Last update: April 2, 2012 02:26:42 PM E-mail Print

 

Veldherstel - is daar 'n kans?

W.BOTHA

Voorligtingsbeampte, Carnarvon 

 

 

Kan ons weiveld in die Noordweste herstel en verbeter met goeie bestuur? Voor 'n mens die vraag kan antwoord, moet ons noodwendig eers let op die oorsake van veldagteruitgang en die implikasies wat dit meebring.

Die vernaamste oorsaak van veldagteruitgang is die traagheid van die meeste boere om rekening te hou met die inherente klimatologiese gebreke van hierdie landstreek. Die gebrek dui op die droë periodes en wisselvallige reënval waaraan die Noordwes-Karoo onderhewig is. 'n Verdere verwante aspek is oor-optimisme. Dit geld veral ten opsigte van die dravermoë van die boer se plaas. Dan bestaan die verwagting boonop by almal dat daar gedurig 'n goeie reënseisoen voor die deur lê.

Daar bestaan drie belangrike wette wat deur Roux opgestel is en wat 'n deurslaggewende rol speel by veldsuksessie:

 

Die wet van die kritieke minimum

Waar gewenste plante baie min geword het, is veldherstel baie stadig. Meer drastiese maatreëls as veldbestuur is nodig vir herstel.

 

Die wet van die kritieke maksimum

Waar die getalle van ongewenste of indringerplante so vermeerder het dat hierdie plante dominant geword het, is dit onmoontlik om hulle deur ekonomiese weiveldbeheer uit te skakel.

 

Die wet van die sone van kritieke beheer

In 'n heterogene plantbedekking is daar normaalweg 'n onstabiele balans tussen gewenste en ongewenste plante. Met oordeelkundige veldbestuur kan die balans behou word en die gewenste plante se getalle toeneem. Met onoordeelkundige  veldbeheer gebeur die teendeel.

Veld is ons enigste werklike bate. Natuurlike weiveld, uitgedruk in terme van die voedingswaarde van lusernhooi, produseer in normale omstandighede elke vyf jaar 'n hoeveelheid voer gelykstaande aan die plaas se kontantwaarde. Daarom kan daar nie ligtelik begin word oor die vraag of veldherstel moontlik is al dan nie.

Ons kan nou die stelling maak dat veldherstel wel moontlik is. Talle voorbeelde bevestig hierdie feit. Dit is egter 'n moeisame taak omdat veld onder enige vorm van beweiding geneig is om agteruit te gaan.

Daar is veral drie ineengestrengelde faktore wat veldherstel moontlik maak:

 

Reënval kan nie in aparte kompartemente en tydperke verdeel word nie. Tog is daar twee kenmerke van reënval wat maklik waarneembaar is. Dit is die hoeveelheid reënval bo of onder die gemiddelde, sowel as die opeenvolgende seisoensreënval bo of onder die gemiddelde. So is die afgelope aantal jare (1972-1977) van bonormale reënval 'n goeie voorbeeld. Die reënval in hierdie tydperk was sowat 81 % bo die normale reënval. Veld het in hierdie tydperk vooruitgegaan.

Die ander aspek is die opeenvolgende seisoensverspreidings. Vir dieselfde tydperk was die gemiddelde nee!slag van 'n somerseisoen ongeveer 90 % bo die normale. In hierdie jaar het die graskomponent uitsluitlik hierby gebaat.

Die inherente eienskappe van die plante dra by tot die voor- of agteruitgang van die veld.

Minder gewenste en indringerplante is dikwels nie so gehard as gewenste plante nie. Bitterbos (Chrysocoma) vrek baie maklik. Tans is daar plate dooie bitterbossies. Hierteenoor is gewenste plante besonder gehard, byvoorbeeld koggelmandervoetkaroo en gannabos.

'n Verdere aspek wat saam met die gehardheid gaan, is die vermoë van sommige plante om sowel 'n pionier as klimaksplant te wees. Boesmansgras groei feitlik die eerste op versteurde grond, maar is in werklikheid 'n klimaksgras van die Noordweste.

Gewenste plante beskik oor unieke oorlewingsmeganismes. Die meganismes of kombinasies daarvan strek van die vermoë om saad in 'n besonder kort tyd te produseer en die vermoë om enige tyd van die jaar op reënval te reageer tot die produksie van saad nadat die plant 'n droë tydperk beleef het. So peul brosdoring byvoorbeeld slegs indien dit alle blare gedurende die winter verloor het ('n teken van droogte).

Oordeelkundige weiveldbeheermaatreëls het tot gevolg dat die kritieke onstabiele balans tussen gewenste en ongewenste plante behoue bly of dat die populasie van ongewenste plante verlaag, terwyl gewenste plante se getalle toeneem. Hierdie maatreëls sluit in die vasstelling van objektiewe drakrag, skeiding van veldsoorte, voldoende kampe en 'n wisselweidingstelsel of -plan wat op wetenskaplike beginsels gebaseer is.

Sukses kan behaal word. Dit word egter nie sonder baie opoffering, moeite en deursettingsvermoë bereik nie. In sommige gevalle is meganiese hulpmaatreëls nodig om as katalisator te dien. Die ekonomie van sulke maatreëls moet egter deeglik oorweeg word. Sulke maatreëls sluit in klippakwerk en die ploeg van kaalkolle om veld te herwin. Draadheinings val ook in die kategorie. As dit reg aangewend word, bly dit die goedkoopste hulpmiddel om veld te ontwikkel.

Dat goeie veldbeheer uiteindelik lonend is, word bevestig deur die volgende werklike geval:

'n Plaas van 1713 ha (2000 morg) is sedert die sestigerjare (1966) op 'n driekamp-wisselweistelsel bewei met 'n drakrag van 1K VE per 6,85 ha met ongeveer 250 ooie. Sedert 1975 is die getal met 50 ooie (Merino's) vermeerder. Selfs nadat die veld 24 maande lank geen noemenswaardige reënval gehad het nie, was die vee nog in 'n goeie toestand. Dit lewer 'n bykomende inkomste van bykans R700. Vandag word dieselfde stelsel gevolg, behalwe dat daar in plaas van drie kampe tans ses kampe is en die weityd dus met die helfte verkort is. Die stadiums vir herstel was soos volg:

 

1962-1966       Bewei volgens eie oordeel

1966                Begin met veldherwinningskema, dit wil se een derde rug vir 20 maande

1968                Begin met driekampstelsel met 250 ooie (ooie lam en lammers na greën weg) en veeverminderingskema

1976                Vermeerder ooigetal met 50

 

Die huidige groepdriekampstelsel word soos volg toegepas:

 

 

Bo en behalwe die wetenskaplike beginsels wat toegepas moet word, moet boere ook die harde werklikhede van hierdie landstreek aanvaar. Deur realisties te wees, tref 'n mens voorsorg teen die wispelturigheid van die klimatologiese faktore, word drakrag nie oorskat nie en stel 'n mens veegetalle objektief vas. Ons kan nou tot die slotsom raak dat veld herstel deur realistiese denke en die toepassing van wetenskaplike beginsels wel moontlik is. Ons het dus nog 'n kans om veld te herstel.

 

Published

Karoo streeksnuusbrief Winter