Last update: March 27, 2012 11:34:49 AM E-mail Print

 

Die verteerbaarheid van drie Atriplex spesies

 

P G Marais

Diereproduksienavorsing

Landboukollege Grootfontein

Privaatsak X529

Middelburg Kaap

5900

 

INLEIDING

In sy geheel gesien, kan die Karoostreek as 'n ekstensiewe weistreek waar kleinveeboerdery die belangrikste bron van inkomste is, beskou word. Die natuurlike weidings is dus die primêre, goedkoopste en feitlik die enigste bron van veevoeding wat deur die boerderybedryf aangewend kan word. Die inskakeling van droogtevoergewasse in die boerderystelsel sal tot 'n groot mate die weidingsdruk op kritieke tye aansienlik kan verlig en sodoende die natuurlike weidings beskerm.

Ter aanwending van Atriplex spesies (soutbos) by die inskakeling as droogtevoergewasse is dit van kardinale belang om die inname en verteerbaarheid van die beskikbare spesies te evalueer, ten einde die mees voortreflike spesie te identifiseer.

Die doel van hierdie proef was om die vrywillige voerinname en verteerbaarheid van drie  Atriplex spesies met behulp van skape te bepaal.

 

PROEFPROSEDURE

Hierdie proef is aan die Landboukollege Grootfontein onder ingekraalde toestande uitgevoer.

Agtien Merinohamels was ewekansig in drie groepe verdeel. Elke groep skape het 'n spesifieke Atriplex spesie, naamlik A. nummularia, A. canescens en A. lentiformis ontvang. In die eerste gedeelte van die proef was die plantmateriaal, vanaf die drie spesies, in die varsvorm (stingels en blare) aan die onderskeie groepe gevoer. Die tweede gedeelte het bestaan uit die voer van gedroogde plantmateriaal (stingels en blare) wat gemaal en in die meelvorm verskaf is. Hierdie plantmateriaal is vanaf plante wat tussen ses en agt jaar oud is, verkry.

 

RESULTATE EN BESPREKING

In Tabel 1 verskyn die skeikundige samestelling, verteerbaarheid en inname-syfers van die drie onderskeie Atriplex spesies soos in die varsvorm bepaal. Hiervolgens is dit duidelik dat die gemiddelde skeikundige samestelling aansienlik tussen spesies verskil. Die ruproteïen-inhoud verskil betekenisvol (P < 0,01) tussen spesies en varieer tussen 8,4 en 12,8% vir A. canescens en A. nummularia onderskeidelik. Hierdie waardes verskil aansienlik van die waardes van 17,6 en 22,3% wat deur Smith & Jacobs (1978) vir A. canescens en A. nummularia onderskeidelik gerapporteer word. Hierdie verskille is waarskynlik die gevolg van verskille in klimaatstoestande, die metode van monsterneming en selfs ook genetiese verskille binne die spesie.

 

 

Ten opsigte van die verteerbaarhede van organiese materiaal en droë materiaal is die waardes van A. nummularia deurgaans betekenisvol hoër (P < 0,01) as die van die ander twee spesies. Betreffende die droë materiaal inname per metaboliese grootte word die inname van A. nummularia deur die van A. lentiformis oorskadu. Ten spyte hiervan toon 'n vergeIyking tussen spesies aan dat A. nummularia 'n hoër voedingswaarde het. Met 'n verteerbare organiese materiaal.inname van 94 g DM/W0.75 verskaf hierdie spesie meet as 'n onderhoudsrantsoen aan diere. Hierdie gevolgtrekking word gestaaf deur die werk van Bonsma & Mare (1942) wat rapporteer dat skape na elke weiseisoen 'n massatoename van 0,9 tot 3,18 kg gehad het. Daar moet egter gelet word dat die inname en samestelling van die dieet heel waarskynlik kan verskil wanneer diere 'n vrye keuse tot dieetseleksie gegun word.

In die breë gesien toon die skeikundige samestelling en voedingswaarde van die onderskeie Atriplex spesies in die meelvorm dieselfde tendense as die van die varsvorm (Tabel 2).

 

 

Opmerklik egter is dat die ruproteïeninhoud van die meel hoër is as die van die varsvorm, terwyl daar 'n omgekeerde tendens ten opsigte van die verteerbaarheid van organiese en droë materiaal en ruproteïen bestaan. Die verteerbare ruproteïeninhoud van die gedroogde materiaal is in sommige gevalle aansienlik hoër as die in die varsvorm. Die droë materiaal inname van die gedroogde materiaal varieer tussen 73 en 90 g DM/W0.75 en is laer as die van die varsvorm. Hierdie droë materiaal innames is aansienlik hoër as die innames van Atriplex spesies wat in die literatuur aangetref word, derhalwe wil dit voorkom asof daar nie 'n inname-probleem ten opsigte van Atriplex spesies, soos dit vroeër vermoed was, bestaan nie. Inteendeel, dit vergelyk baie gunstig met innames van ongeveer 47 g DM/W0.75 wat 'n algemene syfer vir skape en bokke op natuurlike Karooweidings is.

Indien die onderhoudsbehoeftes van 'n 32 kg skaap op 7,26 MJ verteerbare energie (VE) gestel word (Jacobs & de Wet, 1977) kan die Atriplex-rantsoene in hierdie proef aan 77 tot 97% van die onderhoudsbehoeftes voldoen. Wat hierdie bevinding egter merkwaardig maak, is dat die materiaal wat gebruik is, afkomstig is van plante wat ses jaar gelede geoes was. Dit word algemeen aanvaar dat wanneer plante tussen een- en tweejaarliks geoes word, 'n baie meer voedsame materiaal verkry sal word. Gedroogde Atriplex materiaal van goeie gehalte behoort dus 'n onderhoudsrantsoen en selfs meer te kan voorsien.

Die laer innames wat deur ander navorsers verkry word (Wilson, 1966; Wilson, Leigh & Mulhaus, 1969), kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die diere nie 'n vrye keuse gehad het om plantdele te selekteer nie.

 

GEVOLGTREKKING

Dit is duidelik dat A. nummularia beter in die voedingsbehoeftes van skape voorsien. Verder wil dit voorkom asof hierdie drie spesies daartoe in staat is om aan die onderhoudsbehoeftes van diere te kan voldoen, mits die spesies binne 'n tydperk van twee jaar bewei of geoes word.

 

VERWYSINGS

BONSMA H C & MARé G S, 1942. Turksvye en Oumansoutbos as voer vir skape. Dept. van Landbou en Bosbou. Pamflet nommer 236.

JACOBS G A & DE WET P J, 1977. Optimum massa. verlies tydens langdurige droogtes. Agroanimalia 9,37.

SMITH C J & JACOBS G A, 1978. Skeikundige samestelling van vier Atriplex-spesies. Agroanimalia 10,1.

WILSON A D, 1966. The value of Atriplex (Saltbush) and Kochia (Bluebush) species as food for sheep. Australian Journal of Agricultural Research 17, 147.

WILSON A D, LEIGH J H & MULHAUS WE, 1969. A study of Merino sheep grazing a Bladder Saltbush (A. vesicoria) and Cotton bush (Kochia aphylla). Australian Journal of Agricultural Research 20,1123.

 

Published

Karoo Agric 3 (6), 3-5