Last update: March 30, 2012 02:03:32 PM E-mail Print

 

Vergelykende studie van die vetmestingswaarde van Koring en Mielies in kombinasies met Lusern- en Grondbonehooi

 

G.A. Jacobs, Landbounavorsingsinrigting van die Karoostreek

PS X529, Middelburg K.P. 5900

 

 

EEN van die min gebruike van laegraadse koring is om dit as dierevoer aan te wend. Dit is reeds vasgestel dat koring suksesvol aangewend kan word as die kragvoerkomponent van skaaprantsoene (Vermorel, Thivend & Theriez, 1970; Aguer, Theriez & Molenat. 1971; en Reynolds, McManus & Roberts, 1976). Aguer et al (1971) het egter gevind dat koring effens swakker vetmestingsresultate as mielies lewer, wat in ooreenstemming is met die algemeen aanvaarde laer styselwaarde van koring teenoor mielies (Van der Merwe, 1970).

Die doel van hierdie proef was om die vetmestingsdoeltreffendheid van laegraadse koring met die van geelmielies, in kombinasies met lusern- en grondbonehooi, te vergelyk.

Vyf-en-sewentig ou maer Merino-ooie is in vier eksperimentele groepe van 15 elk en 'n kontrolegroep van tien ewekansig geloot. Die kontrolegroep is met die aanvang van die proef geslag ten einde die toename in karkasmassa van die proefgroepe te kan bereken. Die eksperimentele groepe het elk 'n rantsoen bestaande uit 'n mengsel van 60 massadele kragvoer en 40 massadele ruvoer ad libitum in selfvoerder ontvang. Die lusern- en grondbonehooi is deur 'n 12,5mm hamermeulsif gemaal en die mielies en koring deur 'n 6mm sif.

Die rantsoene wat aan die onderskeie groepe diere gevoer is, was as volg:

Groep 1 - Mielies en lusern,

Groep 2 – koring en lusern

Groep 3 - mielies en grondbonehooi en

Groep 4 - koring en grondbonehooi.

Die skeikundige samestelling van hierdie rantsoene word in Tabel 1 aangegee. Uit hierdie tabel is dit duidelik dat die rantsoen met die laagste ruproteïeninhoud nog steeds naby was aan die waarde van tien persent ruproteïene wat volgens Ryder & Stephenson (1968) vir maksimum liggaamsmassatoenames benodig word.

Die vetmestingsperiode het vir aIle groepe 41 dae geduur. Ten einde die skape aan ingekraalde toestande gewoond te maak, het aIle groepe aanvanklik slegs lusernmeel in selfvoerders ontvang. Na drie dae het aIle proefdiere oënskynlik goed gevreet en vanaf die vierde dag is die hoë kragvoerrantsoene aan die onderskeie groepe aangebied. Ten einde voedingsteurnisse as gevolg van hierdie verandering in rantsoen te verhoed, is vyf persent voerkalk gedurende die eerste week by die rantsoen gevoeg. Die persentasie voerkalk is met die aanvang van die tweede week na drie persent verminder en met die aanvang van die derde week na een persent.

 

 

Ten einde te verseker dat slegs met gesonde diere gewerk word, is aIle, proefdiere vooraf veeartsenykundig ondersoek en voor die aanvang van die vetmestingsperiode met 'n breëspektrum-wurmmiddel behandel.

Die resultate van hierdie ondersoek word in Tabel 2 aangegee. Hiervolgens is dit duidelik dat karkasmassatoename en voeromsettingsdoeltreffendheid, soos gemeet aan die massa voerverbruik per eenheid toename in lewende massa, tussen groepe relatief min verskil het. Geen statistiese betekenisvolle verskille (P > 0,05) ten opsigte van lewende massatoename, uitslagpersentasie, karkasmassatoename en eindkarkasmassa is tussen groepe gevind nie.

Die liggaamsamestelling van vyf skape uit elke eksperimentele groep is voor en na vetmesting volgens die tritiumwatermetode (Jacobs, 1972) bepaal. Ten opsigte hiervan is geen statisties betekenisvolle verskille (P > 0.05) in energie-, proteïen- en vettoename tussen groepe gevind nie.

Volgens die resultate van hierdie ondersoek het geen noemenswaardige verskille in eienskappe wat met vetmesting verband hou, tussen groepe voorgekom nie. Die kragvoerkomponente, naamlik mielies en koring, het ongeveer dieselfde vetmestingswaarde gehad. Desgelyks het die ruvoerkomponente, naamlik lusern- en grondbonehooi, ook ongeveer dieselfde waarde getoon. Hiervolgens blyk dit dus dat elk van genoemde rantsoenkombinasies met sukses vir die vetmesting van skape aangewend kan word.

Die feit dat die prestasies van hierdie proefgroepe nie veel van mekaar verskil het nie, beteken ook dat 'n boer ongeveer dieselfde: prys kan betaal vir lusern- en grondbonehooi en vir mielies en koring, waar hierdie voere vir die vetmesting van volwasse skape benodig word.

 

 

VERWYSINGS

AGUER, D., THERIEZ, M. & MOLENAT, G., 1971. Comparative utilization of wheat, barley and maize in rations for fattening lambs. Annales de Zootechnie 20(4), 565 (Nutr. Abstr. Rev. 42, 7297).

JACOBS, G.A., 1972. Wolproduksie en liggaamsamestelling van Merinoskape tydens massaveranderinge. M.Sc. (Landbou)-skripsie. Univ. Stellenbosch.

REYNOLDS, J.A., McMANUS, W.R. & ROBERTS, E.M., 1976. Influence of level of wheat and vit. A on water consumption, mortaility and ewe liveweight. Aust. J. Expo agric. Anim. Husb. 16, 28.

RYDER, M.L. & STEPHENSON, S.K., 1968. Wool Growth. New York: Academic Press.

V AN DER MERWE, F.J., 1970. Dierevoeding. Stellenbosch: Kosmo-Uitgewery Edms. Bpk.

VERMOREL, M., THIVEND, P. & THERIEZ, M., 1970. Utilization of energy of barley, wheat, maize and sorghum by growing Iambs. Annales de Zootechnie 19(4),461.

 

Published

Karoo Agric 2 (3), 27-28