Last update: April 11, 2012 12:32:09 PM E-mail Print

 

Stel Vertroue in die Merino

GS Maré

 

DIE bevredigende en lonende pryse wat veral gedurende Desember en Januarie van die vorige seisoen vir wol behaal is, was ongelukkig slegs van 'n tydelike aard. Gedurende die huidige seisoen was die mark teleurstellend vir die produsent, want slegs in enkele gevalle is wol teen 1s. per pond verkoop.

Die hoop wat na verskeie jare van strawwe depressie herleef net, word nou weer gedemp. Nogtans het die wolboer die troos dat daar 'n wêreldaanvraag vir sy produk bestaan, en dat dit in ope konkurrensie op die wêreldmarke maklik verkoop. Daar is geen teken van oorproduksie of 'n groot ophoping van voorrade nie.

Onder sulke beproewende omstandighede is daar altyd sommige persone wat vertroue verloor in die onderneming waaruit hulle hul bestaan maak; maar in plaas van al hul kragte en aandag aan hul besigheid te bestee en te probeer om die inkomste met die uitgawes te laat klop, verwaarloos wolboere hul Merinokuddes en pas teeltstelsels toe wat nie net vir hulself nadelig kan wees nie, dog ook vir die Merino-nywerheid as 'n geheel.

Blykbaar is daar 'n verkeerde opvatting by sekere skaapboere wat betref kruisteling en die voordele daarvan. Dit lyk of baie dink dat hulle maar net hul Merino-ooie kan paar met ramme van enige beskikbare of ingevoerde ras en dat die moeilikhede in verband met die grootmaak van lammers opgelos sal wees, en dat groot winste vanself sal volg. In sulke gevalle word die ou gesegde dat helfte van die teling by die voeding lê vergeet. Verder moet onthou word dat, aangesien 'n kruisteeltdier groeikragtiger is en vinniger uitgroei, dit baie meer vereis as diere van 'n suiwer ras. In meeste gevalle kan dit aangeneem word dat as 'n boer moeilikhede met die grootmaak van Merino-lammers ondervind, hy voor dieselfde moeilikhede te staan sal kom met sy kruisteeltonderneming.

Hier word gewaarsku teen die onoordeelkundige uitkruising van die Merino. Onberekenbare skade kan miskien die bedryf berokken word deur die swarthaarfaktor in die wit vlies van die Merino in te bring as gevolg van die gebruik van ramme van Britse swartgesig-rasse, Swartkop-Persies of bastertipes. As sulke ramme gebruik word, moet dit 'n vasstaande beginsel wees dat alle eerste kruislammers, ram- sowel as ooilammers, verkoop moet word. Onder geen omstandighede hoegenaamd moet die ooilammers uit sulke kruisings weer met Merino's gepaar word met die doel om die kudde weer op te kruis na die Merino nie. Behalwe die genoemde gevaar, vereis so 'n teeltstelsel ook baie geduld en duur dit baie geslagte voordat die skape weer as suiwer beskou kan word.

In verreweg die meeste gevalle hoef Merinotelers nie eers te dink aan kruisteling nie, en behoort al hul aandag te gee aan die verbetering van hul kuddes en die handhawing van die standaard van volmaaktheid wat reeds bereik is. Teling en voer gaan hand in hand, en die goeie teler bestudeer die behoeftes van sy kuddes, vul aan wat nie deur die natuurlike weivelde verskaf kan word nie, en waak overal ywerig teen die gevaar van te veel vee op sy plaas aan te hou. Hy teel die tipe van dier wat die beste onder sy bepaalde klimaats- en weiveldtoestande sal aard, versorg dit en sien toe dat dit sy maksimum produseer.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 10