Last update: April 11, 2012 11:05:11 AM E-mail Print

 

Veldbeheer in die Karoo

P. J. S. Coetzee

 

DIS slegs gedurende die afgelope paar jaar dat die veldbeheervraagstuk in die Karoo wel deeglik besef word. Vir die boer is dit van groot belang om te weet hoe om sy veld te laat bewei en watter uitwerking verskillende weidingstelsels sal hê op die nuttige plantegroei, sowel as op die diere.

Ons kennis van behoorlike weiveldbeheer is nog gebrekkig, en heelwat navorsingswerk in hierdie rigting is nodig vir die oplossing van hierdie vraagstuk.

Waardevolle werk is reeds. gedoen by die Veldreserweproefstasie, Fauresmith, terwyl by die Grootfonteinse Landbouskool ook 'n begin gemaak is met veldbeheerproewe. Hierdie proewe beoog doeltreffende beweidingstelsels in die Karoo.

By die Grootfonteinse Landbouskool word nou 7 morge grond met verskillende soorte nuttige Karoobossies. beplant. Die aanplanting van hierdie bossies, wat van saad gekweek word, het reeds goed gevorder en die aangeplante veld sal gedurende die volgende jaar bewei word.

Dit sal dan moontlik wees om gegewens van fundamentele belang aangaande die draagkrag, smaaklikheid en voedsaamheid van die bossies te verkry, maar dit sal egter nog 'n paar jaar duur voordat hierdie gegewens beskikbaar sal wees, aangesien daar ook nog ander verwante probleme is waaraan aandag gegee moet word.

 

Herstelling van Plantbedekking

Die herstelling van die plantbedekking op ontblote dele het tot dusver nog min aandag geniet in die Karoo. Dit is 'n belangrike aspek van die veldbeheervraagstuk. Onder gewone toestande sal dit 'n aantal jare duur voordat sulke plekke weer met plantegroei bedek sal wees. Die ontbloting van die grond het abnormale toestande teweeggebring en in die gewone loop van sake duur dit baie jare voordat die ontblote grond weer met nuttige plantegroei bedek is.

Dit is egter moontlik om die plantbedekking gouer te herstel deur die saad van sekere soorte Karoobossies, wat maklik ontkiem, met die hand op sulke plekke te saai.

Klappiesbrak (Tetragonia arbuscula) is in sekere dele van die Karoo 'n geskikte plant vir hierdie doel. Dit skiet baie saad wat maklik uitslaan en op die grond bymekaar gemaak en opgetel kan word. Die saad moet egter vir minstens twaalf maande gebêre word alvorens dit gesaai word. Alleen ou saad ontkiem goed en dit ontkiem gewoonlik binne 8 tot 14 dae.

Die waarde van die bossie vir weiding lê daarin dat dit goed deur diere gevreet word en 'n hoë proteïengehalte het.

'n Ander plant geskik vir dieselfde doel is die Rivierdraaibos (Trypteris pachypteris). Soos die naam aandui, word die bossie gewoonlik langs slote aangetref. Dit is ook 'n goeie saadskieter en diere vreet dit graag.

'n Praktiese manier om die saad te oes, is om 'n gewone badskottel te neem en dit dan onder die bos te plaas, terwyl die takke oorgebuig en geskud word. 'n Groot hoeveelheid saad kan in 'n betreklike kort tyd op hierdie manier geoes word. In teenstelling met klappiesbrak ontkiem vars saad goed, maar dit gebeur soms dat al die sade nie bevrug is nie en dan is die persentasie ontkieming heelwat laer. Sorg egter dat die saad geoes word sodra dit ryp word, anders slaan dit uit.

Daar is nog baie ander bossies wat vir dieselfde doel gekweek word. So is daar bv. die ankerKaroo (Pentzia incana), waarvan die sagte lote oorbuig en weer in die grond anker en sodoende die grond bind. Hierdie bos kom baie voor in die Karoo en is een van ons beste skaapbossies. Eragrostis bergiana; (Kwaggakweek genoem in die distrik Middelburg, K.P.) is 'n gras wat bestand is teen droogte en dit sal waarskynlik met sukses aangeplant kan word. Dit bind die grond goed en vorm 'n digte mat. Elke boer moet egter die plantegroei op sy plaas bestudeer en self besluit watter bosse die beste is. Die strewe behoort te wees om die kaal grond weer bedek te kry met dieselfde tipe plantegroei wat voorheen daar gegroei het, of ten minste plante te plant wat op sulke plekke sal aard.

 

Wanneer en Hoe om die Saad te Saai.

Die beste tyd om die saad van genoemde bosse te saai, is gedurende Februarie en Maart, d.w.s. gedurende die reënseisoen. Die klimaatstoestande is dan gunstig vir ontkieming en die jong plantjies het ook die vogtigheid nodig om eers goed te vestig.

Die saad moet taamlik dun op die kaal plekke en op contourwalle gesaai en liggies toegehark word. Die metode is hier by die Landbouskool toegepas, en 'n groot persentasie van die saad het na die eerste reëns ontkiem.

Dit is egter wenslik om diere weg te hou van sulke gesaaide veld om die jong plantjies eers 'n kans te gee om goed te groei.

'n Beperkte hoeveelheid saad van die verskillende soorte Karoobossies sal vanaf aanstaande jaar vir boere beskikbaar wees. Boere behoort hul beste voerplante egter self te leer ken deur op te let watter plante die gretigste deur die diere gevreet word. Sulke plante behoort dan dopgehou te word ten einde te bepaal wanneer hulle saadskiet. Alleen goeie, ryp saad moet versamel word.

Ons weiveld kan egter alleen verbeter word as die boere in die saak belangstel en met die verskillende inrigtings saamwerk.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 11