Last update: April 11, 2012 08:18:38 AM E-mail Print

 

Die Vermeerbosvraagstuk

Die Posisie in die Kalkveld van die Kaapse Plato

J. P. H. Acocks

 

IN teenstelling met slangkop is vermeerbos (Geigeria passerinoides, Harv.), nie 'n gif met 'n vinnige uitwerking nie, maar dit gaar in die dier se liggaam op. Bowendien tas dit die senuwees aan, sodat die bestandheid van die dier teen die gif nie soveel van sy kondisie afhang as wat moontlik gedink kan word nie. Daar kan verwag word dat as 'n skaap sewe of agt pond (of 'n koei dertig pond) groen vermeerbos gevreet het, al was dit saam met ander voer, dit tekens van vergiftiging sal toon, ongeag die feit of dit drie of dertig dae op veld wat met vermeerbos besmet is, gewei het. Dit is om hierdie rede dat metodes wat gedurende gemiddelde jare 'n sukses is, faal wanneer tye werklik sleg is. Dit kom eenvoudig daarop neer dat vee nie vrye toegang moet hê na veld wat straf besmet is nie. Maar hoe kan 'n mens dit bewerkstellig?

 

Beheer van vee

In die geval van plase wat nie in kampe verdeel is nie en sê 2,000 of 3,000 morge beslaan, sal gevind word dat vermeerbos binne 'n straal van een tot anderhalf myl om die kraal en suipplek groei, en dat die meer afgeleë dele van die plaas min of meer skoon bly. As die skape dan in 'n trop gehou word en net langs bepaalde paaie (wat gou skoongetrap sal wees) reguit na die veld gejaag word sonder dat hulle kans kry om in die oggend na die vermeerbos toe te peil en hulle dik te vreet, sal die moontlikheid dat hulle agt pond sal vreet baie kleiner wees, veral as hulle langs dieselfde paaie terug geja word. Die gevaar bestaan daarin dat daar by hulle 'n lus vir vermeerbos ontwikkel en dat hulle dit sal uitsoek. Gevolglik moet 'n verantwoordelike intelligente persoon met sulke tye die trop oppas. Dit word natuurlik aangeneem dat daar terselfdertyd iets gedoen sal word om te voorkom dat die hele plaas uitgetrap en besmet word.

As die plaas met jakkalsdraad omhein en in kampe verdeel is, kan die skape na buitekampe verwyder word; as die kampe egter gemaak is sonder dat daar met die verbreiding van vermeerbos rekening gehou is, kan dit selfs nodig wees om die wagter- en kraalstelsel weer voorlopig in te voer weens die lus vir vermeerbos wat daar by die vee ontwikkel.

Is strafbesmette kampe daarenteen klein, kan vermeerbos moontlik is bedwang gehou word deur strawwe beweiding. Boere wat hierdie metode aangewend het, beveel aan dat tot 6 skape per morg vir kort tydperke aangehou moet word, en beweer dat die veld nie daaronder ly nie. Om hierdie metode in die geval van groot kampe toe te pas, sal soms die medewerking van verskeie boere vereis. As die metode behoorlik toegepas word, is daar geen gevaar aan verbonde nie, want daar sal so baie skape in die kampe wees dat hulle nie almal van die vermeerbos te vreet sal kry nie. Klaarblyklik kan hulle egter nie te lank in die kampe gehou word nie, want anders sal hulle die veld heeltemal vernietig. Dit sal ook nodig wees om hulle vir 'n paar weke daarna op skoon veld of lande te hou of in die kraal te voer, alvorens hulle weer vir bestrydingsdoeleindes te gebruik.

 

Bestryding met die Hand

Terwyl vermeerbos afgevreet word, moet die ergste kolle op die plaas met die hand uitgeroei word. Die rede hiervoor is dat die Kaapse plato so met vermeerbossaad vervuil is dat dit nie help om enkele bosse uit te trek nie, tensy 'n mens bereid is om die werk jaar na jaar te herhaal.

Daar moet ook onthou word dat die onkruid dikker as ooit sal opkom indien daar binne die volgende tien jaar swaar reëns in die vroeë lente val, en ofskoon so 'n verskynsel baie ontmoedigend is en hoë bestrydingskoste meebring, is dit nogtans 'n vraagstuk waarmee rekening gehou moet word.

Daar moet egter op gewys word dat dit nie nodig is om alle vermeerbos uit te trek solank as die plante nog groen is nie, want hulle bly nog in die grond staan nadat hulle doodgegaan het en al die saad val nie meteens af nie, maar slegs 'n bietjie wanneer dit baie reent. Ook word die dooie plante maklik aan hul besondere voorkoms geken. 'n Mens kan vermeerbos dus dwarsdeur die winter en lente uitroei sonder dat daar enige saad hoegenaamd versprei, veral as vee weggehou kan word ten einde te voorkom dat hulle enige planthofies afbreek. L.W.-Hierdie dooie plante wat met saad gevul is, moet sorgvuldig versamel en verbrand word.

Die Skaapboer se vernaamste moeilikhede. Vanuit die oogpunt van die skaapboer is die vernaamste moeilikhede op die Kaapse plato die volgende: Die gras is van natuur hoog en suur; dit groei vir drie maande in die somer baie vinnig en word dan vir die wintermaande feitlik waardeloos as gevolg van die feit dat dit doodryp, terwyl dit in die lente stadig mag begin groei of glad nie. Weens die voerbossies is dit onprakties om die veld te brand ofskoon die gras as gevolg van maktrap verbeter is, is die veld vir giftige onkruid oopgestel. Die klipperige geaardheid van die veld gepaard met die onsekere reënval beperk die produksie van hooi en kuilvoer as reserwes teen droogte en vermeersiekte, ofskoon die opbou van sulke reserwes nie heeltemal buite die kwessie is nie soos sekere boere met ondernemingsgees bewys het, en baie groter gebruik kan van hierdie reserwes gemaak word as op die oomblik die geval is. Dit is makliker om mielies vir kuilvoer te verbou as om dit vir graan te laat ryp word, selfs al sou dit nie kuilvoer van dieselfde standaard wees as wat op goeie grond in streke met 'n hoë reënval geproduseer word nie.

Daar is geen middel bekend teen vermeersiekte nie - al wat gedoen kan word is om die vee 'n tyd lank van die vermeerbosveld te verwyder. Bowendien is die vermeerbosvraagstuk uiters verbreid en ingewikkeld en kan daar in so 'n kort artikel net 'n paar punte aangeroer word.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 15