Last update: April 3, 2012 03:05:33 PM E-mail Print

 

SIEKTES VEROORSAAK DEUR SWAMME

 

deur E.M. VAN TONDER

Afdeling Veeartsenydiens

 

 

Daar is in hierdie land slegs een siektetoestand by skape wat deur swamme veroorsaak word en dit is die welbekende klontwol by skape. Klontwol is 'n oppervlakkige ontsteking van die vel wat deur 'n swam veroorsaak word gedurende klam vogtige toestande.

 

OORSAAK EN VERSPREIDING

Die toestand by skape word veroorsaak deur die swam Dermatophilus congolensis. Die spore van die swam kom wydverspreid in die natuur voor, en stowwerige vuil krale, dipbakke ens. is dikwels bronne van besmetting. Die spore kan ook normaalweg in die vag en op die vel van oënskynlik gesonde skape voorkom sonder dat siektetekens opgemerk word.

Gedurende nat en warm toestande waar die wol vir lang tye deurweek is, en waar warm broeiende of sonnige toestande aanhoudend of afwisselend voorkom, ontkiem die spore en vermenigvuldig die swamme baie vinnig op die vel en tussen die wol van die dier. Die swamme leef op die uitskeidings van die vel en veroorsaak 'n irritasie wat aanleiding gee tot die uitskeiding van 'n taai sug of vog, wat dan die wol aanmekaar laat koek.

 

SIEKTETEKENS

Aanvanklik is daar nie veel sigbare tekens nie, maar aanhoudende irritasie en die taai afskeiding veroorsaak dat die wolvesels aanmekaar koek en klonte in die vag vorm. By die meer algemene chroniese vorm is die letsels hoofsaaklik op die rug van aangetaste skape waarneembaar en het die klonte 'n piramiedagtige voorkoms. Die klonte is baie hard en hol van binne. Wanneer dit afgetrek word kom die oppervlakkige vellae saam sodat ‘n rou oppervlakkige seer ontstaan. By jong Merinolammers is die afgelope nat seisoen is akute vorm van die siekte opgemerk waar die hele lyf bedek was met kleiner klontjies met skerp krapperige punte. Die hele vel of vag het hard gevoel by aanraking en diep krake wat in sommige gevalle gebloei het, het by hantering en selfs spontaan ontstaan.

 

DIAGNOSE, BEHANDELING EN ADVIES

Die diagnose van die probleem lewer normaalweg nie probleme nie, ofskoon dit van besmette steekgraswonde onderskei moet word.

Wat behandeling betref kan erg aangetaste lammers met penisillien en streptomisien gespuit word. ‘n Veearts moet dus geraadpleeg word vir die nodige voorskrifte.

Aangetaste diere moet afgesonder en na gelang van die graad van aantasting individueel gedip word. Daar moet veral seker gemaak word dat die middels deurdring tot op die vel. Middels wat aanbeveel word sluit in kwaternêre ammoniumpreparate, aluin, sink- en kopersulfaat. Voorskrifte ten opsigte van die sterktes kan by die naaste veearts verkry word.

Hierdie dipmiddels kan ook op voorbehoedende basis gebruik word, terwyl koper- en sinksulfaat ook saam met ‘n gewone dipmengsel gebruik kan word.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie E 11/1975