Last update: April 11, 2012 09:56:11 AM E-mail Print

 

Die Uier en Melkvorming

H. P. D. van Wyk

 

By die beoordeling van melkbeeste word daar vandag baie aandag gegee aan wat bekend is as die "melksisteem" van 'n koei, d.w.s. die grootte, vorm en kwaliteit van die uier, die grootte van die spene en die melkare. Die belangrikheid van die melksisteem by melkbeesrasse is natuurlik vanselfsprekend. By die Jersey, byvoorbeeld, tel die aantal punte, wat op die punteskaal aan die melksisteem toegeken word, byna net soveel as die res van die punte toegeken aan al die ander dele van die liggaam.

Ten einde die waarde van die melksisteme van verskillende indiwidue te kan bepaal, is dit wenslik om die verskillende dele wat die sisteem uitmaak en die funksie van elke deel met betrekking tot die vorming van melk, noukeurig te bestudeer.

 

Die ideale Melksisteem

Die volgende is 'n beskrywing van 'n melksisteem wat uiterlik aan al die wenslike vereistes voldoen: 'n groot, ruim, rekbare uier wat vas aan die lyf gespan is, met 'n breë basis wat eweredig breed en diep na onder loop en effens afgerond is by die speen-oppervlakte, en wat ver na voor en na agter strek en hoog op tussen die agterbene aan die lyf geheg is; eweredige groot uierkwarte met geen merkbare skeiding tussen hulle nie; ewe groot spene eweredig ver vanmekaar geplaas en 2½ tot 3 duim lank; groot en dik melkare met vertakkinge en groot melkputte waardeur die are loop, wat die bloed na die hart terugvoer.

Die kwaliteit van die uier moet goed wees, d.w.s. die vel moet los, dun, soepel en met syagtige, fyn hare bedek wees. Die weefsel moet ook sponsagtig, sag en plooibaar wees, en as die uier uitgemelk is, moet dit baie sag en plooibaar wees. Onwenslike uiers is, byvoorbeeld, hang-uiers. uiers met oneweredige kwarte en klein spene, onontwikkelde uiers, ens.

Uiers met weefsel van swak kwaliteit toon geen aanmerklike verskil in grootte voor en na melktyd nie, en voel styf en grof nadat dit uitgemelk is. Hierdie voorkoms moet egter nie met versweerde en ontsteekte uiers verwar word nie.

 

Inwendige Struktuur van die Uier

Die uier bestaan uit twee rye kliere wat aan weerskante van die middellyn verdeel is. Gewoonlik is daar aan elke kant net twee aktiewe kliere wat die oorsprong is van die vier kwarte.

Die linkerdeel van die uier word van die regterdeel geskei deur 'n band wat dien om die uier aan die lyf vas te hou. Tussen die voor- en die agterkwarte van die aparte dele is daar nie so 'n merkbare skeiding nie, tog kan die melk van die een kwart nie na die ander kwart vloei nie. Die skeiding in hierdie geval word bewerkstellig deur 'n oneweredige straal van verdikte bindweefsel.

Elke klier wat 'n kwart vorm, bestaan uit 'n menigte saamgepakte groepe van selle of alveole in trosvormige formasie. Die selle wat die alveole uitmaak, is so gegroepeer dat hulle sakkies vorm met kanale wat weer in ander kanale loop sodat die vloeistof deur hierdie kanale in die holtes bokant die spene en vandaar deur die kanale in die spene na buite gevoer word. Die uier is dus saamgestel uit 'n menigte vertakte kanale wat die melk uit die afsonderlike alveole tot in 'n sentrale plek voer.

Die melk word gevorm deur die selle aan die afsonderlike alveoolwande, en hoe groter die aantalle selle, hoe meer melk kan gevorm word. Hierdie selle is baie rekbaar en swel uit ooreenkomstig die hoeveelheid melk wat gevorm word, met die gevolg dat as so 'n uier uitgemelk is, dit sag, elasties en sponsagtig voel, vanweë die menigte openings en kanale waaruit dit bestaan. Die hele uier is dus 'n sponsagtige massa wat bestaan uit melkkanale, kliere, spiere, bloedvate, senings, bindweefsel, vet, ens. Die grootte van die uier is egter nie noodwendig 'n aanduiding van die produksievermoë van 'n koei nie, aangesien nuttelose en verdikte weefsel dikwels 'n groot deel van die uier kan uitmaak. Sulke uiers kan maklik vasgestel word deur dit te hanteer. .Alhoewel dit nie moontlik is om deur 'n ondersoek van die melksisteem van 'n koei presies vas te stel wat haar produksievermoë is nie, kan die grootte, vorm en kwaliteit van die uier nogtans dien as 'n maatstaf by die vergelyking van die belangrikheid van verskillende uiers.

 

 

Vorming van Melk

Daar is twee groot slagare wat bokant die twee agterkwarte in die uier inkom, en vandaar na elkeen van die verskillende groepe van selle (alveole) vertak. Die grootste hoeveelheid van die bloed wat met hierdie are in die uier gevoer word, vloei weer na die hart terug in twee groot are wat voor die uier aan weerskante van die middellyf uitkom, en partykeer vertak voordat dit deur die melkputte in die wand van die onderlyn terug na die hart lei. Die dikte en lengte van die melkare en die grootte van die melkputte is in 'n mate 'n aanduiding van die hoeveelheid bloed wat deur die uier vloei, en dus terselfdertyd ook van die moontlike aktiwiteit van die uier. Die bloed is natuurlik die draer van al die grondstowwe nodig vir die vorming van melk, gevolglik is die hoeveelheid bloed wat deur die uier vloei 'n groot faktor wat betref die produksievermoë van 'n koei.

Rondom die melksakkies (alveole) lê die fyn, vertakte bloedvate wat die boustene van die melk lewer.

As ons die grondstowwe in die bloed vergelyk met die wat ons in melk aantref, vind ons dat hulle in hul samestelling grootliks verskil. Gevolglik is die proses van melkvorming nie bloot 'n afskeiding van sekere grondstowwe uit die bloed nie, maar 'n verbinding deur die uierweefsel van die nodige bestanddele wat nie as sulks in die bloed aanwesig is nie. So, byvoorbeeld, is melk ryk aan sulke bestanddele soos melksuiker en kaasstof wat nie as sulks in die bloed voorkom nie. Hieruit moet ons aflei dat die alveole, die sakkies waarin die melk gevorm word, hoog gespesialiseerde organe is vir die vervaardiging van melk, en nie net afskeidingsorgane is nie.

Die nodige grondstowwe word deur die bloed uit die verteringsproses van die dier opgeneem. Die afskeidings van die kliere in die maag en derms maak die verskillende voedingstowwe in die voer oplosbaar en breek dit op in eenvoudige vorms wat dan, deur die bloed in die liggaam omgedra en versprei word om verskillende funksies te verrig, waaronder die vorming van melk.

As gevolg van die nou verband tussen die kwaliteit van voer en die hoeveelheid wat gevoer word en melkproduksie, moet die melkbeesboer ook op hoogte wees met die voervereistes van sy koeie in verhouding tot hul produksievermoë.

 

Wanneer en Hoe Melk gevorm Word

Dikwels word die vraag gestel of die melk gevorm word terwyl die koei gemelk word, of gedurende die periodes tussen haar melktye en dan in die uier opgegaar word totdat dit uitgemelk word? Sommige meen dat melkvorming hoofsaaklik plaasvind terwyl die koei gemelk word, aangesien dit moeilik aangeneem kan word dat die koei al die melk, wat uitgemelk word, in haar uier kan opgaar. Dis egter bewys dat al die uitgemelkte melk, en selfs nog meer, sonder enige moeite weer in die uier ingelaat kan word, en ook is by nadoodse ondersoek gevind dat die hoeveelheid melk wat in die uier opgegaar is, nie veel in hoeveelheid verskil van die melk wat normaal en met dieselfde tussenpose uitgemelk is nie. Die jongste opvatting is beslis dat melk voortdurend gevorm en in die kanale opgegaar word gedurende die periodes tussen die melktye.

Wanneer die melk in die uier opgaar, word die holtes en die kanale gevul, sodat die drukking geleidelik hoër word, met die gevolg dat die melk wat in die sakkies gevorm word, nie so vry vloei as wanneer die uier leeg is nie. Die vrysetting van melk in die sakkies geskied gewoonlik deur opbreking van die onderste gedeeltes van die selle. Wanneer die drukking hoog word, kan die melk alleen deur die wande van die selle vloei en, aangesien die vetgedeelte van die melk nie deur die wande kan dring nie, word dit alleen vrygeset wanneer die drukking; verminder en die selletjies weer opbreek; gevolglik kry ons die algemene verskynsel dat die laaste melk gewoonlik ryker aan vet is as die eerste melk.

Hoe word die melk uit die sakkies en kanale vrygeset? Elke kanaal waarin die melk gestort word, is omring met spiere wat onder kontrole van die koei is. Deur hierdie spiere saam te trek, word die melk uit die sakkies en boonste kanale uitgedruk na onder. Hierdie sametrekking van spiere ontstaan alleen deur prikkeling wat op verskillende maniere en ook deur sekere stalgewoontes teweeggebring word.

 

Prikkelende Invloede

Prikkeling word verkry wanneer die melk uit die holtes bokant die spene verwyder word deur die uier te vrywe wanneer die koei die geraas van melkemmers hoor en deur die gewoonte om by melktyd voer te kry.

Die koei reageer dus op verskillende prikkelende invloede en, as daar enige skielike verandering in gewoonte plaasvind, of as daar vreemde gerase gemaak word of enige iets gebeur wat die koei in enige mate ontstel, sal sy nie reageer nie, m.a.w. nie sak nie.

Dis dus belangrik dat om die maksimum produksie van die koei te verkry, sy streng by haar stalgewoonte gehou moet word en geen skielike veranderings moet ondergaan, waardeur sy ontsteld sal word nie.

Sy moet by voorkeur altyd deur dieselfde melker gemelk word, aangesien sy gewoond raak aan sy manier van melk en hantering.

Wanneer die koei sak, duur die sametrekking van die spiere net, vir 'n korte tydjie wat in tydlengte afwissel by verskillende indiwidue, en, as al die melk nie gedurende daardie tyd uitgemelk word nie, verslap die spiere met die gevolg dat die melk wat nog in die boonste kanale is, nie verwyder kan word nie, en ons kry dan die geval waar die koei haar melk "wegsteek" of optrek " Die melker moet dus altyd so vinnig as moontlik melk, sodat die melk uitgemelk word voordat die koei haar spiere verslap.

Die natuurlike drang by die koei om vir die kalf te sorg veroorsaak die verskynsel van "melk wegsteek " wat mens dikwels aantref by koeie wat kalwers het. Hierdie verskynsel word nie aangetref by koeie waarvan die kalwers hang grootgemaak word nie, behalwe om redes soos reeds genoem.

 

Periodes tussen Melktye

Die periodes tussen die melktye is belangrik insoverre dit die opgaring van melk en die hoër drukking in die uier betref, as gevolg waarvan die aktiwiteit van die melkvormende selle verminder. Dit is bewys dat as ‘n koei driekeer per dag gemelk word, tot 20 persent meer melk van haar verkry word as wanneer sy tweekeer per dag gemelk word. Die aantal kere om per dag te melk, sal afhang van die produksievermoë van die koei, asook van die ekstra arbeidskoste verbonde aan die verkryging van die groter hoeveelheid melk.

 

Opdroog van Koeie

Dit gebeur dikwels dat, wanneer 'n koei haar melkvloeitydperk voltooi het sy nog baie melk gee en, ten einde haar 'n behoorlike rus te gee voor sy weer 'n nuwe periode begin moet sy gedwing word om op te droog. Wat gewoonlik gedoen word, is om haar op te hou melk, en as die uier te styf word, haar weer 'n bietjie uit te melk. Op hierdie manier bly die drukking altyd hoog in die uier, en die melkvormende selle verloor mettertyd hul aktiwiteit.

Dis dus duidelik dat, wanneer 'n koei vol in melk is, dit noodsaaklik is om haar elke slag skoon uit te melk, sodat die melkselle altyd aktief gehou kan word. Die melk wat in die kanale agterbly, wanneer die koeie nie uitgemelk word nie, sal andersins dieselfde uitwerking op die selle hê as hierbo genoem, alhoewel in ‘n minder mate. 'n Koei wat nie goed uitgemelk word nie, sal minder melk produseer as waartoe sy in staat is, en heel waarskynlik opdroog voor haar melkvloeitydperk verstryk is.

 

Belangrikheid van die Melksisteem

Die hoeveelheid melk wat 'n koei gedurende haar leeftyd produseer, is per slot van sake die basis waarop haar waarde as 'n melkkoei bepaal word en, aangesien die melksisteem die deel van die koei is wat belas is met hierdie groot taak, is dit noodsaaklik dat die teler en die beoordelaar van melkbeeste 'n noukeurige studie moet maak van hierdie dele van die koei se liggaam en hul verwantskap met haar moontlike produksie, sodat 'n juiste vertolking van die waarde daarvan by seleksie en beoordeling gegee kan word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 12