Last update: April 4, 2012 11:33:57 AM E-mail Print

 

OU MERINOSKAPE...VERKORRELDE RANTSOENE

 

deur

J. G. CLOETE en

J. W. ROSSOUW

Landbounavorsingsinstituut Middelburg K.P.

 

In Suid-Afrika is daar egter nog min navorsing in verband met die verkorreling van vetmestingsrantsoene vir skape gedoen en min is bekend in verband met die ekonomie van so 'n praktyk. Die vraag ontstaan of die verskaffing van vetmestingsrantsoene in die verkorrelde vorm meer ekonomies sal wees as wanneer dit in meelvorm aan die dier voorsien word. Ten einde lig op hierdie vraag te werp is proewe aan hierdie Inrigting uitgevoer.

 

PROSEDURE

Sestig ou Merinoskape, ongeveer 70 pd liggaamsgewig is, nadat hulIe vir 15 uur sonder kos en water gehou is, gelykkansig in vyf gelyke groepe verdeel. Een groep is geslag om die aanvanklike karkasgewig en karkasgradering van die proefskape vas te stel. Aan die orige vier groepe is die volgende rantsoene gegee.

 

Groep A: rantsoen in meelvorm.

Hierdie rantsoen sal bekend staan as die lae kragvoermeelrantsoen (meel laag).

 

Groep B: ontvang dieselfde rantsoen as Groep A maar in 'n verkorrelde vorm. Hierdie rantsoen sal bekend staan as die lae kragvoerverkorrelde rantsoen (korrels laag).

 

Groep C: rantsoen in die meelvorm.

Die rantsoen sal bekend staan as die hoe kragvoermeelrantsoen (meel hoog).

 

Groep D: ontvang dieselfde rantsoen as Groep C maar in die verkorrelde vorm. Hierdie rantsoen sal bekend staan as die hoe kragvoerverkorrelde rantsoen (korrels hoog).

Aangesien hoë kragvoerrantsoene laksering veroorsaak wanneer skape nie daaraan gewoond is nie, is die mieliemeel met verdrag by die rantsoen ingeskakel. Die lusernmeel wat in die meelrantsoene gebruik is, is deur 'n kwart duim sif gemaal en die in die verkorrelde rantsoene, deur 'n agste duim sif. Die mieliemeel in beide die meel en die verkorrelde mengsels is deurgaans deur 'n agste duim sif gemaal.

Die voerinname van die verskillende groepe is weekliks bepaal. Skape is weekliks geweeg en aan die einde van die proef, nadat die skape vir 15 uur geen toegang tot voer of water gehad het nie, is hulle weer geweeg. Na 'n vetmestingsperiode van agt weke is al die skape geslag.

 

RESULTATE

Die skape in al vier groepe het deurgaans 'n baie bevredigende peil van voerinname gehandhaaf.  Gedurende die sesde week het 'n paar van die skape wat die hoë kragvoerrantsoene ontvang het, begin lakseer. Na behandeling het die laksering egter opgehou.

 

Gewigstoename

Die gemiddelde gewigstoename van die verskillende groepe word in Tabel 1 aangegee.

 

 

Die groepe wat die verkorrelde rantsoene ontvang het, het betekenisvol vinniger in gewig toegeneem as die wat hul rantsoene in die meelvorm ontvang het. Ook het die skape wat die hoë kragvoerrantsoen ontvang het betekenisvol vinniger in gewig toegeneem as die wat die lae kragvoerrantsoene ontvang het.

 

Voerinname

Gegewens ten opsigte van die voerinname van die vier groepe word in Tabel 2 aangegee.

 

 

Volgens resultate in Tabel 2, het die skape op die verkorrelde rantsoene 23 persent meer gevreet as die op die meelrantsoene. Dit blyk ook dat 'n verhoging in die kragvoerkomponent van die rantsoen van 40 tot 60 persent nie die voerinname beduidend verhoog het nie.

Die gemiddelde doeltreffendheid van voerverbruik in terme van pd voer per eenheid gewigstoename en benaderde netto energie per eenheid gewigstoename word in TabeI3(a) en 3(b) aangegee.

 

 

Resultate wat in Tabel 3 verstrek is, toon aan dat daar geen groot verskille is tussen die gemiddelde doeltreffendheid van voerverbruik tussen rantsoene in die meet of verkorrelde vorm nie.

Karkasgraderingsresultate en die totale geldelike opbrengs per groep word in Tabel 4 verstrek.

Die heersende vleisprys op beheerde marke was vir doeleindes van hierdie berekening soos volg:

* Prima, 20.3 sent

* Eerstegraad, 19.3 sent

* Tweedegraad, 18.5 sent

* Derdegraad, 13.0 sent.

 

Vergelyk

Volgens hierdie gegewens is dit duidelik dat 'n groter getal van die skape wat die verkorrelde rantsoene ontvang het, prima gegradeer het as wat die geval was met die wat die meelrantsoene ontvang het. Skape wat die verkorrelde rantsoene ontvang het, het oor die algemeen karkasse van 'n hoër gehalte gelewer as die wat meel ontvang het. 'n Verhoging van die mieliemeel in beide meel en verkorrelde rantsoene het tot karkasse van 'n hoër gehalte aan leiding gegee.

Volgens Basson & Botha (1967 - Ongepubliseerde gegewens) word verkorrelingskoste beïnvloed deur die hoeveelheid voer wat verkorrel word. Om hierdie stelling te illustreer word die posisie in Tabel 5 uiteengesit.

 

 

Volgens hierdie syfers is dit duidelik dat verkorrelingskoste afneem namate die hoeveelheid voer wat verkorrel word toeneem.

 

Ekonomies

In Tabel 6 word die ekonomiese aspekte van die proef uiteengesit.

In hierdie geval is pogings aangewend om die posisie te illustreer wanneer boere 75, 150 en 375 ton van 'n mengsel bestaande uit 60 persent lusernmeel en 40 persent mieliemeel sou verkorrel het.

Die resultate toon aan dat indien skape na 'n vetmestingsperiode van ag weke geslag word, 'n boer meer as 150 ton van genoemde mengsel moet verkorrel alvorens verkorreling vir hom ekonomies sal wees. lndien hy van 'n hoër kragvoerrantsoen gebruik sou maak (60 : 40 mieliemeel-lusernmeelmengsel) sou hy 375 ton voer moes verkorrel het alvorens die verskaffing van die mengsel in die verkorrelde vorm meer ekonomiese resultate as die in die meelvorm sou gelewer het.

 

.. DUS...

Volgens resultate wat in Tabelle 1, 3 en 4 verstrek is, is dit egter duidelik dat die groepe wat die verkorrelde mengsels ontvang het, vinniger in gewig toegeneem het en swaarder karkasse van 'n beter gehalte gelewer het as die wat hul mengsels in die meelvorm ontvang het. Hiervolgens kan afgelei word dat hierdie skape besmoontlik gouer geslag kon gewees het as na 'n vetmestingsperiode van ag weke, sê byvoorbeeld na ses weke. In hierdie geval sou die wins wat uit die groepe wat hul rantsoene in die verkorrelde vorm ontvang het, besmoontlik groter gewees het wat dan verkorreling miskien in sekere gevalle meer ekonomies sou gemaak het as die verskaffing van voer in meelvorm. Geen definitiewe afleiding kan egter gemaak word indien die groepe wat die verkorrelde mengsels ontvang het, nie op ses weke geslag was nie.

'n Ander oorweging wat by die ekonomie van verkorreling in aanmerking geneem behoort te word is die kwessie van vermorsing wat veral by die gebruik van hooi in die gekerfde of langvorm aansienlike afmetings kan aanneem. Wanneer vetmestingsmengsels deur middel van goedontwerpte selfvoerders aan skape beskikbaar gestel word, is vermorsing egter minimaal. Dit is bereken dat die koste van die oprigting van selfvoerders wat aan hierdie Inrigting gebruik word, twee sent tot die produksiekoste van die vetmesting van een skaap bydra.

Ten slotte wil dit voorkom asof verdere aandag geskenk moet word aan die verband tussen die kort moontlike vetmestingsperiode en markbaarheid alvorens daar met sekerheid vasgestel kan word of vetmestingsmengsels in die verkorrelde vorm meer ekonomies as die meelvorm is. Indien 'n vetmestingsperiode van ag weke gebruik word is dit egter duidelik dat ‘n aansienlike hoeveelheid voer verkorrel moet word alvorens die verkorreling van vetmestingsmengsels meer ekonomies as die verskaffing daarvan in die meelvorm word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 46 (11)