Last update: April 11, 2012 03:33:06 PM E-mail Print

 

Voer van Turksvye aan Skape in tye van Droogte

Maré GS 

 

DIE skaapboere in die droër gedeeltes van ons land begin meer en meer besef dat hulle, ten einde deur tye van ernstige droogte te kom, voorsiening moet maak vir addisionele veevoer, behalwe die wat deur die natuur verskaf word.

Natuurlik is die aandag gegee aan plante wat baie bestand is teen droogte, soos turksvye en Australiese Oumansoutbos, wat altwee, maar veral die doringlose turksvye, op groot skaal in verskillende dele van die land aangeplant is.

 

Doel met die Proewe

'n Paar van die onmiddellike oogmerke met hierdie proewe, en waaroor verslag gedoen is, was

(a) om die waarde aan te toon van die wilde turksvye as 'n noodhulp skaapvoer in tye van droogte;

(b) om die beste en mees ekonomiese metode van bereiding en voer van die turksvye te bepaal;

(c) Om te bepaal hoeveel ekstra voer nodig is by die turksvye (i) vir droë skape, en (ii) vir ooie wat lammers het; en

(d) om te bepaal hoe vinnig jong skape op 'n turksvye-rantsoen groei.

Die skape wat in hierdie proef gebruik is, was van twee-tand tot oud, en het bestaan uit Merino’s, ooie en hamels, en Swartkop Persie ooie.

 

Uitstaande Kenmerke van die Proewe

In Maart 1927 is 71 Merino-hamels, 431 Merino-ooie en 403 Persie ooie van Grootfontein af oorgebring na Graaff-Reinet. Later is nog 16 Merino-hamels oorgestuur.

Die skape is dadelik in verskeie proefgroepe opgedeel en op 'n rantsoen geplaas bestaande uit turksvye en lusernhooi.

Ongelukkig was die ooie dragtig toe hulle oorgebring is en het begin lam, kort na hul aankoms op Graaff-Reinet. Die resultate was noodlottig: slegs 'n klein persentasie van die lammers het speenoud geword, en is toe na Grootfontein gestuur. Op 'n rantsoen van 12 ons fyngesnyde lusernhooi per skaap per dag, saam met die turksvye wat op vier verskillende maniere berei is, het die ooie, nadat hul lammers gespeen is, besonder gou herstel soos blyk uit die syfers in Tabel 1:-

 

 

Aantal ooie gepaar, Nov-Des 1927

Aantal ooie wat gelam het, April-Mei 1928

Persentasie lammers aangekom

Merino’s

Persies

386

378

287

341

74.4

90.0

 

Dis welbekend dat ooie nie bronstig word as hulle swak in kondisie is of as die toestande ongunstig is nie. Aangesien 74.4 persent van die Merino- en 90 persent van die Persie ooie die ram geneem het, is dit duidelik dat die kuddes oor die algemeen in uitstekende gesondheid was en nie gebrek gely het nie. Figure 1 en 2 is illustrasies van die skape op hierdie stadium.

In Oktober 1928, nadat die proef vir 18 maande aan die gang was, was die posisie van die ooie en lammers as volg :-

 

TABEL II.

62 Merino-ooie dood, d.i., 9.6 % per jaar.

49 Persie-ooie dood, d.i., 8,0 % per jaar.

197 Merino-lammers gespeen, d,i., 51.0 %:

266 Persie-lammers gespeen, d.i., 71.3 %.

 

Die Merino-ooie het elk bietjie meer as 7 lb. twaalf-maande-wol gelewer.

'n Teleurstellend faktor in bostaande Tabel is die hoë sterftesyfer van die lammers vandat hulle aangekom het totdat hulle gespeen is (sien Tabel 1).

Op hierdie stadium van die proef is die volgende feite vasgestel: (1) dat die beste resultate met doringturksvye verkry word as dit fyngemaak is en aan die skape gevoer word terwyl dit nog vars is; en (2) dat droë Merinoskape goed kan bestaan op 'n turksvye-rantsoen aangevul met 12 onse lusernhooi per skaap.

 

Ander Probleme

Daar het toe drie ander vraagstukke ontstaan, d.i. of die byvoer vir droë skape verminder kan word of lammers normaal sal groei op 'n turksvyerantsoen en tot watter mate moet die ooi se rantsoen vermeerder word gedurende die melkvloeiperiode sodat sy genoeg melk sal he?

Derhalwe is besluit om die werk vir nog 12 maande voort te sit, maar op baie kleiner skaal.

Van die Merino-ooie is 208 op Graaff-Reinet gehou; die res is saam met die Persieooie: teruggestuur na Grootfontein: Die lammers is ook na Grootfontein gestuur, behalwe 'n verteenwoordigende 50 van elke ras.

In verband met die lammers, sal die volgende algemene opmerkings volstaan. Dis opgemerk dat hoewel lammers van ooie, wat op turksvy gevoer is, sterk en gesond was toe hulle aangekom het, en so gebly het vir twee of drie weke, hulle daarna stadig in kondisie afgeneem het. Die 100 lammers waarna hierbo verwys word, het vir 7 maande nadat hulle gespeen is voldoende voer saam met die turksvye gekry; hulle is in Mei 1929, op 'n ouderdom van 12½ maande, oorgebring na Grootfontein (slegs een het gedurende die 7 maande gevrek toe bevind is dat die lammers wat 7 maande vantevore op Grootfontein aangekom het en sinds die tyd op goeie weiveld geloop het, 50 persent swaarder was as die wat op Graaff-Reinet gevoer was.

 

Dis ook definitief vasgestel dat al die lammers wat op goeie weiveld oorgebring is in 'n besonder kort tyd herstel het, maar alle pogings om 'n normale groei met 'n turksvyerantsoen te verkry was vrugteloos.

Van Oktober 1928 tot Oktober 1929 het die 208 Merino-ooie vars fyngemaakte turksvyeblaaie gekry.saam met afwisselende hoeveelhede lusernhooi, mielies, en grondboontjiemeel volgens die groep waarin hulle geplaas was. Daar was 4 groepe van 52 elk.

Dit het geblyk dat die byvoer in sommige gevalle te min was, met die gevolg dat meeste ooie met paartyd, November/Desember in baie swakker kondisie was as wat hulle met die vorige paarseisoen was. Die beste resultate is verkry van die groep wat 10 ons lusernhooi per skaap per dag as 'n byvoer ontvang het.

In onderstaande Tabel word aangegee hoeveel lammers gedurende die seisoen onder bespreking, aangekom het:-

 

TABEL III.

Ooie gepaar

Aantal lammers aangekom

Persentasie aangekom

Aantal lammers grootgemaak

Persentasie grootgemaak

207

124

60.0

101

48.8

 

Net voor en gedurende die melkvloei het die ooie heelwat meer byvoer ontvang. Sodra die lammers begin vreet het, is daar 'n afsonderlike voorraad lusernhooi vir hulle in die kampe verskaf.

Hierdie proef was slegs gedeeltelik 'n sukses. Die ooie het hul lewende gewig gedurende die melkvloeiperiode behou en in sommige groepe was 'n duidelike vermeerdering van gewig opgemerk, Met skeertyd het hulle gemiddeld 6 lb. wol elk gelewer. Die lammers het egter weer nie normaal gegroei nie; hul gemiddelde lewende gewig op 'n ouderdom van 5 maande was 33.7 lb. Vir vergelykingsdoeleindes word die volgende lewende gewigte van vyfmaandoud-Merinolammers, wat op Grootfonteinse veld groot geword het, hier gegee. In 1925, 'n uitstekende seisoen, het die lammers 45.0 lb. geweeg; in 1926, 'n swak seisoen, het die lammers 32.5 lb. geweeg.

Die Merinohamels is in klein groepe verdeel en het rantsoene ontvang ooreenkomstig die van die groter groepe ooie. Die verliese in die geval van die hamels was 10.3 persent vir die 2½ jaar.

Onderstaande Tabel is 'n opsomming van die verliese en vermeerderings van skape op Graaff-Reinet gedurende die 21 jaar:-

 

Merino-ooie

Merino

hamels

Persie

ooie

Merino

lammers

Persie lammers

Oorgestuur na Graaff-Reinet

Teruggestuur van Graaff-Reinet

Aantal dood

Persentasie verlies

431

346

85

19.5

87

78

9

10.3

403

354

49

12.2

-

294

117

28.5

-

265

76

22.3

In hierdie Tabel word die eerste lamtyd in Maart/April 1927 nie in aanmerking geneem nie.

 

Op die gemiddelde karooplaas sal die resultate wat in Tabelle I, II en III hierbo aangegee word, onder normale toestande as slegs 'n middelmatige sukses beskou word. Die sterftesyfer vir ooie is hoog vir normale toestande, en die wolopbrengs is taamlik laag, terwyl die persentasie lammers wat grootgemaak is teleurstellend is. Onder abnormale toestande egter, wanneer daar 'n ernstige droogte heers, moet hierdie onderneming egter as 'n volslae sukses beskou word, veral van 'n menslikheidstandpunt, want dis algemeen bekend dat boere in droogtegeteisterde streke in Suid-Afrika dikwels al genoodsaak was om die lammers keelaf te sny sodra hulle aankom, ten einde die ooie 'n beter kans te gee om die moeilike tye te deurleef. Statistieke vir die jaar 1 Augustus 1927 tot 31 Julie 1928 toon ook verliese aan van 50 tot 60 persent in verskeie distrikte van die Kaapprovinsie as gevolg van droogte en blootstelling.

As die feite, soos hierbo uiteengesit, in aanmerking geneem word, en dat hierdie proef uitgevoer is onder baie strawwe droogtetoestande, dan is die direkte verliese, wat, laer is as 15 persent vir 'n periode van 2½ jaar, nie te groot nie.

Geen boer sal sy vee aan bogenoemde behandeling onderwerp as daar weiding beskikbaar is nie, nog minder sal 'n boer aan so 'n boerderystelsel dink as 'n winsgewende onderneming, want die koste daaraan verbonde is reeds al te hoog.

Met die proef is egter bewys dat die boer, ingeval van nood, met sukses sy vee op turksvye kan voer, en dis duidelik dat in die praktyk uitstekende gebruik gemaak kan word van turksvye as 'n noodshulp-veevoer, mits dit oordeelkundig gevoer word. As dit in genoegsame hoeveelhede gevoer word, kan die probleem van water wat tydens droogte dikwels baie ernstig word, ook opgelos word.

 

Published

Boerdery in Suid-frika 6