Last update: March 30, 2012 03:10:22 PM E-mail Print

 

BAKTERIESE SIEKTES BY VLEISSKAPE: KAASAGTIGE LIMFKLIERONTSTEKING EN VERWANTE SIEKTES

 

deur E.M. VAN TONDER

Afdeling Veeartsenydiens

 

 

KAASAGTIGE LIMFKLIERONTSTEKING

Hierdie besmetting by skape word gekenmerk deur verswering van die limfkliere of absesse op enige plek op die liggaam of in die inwendige organe.

 

Oorsaak en verspreiding

Die siekte word veroorsaak deur die kiem Corynebacterium pseudotuberculosis (Corynebacterium ovis, ook genoem Preisz-Nocard-bakterium). Die organisme dring die liggaam gewoonlik deur wonde binne en veroorsaak lokale absesse of versprei na die naaste en selfs ander limfkliere waar dit dan groot absesse vorm.

Wonde wat 'n groot rol speel by hierdie besmetting is kastrasie, stertafsit en selfs oormerkwonde, veral waar hierdie operasies in vuil stowwerige krale uitgevoer word, sonder behoorlike ontsmetting van instrumente en wonde. Die organisme kan lang tye in mis voortleef met die gevolg dat ou krale ideaal vir die opbou van die besmetting is.

Verder kan die organisme ook deur steekgras, dorings, bosluise en selfs entwonde die liggaam binnedring. Besmetting vind ook by daardie rasse wat wel geskeer word deur skeerwonde plaas. Verspreiding van die besmetting deur dipbakke, veral waar dipping kort na skeer geskied, kom algemeen voor.

 

Voor- en nadoodse tekens

Die mees algemene vorm van hierdie siekte word gekenmerk deur die vorming van absesse in die limfkliere voor die blad, in die boud en in die lieslap voor die boud. Die absesse ontwikkel stadig, word progressief groter en kan duidelik gevoel en dikwels gesien word. Die absesse kan aanvanklik redelik sag wees en gee maklik mee onder die hand, maar voel later hard. Soms bars hulle na buite oop en 'n taaierige geelgroen etter loop daaruit. In die vroeë stadia is die dier gewoonlik mank in die ledemaat waarvan die klier aangetas is. Soortgelyke absesse word ook in die limfkliere onder die ore, onder die kake, teen die nek, tussen die longe en in die lieskliere tussen die teelbalstringe van ramme of in die uierkliere van ooie aangetref. Verder kan onderhuidse absesse ook by die betrokke wond waar die organisme ingedring het, ontstaan.

Baie gevalle kom ook voor waar verswering in die gewrigte en peesskedes of absesse in die lewer, (bakteriese geelsug), die brein, rugmurg en longe gevorm word. In laasgenoemde geval bars die absesse gewoonlik in die borsholte oop en vorm borsvliesontsteking en aanhegtings (harslagsiekte). Aangetaste diere toon gewoonlik tekens van vinnige en dikwels chroniese vermaering en geforseerde asemhaling en word gou moeg wanneer hulle aangejaag word. Bakteriese geelsug word gekenmerk deur lusteloosheid, hoë koors en 'n ligte geel verkleuring van die sigbare slymvliese.

Die nadoodse tekens bestaan hoofsaaklik uit die absesse en verswerings oral in die liggaam. Die chroniese en geïsoleerde absesse is gewoonlik omring van 'n dik wand of laag littekenweefsel en bevat 'n ferm, kaasagtige, groengeel, korrelrige etter wat ringvormig soos 'n deurgesnyde ui vertoon. Afgesien van 'n ligte geelverkleurde karkas word bakteriese geelsug ook gekenmerk deur 'n geswolle, bras, geelgrys lewer wat klein absessies mag bevat en 'n geswolle milt.

 

Diagnose, behandeling en voorkoming

Die verskyning van absesse in die limfkliere en elders en die afskeiding van groengeel, kaasagtige etter is baie tipies.

Behandeling bestaan gewoonlik uit die dreinering van absesse en die behandeling van die absesholtes met 'n kiemdodende preparaat. Dikwels moet sulke absesse snykundig verwyder word.

In die longvorm kan sistemiese antibiotiese behandeling in die akute stadia toegepas word, maar in chroniese gevalle is daar weinig wat gedoen kan word. Voorkoming is van die uiterste belang by hierdie besmetting.

Die gereelde toepassing van behoorlike higiëne is 'n uiters doeltreffende en praktiese met ode om hierdie siekte te beheer. Nougesette uitvoering van higiëniese maatreëls in die skeerhok of tydens ander plaasbedrywighede kan binne die bestek van 2 jaar die voorkoms van die siekte op 'n eiendom uitskakel. Terselfdertyd moet aangetaste diere geïsoleer en behandel word totdat hulle gesond is, voordat hulle teruggeplaas word by die trop. Hopelose gevalle moet liefs vernietig word.

Entstof teen Corynebacterium pseudotuberculosis (Corynebacterium ovis) is beskikbaar en skape kan op die ouderdom van 2 weke of ouer daarmee geënt word. Die eerste keer wat diere geënt word, moet die entstof twee keer met 'n tussenpoos van 4 weke toegedien word. Die weerstand duur ongelukkig slegs sowat 2 tot 3 maande en diere moet dus kort voor vermoedelike blootstelling weer geïmmuniseer word.

 

CORYNEBACTERIUM PYOGENES-BESMETTING

Hierdie kiem wat vryelik in die natuur voorkom, is ook verantwoordelik vir 'n verskeidenheid verswerings en verspreide absesse in die liggame van skape. Die toestande behels mastitis (uierontsteking), etterige longontsteking, absesse oor die hele liggaam (uitgesonderd die limfkliere) en ander toestande soos gewrigs-, brein- en rugmurgontsteking.

Aangesien ook ander organismes by mastitis betrokke is, sal dit apart behandel word en sal hier slegs na die ander toestande verwys word.

 

Oorsaak en verspreiding

Daar is reeds genoem dat die organisme vryelik in die natuur voorkom. In die gevalle van die genoemde toestande, met uitsondering van mastitis, vind besmetting deur middel van wonde plaas. 'n Verskeidenheid wonde soos skeer-, kastrasie-, stertafsit-, oormerk-, bosluis-, steekgras- en doringwonde word gewoonlik deur hierdie kieme binnegedring, en besmetting kan ook deur die naelstring plaasvind.

 

Voor- en nadoodse tekens

Die absesse, wat oral kan voorkom, bevat gewoonlik 'n geelgroen, vloeibare etter.

In geval van etterige longontsteking word simptome soos lusteloosheid, hoe koors, vinnige asemhaling, hoesbuie en neusloop waargeneem. Die dood tree gewoonlik binne enkele dae in. Die toestand, wat ook as harslagsiekte bekend staan, word by nadoodse ondersoek daardeur gekenmerk dat die longe uitgebreide harde, donkerrooi areas met afwisselende anyswit etterige dele vertoon. Daar is ook dikwels kleiner of groter holtes met geelgroen, vloeibare etter. Dikwels is die borsholte ook aangetas en toon 'n etterige inflammasie met vasgroeiing van die longe (borsvliesontsteking).

Ander simptome varieer streng volgens die betrokke toestand. So sal senuweesimptome soos bewerasie, waggelende gang, gedeeltelike of algehele verlamming, styfheid, ens. volg op brein- of rugmurgontsteking, terwyl mankheid en geswolle, pynlike ledemate weer gewrigsontsteking sal aandui.

 

Diagnose, behandeling en voorkoming

Die besmetting kan alleenlik deur laboratoriumondersoeke bevestig word. Wanneer sulke probleme opduik, moet daar onmiddellik met die naaste veearts geskakel word, sodat behoorlike monsters geneem en 'n diagnose gemaak kan word en behandeling wat volgens die betrokke besmetting sal varieer, waar moontlik toegepas kan word.

Voorkoming hang hoofsaaklik af van behoorlike higiëne t.o.v. skeer en ander bedrywighede, soos reeds voorheen bespreek.

Daar is ook 'n entstof beskikbaar wat veral op probleemplase aanbeveel kan word. Die immuniteit duur egter nie baie lank nie (± 3 maande) en daarom moet enting sover moontlik goed beplan wees en sowat 4 tot 6 weke voor verwagte moontlike blootstelling toegedien word.

 

PASTEURELLOSE

Dit is 'n sporadiese, dodelike siekte wat deur Pasteurella-organismes veroorsaak word.

Twee Pasteurella-stamme, nl. Pasteurella haemolytica en Pasteurella multocida, is verantwoordelik vir die toestand wat as Pasteurellose beskryf word. Daar is tans sowat 12 tipes Pasteurella haemolytica en vier tipes Pasteurella multocida bekend.

Die organismes kom normaalweg in die asemhalingsorgane van gesonde diere voor. Onder sekere omstandighede word hulle egter kwaadaardig en veroorsaak dan die siekte en dood. Waarom die kieme net onder bepaalde omstandighede die siekte veroorsaak, is nie bekend nie, maar dit is wel bekend dat dit veral onder diere in 'n swak kondisie of diere wat aan spanningstoestande blootgestel is, aangetref word. Spanningstoestande behels klimaatskommelinge soos. koue,  reën en droogte, en uitputting deur aanjaag of vervoer in warm, swak deurlugte trokke oor lang afstande. Verstikking as gevolg van doserings of swaar wurmbesmettings, veral longwurmbesmetting, kan ook hierdie siekte aanbring.

 

Voor- en nadoodse tekens

Jong lammers is die vatbaarste en 'n hoë persentasie vrektes kan onder hulle voorkom. Die toestande wat deur die organismes veroorsaak word sluit longontsteking, lewerontsteking (bakteriese geelsug) en blou-uier in. Aangesien laasgenoemde apart behandel word, sal slegs die simptome van die ander toestande bespreek word.

Van die ander twee toestande kom longontsteking die algemeenste voor en aangetaste diere word gekenmerk deur lusteloosheid, hoë koors en moeilike en gejaagde asemhaling wat dikwels gepaard gaan met hyging en hoesbuie.

Bakteriese geelsug word gekenmerk deur skielike vrektes en die siek diere is koorsig en die sigbare slymvliese het 'n ligte bleekgeel voorkoms.

By nadoodse ondersoek word daar verskeie grade van long- en dikwels ook borsvliesontsteking gevind. Die longe toon kleinere of grotere areas wat solied of hard voel met afwisselende donkerrooi en grys verkleuring. Bloeding op die binne- en buite-oppervlakke van die hart en donkerrooi slymvliese in die neusgange word ook gevind.

Afgesien van die algemene liggeel verkleurde voorkoms van karkasse, veroorsaak bakteriese geelsug ook 'n geswolle, bras, geelgrys lewer en 'n vergrote milt.

 

Diagnose, behandeling en voorkoming

Die diagnose van longontsteking kan redelik maklik na aanleiding van die simptome en nadoodse tekens gemaak word, maar aangesien verskeie kieme betrokke kan wees, kan die werklike oorsaak slegs met behulp van 'n laboratoriumondersoek bepaal word. Die geelsugvorm kan ook met ander geelsugtoestande verwar word. Dit is dus noodsaaklik dat 'n veearts se hulp ingeroep word sodat 'n akkurate diagnose gemaak kan word en siek diere onmiddellik behandel kan word.

Daar is 'n uiters doeltreffende entstof wat beide die stamme bevat, beskikbaar. Aangesien dit egter nie al die tipes van Pasteurella haemolytica bevat nie, is dit des te noodsaakliker dat die spesifieke oorsaak en dus ook die spesifieke tipe organisme bepaal word by elke uitbreking, sodat 'n spesiale proefentstof berei kan word vir gevalle veroorsaak deur tipes van die stamme wat nie in die bestaande entstof is nie. Diere wat die eerste keer geënt word ontvang twee inspuitings met 'n tussenpoos van 4 weke en daarna een inspuiting elke 6 tot 12 maande. Skape kan vanaf die ouderdom van 2 weke en ouer gespuit word.

 

BLOU-UIER

Hoewel blou-uier eers slegs na die akute vorm van mastitis verwys het, word die term tans deurgaans gebruik om enige vorm van uier-ontsteking by skape aan te dui. Hierdie siektetoestand word in 'n toenemende mate by alle skaaprasse en veral by stoetskape aangetref.

 

Oorsake en verspreiding

Verskeie organismes kan by die probleem betrokke wees, nl. Staphylococcus aureus, Pasteurella haemolytica (verskeie tipes), Pasteurella multocida, Corynebacterium pseudotuberculosis, Corynebacterium pyogenes, Actinobacillus pignieresii, Actinobacillus seminis en moontlik ook Streptococcus spp. Die organismes verskil met betrekking tot die rol wat hulle speel van area tot area. In sommige dele is Staphylococcus aureus die belangrikste oorsaaklike organisme terwyl Pasteurella haemolytica in die Karoo en Oos-Kaapland belangriker is.

Dit is nie bekend wanneer hierdie organismes die uier binnedring nie. Ofskoon indringing in die meeste gevalle deur die speenkanaal geskied kort voor die verskyning van die simptome, kan baie van hierdie kieme blykbaar vir lang tye in die uierweefsel aanwesig wees voordat hulle, aangespoor deur stampe en kneusing van die uier, ontsteking veroorsaak.

 

Voor- en nadoodse tekens

By skape word mastitis gewoonlik in 'n baie akute en 'n minder akute vorm aangetref. Staphylococcus aureus veroorsaak gewoonlik die baie akute vorm wat onmiddellik na of binne die eerste week van lam voorkom. Pasteurella-organismes veroorsaak feitlik altyd die gevalle wat ongeveer 4 tot 8 weke na geboorte voorkom, en ofskoon hulle soms ook baie akuut is, soos in geval van Staphylococcus aureus, is die meeste gevalle egter 'n minder akute vorm.

Die tipiese akute vorm word gekenmerk deur skielike swelling van een of albei helftes van die uier wat warm en pynlik is en aanvanklik 'n ligrooi tot donkerrooi voorkoms het by wit of ligkleurige skape. Dit gaan ook gepaard met hoe koors, gebrek aan eetlus en vinnige asemhaling. Die lam bIêr aanhoudend en lyk dun en verhonger terwyl die ooi verseg dat hy drink. Die rooi kleur van die uier verander gou tot rooipers en uiteindelik blou of groenpers en word koud en gevoelloos. Indien die ooi bly lewe word die hele uier of 'n deel daarvan afgewerp, gevolg deur 'n breuk in die wol en afwerping van die vag.

Die minder akute vorm ontwikkel nie so vinnig nie, is ook pynlik en geswolle, maar toon nie die groenpers of bloupers kleurverandering nie en word nie afgewerp nie. In die gevalle is die aangetaste deel egter geneig om op 'n bepaalde plek na buite oop te breek of om uiteindelik te verhard.

Die inhoud van die uier wissel van 'n helder tot donkerrooi bloederige vloeistof in die meer akute gevalle, tot 'n taai etterige materiaal in die minder akute gevalle.

 

Diagnose, behandeling en voorkoming

'n Diagnose van die aard van die probleem is nie moeilik nie, maar aangesien soveel organismes betrokke is, kan die presiese oorsaak slegs met behulp van laboratoriumondersoeke bepaal word. Sulke gevalle moet dus na die naaste veearts geneem word sodat hy die nodige monsters kan neem, die veroorsakende organisme kan laat identifiseer en die nodige tussentydse behandeling kan voorskryf of toepas.

Daar is uitstekende entstowwe beskikbaar teen beide Pasteurella- en Staphylococcus aureus-besmettings. Dit is dus noodsaaklik om monsters te laat ondersoek, nie slegs om te bepaal watter organismes betrokke is nie, maar ook watter stam van Pasteurella haemolytica, indien dit die oorsaak is. Die rede is dat nie aIle stamme van hierdie organisme in die bestaande entstof is nie, en dat 'n spesiale entstof berei moet word wanneer die veroorsakende stam nie deur die entstof gedek word nie.

In beide gevalle word aanbeveel dat dragtige ooie wat vir die eerste keer geënt word, twee inspuitings met 'n tussenpoos van 4 tot 6 weke ontvang, gevolg deur 'n enkele skraagdosis elke 6 tot 12 maande.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie E8.2/1982.