Last update: March 1, 2011 11:23:51 AM E-mail Print

Veldbrand in die Karoo en Karoo-agtige gebiede

 

PCV du Toit

 


INLEIDING

 

Veldbrand is 'n kontroversiële aspek in geselskap waar dit om diereproduksie van die veld af gaan, veral in die Karoo. Die emosie daaraan verbonde dwing mens om katvoet te loop. Hierdie kort bespreking wil die korrels van die kaf probeer skei. Daarom dus eerstens drie vrae om leiding te gee.

 

Waarom word veld gebrand ?

 

Wat is die voordele verbonde aan die brand van 'n stuk veld?

 

Wanneer word veld gebrand en hoe word die veld na afloop van 'n brand behandel ?

 

Alvorens daar van die brand van veld gepraat word, is dit wenslik om eers stil te staan by riglyne wat die brand van veld beheer.

 

RIGLYNE BY DIE BRAND VAN VELD

 

Daar is 'n aantal riglyne wat in gedagte gehou moet word by die brand van enige stuk veld. Die riglyne dien as maatreël wat nagekom moet word om te voorkom dat brande handuit ruk, want gebeur dit, is die emosie gewoonlik so hoog dat gemoedere moeilik onder beheer gebring kan word.

 

1. Maak doeltreffende voorbrande op die grense van 'n plaas. Dit beskerm nie alleen die plaas van die bewoner teen brande wat van 'n buurplaas af kom nie, maar voorkom ook dat brande wat op een plaas ontstaan na 'n buurplaas versprei, in die geval word die bewoner van die plaas vanwaar die brand versprei, vir die brand op die buurplaas verantwoordelik gehou.

 

2. Waarsku bure wanneer 'n grensvoorbrand gemaak gaan word. Doen hierdie kennisgewing skriftelik.

 

3. Beplan saam met bure 'n voorbrandstelsel. Op die wyse word groot gebiede beskerm en dit hou die voordeel in dat bure insae in mekaar se planne gehad het en ook akkoord gaan daarmee.

 

4. Dring daarop aan dat bure teenwoordig moet wees wanneer voorbrande op plaasgrense gemaak word. Op die wyse word hulle betrek by die maak van voorbrande en is hulle medeverantwoordelik vir onverwagse gebeurlikhede.

 

5. Kies die weer noukeurig uit wanneer beplan word om voorbrande of ander brandwerk aan te pak. Gewoonlik word daar tussen 10:00 en 16:00 gebrand, maar soms mag dit voordelig wees om in die nag te brand wanneer die weer meer stabiel is en die kanse vir skielike windvlae uitgeskakel is.

 

6. Maak voorbrande vroegtydig. Onthou dat voorskrifte die tyd vir die maak van voorbrande reguleer.

 

7. Moenie 'n vuur in die oop lug aansteek wat nie beheer kan word nie. Sorg dat daar altyd genoeg arbeid en hulpmiddels byderhand is om die vuur te beheer.

 

8. Doen alles moontlik om te voorkom dat 'n brand na 'n aangrensende eiendom versprei. Indien so brand versprei kan dit groot skade veroorsaak wat tot eise teen die persoon kan lei van wie se eiendom die brand versprei het, aangesien hy verantwoordelik is daarvoor.

 

9. Moet geen vuur verlaat of onbewaak laat alvorens dit nie behoorlik geblus is nie. 'n Skielike windvlaag met 'n smeulende kool kan 'n groot vuur aan die brand steek, met ernstige gevolge vir die eienaar van die plaas vanwaar die brand dan kom.

 

10. Skade aangerig as gevolg van 'n brand, word kragtens die boswet as nalatigheid aan die kant van die plaas-eienaar wat gebrand het, beskou, tensy die teendeel bewys kan word.

 

WAAROM WORD VELD HOEGENAAMD AFGEBRAND ?

 

1. Veld word in die eerste plek gebrand om opgehoopte, veselrige, ou droë materiaal, wat die nuwe groei inhibeer en smoor, te verwyder en op die wyse voedsame, smaaklike voeding aan die diere te verskaf. So 'n brand sal onderhewig aan die weidruk en weersomstandighede, elke derde tot vierde jaar gemaak word.

 

2. Om bos wat geneig is om te verdig, elke paar jaar af te brand en die kruidlaag, waaraan die grasse en karoobossies behoort, 'n kans te gee om onbelemmerd uit te groei en weiding aan die diere te verskaf. Hierdie brand sal afhangende van die weidruk en weersomstandighede, wat genoegsame gras laat ophoop om brand moontlik te maak, en die regenerasie vermoë van die bos wat beheer moet word, elke vyfde tot vyftiende jaar plaasvind.

 

3. Om die opgehoopte grasmateriaal, of indringer bosse so spoedig moontlik te verwyder; ou grasmateriaal kan afgesny en vir beddegoed gebruik word, maar soms is die veld so klipperig en steil, dat dit nie werklik 'n opsie is nie.

 

4. Daar word beweer dat veld brand van skadelike parasiete soos bosluise ontslae raak. Dit is nie 'n opsie wat oorweeg hoef te word nie, want met al die brande wat daar alreeds in die verlede plaasgevind het, is bosluise steeds 'n plaag. Daar kan met sekerheid aangeneem word dat veld brand nie van parasiete ontslae raak nie! Wat wel waar is, is dat die getalle van die Karoo verlammingsbosluis wat in die Karoo-agtige Merxmuellera Bergveld voorkom en skuiling vind in die opgehoopte ou gras en renosterbos, beheer word wanneer die ou plantegroei en die renosterbos verwyder word. Ook hierdie plaag is egter nog nie uitgewis nie.

 

VOORDELE VAN VELDBRAND

 

1. Daar word goedkoop van versmorende plantmateriaal ontslae geraak.

 

2. Nuwe vars, voedsame groei word beskikbaar gestel vir beweiding.

 

3. Ou graspolle word vernuwe, skadelike houtagtige plante word verwyder en maak die stand oop vir smaaklike grasse en karoobossies om te groei.

 

TIPE EN INTENSITEIT VAN BRAND

 

Die effek van brand op plantegroei hang af van die tipe en intensiteit van die vuur. Daar word breedweg drie tipes vure onderskei, afhangende van die vlak waar die vuur voorkom:

 

1. 'n Grondvuur brand in die diepliggende laag organiese materiaal,

 

2. 'n Oppervlakte vuur brand die bogrondse materiaal soos by. in die geval van grasveld en

 

3. 'n Kroonvuur brand in die toppe van bome en struike.

 

Behalwe vir die soort vure, word daar ook verwys na vure wat saam met die wind en vure wat teen die wind brand. Vure wat saam met die wind brand versprei vinniger, met ho� vlamhoogtes en groter algehele intensiteit as vure wat teen die wind brand. Op grondvlak is vure wat teen die wind brand egter meer intens, brand in die krone van die grasse in en het 'n algemene neerdrukkende effek op die herstelvermoë van die grasse. Grasproduksie na so 'n brand is baie laag. Onder boerdery-omstandighede word aanbeveel dat brande dus saam met die wind moet plaasvind, in 'n poging om die minste moontlike skade aan die graslaag aan te rig. Daar word egter met die hoë vlamhoogtes meer skade aan die indringerbosse aangerig.

 

Die intensiteit van die vuur word beïnvloed deur die hoeveelheid brandbare materiaal, relatiewe lugvogtigheid, lugtemperatuur en die windspoed. 'n Koel vuur word aanbeveel vir die verwydering van onaanvaarbare grasmateriaal. So 'n vuur word verkry as die relatiewe humiditeit bo 50% is en die lugtemperatuur onder 20°C is. Daar moet so min moontlik brandbare materiaal wees, maar genoeg om die vuur te dra. Wanneer daar na die lentereën gebrand word, sal die toestande min of meer altyd geld. Om veiligheidsredes moet die windspoed nie hoer as 20 km/uur te wees nie. 'n Ligte wind van ongeveer 10 km/uur gee die beste resultate.

 

WATTER GEBIEDE IN DIE NOORD-KAAP EN DIE WESTELIKE DELE VAN OOS-KAAP WORD GEBRAND ?

 

Alhoewel baie outeurs die gebied wat minder as 500 mm reën per jaar kry as semi-aried beskou en dit dus glad nie sou oorweeg om daar te brand nie, is daar dele van die gebied soos hierbo uitgestip wat rond-omtrent 500 mm reën per jaar kry en waar dit aanbeveel word dat daar soms gebrand moet word.

 

Hoekom word aanbeveel dat hier gebrand word?

 

1. DIE KAROO-AGTIGE MERXMUELLERA BERGVELD

 

In die Karoo-agtige Merxmuellera bergveld (suurpolveld) hoop die ou veselrige materiaal baie gou op, en is dit nie beskikbaar vir beweiding nie. Die enigste tyd wanneer die veld met goeie resultate bewei kan word is kort na 'n brand wanneer die materiaal nog sag en mals is. Na die aanvanklike goeie inname van dro�teriaal op die gebrande Merxmuellera veld, raak die polle gou veselrig en moet strategieë uitgewerk word om die materiaal te benut. Wisselbeweiding na brand kan egter die veld vir 'n relatief lang periode aanvaarbaar hou. Daarna kan daar met melasse bespuitings en ander byvoedings begin word om die vee aan te spoor om die gras te vreet. Hierdie suurpolveld het brand nodig ter wille van die doeltreffende benutting daarvan.

 

Met 'n Julie tot Oktober brand, kan daar begin bewei word sodra die polle 100 mm lank uitgeloop het. Die beweiding is relatief intensief en die gras word verkieslik met beeste bewei vir 'n periode van nie langer as vier weke nie. Daarna word die veld gerus en dan met 'n winterbeweiding van ongeveer ses weke opgevolg. Daarna kan die veld by die normale beweidingsiklus op die plaas ingeskakel word.

 

Met 'n November brand, moet die veld tot die einde van April rus, daarna kan die veld gedurende die wintermaande intensief met beeste bewei word, die veld rus dan gedurende die voorsomer tot einde Desember, waarna dit by die normale beweidingsiklus op die plaas ingeskakel word.

 

2. DIE SENTRALE BO-KAROO

 

In hierdie gemengde grasveld gebied is dit wenslik dat daar slegs gebrand sal word, nadat 25 mm reën in die vroeë lente geval het, of waar die grond nog klam is na afloop van goeie winterreën. Die veld moet dan vir 'n periode van 18 maande aan beweiding onttrek word, waarna dit by die normale beweidingsiklus op die plaas ingeskakel kan word.

 

3. BERGSTRUIKVELD

 

In hierdie veld dring renosterbos, harpuisbos en ander struike in en versmoor die graslaag. Hier is dit wenslik dat daar gebrand sa! word nadat ongeveer 25 mm reën geval het of waar die grond nog klam is van die vroeë lentereën.

Om die beste resultate te behaal moet daar tussen 10:00 en 16:00 gebrand word.

 

Brand liefs van Augustus tot Oktober en volg die brand op met 'n rus tot aan die begin van die winter, die veld kan dan by die normale beweidingsiklus ingeskakel word.

 

'n Somerbrand van November tot Desember moet slegs as 'n uitsondering op die reën geskied. Die brand sal waarskynlik beter van die houtagtige struike ontslae raak, omdat die lugvog en die temperatuur baie hoog is, maar sal in 'n mate in die krone van die graspolle inbrand en so hulle ontwikkeling belemmer, en in 'n mate ook die grond steriliseer sodat saailing ontwikkeling van die gewenste grasse baie stadig sal wees.

 

WESTELIKE KAROO-BERGGEBIEDE

 

Toevallige en natuurlike brand as gevolg van weerlig aktiwiteit kom taamlik algemeen in die Roggeveld en die Bokkeveld voor en daar moet by uitstek gekyk word na die behandeling van die veld na so 'n brand. As 'n reël word die gebied wat winterreën ontvang nie gebrand nie. Dit word egter van tyd tot tyd nodig om van die ruig uitgegroeide dooie bos en grasmateriaal ontslae te raak, sodat die weiding meer toeganklik vir die vee is. Hier is dit veral van belang om struike soos renosterbos en harpuisbos te verwyder en om suurpol terselfdertyd te verjong.

 

Brand gedurende Maart en April nadat 25 mm of meer reën geval het. Dit mag noodsaaklik wees om die veld vir 'n jaar aan beweiding te onttrek alvorens daar gebrand word, sodat daar genoeg brandbare materiaal ophoop wat 'n redelike skoon brand gal verseker. Sodra die suurpol 100mm of meer uitgeloop het kan dit by die beweidingsiklus ingeskakel word. Vermy die droë rand van die veld. Dit mag van die struike verwyder maar sal in die krone van die graspolle inbrand en veldherstel vertraag.

 

ONTHOU WET 122 VAN 1984

 

Dit is maklik om 'n vuurhoutjie te trek en die veld aan die brand te steek. Maar kragtens die Boswet, Wet 122 van 1984, is dit 'n kriminele oortreding vir 'n persoon wat nie betyds stappe doen, om te keer dat die vuur van sy grond na naburige plase versprei nie.

 

Iemand wat 'n vuur gemaak het en dit dan onbewaak laat alvorens dit geheel-en-al geblus is, is skuldig aan 'n kriminele oortreding.

 

'n Grondeienaar wat nalaat om sy bure in kennis te stel dat hy voornemens is om 'n voorbrand te maak, of om 'n gedeelte van sy plaas af te brand, is skuldig aan 'n kriminele oortreding.


 

Published

Grootfontein Nuusbrief 1997