Last update: April 5, 2012 10:09:10 AM E-mail Print

 

Die turksvy – die voerskuur en voerkuil van die natuur

C de W Rossouw

 

 

EK dra weer my hoed bo-op " my kop", het 'n Namakwalandse boer vol geesdrif en moed gesê.

Die land het weer reën in oorvloed gekry en die afgelope droogte is iets van die verlede. Almal is weer vol moed en die hoed wat gedurende die langdurige droogte pap oor die ore gehang het, sit weer "bo-op" die kop. Die tyd van oorvloed het weer aangebreek en dit is nou die tyd om die skure vol te maak.

Hoe?

Deur veldbeheer, voeropberging en aanplant van droogtebestande voergewasse.

 

DORINGLOSE TURKSVYE

Die turksvy en die garingboom is die kamele van die planteryk. Hierdie plante besit die merkwaardige eienskap dat hulle groot hoeveelhede beskikbare water betreklik gou kan opneem en bewaar. Vir lang tydperke kan die plante dan met baie min reën klaarkom omdat hulle oor 'n groot vogreserwe beskik. Hierdie eienskap kan met groot voordeel uitgebuit word, want die land word gekenmerk deur tye van oorvloed en tye van skaarste.

 

OPBRENGS

Turksvye oortref alle ander gewasse wat die produksie van vreetbare materiaal betref. Vyf jaar na vestiging behoort 'n turksvyplantasie van een morg onder normale toestande met 'n gemiddelde reënval van 12.5  dm. 'n opbrengs van meer as 100 ton groenmateriaal te lewer, aldus Turpin en Gill (1928). In terme van verteerbare voedingstowwe, dit wil sê die gedeelte van die voedingstowwe wat in die bloedstroom opgeneem word, oortref turksvye ander gewasse soos mielies, mangelwortels en lusern verreweg. Turpin en Gill (1928) vergelyk die verteerbare voedingstowwe van bogenoemde gewasse in Tabel 1.

 

Gewas

Opbrengs in ton acre

Hoeveelheid verteerbare voedingstowwe in ton acre

Turksvy

80

5

Mielies (Kuilvoer)

25

4.2

Mangelwortels

25

3.7

Lusernhooi

5

2.5

 

Hulle het die beraming gemaak dat slegs 20 morg turksvye, 140 ton lusernhooi en 600 sak mielies voldoende voer aan 1,000 ooie met lammers en 1,000 hamels vir een normale droë jaar verskaf. Teen R20.00 per ton vir lusernhooi en R3.60c per sak mielies kos dit 'n boer ongeveerR2.00 per skaap per jaar. 'n Normale droogterantsoen bestaande uit lusernhooi en mielies sal heelwat meer wees.

 

DRINKWATER

Skoon water aan plaasdiere is net so belangrik soos goeie weiding. Turksvye verskaf suiwer drinkwater aan plaasdiere. Stead en Warren (1921) het gevind dat Merinohamels in 'n proef meer as 400 dae sonder drinkwater klaargekom het omdat hulle genoeg turksvye beskikbaar gehad het. Los dit nie baie van die boer se probleme in tye van droogte op nie?

 

GEHARDHEID

Doringlose turksvye kan bo alle twyfel as 'n geharde plant beskou word, maar het soos enige ander plant ook sy perke. Dit het ook water en goeie grond nodig vir hoë produksie.

As al die geld, water en tyd wat in die "lappie lusern" by die windpomp ingesteek word aan turksvye bestee word, sal die ondernemer aangenaam verras word. Turksvye maak aanspraak op slegs twee tot drie besproeiings per jaar en die benutting van water deur die plant is besonder goed. indien nie die beste van al die ander landbougewasse nie. Turksvye vereis nie ekstra arbeid nie, geen gereedskap is nodig nie en geen voerskuur of hooimied hoef opgerig te word nie. Dit maak net aanspraak op die water wanneer die opgaardam twee of meer keer per jaar skoongemaak word. Terselfdertyd dien 'n turksvyplantasie naby die drinkplek as 'n windbreek om sodoende stof in wol en in suipkrippe tot 'n minimum te beperk.

 

PLANTTYD

Die mislukkings wat met die aanplanting van turksvye ondervind word, is meestal daaraan toe te skryf dat dit nie op die regte tyd geplant word nie. In die natuur val die volwasse blaaie gedurende die koue wintermaande af en lê beskut onder die moederplant om dan vroeg in die voorjaar te begin groei. Die natuur bepaal dus dat Augustus die beste tyd vir vestiging is. Met die koms van die somermaande begin die volwasse blaaie vrugte vorm wat heelwat voedselreserwes uit die pas uitgeplante blaaie put. As dit later as Oktober geplant word, word groei baie deur vrugvorming vertraag, die jong , plant word verswak en die hele onderneming loop op 'n mislukking uit.

Omdat turksvye vir alle diere baie smaaklik is, is dit belangrik dat die pas aangeplante plantasie goed omhein moet word. Selfs skilpaaie sal 'n aanslag maak op jong plantasies.

 

INSEKTEPLAE

Die twee belangrikste insekteplae wat op doringlose turksvye voorkom is Cactoblastis cactorium en Cochenille (Doctylopius opuntia).

Die sogenaamde bloubladvariëteite soos Robusta, Chico en Monterey is goed bestand teen Cochenille terwyl Fusicaulis daardeur aangeval word. Cactoblastis val albei soorte aan.

 

Cochenille

Omdat bestryding met chemiese stowwe altyd 'n duur onderneming is, moet die plaag liewer verhoed word. Die volgende moet derhalwe in gedagte gehou word:

(a) Plant variëteite soos Robusta, Chico en Monterey aan.

(b) Indien ander variëteite soos Fusicaulis aangeplant word, kan die aanplantingsmateriaal wat met Cochenille besmet is, die volgende behandelings ontvang:

(i) Spuit 1½ pint 50 persent malathion emulsifiseerde vloeistof. met 100 gelling water verdun, daarop. Die eerste bespuiting behoort gedurende Oktober gedoen te word wanneer die larwes begin beweeg. As die plaag baie erg is, kan 'n tweede bespuiting aangewend word.

(ii) Een gelling 25 persent DDT-emulsie plus 24 gelling water kan gebruik word.

 

Twee bespuitings gedurende Oktober en November behoort voldoende te wees.

Die spuitstowwe moet minstens onder 'n druk van 80 lb. aangewend word, want die wasagtige laag om die insekte verhoed die behoorlike indringing van gifstowwe.

 

 

Cactoblastis

Aangesien Cactoblastis-larwes binne-in die turksvyblaaie aangetref word, kan hulle nie deur chemiese middels gedood word nie.

Suksesvolle bestryding berus dus op meganiese metodes. Dit behels die gereelde inspeksie van die plantasie met die doel om aangetasde blaaie te verwyder en te vernietig, eierpakkies te vernietig en larwes wat in klompies vreet te vernietig.

Die eierpakkies is maklik herkenbaar omdat die wyfiemot haar eiers opmekaar in die vorm van regopstaande stafies op die blaaie lê. Die eierpakkies neem die vorm van stekels aan.

As die plantasie gereeld vir voerdoeleindes geoes word sodat beskutting van die larwes beperk word, sal dit ook daartoe bydra om die plaag te beheer. Digte plantasies bied beter vooruitsigte vir swaar besmettings. Sorg in elk geval dat materiaal vir aanplanting vry van Cochenille of Cactoblastis is.

 

 

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 37 (5)