Last update: April 10, 2012 10:19:11 AM E-mail Print

 

Produksie van Vetlammers

D. F. Badenhorst 

 

TEN einde 'n boerderystelsel te ontwikkel wat deur boere onder besproeiing gevolg kan word vir produksie van vetlammers in plaas van hoofsaaklik graan te produseer, is 'n proef op die Landboukollege uitgevoer. Met vetlammers kan 'n meer gebalanseerde en waarskynlik ook 'n meer ekonomiese stelsel van boerdery ontwerp word, want dit word gevoel dat daar altyd 'n goeie aanvraag na vleis van hoë kwaliteit sal wees.

Daar is van die standpunt uitgegaan dat veldweiding nie beskikbaar is nie en dat die skape uitsluitlik deur die produksie van voergewasse en hooi onderhou moet word.

Hierdie proef is uitgevoer op twee lande wat as Cemetery- en Hospitaalland bekend is. Die grond is rooi leem en kalkerig, met ‘n vaste kalk onderbank op 'n diepte van 10 tot 15 duim. Die grond is vir baie jare reeds onder besproeiing en jaargewasse is geproduseer. Die twee lande beslaan 'n oppervlakte van 71 morg en is verdeel in. 11 kampies van ⅔ morg elk.

Aan die begin is ses kampies met lusern gesaai terwyl die res onder wintergraan gekom het. Jaarliks word een lusernkamp omgeploeg en met wintergraan gesaai en 'n ander kampie met lusern gesaai. Sodoende word 'n lusern-wintergraanrotasie gevolg om grondvrugbaarheid te verbeter. Gedurende die somermaande is op die wintergraanlande kontant gewasse soos aartappels en boontjies verbou omdat hierdie gewasse feitlik die enigste is waarvan die produksieseisoen (onder Karootoestande) kort genoeg is om in die hele stelsel in te pas.

Die ooie wat vir die produksie van lammers gebruik is, was halfkruise van die volgende tipes : Dorset Rom x Merino, Border Leicester x Merino en Romney Marsh x Merino. Later is ook halfkruis-ooie van die volgende tipes bygevoeg: Duitse Merino x Merino en Corriedale x Merino. Die ramme wat gebruik is, was suiwer Southdown,¾-slag Southdown x Merino en ¾-slag Southdown x Swartkop Persie.

Die maksimum aantal ooie wat op die eenheid aangehou kan word is 80. Die aantal lammers wat jaarliks grootgemaak kon word, het van 57 tot 108 gewissel.

 

Resultate

(a) Inkomste en Uitgawe.-Hierdie proef is teen die einde van 1943 begin en sedertdien is alle gegewens tot einde 1948 versamel toe die proef tydelik gestaak is.

Ten einde 'n ware ekonomiese beeld van hierdie eenheid te kry, is alle gegewens op 'n geldbasis verwerk, en om vergelykings te maak maar tog die skommelende ekonomiese faktor uit te skakel, is die pryse van produkte geneem teen die heersende prys. Die prys van vleis is geneem op die pryspeil van lamvleis vir Port Elizabeth soos vasgestel deur die Vleisbeheerraad vir die seisoen 1947-1948. Die inkomste van afval en velle van geslagte lammers word geneem as genoegsaam om die lopende onkoste vir bemarking en versending te bestry. Die wolproduksiesyfer is die gemiddelde prys soos behaal onder die Britse Wolkoopkommisie oor 'n tydperk van drie jaar. Die prys van die velle van dooie skape is gerieflikheidshalwe per stuk bereken en die prys is konstant gehou vir al die jare.

Die pryse van die kontantgewasse is geneem teen heersende verteenwoordigende pryse op die daaglikse mark vir sodanige produkte.

Dit word bereken dat die eienaar tesame met een arbeider al die werk op so 'n eenheid kan verrig. Die arbeidsloon van die arbeider is teen £3 per maand bereken. Behalwe handearbeid is op so 'n eenheid ook dierekrag nodig en dit word bereken dat twee swaar trekperde al die ploeg en eg- en maaiwerk op so 'n eenheid kan verrig. Tensy die eenheid dus vir die perde voer kan produseer moet hiervoor spesiaal voorsiening gemaak word. As dit dus aangeneem word dat die eienaar, die arbeider en trekperde alle werk kan verrig, word die uitgawes oor die jaar versprei en nie vir elke afsonderlike item bepaal nie.

Geen bemistingskoste word in rekening gebring nie aangesien die diere deur hulle mis moet meehelp om grondvrugbaarheid te verhoog. Mis word nie versamel nie, maar word deur die diere op die land gelaat.

Onderstaande is die inkomste- en uitgawe rekenings vir die jare 1944 tot1948.

 

 

Uit die voorgaande inkomste- en uitgawerekenings blyk dat geen korting op die inkomste gemaak is vir rente op kapitaal belê in grond, gereedskap en vee nie. Indien die grond bereken word teen £35 per morg dan sou die kapitaal hierin belê £256 13s. 4d. bedra. Gereedskap en trekdiere sal nog 'n £400 bedra, sodat die totale kapitale belegging £656 13s. 4d. sal wees. Die rente hierop is dus jaarliks £32 16s. teen 5 persent rentekoers. Vir die jare 1944, 1945, 1946, 1947, 1948 sal die ondernemersloon derhalwe respektiewelik £16 10s. 3d., minus £3. 10s., minus £5. 15s. 5d., £320. 15s. 4d. en £326. 14s. 9d. bedra, wat afdoende bewys is dat die stelsel van boerdery, behalwe in die laaste twee jaar, nie 'n finansiële sukses is nie.

Indien die uitgawes om die aantal skape op volle sterkte te hou, bereken word, dan is dit duidelik dat die winste wat van skape verkry is feitlik weer deur die skape verteer word. Die rede hiervoor is dat geweldige hoë verliese gely word as skape op lusern wei. Opblaas is hier die vernaamste oorsaak, maar dit moet egter ook onthou word dat lusern deur beweiding beskadig word en die herstelvermoë is derhalwe swakker.

Die ondernemersloon styg geweldig vinnig wanneer meer kontantgewasse verbou word. Die rede hiervoor is die verhoogde produksie per morg. Hierdie winsgrens sal nog hoër kan styg as die moeilikhede in verband met opblaas uitgeskakel kan word, wat moontlik is indien die skape net op wintergraanweiding gehou word.

Die ooie loop vir 'n groot gedeelte van die jaar op baie duur weiding, terwyl hulle in werklikheid niks meer as 'n bietjie wol produseer me. In hierdie nie-produserende tydperk kan die ooie op goedkoop weiding, soos veld, gehou word terwyl die duur grond gehou kan word om iets meer winsgewends te produseer.

(b) Vergelyking van Verskillende Tipes Ooie.- Dit was nie die bedoeling van hierdie proef om die verskillende tipes ooie te vergelyk nie. As gevolg van omstandighede is verskillende tipes ooie egter gebruik en derhalwe kon 'n vergelyking tussen hierdie ooie gemaak word. Indien in hierdie geval tussen die tipe ooie besluit word op finansiële grondslag, dan behoort die verskille so groot te wees dat dit nie aan noukeurige statistiese ontledings onderwerp moet word om daardie verskille aan te toon nie.

Op die eenheid is vyf verskillende tipes halfkruis Merino-ooie uitgetoets t.w.

(1) Dorset Horn x Merino (DM).

(2) Border Leicester x Merino (BM).

(3) Romney Marsh x Merino (RM).

(4) Corriedale x Merino (COM).

(5) Duitse Merino x Merino (VR).

Om te kan besluit watter van hierdie soorte ooie die mees lonende ooie is, word die lammers met mekaar vergelyk.

Onderstaande tabel toon die lam-opbrengs van elk van bogenoemde tipes ooie vir die volle tydperk wat hulle op die eenheid was.

 

 

Vir 'n intensiewe eenheid is die mees ekonomiese ooie, die ooie wat die grootste aantal lammers grootmaak en waarvan die lammers vinnig groei en van 'n goeie gehalte is. Die ooie met 'n groot bouvorm, wat 'n swaarder karkas as 'n ou ooi sal lewer, is 'n meer ekonomiese eenheid, veral as hierdie tipe ooi nog 'n goeie gehalte markbare vag gee.

Uit die bostaande tabel blyk dat die beste lamresultate verkry is van die Corriedale- en Duitse Merino-kruise; die aantal ooie is hier aansienlik kleiner as in die orige drie gevalle. Die Dorset Horn-kruisooie het die beste van die oorblywende drie tipes gedoen. Die swak resultate van die Border Leicester-kruis moet verklaar word deur die feit dat die ooie gepaar is gedurende 'n tydperk wanneer hierdie tipe ooi nie veel bronstigheid toon nie, naamlik Oktober tot Maart. As hulle in die herfs gepaar was sou die resultate miskien. beter gewees het.

Die meeste lammers is geslag van die Border Leicester x Merino-ooie indien die persentasie lammers per ooie gelam as maatstaf geneem word.

Die slagouderdom van lammers verskil aanmerklik en die beste resultate is verkry van die Duitse Merino- en Border Leicester-kruis. Hierdie verskil in ouderdom is belangrik waar weiding dikwels die beperkende faktor is.

Daar is geen noemenswaardige verskil in karkasgewig nie, omdat alle lammers geslag is sodra bulle 60 lb lewendige gewig bereik het. Hoe lank dit geneem het om hierdie gewig te bereik, word weerspieël in die slagouderdom.

In die gradering van karkasse is daar geen noemenswaardige verskil nie, ofskoon die meeste super-graad lammers verkry is van die Border Leicester- en Romney Marsh-kruise.

As die wolproduksie van die vyf tipes ooie vergelyk word, word die verskille duidelik in onderstaande tabel aangetoon. Die toestande was vir almal dieselfde gedurende die twaalf maande.

 

Wolproduksie van ooie

Tipe ooie

Gemid. Gewig wol

Gemid. Lengte van stapel

Algemene opmerkings

 

Dorset Horn x Merino

Border Leicester x Merino

Romney Marsh x Merino

Corriedale x Merino

 Duitse Merino x Merino

Lb

7.7

9.8

9.8

11.7

10.0

Dm

2.9

3.6

3.3

4.0

3.0

 

Kwaliteit swak

Kwaliteit goed – baie sterk

Kwaliteit redelik – baie sterk

Kwaliteit goed – spintelling varieer baie

Kwaliteit redelik tot swak met medium spintelling

 

Uit hierdie tabel is dit duidelik dat die Corriedale x Merino miskien die beste wolproduserende tipe is. Dis egter nie gerade om so 'n algemene stelling te maak nie, daar markpryse en ander inherente eienskappe hier 'n baie groot rol speel.

Die gewigte van volwasse ooie word in die volgende tabel vergelyk.

 

Lewendige gewig van ooie.

Tipe ooi

Gemiddelde lewendige gewig

 

Dorset Horn x merino

B. Leicester x Merino

Romney Marsh x merino

Duitse merino x Merino

Lb

114

150

133

125

124

 

Alhoewel hierdie gewigte nie heeltemal vergelykbaar is nie omdat al die ooie nie van die beginstadium van hulle lewe onder dieselfde toestande gehou was nie, dui dit tog daarop dat die Border Leicester-kruis 'n geweldige swaar skaap is en dus as ou ooi vir die vleismark meer voordelig as die ander rasse sal wees.

 

(c) Beweiding.- Op 'n eenheid soos hierdie waar vetlammers markbaar gemaak word, is dit nie juis moontlik om wintergraanweiding te skei van lusernweiding nie. Daar vind 'n taamlike groot mate van oorvleueling plaas en daarom is dit nie juis moontlik om haarfyn te bepaal wat die drakrag van wintergraan en die van lusern is nie.

Vir die wintergraanbeweiding moet koring nie later as einde Februarie , gesaai word nie. Dit is dan vir beweiding vanaf einde April geskik. Na gelang van die grond, die vrugbaarheid daarvan en die hoeveelheid water beskikbaar, wissel die drakrag en aantal weidings wat van wintergraan verkry kan word. Gewoonlik kan drie weidings verkry word waarvan die derde maar betreklik swak is.

Wat lusernweiding betref, is die drakrag baie swaarder as die van koring. Op die eenheid was dit moontlik om hooi te produseer en ooie van weiding te voorsien. Grondvrugbaarheid, hoeveelheid besproeiingswater en bewerking van die lusernlande voor weiding speel ook 'n groot rol. Die onderstaande tabel toon die hoeveelheid hooi wat gesny is en die hoeveelheid hooi wat deur skape gedurende die betrokke jare verbruik was.

 

Produksie van lusernhooi

Jaar

Hoeveelheid hooi gesny

Hoeveelheid hooi gevoer

Hoeveelheid hooi gekoop vir skape

 

1943-1944

1944-1945

1945-1946

1946-1947

1947-1948

Ton

21.1

12.75

14.58

17.00

21.70

Ton

33.1

21.75

23.58

14.0

28.7

Ton

12.0

9.0

9.0

0.0

7.0

 

Uit die voorgaande tabel is dit derhalwe baie duidelik dat op die eenheid nie genoeg voer vir die skape produseer kon word nie. As hierby onthou word dat trekdiere aangehou moet word om hooi te maai en om weiding vir die skape te voorsien, word die onekonomiese toestand van die saak nog meer duidelik.

 

Gevolgtrekkings

(1) Die betaalbaarheid van die eenheid neem toe namate meer kontantgewasse produseer word.

(2) Die uitgawe aan die onderhoud van skape is te hoog. Hierdie uitgawe kan verminder word as opblaas uitgeskakel kan, word en as diere gedurende die nie-sogende tydperk op goedkoper weiding kan loop.

(3) Die skaap se produksievermoë is vir so 'n intensiewe stelsel van boerdery te laag.

(4) Daar is nie groot verskille tussen die halfkruistipes ooie nie.

(5) Die hoogste persentasie lammers per aantal ooie gelam is geslag van die Border Leicester x Merino-ooie en Dorset Horn x Merino-ooie nl. 129.6 persent en 119.0 persent onderskeidelik.

(6) Lammers van die Duitse Merino x Merino-ooie en Border Leicester x Merino-ooie het die gouste slagbare gewig bereik nl. 114.9 en 118.0 dae respektiewelik.

(7) Van al die lammers geslag, is die hoogste aantal super lamkarkasse verkry van die Border Leicester x Merino-ooie en Romney Marsh x Merino ooie nl. 73.7 persent in albei gevalle.

(8) Die meeste wol per skaap is verkry van die Corriedale x Merino-ooie nl. 11. 7 1b.

(9) Border Leicester x Merino-ooie het die swaarste gemiddelde lewendige gewig nl. 150 lb.

(10) Op die eenheid kan nie genoeg hooi geproduseer word om te voorsien in die rantsoen van droë hooi van die skape nie.

 

ERKENNING.-Hierdie proef is oorspronklik deur mnr. H. C. Bonsma beplan. In September 1943 toe hy uit diens getree het, het mnr. S. W. Bosman met die proef voortgegaan. In September 1946 is mnr. Bosman na Onderstepoort verplaas, en het skrywer met die werk voortgegaan. Die foto's is deur mnr. S. W. Bosman geneem.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 25