Last update: April 10, 2012 11:53:44 AM E-mail Print

 

Die Trekperd

Dr. L. L. Roux

 

CLYDESDALE, Percheron, Suffolk, Belgiese Perd en Shire is die bes bekende rasse trekperde, dog in ons land word slegs die Clydesdale, die Percheron en die Suffolk geteel, hoewel daar hier en daar verteenwoordigers van die ander rasse mag bestaan.

Die bygaande illustrasies, tesame met die beskrywings behoort 'n juiste indruk te gee van die algemene eienskappe van elkeen van bogenoemde drie rasse. Dit moet natuurlik verstaan word dat ietwat afwykende tipes in die verskillende lande ontwikkel.

 

Clydesdale

Hierdie ras het sy oorsprong in Skotland en is tans verreweg die gewildste trekperd in daardie land. Die" Clydesdale Horse Society of Great Britain and Ireland " is in 1878 gestig.

Die Clydesdale is hoofsaaklik geelbruin en bruin van kleur, dog eersgenoemde kleur word die meeste aangetref. Die volgende kleure word selde gesien: swart, vos, rooiskimmel en grysskimmel. 'n Bles of 'n streep in die gesig wat tot by die snoet strek, is kenmerkend. Die bene is gewoonlik wit tot by die knieë en die spronggewrigte, soms selfs hoër op, dog al vier bene is nie altyd wit nie. Die lang hare of " muis " aan die kootgewrig behoort syagtig dog nie te dig te wees nie en behoort tot die agterste gedeelte van die bene beperk te wees.

Volgens Amerikaanse syfers wissel die gewigte van uitgegroeide Clydesdale-hingste tussen 1,100 lb., en 1,900 lb. en die van uitgegroeide merries tussen 1,600 lb. en 1,800 lb. Die hingste is ongeveer  16 hande 3 duim hoog en die merries 16 hande.

Die Clydesdale is gewoonlik wonderlik gebalanseer; geen ander ras sou sy gelyke wees wat styl en beweging betref nie. Ander voortreflike kenmerke is 'n sterk beenstelsel, goed gevormde knieë en spronggewrigte, uitmuntende kote en goeie, groot, sterk hoewe.

Die volgende kritiek is op hierdie ras uitgebring: Sommige van hulle is rankerig en het nie die breedte en die vastheid van sommige van die ander trekrasse nie. Die muis is ook geneig om te ruig te wees, terwyl daar ook te veel afwykende wit kleur is. Kleuraftekenings beïnvloed natuurlik nie die kwaliteit van die ras nie.

 

 

Percheron

Hierdie ras het sy oorsprong in Perche, 'n klein noordwestelike distrik van Frankryk. Slegs die Percherons wat binne die grense van die distrik Perche gebore is, kom in aanmerking vir registrasie in die Percheron-stamboek van Frankryk. Die vul moet binne die jaar van sy geboorte ondersoek word. Die Percheron-perdevereniging van Frankryk is in 1883 georganiseer, en, die verbetering van die ras is toe te skryf aan sowel openbare as private pogings. Die staat het stoeterye in stand gehou en subsidies aan private stoettelers betaal ten einde hulle in staat te stel om perde van hoë klas aan te hou.

Negentig persent van die Percheron;s is of swart of skimmel. Die res is bruin, geelbruin, vas of rooiskimmel. Die meeste swartes e.n skimmels het klein wit aftekenings, soos byvoorbeeld, 'n kol, 'n streep of 'n bles en wit kote. Dit is nie gewens dat daar te veel wit moet wees nie; baie persone is van mening dat 'n bles van volle lengte te veel in die oog lopend is.

Volgens Amerikaanse standaarde behoort goeie uitgegroeide hingste van 1,800 lb. tot 2,000 lb. te weeg en gemiddeld sê 16 hande 2 duim hoog te staan. Die moderne Percheron is fyner van kop as enige ander trekras. Hy het matig kort bene is taamlik geset van bou en gee die algemene indruk van gewilligheid en algemene nuttigheid. Die Percheron het die gewenste eienskappe :van trekkrag, gewig en spiermassa en tog is die ras fyn van balans en netjies van beweging.

Daar word beweer dat sommige eksemplare van die ras aan die volgende gebreke mank gaan: hangkruis, oorfynheid, gebrek aan diepte en volheid van bou, ietwat te ronde pype en te kort, reguit kote.

Die Percheron is jare al die gewildste trekras in die Verenigde State Van Amerika, waar daar in baie dele 'n groot aantal goeie stoeterye aan te tref is. Die hingste gee glo besonder goeie vullens met gewone graadmerries.

 

 

Suffolk

Die tuiste van die Suffolk is in die Suffolk County, Oos-Engeland, waar die ras vir uitsluitlike gebruik op plase geteel is. Hy sou in staat wees om met min voer 'n groot hoeveelheid werk langer, aaneen as ander trekperde te doen.

Die vroeë geskiedenis van die Suffolk bring die strenge toetse aan die lig waaraan hierdie ras op tentoonstellings in sy streek van herkoms onderwerp is ten einde die telers aan te moedig om krag en uithoudingsvermoë deur teelt te versterk. In die wedstryde moes die perde onder andere swaar vragte trek, terwyl hulle ook afsonderlik en in spanne teen mekaar tougetrek het soos atletiekspanne.

Hierdie ras is net van een kleur, naamlik vos. Die voskleure is van verskillende skakerings, van donker tot 'n ligte helder vos. Die voorkeur word aan die helder vosskakering gegee. Wit aftekenings is ongewens; indien daar egter wel is, behoort hulle tot die voorkop beperk te wees.

Die Suffolk is kleiner as die ander trekrasse; uitgegroeide hingste weeg selde 2,000 lb. Die ras het egter 'n goeie diepte en breedte van bou, met besonder sterk gewelfde ribbes. Van voor vertoon die perd baie indrukwekkend en hy dra sy edel kop goed. Algemene bou, spronggewrigte, kote, ens., is goed; die ras is bekend vir sy sterk hoewe.

Kritiek wat op hierdie ras uitgebring kan word, is dat dit nie swaar genoeg gebou is om swaar trekwerk te doen nie en dat die beenstelsel te fyn vir die grootte van die liggaam is.

 

 

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 20