Last update: April 12, 2012 08:41:36 AM E-mail Print

 

Geskikte dipbak om verlammingsbosluis te bestry

Van Rensburg S & Silcock E  

 

BYGAANDE skets gee 'n idee van die vereniging van 'n gewone sirkelvormige dipbak vir skape met 'n vlak dip, wat deur mnr. P. J. van Niekerk ontwerp en gebou is op sy plaas Modderfontein, in die Distrik Graaff-Reinet, skryf mnre. S. van Rensburg, Goewerments Veearts, en E. Silcock, Werktuigkundige Instrukteur, Grootfonteinse Landbouskool, Middelburg, Kaap.

Die verliese wat jaarliks met skape gely word deur die verlammingsbosluis het eintlik aanleiding gegee tot die bou van hierdie dippe, daar dit reeds vroeër geblyk het, dat die enigste manier waarop die boer die bosluis met sukses kan bestry is om te dip. Daar die bosluis egter alleen gedurende die wintermaande voorkom, wanneer dit koud is en die wol lang is, is die meeste boere natuurlik tee op algehele onderdompeling van skape in 'n gewone dipbak gedurende die winter.

Die verlammingsbosluis word feitlik altyd net aan die pote, die pens en onder aan die nek van skape aangetref, en met die oog hierop is die vlak dip in die laaste drie seisoene op die proef gestel, en die resultate was so bevredigend, dat baie boere in streke, wat met bosluise besmet is, nou die dip gebou het.

 

 

'n Boer wat in 'n besmette gebied woon en voornemens is om 'n gewone dipbak te bou, sal verstandig handel as hy ook die vlak dip insluit, daar dit met baie min ekstra koste gebou kan word. Waar eersgenoemde reeds bestaan, kan die vlak dip of in aansluiting daarmee, of apart gebou word.

Die plek wat uitgekies word om die dipbakke te bou moet teen 'n helling wees, daar die mengbak (A) hoër moet lê as die twee dipbakke. Laer af kan daar dan ook 'n bak gebou word om die dipstof uit die dipbakke in af te voer. Dit moet omhein word en ontoeganklik wees vir die vee om vergiftiging te voorkom.

Om die verlammingsbosluis te vernietig moet die aangemaakte dip in die vlak dip op 'n hoogte van sowat 16 duim staan; wat net hoog genoeg is om die pens van die skaap te bereik. Dit sal ongeveer 500 gellings wees.

Nog 250 gellings word in die mengbak (A) aangemaak. Dit moet aanhoudend geroer word. Terwyl daar gedip word, word juiste hoogte in die vlak dip onderhou deur die kraan tussen (A) en (B) te open sodat daar 'n gestadige toevloei uit (A) na (B) is.

As skape nie daaraan gewoon is om deur die vlak dip te gaan nie, mag dit nodig wees om dwang uit te oefen. Dit geskied deur 'n man te plaas aan die end van die gang op die rand van die dipbak, wat hulle daarin forseer.

Sommige mense mag 36 voet te lang dink van hierdie dip, maar as dit korter is, is die skape geneig om met ‘n paar spronge deur die bak te kom in plaas van daardeur te loop, en gevolglik sal die gewenste uitwerking nie verkry word nie.

Om die doeltreffendheid en goedkoopheid van hierdie metode van dip te doen sien, kan 'n mens nie beter doen as om mnr. Van Niekerk se ondervinding te vermeld nie. Hy gebruik natrium arseniet: 2 lb. op 100 gellings water, d.w.s. 15 lb. natrium arseniet om 500 gellings aan te maak in die dip en 250 gellings in die mengbak. Die prys van 15 lb. natrium arseniet is 6s. 3d. En hiermee dip hy 800 skape. Ander privaat soorte arsenikum-dipstowwe kan ook met dieselfde of selfs met nog beter resultate gebruik word, Maar die sal natuurlik wat duurder te staan kom.

Gedurende die 1924-seisoen het mnr. Van Niekerk sowat 300 skape verloor. Gedurende 1926 (wat kenlik 'n baie slegter seisoen as 1924 was wat verlammingsbosluise betref) het hy slegs 60 skape verloor, en dit in die begin van die seisoen toe die vlak dip nog nie klaar was nie, en teen die einde van die seisoen, toe die bosluise skielik weer voorgekom het, nadat daar vir 'n tydlank reeds nie meer gedip is nie.

Hoewel die vlak dip aanvanklik bestemd was om die verlammingsbosluis te bestry, beantwoord dit ook baie goed vir ander bosluise aan skape, soos die bontpootbosluis wat dikwels klouseer veroorsaak, en daarom kan die vlak dip beskou word as van groot waarde op elke plaas waar met skape geboer word en wat met bosluise besmet is.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 3