Last update: April 11, 2012 11:48:27 AM E-mail Print

 

Invloed van Vageienskappe op Merinowolproduksie

V. Bosman

 

By die beoordeling van die Merinovag, word die waarde van elke vageienskap geskat en ook die van die vag as 'n geheel. Die beoordelingsmetodes wat die praktiese skaapboer gebruik, stel hom in staat om betreklike vergelykings tussen die eienskappe te tref, wat egter maar op 'n beperkte gebied toegepas kan word, omdat suiwer kwantitatiewe waardes nie aan die vageienskappe toegeken kan word nie. Metodes om die vageienskappe te meet is in die ondersoeklaboratorium ontwerp, terwyl die Merino-rekenliniaal ook gebruik kan word; bowendien is 'n skema ook daargestel waardeur die betreklike belangrikheid van die vageienskappe presies vergelyk kan word in verband met wolproduksie.

 

Die Merino-rekenliniaal

Die Merino-rekenliniaal waarvan die gebruiksteorie in 'n vorige artikel beskryf is(1), word in Figuur 1 aangetoon.

 

 

Daarvolgens word die vaggewigte op 'n basis van skoongewig bereken as die waarde volgens veselfynheid, stapellengte en die aantal vesels wat op 'n vierkant duim vel groei, bekend is. Veronderstel word dat die veloppervlakte twaalf vierkante voet is of so groot soos die van 'n goed-uitgegroeide stoetram. Natuurlik moet veranderings gemaak word as die veloppervlakte baie ver afwyk van die oppervlakte wat op die rekenliniaal aangegee word. 'n Eenvoudige formule om die veloppervlakte van 'n Merinoskaap te bereken is ontwerp deur Australiese werkers(3). Hierdie formule neem die gewig van die dier in aanmerking nadat dit 'n tyd lank uitgehonger is. Daar bestaan 'n afsonderlike formule vir elke tipe skaap, byvoorbeeld, die formule vir 'n lam is anders as die vir 'n ooi of 'n ram. Bowendien moet ook onthou word dat die veloppervlakte van 'n baie vet skaap op die basis van sy gewig volgens hierdie metode oorskat sal word, terwyl die van 'n maer heuperige of ou dier onderskat sal word.

By die Merino-rekenliniaal is die waardes vir kwaliteitsnommer of veseldikte vasgestel. Die verskuifbare liniaal wat langer is as die vaste gedeelte, kan vorentoe en agtertoe gestoot word en het waardes vir die verskillende stapellengtes, elk met die kwaliteitsnommers. Die aantal vesels per vierkant duim varieer van 10,000 tot 70,000 en die skoon vaggewigte, in ponde, word aan die regterkant van hierdie syfers aangegee.

Om 'n lesing te kry word die verskuifbare meetstok aangestoot sodat die waardes vir stapellengte en kwaliteitsnommer, wat vir enige besondere skaap bepaal word, ooreenstem, wanneer die pyl op die meetstok dan die vaggewig aandui. Byvoorbeeld, 'n ram het 'n kwaliteitsnommer van 64, 'n stapellengte van drie duim en 40,000 vesels per vierkant duim en ons moet uitvind hoeveel sy vag sal weeg. Die afdeling waarop die drie duim stapellengte op die verskuifbare stok aangetoon word, word aangestoot sodat die kwaliteitsnommer van 64 daarop ooreenstem met die 64 op die vasgestelde skaal, soos aangetoon word in die skets. Die pyl naasaan " duime" wys na die vaggewig, wat teen ;40,000 vesels per vierkant duim, 7 lb. skoongewig aantoon. As hierdie skaap 10,000 vesels per vierkant duim produseer, sal hy 1.75 lb. skoonwol lewer. Op hierdie manier kan enige kombinasie van eienskappe bepaal word op die basis van die skoon vaggewig. Terloops is hierdie metode 'n indirekte manier om die persentasie-opbrings van 'n Merinovag te bepaal, want as die vag afgeskeer en met vet en al geweeg word is die opbrings daarvan eenvoudig die verskil op 'n persentasie-basis tussen die gewig van die ongewaste en gewaste wol, soos aangetoon word deur die rekenliniaal.

Dis van fundamentele belang om te weet watter invloed elke vageienskap op die hele vag uitoefen, en watter van die eienskappe die vag die meeste sal beïnvloed, In 'n vorige uitgawe(2) is voorbeelde gegee van die wolproduksie van beide kudde- en stoetskape in verband met vageienskappe.

Daar het al gevalle voorgekom waar beoordelaars van skape nie kon ooreenstem in verband met die betreklike verdienstelikhede van skape nie, hoofsaaklik omdat sommige beoordelaars meer belangrikheid aan sekere as aan ander vageienskappe heg. 'n Werklike geval het op een van ons vernaamste tentoonstellings voorgekom waar skaapboere verskil het in verband met die betreklike verdienstelikhede van twee skape. Die een dier het 'n digter vag maar 'n korter stapellengte as die ander gehad. Sommige van die beoordelaars was die mening toegedaan dat die skaap met die korter digter wol die prys moes kry, terwyl ander weer gemeen het dat die een met die langer wol moes wen. Ongelukkig was die vagontledings van die twee diere nie beskikbaar om te bepaal watter een van die twee die grootste vag gelewer het nie, maar 'n gelyksoortige geval kan van twee stoetramme aangehaal word. Die een (Ram A) produseer 'n stapellengte van drie-en-'n half duim, 'n 66-kwaliteit wol en vyftig duisend vesels per vierkant duim, en die vag word as baie dig beskou. Die ander (Ram B) produseer 'n stapellengte van vier duim, 'n 64-kwaliteit wol en vyf-en-dertig duisend vesels per vierkant duim, en beskou word dat die vag nie so dig is soos die van A nie. Albei skape is uitstekende stoetdiere, en as hulle voor skaapboere gebring word, is daar altyd 'n argument oor watter dier die meeste wol sal lewer. As die hoeveelheid vag van hierdie twee diere met die Merino-rekenliniaal bepaal word, toon dit aan dat eersgenoemde (Ram A) 9- 2 pond skoon droë wol of 23 pond vetwol ('n opbrings van 40 persent), lewer, en dat (Ram B) 8-3 pond skoon droë wol of 20.75 pond vetwol ('n opbrings van 40 persent) lewer. In hierdie geval het die digter vag met die korter stapellengte amper 'n pond meer skoonwol geproduseer, of twee-en-driekwart pond meer vetwol as die vag van die ram wat ‘n langer stapellengte het en nie so dig IS me.

Aangesien elke vageienskap die wolproduksie beïnvloed, is die volgende punte 'n nuttige leidraad vir die skaapboer.

 

Kudde-skape

In die geval van 'n kudde-skaap wat wol van 70-kwaliteit en 20,000 vesels per vierkant duim produseer, vermeerder elke halfduim stapellengte die gewig van die vag (opbrings van 40 persent) met .47 lb. skoongewaste of 1.18 lb. vetwol. So 'n skaap met 'n stapellengte van drie duim produseer 2.82 lb. skoonwol of 7 lb. vetwol (opbrings van 40 persent). 'n Byvoeging van 'n halfduim-stapellengte tot 'n soortgelyke skaap is gelykstaande aan die byvoeging van 3,300 vesels per vierkant duim tot die vel van die skaap. Aangesien 'n stapellengte van drie duim vir twaalf maande se groei blykbaar die perk is vir die kudde-gemiddelde, volg dit dat 'n toename in wolproduksie hoofsaaklik sal afhang van die aantal klierbuise wat op elke vierkant duim vel groei. As sewe pond vetwolgewig tot tien pond vetwolgewig vermeerder moet word, is 'n toename van 8,400 klierbuise per vierkant duim nodig, en die skaap sal dan 28,400 in plaas van 20,000 vesels per vierkant duim dra.

 

Stoetskape

In die geval van 'n skaap wat baie wol lewer, of 'n stoet-Merinoskaap, is die verhoudings effens anders. Op 'n dier wat 40,000 vesels per vierkant duim en 'n vag van 66-kwaliteit produseer, voeg elke toename van 'n halfduim 1.05 pond skoongewaste of 2.6 pond vetwol (opbrings van 40 persent) by die vag. So 'n skaap met 'n stapellengte van vier duim produseer 8.4 pond skoongewaste of 21 pond vetwol (opbrings van 40 persent). As die stapellengte van 'n soortgelyke stoetskaap 'n halfduim groter is staan dit gelyk aan 'n vermeerdering van 5,000 vesels per vierkant duim op die vel. Aangesien 'n stapellengte van vier duim by stoetskape as die maksimum lengte vir twaalf maande se groei beskou word, sal enige toename in die wolproduksie van so 'n ram hoofsaaklik afhang van 'n toename in die aantal klierbuise per vierkant duim.

In die geval van 'n stoetskaap wat wol van 64-kwaliteit en vyftig duisend vesels per vierkant duim produseer, beteken elke halfduim wat die stapellengte langer word 'n vermeerdering in gewig van 1.48 in die geval van skoongewaste vag of 3.7 pond in die geval van ongewaste vag (opbrings van 40 persent). So 'n skaap met 'n stapellengte van drie duim produseer 8.85 pond skoongewaste of 22.1 pond vetwol (opbrings van 40 persent). Hierdie toename beteken dieselfde as 'n toename van 8,400 vesels per vierkant duim op die vel van die dier as dit 'n stapellengte van drie duim het. As so 'n skaap 26 lb. vetwol moet produseer (opbrings van 40 persent) sal dit 60,000 vesels per vierkant duim op sy vel moet dra.

Daar kan baie ander vergelykings van die woleienskappe gemaak word, en aangesien ekonomiese vag-produksie afhanklik is van die hoeveelheid sowel as die kwaliteit van die indiwiduele vagte, is hierdie vergelykings van waarde vir die teler van Merinoskape. Dit moet onthou word dat stoetskape hoofsaaklik van kuddeskape verskil in die aantal vesels wat daar op elke oppervlakte-eenheid vel groei, en dat daar vir elke vesel van Merinoskape met 'n lae produksie twee tot drie op Merino's met 'n hoë produksie groei.

Die gebruik van die Merino-rekenliniaal in die praktyk is op die oomblik nog beperk, omdat die vageienskappe van veselfynheid en aantal vesels op 'n vierkant duim vel, deur laboratoriummetodes bepaal moet word. Sulke metodes is egter gebruik om die vageienskappe van waardevolle stoetdiere te bepaal waar suiwere besonderhede van groot waarde vir die teler is.

 

LEKTUUR

  1.  Bosman V. (1933). "Wool Production and the Merino Slide Rule." S.A. Journal of Science.

  2.  Bosman, V. (1934). "Noukeurigheid by die Beoordeling en Klassering van die Merinovag." Boerdery in Suid-Afrika, Mei.

  3.  Lines F. W., en Pierce, A. W. (1931). “The Basal (Standard) Metabolism of the Australian Sheep." Pamflet No. 55 van die Council for Scientific and lndustrial Research, Melbourne.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 10