Last update: April 2, 2012 09:40:53 AM E-mail Print

 

INVLOED VAN TOENEMENDE OUDERDOM OP PRODUKSIE-EIENSKAPPE BY DIE MERINO

DR. J.J. VENTER Landboukollege Grootfontein, Middelburg K.P.

 


Die gewig wol wat die skaap produseer, is naas gehalte een van die belangrikste faktore wat van ekonomiese belang vir die boer is. Diere word op grond van hul produksieprestasie aangehou of uitgegooi uit die kudde.

Die rouwol bevat verskillende onsuiwerhede soos byvoorbeeld wolvet, sweet, sand en plantmateriaal wat die gewig verhoog, derhalwe is die gewig skoonwol 'n meer betroubare maatstaf van die dier se produksievermoë. Die wolkoper baseer die prys wat hy bereid is om te betaal dan ook in 'n groot mate op die geskatte skoonopbrengs van die wol. Die gewig skoonwol wat die skaap produseer (W), word bepaal deur die volgende faktore, naamlik vesellengte (L), deursneë-oppervlakte van die vesels (A), getal vesels per eenheid veloppervlakte (N), totale veloppervlakte van die dier (S) en die soortlike gewig van die wol (P), geneem as 1.30. Die gewig wol wat 'n skaap sal produseer kan dus volgens die volgende formule bereken word:

W = L x A x N x S x P

Dit is dus duidelik dat die verskillende faktore elk afsonderlik en gesamentlik 'n belangrike rol speel in die bepaling van die uiteindelike produksie van die dier.

 

Verandering

Vanaf geboorte, veral gedurende die eerste aantal jare, vind daar 'n groot verandering plaas in die dier se ontwikkeling veral in liggaamsgrootte, veseldikte en vesels per eenheid veloppervlakte wat die produksie opmerklik beïnvloed.

Ten einde onder meer die verandering in produksie van Merinoskape met toenemende ouderdom te ondersoek, is 'n aantal lammers van dieselfde vaar in gunstige voedingstoestande vir 'n periode van 61 jaar onder waarneming gehou. Om verder ook geslagsverskille te ondersoek, is die helfte van die ramlammers op 'n ouderdom van een maand gekastreer. Die ooie is nooit gepaar nie.

Die liggaamsgewig van elke dier is weekliks aangeteken en tydens skeertyd is die totale wolproduksie (loks uitgesluit) aangeteken. Die gewig skoonwol is bereken nadat die skoonopbrengspersentasie van 'n symonster by wyse van 'n wastoets bepaal is.

Liggaamsgewig


Die verandering in gemiddelde liggaamsgewigte van die ramme, hamels en ooie met toenemende ouderdom word grafies in Fig 1 aangedui.

 

 

Die liggaamsgewigte van die skape toon 'n skerp styging gedurende die eerste jaar. Daarna het hul gewigte 'n meer geleidelike toename getoon totdat 'n maksimumgewig bereik is op 'n ouderdom van ongeveer 3½ jaar.

Die ramme en ooie het gouer hul maksimum gewig van gemiddeld 81,6 kg (180 Ib) en 63,5 kg (1.40 Ib) onderskeidelik bereik, terwyl die hamels nog tot op 4t jaar swaarder geword het tot ongeveer gemiddeld 77.1 kg (170 Ib). Op 'n ouderdom van tussen 3½ en 6½ jaar was daar geen betekenisvolle verskille tussen die gewigte van ramme en hamels nie. Albei geslagte was egter swaarder as die ooie.

Die maksimum gewigte word vir 'n paar jaar gehandhaaf, maar na 5½ jaar toon al drie geslagte 'n daling in liggaamsgewig.

 

Veseldikte

In Fig 2 word die verandering in gemiddelde veseldikte van die wol met toenemende ouderdom aangedui. Dit is duidelik dat die gemiddelde veseldikte van die wol van die lamme, hamels en ooie op die ouderdom van ses maande bykans dieselfde is, naamlik 17,5 µm. Die gemiddelde veseldikte van die wol het gedurende die eerste jaar besonder skerp toegeneem na 22,6 µm vir lamme, 21,9 µm vir hamels en 21,6 µm vir ooie. Op die ouderdom van 'n jaar was die wol van die ramme reeds bykans een mikrometer dikker as die van die hamels en ooie.

 

 

Van 'n jaar tot ongeveer 2½ jaar ouderdom het daar nog 'n verdere toename in veseldikte by al drie geslagte ingetree tot 'n maksimum dikte van gemiddeld 25,2 µm vir lamme, 23,7 µm vir hamels en 23,1 µm vir ooie. Daarna het daar jaarliks 'n geringe maar volgehoue verdunning van die vesels by al drie geslagte plaasgevind, ondanks die gunstige en konstante voeding wat die skape ontvang het.

Dit is opvallend dat die veseldikte deurgaans by ramme die grootste en by ooie die kleinste is, terwyl die van die hamels 'n intermediêre posisie inneem. Hierdie verskille moet primêr aan geslagsverskille toegeskryf word. Die verskille word geleidelik groter totdat bulle 'n maksimum bereik op 'n ouderdom van 2½ jaar, waarna dit gaandeweg verminder.

 

Vesellengte

Op 'n ouderdom van een jaar en 1½ jaar is die lengtegroei bepaal oor ses maande groeiperiodes en verwerk na 12 maande groei vir vergelyking doeleindes. As sulks geneem, is daar 'n geringe toename in lengte oor 'n 12 maande groeiperiode geneem vanaf 'n ouderdom van 6 maande tot 1½ jaar. Van 'n ouderdom van 1½ jaar is daar 'n geleidelike afname in stapellengte sowel as in die reguit lengte van die vesels by al drie geslagte. Ten opsigte van reguitlengtes is daar oor die volle duur van die proef geen betekenisvolle verskille tussen die geslagsgroepe gevind nie. Geen betekenisvolle verskille tussen die geslagsgroepe is ook ten opsigte van stapellengtes gevind nie, behalwe op die ouderdom van 1½ jaar toe die wol van die hamels korter was as die van die ramme en ooie en ook op 1½ jaar toe die wol van die ooie korter was as die van die ramme en hamels.

Op 4½ jaar ouderdom was daar 'n opmerklike afname in stapellengte van die wol van die ramme en op 6½ jaar was die wol van ramme betekenisvol korter as beide die van die hamels en ooie. Op 7½ jaar ouderdom was daar weereens geen betekenisvolle verskil nie. Hierdie verskille in stapellengte kan hoofsaaklik toegeskryf word aan 'n toenemende diepte van karteling van die wol van die ramme.

 

 

Rouwol- en skoonwolproduksie

Die verandering in rouwol- en skoonwolproduksie van die skape word in Fig. 4 en 5 aangedui.

 

 

Die wol produksie het, net soos liggaamsgewig, skerp gestyg vanaf ses maande totdat 'n maksimum produksie op 2½ bereik is. Op 'n ouderdom van ses maande was daar geen verskil tussen geslagte in wolproduksie nie, dog vanaf 'n ouderdom van 1 ½ jaar het geslagsverskille begin intree.

Net soos liggaamsgewig, word die rouwolproduksie ook vir 'n paar jaar gehandhaaf waarna dit begin afneem. Die ramme het deurgaans meer rouwol geproduseer as die hamels en die hamels meer as die ooie. .

Wat skoonwol betref, was daar 'n daling reeds vanaf 'n ouderdom van 2½ jaar by alle geslagte. Nieteenstaande die hoer rouwolproduksie van die ramme, het die gewig skoonwol egter vinniger afgeneem as by die ander geslagte.

Die hoër gewig rouwol van die ramme was blykbaar te wyte aan 'n vermeerdering in wolvet wat net by ramme (vanaf 'n ouderdom van 3½ jaar) voorgekom het. Dit het meegebring dat die skoonopbrengspersentasie opvallend skerp gedaal het vanaf 3½ jaar (Fig 6).

 

 

Nieteenstaande die hoër liggaamsgewig van die ramme het die hamels in skoonwolproduksie gunstig vergelyk met die ramme. In terme van skoonwol was die produksie van die hamels gedurende die laaste aantal jare selfs hoër as die van die ramme.

In hierdie proef het die ramme, hamels en ooie dieselfde behandeling ontvang, naamlik 'n vry toegang tot lusern met mielie aanvulling. Die intensiteit van wolproduksie kon derhalwe vergelyk word met toenemende ouderdom.

Die intensiteit van wolproduksie is uitgedruk as die gewig skoonwol geproduseer per totale veloppervlakte. Die grootte veloppervlakte is in verhouding met die liggaamsgewig en word algemeen beraam as liggaamsgewig tot die mag . Gewig skoonwol

lntensiteit van Wolproduksie = (Liggaamsgewig)¾

Die verandering in intensiteit van wolproduksie met toenemende ouderdom word grafies in Fig 7 aangedui. Van die grafiek is dit duidelik dat die intensiteit van wolproduksie vanaf 'n maksimum op 'n ouderdom van 2½ jaar 'n geleidelike en volgehoue daling toon met toenemende ouderdom. Daar is ook geen opmerklike verskil tussen geslag nie.

 

 

Volgens die resultate van hierdie proef het die intensiteit van produksie vanaf 'n ouderdom van 2½ jaar, toe die skape 'n maksimum produksie bereik het, tot op die ouderdom van 6½ jaar gedaal met ongeveer 41.9 persent by ramme, 35,9 persent by hamels en 32,3 persent by ooie. Die intensiteit het dus in die algemeen met ongeveer 8 tot 10 persent per jaar verminder.

Ten einde swak produseerders uit te skakel, skyn dit raadsaam te wees om die dier se algehele doeltreffendheid wat produksie en reproduksie aanbetref, op 61 jaar ouderdom in heroorweging te neem.

 

Published

Karoo Agric 2 (1), 15-20