Last update: April 11, 2012 02:49:07 PM E-mail Print

 

Veregroei en Verveer by Kuikens en Henne

A. M. Gericke

 

DIE mees uitstaande kenmerk van alle hoenders is die feit dat hulle vere het wat in definitiewe lye op die liggaam groei. In die vroeë groeistadiums is daar tien rye op die kuiken se liggaam wat duidelik sigbaar is, maar op 6 tot 8 weke ouderdom word die liggaam heeltemal bedek met vere en die rye is nie meer sigbaar nie. Wanneer die hoenders die volgende keer verveer, kan die rye vere weer onderskei word. Onder die vlerke en tussen die heupe en die liggaam is daar oop plekke waar daar nie vere groei nie.

Vere groei in 'n definitiewe volgorde sodat een ry op die ander volg. Die vere van sommige kuikens groei vinnig, terwyl die van sommige koekoekhoenders (soos Plymouth Rock en Jersey Black Giants) stadig groei. Haankuikens van laasgenoemde rasse loop dikwels vir 'n lang tyd met kaal rugge. Die ry vere op die rug is gewoonlik die laaste wat op die liggaam ontwikkel.

 

Faktore wat die Groei van Vere affekteer

Die snelheid van die groei van die vere is bepaald oorerflik. As 'n Jersey Black Giant-haan met White Leghorn-henne gepaar word, groei al die kuikens se vere stadig, terwyl as 'n White Leghorn-haan met Jersey Black Giant-henne gepaar word, groei al die hen-kuikens se vere vinnig, en die van die hane stadig. By hierdie laasgenoemde kruising is die snelheid van groei van vere 'n geslagsgeskakelde faktor in oorerwing.

Jong lêhenne wat 'n vroeë kamontwikkeling toon, is gewoonlik goed met vere bedek, en begin vroeg lê. Daar bestaan aanduidings dat die vere van die tipe van hoenders wat eiers lê en gou uitgroei, vinniger groei as die van die vleistipes.

Groei van vere kan ook deur voeding gereguleer word. Daar bestaan 'n noue verband tussen die snelheid van groei van vere en die soort en hoeveelheid proteïen in die rantsoen. Die vere van jong kuikens wat 'n normale hoeveelheid proteïen (10 persent) kry, sal vinniger groei as die wat 'n rantsoen kry wat 3 tot 5 persent proteïen bevat. Die vere van kuikens wat 'n meelkosrantsoen kry, aangevul met vleismeel as 'n bron van dierlike proteïen, sal vinniger groei as die wat op afgeroomde melk grootgemaak is. As die groei van die vere te veel moeite by die grootmaak veroorsaak, is dit noodsaaklik om vleismeel in die meelkos in te sluit.

Groei van vere kan teruggehou word deur die kuikens in 'n bedompige kamer met buitensporige hitte te laat uitbroei. Onder sulke toestande word die liggaam warm gehou sonder dat die funksie van die vere werk om die dooie lugruimte rondom die liggaam te vermeerder en die uitstraling van hitte teen te hou.

Die vere van kuikens, wat in 'n baie droë kamer grootgemaak is; kan ook stadig groei. Die sagte deeltjies van die vere word droog en bros wat gewoonlik saamgaan met abnormale groeitoestande. Swak plekke kom in die vere voor, sommige breek af en ander word vir altyd seergemaak.

 

Ververings

Voordat kuikens hul volwasse vere kry, verveer hulle ten minste 5 of 6 maal. Met verveer word bedoel dat die vere uitval en nuwes uitkom. Die eerste geval van ververing kan opgemerk word as die kuikens uit die broeimasjien gehaal word en die bak vol donsies is. Die eerste donsies is omhul in 'n skede wat gou gebreek en afgegooi word by die tyd wat die kuikentjies gereed is om uit die nes gehaal te word.

Kuikens, sowel as groot hoenders, verveer in die volgende orde: Nekvere, dan liggaam, stert en vlerke. Sommige hoenders kan van die soort wees wat vinnig verveer, wanneer die vere op dieselfde tyd van verskillende dele van die lyf uitval, terwyl ander seksie vir seksie verveer, en stadige verveerders is.

Hoenders wat vroeg in die somer verveer, is die vroeë verveerders, terwyl die wat in die herfs verveer, laat verveerders genoem word. Die natuurlike verveertyd vir alle lêhenne is laat in die somer of herfs. As hoenders buite die seisoen verveer, word die benaming " gedeeltelike ververing" gebruik.

Gedurende natuurlike ververing val al die vere uit, terwyl gedeeltelike ververing kan beteken dat ou vere om die nek, en somtyds net 'n paar op die rug, uitval. As jong henne nie goed gedurende die lêtydperk in die herfs bestuur word nie, kan 'n verandering of vermindering in die voedsel maklik 'n gedeeltelike ververing veroorsaak.

'n Gedeeltelike ververing kan 'n ernstige verlies vir die eierboer beteken. Hierdie ververing kom gewoonlik in die herfs- of wintermaande voor wanneer eiers hoë pryse behaal, en 'n goeie wins behoort gemaak te word as die jong henne van die vorige jaar se broeisel aan die lê gehou kan word. Henne wat twee jaar oud is, verveer natuurlik in Maart en April, en gedurende hierdie tydperk moet die eierboer staatmaak op die produksie van die jong henne. Daar bestaan aanduidings dat jonghenne wat in Mei uitgebroei is, die volgende jaar gedeeltelik verveer, en dus kan dit onwinsgewend wees om jonghenne te vroeg uit te broei.

Henne verveer dikwels gedeeltelik gedurende die lente, veral as hulle 'n skielike verandering ondergaan. Op hierdie tydperk lê die henne meer, en liggaamsgewig en gesondheid kan alleen gehandhaaf word as die behoorlike eiervormende voedsel verskaf word.

 

Seleksie en Uitskakeling

Behalwe die kleurstoftoets by soorte wat 'n geel vel het, is die verveertyd vandag een van die beste toetse vir die seleksie vir goeie lêers. Henne wat sleg lê, hou op voordat hulle begin verveer, terwyl henne wat goed lê, aanhou nadat ververing begin het. Henne wat sleg lê hou gewoonlik in Februarie en somtyds so vroeg as Januarie op, terwyl goeie lêers in Maart begin verveer en nog kan aanhou lê.

Uitskakeling word gewoonlik gebaseer op die ververing van die voorste vlerkvere. Hulle is die laaste vere wat uitval, en 'n groot persentasie henne wat in Maart en April nog die ou voorste vlerkvere het, hou nog aan lê. Die voorste vlerkvere val in 'n gereelde volgorde uit: Die klein (afskeidings-) veer tussen die voorste en agterste vlerkvere, val die eerste uit, en daarop die eerste voorste vlerkveer naasaan die afskeidingsveer. Die eerste voorste vlerkveer vat ongeveer 6 weke om uit te kom, en die ander nege twee weke elk. As henne 'n gereelde ververing stap vir stap ondergaan, neem dit 24 weke voordat al die voorste vlerkvere uit is. Die ooreenstemmende vere in altwee vlerke val saam uit, sodat die nuwe vere ook saam op altwee vlerke uitkom.

Dit word gereken dat henne wat vroeg verveer, sleg lê, omdat hul voorste vlerkvere baie vinniger uitkom as die van die henne wat laat verveer. Laasgenoemde lê en verveer terselfdertyd, terwyl die vere van die henne wat vroeg verveer, so vinnig uitval, dat hulle al die voedsel en lewenskrag, ten koste van eierproduksie, vir die groei van nuwe vere moet gebruik. In sommige gevalle kan henne wat vroeg verveer ook nog aanhou met lê en verveer. By uitskakeling is dit noodsaaklik om hoenders te verwyder wat nie lê voordat met ververing begin word, liewer as om alle opmerkings net op vroeë en laat verveerders te baseer. Die feit bly egter dat henne wat laat verveer, die beste lêers is.

 

Forsering van Ververing

Pluimveetelers wat broei-eiers gedurende die wintermaande wil hê, forseer dikwels hul henne om vroeg in die herfs te verveer. Henne kan geforseer word om te verveer deur die pap en voedsel tot so 'n mate te verminder dat die hen moet ophou lê. Henne sal hierdie tyd van die jaar geredelik beïnvloed word deur nadelige toestande, en dan ophou met lê en begin verveer.

Dis twyfelagtig of dit voordelig is om henne te forseer om te verveer. Die fisiese toestand van 'n hen word tot so 'n mate verlaag dat dit lank sal neem voordat sy weer begin lê. Hoenders moet liewer 'n goedgebalanseerde rantsoen kry en toegelaat word om gedurende die natuurlike verveertyd te verveer.

Pluimveeboere maak dikwels die fout om 'n hen uit te skakel omdat sy gedurende verveertyd gewig aansit. Dis heeltemal natuurlik vir 'n hen om gedurende die toppunt van die verveertyd gewig aan te sit, omdat een of ander opgebergde Iiggaamskrag, soos liggaamsvet, nodig is om vroeg in die lente baie te lê.

As die henne gedurende die hele jaar goeie voedsel kry, sal dit die beste resultate lewer, en selfs gedurende verveertyd moet hulle 'n goeie rantsoen met baie groenvoer kry. Sonneblomsaad kan as 'n graan nuttig wees om die nuwe vere te help groei en die hoenders in 'n gesonde kondisie te hou.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 8