Last update: April 4, 2012 07:24:15 AM E-mail Print

 

UITWERKING VAN DIE VEEVERMINDERINGSKEMA IN DIE KAROO

CR Baard

 

SELDE TEVORE het 'n finansiële hulpskema so 'n beroering in die geledere van die Karooboere veroorsaak as die aankondiging van die nou alombekende Veeverminderingskema op 1 Oktober 1969 nie.

Die voordele wat hierdie Skema aan die boer sou bied, is deur baie van die bewaringsbewuste boere met ope arms ontvang en van gebruik gemaak. Ander het dit as 'n geleentheid gesien om - terwyl produktepryse op daardie stadium baie laag was - hul boerdery-inkomste aan te vul uit die vergoeding wat betaal word.

 

 

'n Sekere persentasie van die boere het die opofferings wat deur die ondernemer gemaak sou moes word as te ingrypend van aard beskou, terwyl daar ook die was wat aangevoer het dat so 'n Skema en die voorwaardes wat daaraan gekoppel is inbreuk sou maak op die demokratiese regte van die boer.

Voordat ons dus die resultate en die moontlike invloede van die Skema op die veeboerderybedryf in die Karoo bespreek, is dit wenslik om kortliks aan te dui watter faktore aanleiding gegee het tot die instelling van die Veeverminderingskema en wat die spesifieke doelstellings van die skema is.

Redes vir die instelling van die Veeverminderingskema moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat ons natuurlike weidings, ten spyte van alle bewaringspogings tot op hede, steeds besig is om teen 'n waarneembare tempo agteruit te gaan en dat landbouproduksie en -ontwikkeling in hierdie gebiede gevolglik benadeel word. Weidingsdeskundiges is van mening dat die agteruitgang van die veld hoofsaaklik toegeskryf moet word aan oorbeweiding sowel as die onoordeelkundige benutting van die veld.

Die vernaamste probleem waarmee ons dus hier te doen het, is die feit dat veeboerdery in die ekstensiewe skaapweistreke baie jare lank hoofsaaklik op maksimale ontginning eerder as die optimale benutting van die veld ingestel was.

Gesien teen hierdie agtergrond is die doel van die Veeverminderingskema om groter bestendigheid in die veeboerdery te bewerkstellig deur die drastiese vermindering van die veestapel en die oordeelkundige beweiding van die veld.

Streng gesproke kan maatreëls ter verbetering van die veld en die bestendiging van die boerdery op grondeienaars kragtens die Grondbewaringswet afgedwing word. Om goeie redes word hierdie afdwingbare maatreëls slegs in uitsonderlike gevalle toegepas en is daar as alternatief besluit om boere deur middel van 'n basiese vergoeding te oorreed om minder vee aan te hou en hul veld volgens 'n bepaalde veldspaarprogram te bewei.

Die Veeverminderingskema is gevolglik ingestel en van toepassing gemaak op die hele Karoostreek, dele van die Ooskaap- en Winterreën- en Oranje Vrystaatstreke sowel as in Suidwes-Afrika.

Vir die boer bied die Skema verskeie kort- en langtermyn-voordele - soos 'n gewaarborgde inkomste sonder die risiko van veeverliese en uitgawes op veevoer indien droogtetoestande sou intree. Die boer word in die geleentheid gestel om strenger seleksie van sy kudde toe te pas sodat hy slegs die beste oorhou.Hierdie uitskotdiere kan in 'n kontantbate omgesit word waarmee dringende finansiële verpligtings nagekom kan word of as handige neseier belê kan word.

Bowenal behoort sy veld so te verbeter dat hy met die kleiner en beter veekudde 'n verhoogde produksie per eenheid kan verwag.

 

Deelname aan die skema

Betreklike groot belangstelling is van die begin af in die Skema getoon, sodanig dat 7 000 boere in die genoemde landboustreke met die sluiting van aansoeke op 28 Februarie 1973 om deelname aansoek gedoen het. In totaal sou 25,4 miljoen hektaar veld by die deelname gebaat het.

Vergeleke met ander landboustreke was die belangstelling in die Karoostreek in daardie stadium nog veel groter. As gevolg van verdere toegewings wat gemaak is en die feit dat 'n groot getal van die ingeskrewe plase van eienaars verwissel het, het die situasie sedertdien aanmerklik verander.

Besonderhede van deelname aan Veeverminderingskerna in die Karoostreek tot op 28 Februarie 1974

 

Besonderhede van deelname

Getal gevalle

Getal KVE

Oppervlakte (ha)

Deelname op

28/02/1973

28/02/1974

 

3 442

2694

 

2 189 778

1 735 138

 

15 063 491

12 521 443

Algehele onttrekking

28/02/1973

28/02/1974

 

333

215

 

-

-

 

630 245

405 513

Uittredings tot

28/02/1974 vanweë:

1. Aansoeke teruggetrek

2. Voorwaardes oortree

3. Veranderinge van voorwaardes

4.Veldverbetering

5.Nuwe eienaars

 

 

309

11

312

6

110

 

 

185 916

7 888

180 049

5 817

74 970

 

 

828 387

47 590

1 319 989

37 680

308 402

Totaal vir uittredings

748

454 640

2 542 048

Aansoeke om vermeerdering van vee

192

54 934

 

 

As die besonderhede in die meegaande tabel met ander inligting vergelyk word, kan die volgende afleidings gemaak word:

 

EVALUASIE VAN RESULTATE

Hoewel dit in hierdie stadium gewaagd sou wees. Om definitiewe afleidings in verband met die resultate van die Skema te maak, kan sekere neigings reeds waargeneem word wat die boerdery-opset in die Karoo veral op vier terreine raak.

 

1. Invloed op die veld

Sedert 1972 is navorsers van die Streek besig om deur middel van plant- en foto-opnames by 480 medewerkers vas te stel wat die invloed van veevermindering en die toepassing van 'n veldbeheerstelsel op die veld sowel as die produksievermoë van die diere is.

Medewerkers in hierdie projek is so gekies dat die opnamepersele eweredig oor die Streek versprei is en daar gevolglik jaarliks inligting ten opsigte van die belangrikste veldtipes ingewin kan word. Die projek strek oor 'n periode van vyf jaar en val dus saam met die tydperk van deelname.

In die breë kom die projek daarop neer dat 'n kamp by elkeen van die 480 medewerkers so gekies word dat dit min of meer verteenwoordigend van die plantegroei in die omgewing is. Binne elkeen van hierdie kampe word drie opnamepersele van 50 x 90 meter groot uitgelê waarbinne daar jaarliks vir vyf jaar plantopnames van 500 punte elk gemaak word - in totaal dus 1 500 opnamepunte by elke deelnemer.

Die plantopnametegniek wat gebruik word, is bekend as die Iynpuntmetode wat 'n uitvloeisel is van die basiese punt-monstertegniek soos beskryf deur Tidmarsh en Havenga (1955) en wat met welslae deur weidingsnavorsers in die verlede gebruik is.

As gevolg van die belangrike rol wat visuele hulpmiddels in moderne voorligtingsmetodes speel en die waarde van foto's in die oorredingsproses, word daar gelyktydig met die plantopnames ook 'n kleurfoto van die plantegroei in elkeen van die drie opnamepersele geneem.

Daar word jaarliks by elke deelnemer drie kleurfoto's geneem wat met foto's van vorige jare vergelyk kan word om verskille in die plantegroei te illustreer.

Aangesien die resultate van slegs twee jaar in hierdie stadium beskikbaar is, kan geen noemenswaardige afleidings oor die basiese plantbedekking gemaak word nie. Plant- sowel as foto-opnames het egter reeds daartoe bygedra om 'n beter begrip van die algemene plantegroeipatroon van die vernaamste boerderygebiede in die Streek te vorm. Hierdie projek het ook tot gevolg dat boere groter belangstelling in die plantegroei as sodanig en weiveldbeheer in die algemeen openbaar.

Tot tyd en wyl daar meer betroubare data uit hierdie opnames beskikbaar raak, moet daar in 'n baie groot mate op mondelinge getuienis en persoonlike waarnemings staatgemaak word. Die volgende bemoedigende inligting is op hierdie wyse reeds ingewin:

 

Die volgende opmerkings is ook uit vorderingsverslae van voorligtingskantore gehaal:

 

 

2. Invloed van Skema op veestapel

Die totale getal kleinvee-eenhede wat volgens die neergelegde drakragte in die Karoo aangehou kan word, word op 10,5 miljoen bereken. Indien hierdie veegetal met een-derde verminder sou word, sou die veestapel waarmee daar in die Karoo met veiligheid geboer kon word op 7 miljoen te staan kom.

Volgens beskikbare syfers egter was daar in 1972/73 na berekening 9,5 miljoen stuks kleinvee in die Karoostreek, wat daarop dui dat die vermindering van die veestapel nog nie die gewenste vlak bereik het nie.

Sedert die Veeverminderingskema in werking gestel is, het daar beslis ook veranderings in die veeboerderypatroon plaasgevind. Veranderings wat waarneembaar was, was die oorskakeling van tradisionele Merinoboerdery na Dorpervleisskape, die veredelde boerbok en Karakoelskape. 'n Aansienlike mate van oorskakeling van kleinvee na vleisbeeste het ook voorgekom.

Hierdie proses van oorskakeling kan egter nie uitsluitend aan die invloed van deelname aan die Skema toegeskryf word nie, maar moet ook in 'n sin gesien word as "modegrille" in die boerdery as gevolg van 'n onsekere vraag na Merinowol op 'n bepaalde tydstip.

'n Aspek waaroor daar in hierdie stadium slegs gegis kan word, maar wat hopelik mettertyd met syfers gestaaf sal kan word, is 'n verwagte toename in die produksie en reproduksie van diere as gevolg van beter voedingstoestande wat met die verligting in weidingsdruk en die verpligte rus van 'n gedeelte van die veld teweeggebring word.

Die Streek is tans besig met 'n deeglike evaluasie van resultate wat deur die eerste groep van 460 deelnemers aan die Skema behaal is en wat eersdaags die vyfjaar-periode sal voltooi.

 

3. Ekonomiese implikasies van Skema

Met die aanvang van die Skema en die paar jaar daarna is die indruk verkry dat baie van die boere aan die Skema deelneem omdat die vergoeding wat deur die Staat betaal word gunstig vergelyk met die netto boerdery-inkomste wat per eenheid uit veeboerdery gerealiseer word. Hierdie vermoede word bevestig deur die feit dat 'n deelnemer vir die eerste 600 stuks kleinvee wat onttrek word, teen R3,00 per kleinvee-eenheid vergoed word, terwyl die gemiddelde netto boerdery-inkomste van lede van posrekordstudiegroep in die Karoo gedurende daardie jare nooit hoër as R3,00 per kleinvee-eenheid per jaar was nie.

In die huidige gunstige pryse van veeprodukte weet ons dat die omstandighede baie verander het, veral as in aanmerking geneem word dat die gemiddelde netto boerdery-inkomste van dieselfde studiegroeplede vir 1972/73 op R5,8 per kleinvee-eenheid te staan gekom het. Hierdie toename in boerdery-inkomste is sekerlik een van die hoofredes waarom daar so baie aansoeke vir uittrede uit die Skema en die vermeerdering van veegetalle in die jongste tyd ontvang word.

Vir baie kleinboere, waarvan daar nagenoeg 25 persent in die Karoo is, was die Skema 'n uitkoms aangesien hulle nou vir die eerste keer in baie jare kan bekostig om hul vee drasties te verminder en om veld te spaar.

'n Bale interessante feit wat na vore kom is dat van die 354 deelnemers wat hul plase in die Karoo algeheel onttrek het, 224 (63 persent) as kleinboere bestempel kan word.

In 'n opname wat onder hierdie boere onlangs gemaak is, is die volgende tendense gevind, naamlik dat:

 

Vir die Staat is die Veeverminderingskema 'n duur onderneming. Tot aan die einde van Maart 1974 is reeds R65 miljoen aan deelnemers uitbetaal. 'n Groot bedrag dus wat, soos die spreekwoordelike brood op die water gewerp word, met die hoop dat dit uiteindelik goeie vrugte sal afwerp.

 

4. Opvoedkundige waarde en maatskaplike implikasies van die Skema

Afgesien van die fisiese en finansiële voordele wat boere uit die Skema trek, het dit ook groot opvoedkundige waarde. Die vraag ontstaan soms juis of die opvoedkundige waarde van die Skema en die ondervinding wat daaruit geput word, nie miskien die grootste en blywendste voordele uiteindelik sal wees nie.

Deelname aan die Skema bied byvoorbeeld die geleentheid om die beginsels van optimale hulpbronbenutting op 'n baie treffende en praktiese wyse aan boere te demonstreer en tuis te bring. In hierdie opsig is daar reeds 'n baie groot gesindheidsverandering te bespeur. Die volgende aanhalings uit verslae van voorligtingskantore bevestig dit:

 

Hierdie gunstige opmerkings kan egter in 'n mate misleidend wees. Dit is belangrik om daarop te wys dat baie boere nog nie ten volle oortuig is van die voordele van bewaringsboerdery nie. Nog baie gevalle van foutiewe veldbestuur en ooreising van die natuurlike hulpbronne word aangetref. Sedert die instelling van die Bodembeskermingsdiens moes reeds 493 boere in die Karoostreek ernstig gemaan word oor die oortreding van een of meer bepalings van die Grondbewaringswet.

Deelname aan die Skema het ook sosiale en maatskaplike veranderings teweeggebring. Talle boere het as gevolg van hul deelname aan die Skema betrekkings plaaslik en in ander sentrums aanvaar wat meebring dat baie boeregesinne hul plase verlaat, elders gaan woon en hoogstens naweke terugkeer plaas toe. Skole, kerke, sport- en ander sosiale organisasies op die platteland word hierdeur swaar getref.

Opsommend kan ons dus se dat die Veeverminderingskema beslis 'n invloed op die veeboerderybedryf in die Karoo uitoefen en dat die boeregemeenskap finansieel sowel as sosiaal-maatskaplik daardeur geraak word. Maar geeneen van die probleme wat as gevolg van hierdie veranderings mag opduik, weeg op teen die geleenthede en voordele wat die Skema bied nie.

 

VERWYSINGS

ROUX, P W, 1970. Fotografiese veldopnametegniek. Pamflet.

TIDMARSH, C E M & HAVENGA, C; M, 1955. The wheel-point method of survey and measurement of semi-open grasslands and Karoo vegetation in S.A Bot. Survey of S.A. No 29. Govt. Print., Pretoria.

VAN DER WALT, J L, 1962 Ondersoek na 'n objektiewe metoda van plantopname in die Sneeubergreeka. M.Sc. Agric.-verhandeling. Univ. van Pretoria. 

 

Published

Boerderykeur