Last update: April 10, 2012 01:54:05 PM E-mail Print

 

Die Toekoms van Wol

Dr. L. L. Roux

 

PRODUSENTE van natuurlike tekstielvesels soos wol, katoen, .sy, vlas, ens., sal in die nabye toekoms groter kompetisie ondervind van die kant van reeds gevestigde tekstielkunsvesels en van onlangs ontwikkelde filamente wat nie net met die natuurlike vesels gelykstaan nie, maar hulle in sommige opsigte selfs oortref.

Ekonome wat, met die oog op die moontlike toekomstige rol van wol in die tekstielnywerheid, 'n noukeurige studie daarvan gemaak het, is oortuig daarvan dat “die enigste terrein waarop die wolkweker die kunsvesels kan bestry, die van produksiekoste is ". Diegene wat te doen het met die verskillende aspekte van vervaardiging, is ook die voorstanders van 'n planmatig uitgewerkte beleid van produksie en vooruitgang, gebaseer op nuwe idees en 'n nuwe rigting.

Hulle besef die noodsaaklikheid van skemas vir die bevordering van handel en vir tegniese vooruitgang in elke rigting, op 'n basis van onafgebroke navorsing.

 

Belangrike Tekstielvesels

'n Kort oorsig van die betreklike belangrikheid van die vernaamste tekstielvesels sal nie onvanpas wees nie, aangesien dit die leser in staat sal stel om die verhouding tussen die verskillende tekstielvesels beter te begryp.

Wol is veral geskik vir die maak van kledingstowwe en tapyte. Vir laasgenoemde word wol van die laer grade gebruik. Vlas word gebruik vir materiaal wat gedurig gewas moet word, terwyl gewone huishoudelike artikels van katoen gemaak word. Egte sy word net gebruik vir die vervaardiging van duursame en weelde-artikels, weens sy glansrykheid, fynheid en sterkte.

Kunsmatige tekstielvesels, waarvan rayon die gewildste is, word gebruik by die vervaardiging van 'n groot verskeidenheid van tekstielstowwe soos rok- en kostuummateriaal, alle soorte sportdrag en somerkleding vir mans, komberse, ens. Rayon is aantreklik vanweë sy prys, styl en dienlikheid, en word op groot skaal met wol saamgeweef gebruik. Vanweë sy voortreflike tekstieleienskappe het dit wol se vernaamste mededinger geword.

 

 

Bostaande tabel weerspieël die wêreldproduksie van katoen, wol (skoon), sy en rayon (filament en stapelvesel) oor 'n tydperk waarin belangrike wêreldwye industriële ontwikkelings plaasgevind het.

 

Persentasie van Totale Produksie

Uit die produksiesyfers blyk dat 'n rekord in 1937 behaal is, toe die produksie meer as .twee keer so groot as in 1921 was. Gedurende 1940 was die totale produksie 13 persent laer as in 1931. Rayon was die enigste vesel wat in 1940 'n produksierekord behaal het, toe rayon filament en stapelvesel vir die eerste keer die wêreldproduksie van wol (skoonbasis) oortref het. In die vier veselgroepe verteenwoordig rayon en wol onderskeidelik 13 persent en 12 persent van die wêreldproduksie. In verband met kunsvesels is die posisie van die verbeterde rayon-stapelvesel teenoor rayon-filament interessant. In 1940 het die produksie van rayon-stapelvesels die van rayon-filament oortref.

Die relatiewe belangrikheid van die produksie van eersgenoemde in verskillende lande word in onderstaande tabel weerspieël.

 

Produksie van Rayon-stapelvesel

(In miljoene lb gedurende 1940)

Brasilië

Finland

Duitsland

Groot-Brittanje

Italië

Japan

Swede

Verenigde State van Amerika

1.3

0.6

575.0

50.0

225.0

300.0

3.9

81.0

 

Wol

Onbewerkte wol word geproduseer onder baie verskillende toestande, wat van seisoen tot seisoen, en van jaar tot jaar wissel. Omdat dit nooit moontlik sal wees om 'n eenvormige produk voort te bring nie, sal wol altyd dwarsdeur die proses van vervaardiging baie hantering en bewerking deur geskoolde vakmanne en ingewikkelde masjinerie vereis. Daarenteen, word kunsvesels in 'n fabriek onder volkome gekontroleerde standaardtoestande vervaardig.

Die besondere kenmerke van wol as 'n tekstielvesel hang af van fynheid, lengte, karteling, breekkrag, verlengbaarheid en elastisiteit.

Wol is die geskikste vesel vir die maak van stof vir onder- en boklere. Dit gee warmte en is absorberend en duursaam in 'n mate wat deur geen ander vesel geëwenaar kan word nie. Daarby verseker sy onoortrefbare elastisiteit dat wolklere gemaklik pas en hul vorm goed behou. Kortom, wol het die beste kombinasie van goeie hoedanighede van alle tekstielvesels.

 

Sintetiese of Kunsvesels

Die verbetering en grootskaalse produksie van kunsvesels is gedurende die afgelope dekade grootliks versnel in Amerika, Duitsland, Italië en Japan, waar die voorraad natuurlike vesels vir nywerheidsvereistes ontoereikend was. Hierdie lande het hul invoer van weefstowwe ingekort, en gedurende die oorlogsjare strewe die meeste fabriserende lande daarna om meer selfonderhoudend in hul tekstielnywerheid te word.

Houtpulp, waarvan, die hoofbestanddeel sellulose is, is die grondmateriaal waaruit viskose rayon, wat tans die vernaamste kunsvesel is, vervaardig word. Stapelvesel het presies dieselfde samestelling as rayon-filament.

Vir die vervaardiging van albei word gebruik gemaak van die viskose-proses, maar eersgenoemde word in kort stukke gesny, wat gebruik word om natuurlike vesels te vervang. Daar is baie soorte kunsvesels wat by wyse van chemiese prosesse van houtvesel vervaardig word. Rayonsoorte verskil van mekaar wat betref fynheid, glansrykheid, veseldikte, ens. Nylon is die jongste besonder suksesvolle toevoeging tot die lang lys kunsvesels. Dit is 'n produk van steenkool, waarby ook 'n chemiese proses aangewend word. Hierdie proses is in die Verenigde State van Amerika op baie groot skaal ontwikkel. Volgens skatting sou die jaarlikse produksie van Nylon aan die end van 1942 op 20 miljoen lb. te staan kom.

Afgesien van die bruikbaarheid van die verbeterde kunsvesels vir die vervaardiging van suiwer kunsweefstowwe, kan hulle ook gebruik word tesame met enigeen van bogenoemde natuurlike vesels. Die meeste kunsvesels kan gebruik word om katoen te vervang, maar rayon-stapel vesel is besonder geskik vir vermenging met verskillende tipes wol. Stapelvesels het geen suiwering nodig voordat hulle gespin word nie, met die gevolg dat produksiekoste laer is as die van natuurlike vesels. Daar is ook minder kans vir bederf, en daarby is hulle ook eenvormig wat betref eienskappe en lengte.

Uit bostaande blyk onteenseglik dat kunsvesels 'n baie belangrike rol in die tekstielnywerheid speel, en voorbestemd is om 'n nog groter rol te speel, as hul eienskappe bevredigend is. Enige vesel wat sy plek op die wêreldmark wil handhaaf, moet aan alle tekstielvereistes voldoen en sy eienskappe moet of gelykstaan met die van ander mededingende vesels of hulle oortref.

 

Bevordering van Wol as Tekstielproduk

Die huidige bedreiging van wol is geensins verontrustend nie, maar dit sou dwaas wees om die gevaar van vervanging te onderskat. Dat dit noodsaaklik is om wol te bevorder word al etlike jare besef. Veral gedurende die afgelope paar jaar is nuwe navorsingsrigtings ingeslaan en baie werk onderneem om elke aspek van wolproduksie te ondersoek.

In noue verbinding met die vervaardigingsaspek staan die studies van die fisiese en chemiese eienskappe en die " inherente en omstandigheidsnadele " van wol. Metodes word tans bestudeer waarvoIgens wol se vatbaarheid vir aanvalle van motte, sy stekerigheid, sy inkrimping wanneer dit gewas word en vilting teen te werk. Verdere navorsing is ontwerp om 'n duideliker begrip van die kwaliteit van wol te verkry, om sy molekulestruktuur met behulp van X-strale te bestudeer, en om die uitwerking van die vervaardigingsproses en chemiese behandeling op die wolvesel deur middel van mikroskopiese ondersoek vas te stel.

Die wolkweker se aandeel in die opbou van die afdeling van die tekstielnywerheid waarin daar vir sy produk 'n aanvraag verwag kan word, is belangrik, omdat die toekoms van die wolkweker geheel en al sal afhang van die hoeveelheid wol wat in die fabrieke of suiwer of gemeng gebruik word. Navorsingsprogramme is opgestel vir bestudering van die probleme van die skaapboer, en 'n aantal skemas is in werking vir ondersoek na wolgroei en die talryke faktore wat opbrengs, kwaliteit, kleur, ens., beïnvloed.

Omdat die grootste gedeelte van die skaapwêreld in die Unie besonder geskik is vir die produksie van fynwol, is navorsingswerk grotendeels op merinoskape toegespits. Die verskille in die woleienskappe van die verskillende soorte merino's (die geplooide teenoor die gladde skaap) word op groot skaal bestudeer. Die nadelige uitwerking van ondervoeding, uitwendige parasiete en siektes word tans !gedemonstreer. Hierdie werk ontvang ruime finansiële steun van die Suid-Afrikaanse Wolraad. Hierdie liggaam het, in samewerking met Australië en Nu-Seeland, die Internasionale Wolsekretariaat in die lewe geroep, met sy hoofkwartier in Londen.

Dit ly geen twyfel dat markorganisasie 'n uiters belangrike sy van die woltekstielbedryf is. Hoewel dit nie die bedoeling is om hierdie saak hier te bespreek nie, is dit tog wenslik om daarop te wys dat dit noodsaaklik is om van die metodes van die verlede te wysig sodat die afset van wol op 'n basis van vasgestelde standaarde vergemaklik kan word. Dit sal vir die boer 'n goeie beloning vir sy aandeel in die produksie verseker. Vir sover skrywer weet, is geen syfers in verband met die betreklike koste van produksie van die belangrike tekstielvesels beskikbaar nie. Inligting van hierdie aard sal baie interessant en waardevol wees.

Ekonome en spesialiteite op internasionale industriële ontwikkeling is hard besig om planne vir na-oorlogse rekonstruksie te formuleer. Alle nywerhede is daarby betrokke, en die tekstielnywerheid sal besondere aandag moet geniet. Dit lyk asof die algemene opvatting van 'n regverdige verspreiding van die noodsaaklike benodigdhede onder alle mense die botoon voer in die menings van diegene wat besig is om 'n beleid op te stel vir die verkryging van werk vir elkeen en sosiale sekuriteit. 'n Australiese gesaghebbende druk hom as volg uit: Wat ons nodig het is nie net beter masjinerie en sekerlik nie, slim handelstransaksies nie, maar een of ander middel. waarmee die kloof tussen wêrelde en armoede oorbrug kan word. "Ons behoort nie die landbou te dwing om in oorlogstyd in die hoogste behoeftes van die nasies te voorsien, om dit dan weer toe te laat om daarna in 'n slapte te verval nie." Ook"... produksie en aanbod moet gereël word dat 'n redelike pryspeil gehandhaaf kan word ". Die algemene beskouing is dat internasionale samewerking vir die verwesenliking van hierdie ideale onontbeerlik is. Volgens 'n verslag van 'n toespraak van President Roosevelt, gehou by die Internasionale Arbeidskonferensie in Nu-York in November 1941, het hy gesê:..Daar is soveel miljoene mense in die wêreld wat nog nooit behoorlik gevoed, gekleed en gehuisves is nie. As die vrye nasies van die wêreld wil onderneem om vir hierdie miljoene 'n behoorlike lewenstandaard te verseker, kan daar werk wees vir elke man en vrou wat werk soek." Die verhoging van die lewenstandaard van die massas in verskeie groot kontinente is van die grootste belang vir die tekstielnywerheid en veral die wolnywerheid. Die geringste verbetering in hierdie opsig sal onmiddellik 'n groter verbruik van kleding en ander beskermende materiale tot gevolg hê. Sulke mense sal waarskynlik sterk en duursame kledingstowwe nodig hê, en daarvoor is wol die geskikste vesel.

 

Die volgende aanbevelings vir die rekonstruksie van nywerhede en veral van die landbou, kom van 'n Australiese outoriteit:-

1. Die ordelike bemarking van alle produkte behoort onder toesig van beheerrade geplaas te word.

2. Lande behoort hul eie marke te ontwikkel en 'n gebalanseerde ekonomiese stelsel op te bou.

3. Boere behoort meer vir eie gebruik te produseer. Waar dit enigsins moontlik is, behoort hulle hul meer op gemengde boerdery toe te Iê en daardie kombinasie van boerderytakke te kies wat vir hulle gebied die geskikste is. Daar is egter groot dele van die land wat net vir sekere tipes boerdery geskik is.

 

Voorstelle vir die Toekoms

Wol sal altyd die belangrikste landbouproduk van die Unie van Suid-Afrika wees.

Die volgende kort oorsig gee 'n aanduiding van die belangrikste rigtings waarin, na gemeen word, gewerk moet word ten einde navorsing in verband met produksieprobleme te bevorder, en die toepassing van kennis in die skaapboerdery te verseker.

(1) Navorsing moet voortgesit word langs die weg wat op die oomblik in Suid-Afrika en ander lande gevolg word.

(2) Uit opnames van alle distrikte waarin skape aangehou word of onder ekstensiewe of onder gemengde boerdery-toestande, sal waardevolle inligting verkry word aangaande die geskiktheid van skaaptipes vir verskillende omgewingstoestande. Dit het veral betrekking op die vraagstuk van die betreklike waarde van wolskape teenoor nie-wolskape, en hier kan ons spesiaal verwys na die merino, waarvan (soos ons sal vind) sekere tipes ongetwyfeld meer produktief sal wees onder sekere bepaalde toestande.

(3) Boere behoort alle pogings aan te wend om hulle weiveld te bewaar en teen oorbeweiding te beskerm deur die metodes aan te wend wat uit ondervinding geblyk het die geskikste te wees vir hulle besondere streek en weiding. Hierdie probleme geniet die aandag van die Departement van Landbou en Bosbou en talryke sentrums in die land.

(4) Aangesien die sterftesyfer in die meeste distrikte besonder hoog is, moet die beskermende en genesende maatreëls wat die Departement voorskryf betyds toegepas word. Inwendige parasiete is nog die oorsaak van bale swaar verliese onder skape en lammers, en skape wat wel van sulke besmetting herstel het, kan nie 'n normale wolopbrings lewer nie.

Die brommer het in baie dele van die land 'n gevaar geword. Navorsers is besig om verskillende aspekte van die probleem te ondersoek.Telers word aangemoedig om 'n tipe skaap te teel (sonder mikrimpels) wat minder vatbaar vir brommeraanvalle is.

Gebreksiektes kom taamlik straf voor in dele van die land waar die weiding swak is of waar strawwe winters en langdurige droogtes ondervind. word. In sulke gevalle is dit belangrik om vas te stel of byvoedingsrantsoene en/of lekke ekonomies regverdigbaar is.

(5) Omdat die vrugbaarheid van skape in Suid-Afrika laag is, vereis hierdie aspek van teling die ernstige aandag van elkeen wat daarby betrokke is. Die kudde-stoetlampersentasie van die merino is dikwels so laag as 40 persent of 50 persent. So 'n lae vrugbaarheid het nadelige gevolge op die jaarlikse vermeerdering van die skaapbevolking, op die snelheid van verbetering deur seleksie en natuurlik uiteindelik op die netto inkomste van die boer.

Die ondervinding leer ons dat die oorsaak van onvrugbaarheid in die meeste gevalle nie aan patologiese toestande toegeskryf moet word nie, maar aan abnormale en onreëlmatige fisiese toestande waaroor die boer in die meeste gevalle deur middel van goeie bestuur die oorhand kan kry. Uitgebreide proewe het aangetoon dat sowel die ram as die ooi 'n belangrike rol speel in gevalle van onvrugbaarheid. Eienaars van stoeterye en kuddes moet meer drastiese maatreëls toepas ten einde groter reproduktiwiteit by hulle ooie en ramme te bewerkstellig. Die eienskap van produktiwiteit is inherent en kan derhalwe deur seleksie aangemoedig word om 'n hoë mate van vrugbaarheid te bewerkstellig.

(6) In baie stoeterye en kuddes dwarsdeur die land is daar diere met gebrekkige bouvorm, wat somtyds 'n baie nadelige uitwerking op die liggaamsbou en simmetrie kan hê. Hierdie gebreke verswak die merino nie net as wolskape nie, maar doen ook afbreuk aan die waarde van hul karkasse. Laasgenoemde punt vereis die boer se aandag, want duisende merino's gaan jaarliks na die slagpale. 'n Plat borskas en hangkruis is ernstige gebreke. In Australië het uit ondervinding geblyk dat skape met 'n beter bouvorm minder vatbaar vir die brommeraanvalle is.

As die vereiste aandag bestee word aan skape wat onwenslike woleienskappe toon en onder die gemiddelde standaard van die stoetery of kudde val, kan alle onwenslike skape by die jaarlikse klassering uitgeskakel word.

(7) Groter aandag behoort aan die behoorlike klassering van wol bestee te word. Die aanvaarding van bepaalde standaarde deur die Britse Wolkommissie is 'n bewys van die noodsaaklikheid van standaardisering. Daar mag geen verslapping in die toepassing van hierdie standaarde wees nie, en daar bestaan selfs 'n moontlikheid dat metodes ontwerp sal word waarvolgens die huidige standaarde suiwerder vasgestel kan word deur 'n stelsel van monsterneming en snelle ontleding.

Boere word aangespoor om hulle wolskeersels jaarliks volgens die standaarde van die Nasionale Wolkwekersvereniging van Suid-Afrika te klasseer. Hulle sal vind dat dit die klassering van wol die klassering van skape grootliks vergemaklik. Skape met minderwaardige vagte moet gemerk en uitgegooi word.

 

Die Toekoms is versekerd

Wol kan nie meer op sy tradisionele deugde staatmaak om sy reputasie as 'n tekstielvesel te handhaaf nie. Omdat wol 'n beter kombinasie van kwaliteite het as enige ander tekstielvesel, is sy toekoms goed beskerm, maar sy plek in die tekstielwêreld sal alleen behou word as al die hulpmiddels van die wetenskap in belang daarvan aangewend word.

Die gedagte bestaan dat die grootste vooruitgang wat betref die gebruik van tekstielware teweeggebring sal word wanneer die massas wat nog nooit behoorlik gekleed is nie, in staat sal wees om voldoende kleding te koop.

Dit is onwaarskynlik dat drastiese permanente veranderings in die nabye toekoms sal plaasvind. Intussen behoort wolkwekers daarna te strewe om hul produksiekoste te verlaag deur onnodige verliese uit te skakel en deur verbeterde metodes toe te pas.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 18