorloë toe die inrigting altwee kere tydelik gesluit het, is die kleinste getal studente in 1933, toe die depressie die swaarste gedruk het, ingeskryf. Hierdie getal het slegs op elf te staan gekom. Vanaf 1934 het daar egter weer 'n herlewing in die landbou plaasgevind en van toe af is 'n agtmaandekursus in Skaapteelt en Woltegnologie tesame met 'n tweejaardiplomakursus aangebied. Vanaf 1946, nadat die inrigting as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog gesluit het, is slegs die tweejaardiplomakursus, wat vandag nog aangebied word, ingestel.

Benewens bogemelde twee kursusse is die volgende kursusse van tyd tot tyd ingestel:

Kortkursusse van een week was altyd baie gewild by sowel mans as dames en sedert 1917 is 'n groot aantal kortkursusse oor 'n groot verskeidenheid van onderwerpe aangebied. Hierdie onderwerpe het onder andere ingesluit merinoskaapteelt en wolklassing, huishoudkunde, jerseybeeste, pluimveeteelt, Dorperskape, sybokke en sybokhaar, perde en werktuigkunde. As in aanmerking geneem word dat altesaam 6,754 mans en dames reeds opleiding ontvang het deur middel van hierdie kortkursusse, sal besef word van watter groot waarde hierdie kursusse vir ons boerebevolking is.

 

STUDENTEGETALLE

Die groot aantal studente wat oor die jare heen die een of ander kursus op Grootfontein bygewoon het, dui op die wydvertakte invloed wat die inrigting op die boerderybedryf en selfs die handel en nywerheid van die land het.

As in ag geneem word dat die inrigting reeds vyftig jaar bestaan, dan mag die studentegetalle met die eerste oogopslag nie baie indrukwekkend voorkom nie. Daar moet egter beklemtoon word dat die praktiese aard van die kursusse 'n beperking plaas op die getalle studente wat tot die onderskeie kursusse toegelaat kan word.

In Tabel 1 verskyn besonderhede aangaande die totale studentegetalle wat reeds die een of ander kursus op Grootfontein bygewoon het.

 

TABEL 1

Kursus Totale Studentegetalle
Tweejaar-diplomakursus 1,726
Eenjaar - diplomakursus 197
Ses- en agtmaande-kursus in skaapteelt en woltegnologie 644
Driemaande-kursus vir gegradueerdes 238
Tweemaande-kursus vir landboutegnici en boere 90
Setlaarskursus 90
Kursusse vir teruggekeerde soldate 306
Agtweek - suiwelkursus 54
Agt- en tienweek-kursus in wolklassing 428
Eenweek - kortkursusse 6,754
TOTAAL 10,527

 

 

HERKOMS VAN STUDENTE

Van die studente wat die tweejaar-diplomakursus en die spesiale skaap- en wolkursusse bygewoon het, is die grootste getalle studente afkomstig uit die distrikte waar kleinveeboerdery van oorwegende belang is.

Groot getalle studente uit stede soos Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen, het die kursusse bygewoon. Hierdie verskynsel kan verklaar word aan die hand van die feit dat hierdie stede die sentrums van wolbemarking is en dat daar oor die jare heen groot getalle jongmans na Grootfontein gestuur is om hulle vir die wolhandel te bekwaam.

Die belangrike rol wat Grootfontein deur die jare gespeel het in die opleiding van ons land se skaapboere, word verder bewys deur die feit dat studente van sover as Oos-Transvaal, Rhodesië, Suidwes-Afrika en selfs van Basoetoland gekom het vir hul opleiding.

'n Ontleding van die herkoms van die totale getal studente wat die tweejaardiplomakursus sedert 1911 bygewoon het, bring aan die lig dat 66 persent van plase afkomstig is terwyl die res in dorpe en stede groot geword het. Hierdie verhouding van boerseuns teenoor nie-boerseuns wissel egter aansienlik volgens die jaargetal soos blyk uit Tabel 2.

 

TABEL 2

Tydperk Persentasie Boerseuns Persentasle nie-Boerseuns
1911-1918 52 48
1920-1926 55 45
1927-1933 69 31
1934-1943 77 23
1946-1960 79 21

 

 

Hierdie syfers bring egter 'n ander belangrike verskynsel aan die lig. Dit is dat die persentasie boerseuns geleidelik toegeneem het wat daarop dui dat die toekomstige boere van ons land al hoe meer die belangrikheid van wetenskaplike opleiding besef.

 

LOOPBANE VAN OUDSTUDENTE

Geen amptelike rekords word gehou van studente nadat hulle hul opleiding voltooi het nie. 'n Ontleding wat gemaak is van 726 studente wat gedurende 1956 tot 1958 die tweejaardiplomakursus bygewoon het, het egter getoon dat ongeveer 60 persent tot die boerdery toetree terwyl ongeveer 40 persent betrekkings in die staatsdiens, in semi-staatsdepartemente en in die wolhandel aanvaar.

Oud-studente van Grootfontein is nie alleen knap boere nie, maar neem ook die leiding op landbougebied. Die treffendste voorbeeld in hierdie verband is die geval van mnr. Kobus Grobler, 'n oud-student van Grootfontein, wat so pas die buitengewone eer te beurt geval bet om vir die vierde agtereenvolgende jaar tot President van die S.A. Landbou-unie verkies te word.

 

 

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (6)