Last update: April 4, 2012 07:14:34 AM E-mail Print

 

Veldgrasse 

 

Uit 'n boerdery-oogpunt gesien is dit belangrik om te weet of 'n sekere grassoort as soet of suur beskryf kan word en of die lewensduurte van die gras eenjarig of meerjarig is. Verder is dit van belang om te weet of dit 'n pionier- of klimaksgrassoort is.

 

Soetgrasse

Die mees kenmerkende eienskap van soetgrasse is dat hulle 'n betreklike hoë voedingswaarde en smaaklikheid in aIle groeistadiums behou. Uitgegroeide soetgrasse besit nog so 'n goeie voedingswaarde dat boere 'n kamp gedurende die somermaande kan laat rus vir winterweiding. Soetveld kom gewoonlik voor op neutrale of alkaliese gronde in die droër streke. Die vrugbaarheid van die grond is gewoonlik goed en die reënval is meesal 'n beperkende faktor.

Alhoewel veld oor die algemeen soet mag wees, sal selektiewe weiding egter nog plaasvind. Die oplossing van hierdie probleem moet dan ook gesien word in die toepassing van 'n veebelading wat nie te laag is nie, anders sal selektiewe weiding plaasvind en ook nie te hoog wees aangesien oorbeweiding die veld laat verswak. Soetveld word baie makliker deur oorbeweiding beskadig as suurveld.

Van die soetgrasse wat algemeen in die veld voorkom, is rooigras (Themeda triandra), vingergrasse (Digitaria spesies), blousaadgrasse (Sporobolus fimbriatus en Eragrostis curvula) en buffelsgrasse (Panicum spp.) die belangrikste.

Waar soet- en suurveld op dieselfde plaas aangetref word, is dit wenslik om die soetgedeeltes uitsluitlik vir winterweiding te gebruik en die suurgedeeltes uitsluitlik vir somerweiding. Dit is egter noodsaaklik dat afwisseling van hierdie patroon, elk binne sy eie soort, bewerkstellig word.

 

Suurgrasse

Suurgrasse word veral op suurgronde aangetref. Sekere grasse soos rooigras (Themeda triandra) word as soetgrasse beskou wanneer hulle in soetveldstreke voorkom, maar dan weer as suurgrasse wanneer hulle in suurveldstreke groei. Hoe hoër die reënval van 'n streek, hoe suurder is die veld gewoonlik. Die mees uitstaande eienskap van suurgrasse is die snelheid waarmee die voedingswaarde en smaaklikheid daal namate die gras groter groei. Die beste weiding vanaf suurgrasse word verkry solank hul nog kort en voedsaam is. Oorbeweiding gedurende die stadium sal egter die drakrag ernstig laat daal lank voordat onkruid begin indring en erosie bevorder.

Van die suurgrasse wat algemeen aangetref word, is suurpol (Danthonia disticha) en .Elyonurus argenteus (koperdraadgras) seker die bekendste. Grasse soos rooigras, terpentyngras (Cvmbopogon spp. ), swartangel (Heteropogon contortus) en beessteekgras (Aristida diffusa) kan of soet of suur wees.

 

Lewensduurte

By eenjarige grasse produseer al of die meeste spruite blomme. Wortelstokke en ranke ontwikkel nie. By die meerjarige gras egter is daar 'n hele paar blaarryke steriele spruite teenwoordig by die basis van die plant en wortelstokke en ranke is dikwels goed ontwikkel. Meerjarige grasse verskil dan van eenjariges ten opsigte van groeivorm. Die steriele spruite van die meerjarige grasse vorm digte of los polle en die gras word 'n polgras genoem. Grasse met wortelstokke of ranke soos byvoorbeeld kikoejoe en kweek (Cvnodon dactylon) neig om 'n mat te vorm eerder as polle en daarom is hulle veral geskik vir erosiebestryding en vir grasperke.

 

Pioniergrasse

As 'n stuk kaal of uitgetrapte veld aan die natuur oorgelaat word sal daar aanvanklik onkruide en grasse met 'n kort lewensiklus daarop groei. Hierdie plante staan bekend as pioniers en verteenwoordig die eerste stadium van ontwikkeling na 'n meer standhoudende en stabiele bedekking. Steekgrasse, wortelsaadgras, haasgras en kweekgras is van die vernaamste pioniergrasse.

 

Klimaksgrasse

As 'n kamp vir 'n hele aantal jare gerus word ontwikkel die plantegroei in die rigting van 'n sogenaamde klimaks of volwasse gemeenskap. Die heersende klimaatstoestande bepaal die stabiliteit van die klimaksplantegroei. Velde wat bewei word, kan eintlik nooit 'n ware klimaks ontwikkel nie maar wel 'n weidingsklimaks. Soms is die weidingsklimaks, veral in die egte grasvelde, byna soortgelyk aan die natuurlike klimaks.

Rooigras is byvoorbeeld die klimaksgras in die distrikte van Burgersdorp en Steynsburg, terwyl dekgras (Hvparrhenia hirta) die klimaksgras in dele van Noord Natal is. Waar dekgras die klimaksgras in 'n gebied is, en die veld word oordeelkundig bestuur kan die ontwikkeling in 'n terugwaartse neiging gestuur word sodat rooigras die algemene grassoort is.

Wat egter van groot belang is, is die feit dat die veld wat hoofsaaklik uit klimaks grassoorte bestaan gewoonlik 'n goeie bedekking besit om die grond te bewaar, en omdat die klimaks grassoorte sterk wortelstelsels besit is hierdie plante in staat om 'n hoë produksie potensiaal onder selfs droë toestande te handhaaf.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief Junie 1974