Last update: April 11, 2012 02:09:05 PM E-mail Print

 

Vetmaak van Hoenders

A. M. Gericke

 

DIE doel waarvoor pluimvee vetgemaak word, is om 'n toename in gewig te verkry, die kwaliteit en kleur van die vleis te verbeter en 'n hoër prys te behaal. Jong hoenders word gewoonlik nie behoorlik markklaar gemaak nie, terwyl ou henne wat nie meer lê nie, gewoonlik te vet vir die mark gemaak word. Te veel vet aan die karkas kan net so nadelig wees vir die voorkoms en vorm as te min vet.

 

Ongewenste Eienskappe

As hoenders wat te vet is in warm weer geslag en mark toe gestuur word, kom die karkasse gewoonlik daar aan bedek met vlekke opgeloste vet, terwyl hoenders wat in slegte kondisie is van ses tot twaalf uur nadat hulle geslag is, 'n kenmerkende blouerige kleur vertoon. Albei hierdie toestande is ongewens, en kan as die grootste beperkende faktore beskou word by die bemarking van geslagte slaghoenders in die Unie.

Hoenders word nie noodwendig vetgemaak om vet aan te sit nie, maar eerder om die kleur en kwaliteit van die vleis te bewaar. Van n voedselstandpunt beskou. word gereken dat 'n goed-geronde karkas, bedek met lae vet en vleis, die sagste en aantreklikste is nadat dit vir die tafel berei is.

Gedurende die eerste vier maande van die jaar is daar gewoonlik 'n groot aantal jonghane wat die vorige jaar uitgebroei het en henne wat nie meer lê nie, wat vetgemaak kan word. Dis noodsaaklik om gedurende hierdie tydperk die aantal hoenders minder te maak, want dan begin die lêhenne verveer, produksie verminder en die boer kry die minste inkomste van sy hoenders. As die surplus jonghane en die henne wat uit die lêtrop gegooi word, vetgemaak word, sal dit nie alleen 'n goeie inkomste besorg nie, maar ook die produsent die ekstra onkoste bespaar om die hoenders te voer wanneer hulle nie veel eiers lê nie.

 

Behuising

Hoenders wat vir vetmaak uitgesoek word moet in 'n koel kamer gehou word met 'n temperatuur wat loop van 50 tot 60° F. 'n Koel huis sal verhoed dat die hoenders hul eetlus verloor -'n belangrike faktor wat in die oog gehou moet word by die vetmaak van hoenders. 'n Huis wat van fluitjiesriet gemaak is, sal minder afwyking in temperatuur gedurende die winter en somer as enige ander tipe vertoon, en sal goed beantwoord vir vetmaakdoeleindes.

Die huis moet halfdonker wees om die hoenders kalm en gemaklik te hou. As daar te veel lig inkom, is die hoenders geneig om aktief en lewendig te wees; en sal hulle langer neem om vet te word.

In die vetmaakhok is daar net plek vir die hoenders om te staan en sodra hulle gehinder word, sal die een terugtrap op die rug van die ander wat 'n verlies van vere en 'n kneusing van die rug veroorsaak.

 

Die Vetmaakhok

Die vetmaakhok kan van ou planke of stukke hout op die plaas gemaak word. Die beroemde Surrey-hok is 7 voet lank, 2 voet hoog en 2 voet breed, met drie afskortings. Dis gebou soos 'n voëlhok, met 'n voorkant wat bestaan uit 'n aantal latte ongeveer 2 duim van mekaar af, na gelang van die grootte van die hoenders. Die vloer is ook van latte gemaak, elkeen ongeveer 1 duim breed en almal dieselfde afstand van mekaar af. Soos in bygaande foto aangetoon word, loop die voorste latte horisontaal, terwyl die waaruit die vloer bestaan, in die lengte loop. Vir die gerief van die persoon wat die werk doen, het die hok skuifdeure wat oopgemaak en so gelaat kan word totdat al die hoenders gevang is om geslag te word.

Die endkante van die hok bestaan uit soliede planke, terwyl die agter- en bokant bedek is. met ogiesdraad en sakke. Die ogiesdraad, met gate 'n halfduim groot, moet eers styf oor die raamwerk getrek en die sakke aan die buitekant vasgespyker word.

 

 

Die hoenders word gevoer in 'n v-vormige trog, gemaak van twee stukke plank wat reghoekig aan mekaar geheg is, en moet op twee stutte rus, een by elke end van die hok. Die voorste plank moet vyf duim hoog wees en die agterste vier duim. Dit sal verhoed dat die hoenders te veel kos op die vloer mors. Sommige boere verkies om die voertrog aan twee stukke tou, een aan elke kant, op te hang. Dit word gedoen om die trag maklik te kan verwyder wanneer die hoenders gevang moet word om geslag te word.

Die vetmaakhok word op bokke, van twee tot drie voet hoog, gesit. Bo-op die bokke kan houtblokke gesit word sodat daar ruimte is vir 'n verskuifbare misplank. 'n Ou stuk sinkplaat met twee stukke hout aan die ente, is die geskikste vir die doel. Sand moet op die misplank gegooi word; dit sal die vogtigheid van die mis absorbeer en voorkom dat die huis sleg ruik.

In 'n klein huisie kan twee hokke opmekaar gesit word, mits daar genoeg ventilasie is. Hierdie inrigting van die hokke is egter ongerieflik vir die persoon wat die hoenders voer, omdat hy moet buk wanneer hy met die onderste ry werk, terwyl dit ook baie moeiliker is om die hoenders uit te haal.

 

Uitsoek van Hoenders vir Vetmaak

Wanneer hoenders vir vetmaak uitgesoek word, moet die boer let op tipe groeisnelheid, kwaliteit van vleis, liggaamsgrootte, lyf en gesondheid. Sommige hoenders het 'n kort borsbeen en 'n smal lyf, terwyl ander 'n lang borsbeen en 'n ronde lyf het. Dis nie raadsaam om hierdie hoenders in dieselfde hok te sit nie, want wanneer hulle geslag word, is dit onmoontlik om hulle in dieselfde klas te gradeer. Dis noodsaaklik dat hoenders eweredig gebou moet wees om goed vleis te kan aansit, soos die geval is met die Indian Game x Light Sussexkruis.

Dis 'n welbekende feit dat hoenders wat stadig groei as hulle los loop, gouer in gewig sal toeneem as die wat vinnig uitgroei. Vir doeltreffende gradering, is 'n eweredige gewigstoename gedurende die vetmaaktydperk van groot belang.

Kwaliteit van vleis is tot 'n groot mate gebaseer op die ouderdom van die hoender, kleur, afwesigheid van kneusplekke en haaragtige vere. Ou hoenders moenie saam met jonges in dieselfde hok vetgemaak word nie. As al die hoenders op dieselfde dag geslag moet word, kan mens nie 'n graderingstelsel volg nie, tensy groot getalle geslag word, sodat die jonghoenders afsonderlik van die oues gepak kan word.

 

Kleur van Vleis

Die kleur van die vleis hang af van die ras of soort hoenders en die soort kos wat hulle gekry het. Hoenders van die geelvleis-rasse is meer populêr op sommige marke as die van die witvleisrasse, of omgekeerd: In die Unie is die kleur van die vleis nie so 'n belangrike faktor soos in Europa of Amerika nie.

As daar 'n vraag bestaan vir hoenders met geelvleis, moet 'n geelvleisras in die vetmaakhok gesit en gevoer word op 'n dieet wat geelmieliemeel bevat, wat die kleur nog geler en die hoender meer aantreklik sal maak vir die verbruiker wat sulke hoenders wil hê. As wit vleis daarenteen verlang word, moet 'n witvleisras vetgemaak en op 'n rantsoen gevoer word wat nie 'n kleurstof bevat nie, d. w s een wat witmieliemeel en afgeroomde melk bevat. Witmieliemeel gevoer met gemaalde Sussex-hawer en afgeroomde melk sal 'n hoender produseer met suiwer wit vleis.

Daar is miskien geen ander punt wat soveel verwarring by die verbruiker veroorsaak as die kleur van die vleis nie. Sommige geelvleishoenders kan wanneer hulle geslag word in slegte kondisie wees en 'n bleek kleur vertoon. Dit het 'n verkeerde indruk laat ontstaan, omdat 'n geel kleur soms as blyk van goeie kondisie beskou word, terwyl 'n suiwer wit kleur 'n swak kondisie aantoon. Dis nie raadsaam om geel- en witvleisrasse saam in een kas vir die mark te pak nie. As die hoender lewendig verkoop word, is die kleur van die vleis nie so belangrik nie en word die hoender hoofsaaklik beoordeel volgens die voorkoms van die vere en die vorm van die liggaam.

Hoenders of kuikens met 'n liggaamsgebrek, soos krom borsbene, 'n hoepelrug of swak bene moenie in die vetmaakhok gesit word nie. Hierdie hoenders groei nie so vinnig soos gesonde hoenders nie, en hulle lyk ook nie so aantreklik as hulle geslag is nie.

Die hane en henne moet afgesonder word voordat hulle in die vetmaakhok gesit word. Hulle sal nie op dieselfde dag geslag kan word nie, want jonghenne groei vinniger as jonghane. Gewoonlik is jonghenne in 8 tot 10 dae goed om te slag, terwyl jonghane so lank as 14 dae kan neem.

Jonghoenders vir slagdoeleindes moet, na gelang van die gewig en die markaanvraag, in die vetmaakhok gesit word wanneer hulle van 16 tot 20. weke oud is. Die hoenders moet volgens geslag, grootte en gewig gegroepeer word voordat hulle in die vetmaakhok gesit word. Vyf of ses hoenders kan in elke afdeling van die hok gesit word.

Vir die eerste 24 uur moet al die hoenders uitgehonger word sodat hulle 'n eetlus kan ontwikkel en hulself in hul nuwe omgewing kan tuismaak. Van die tweede dag af word die hoenders twee maal per dag, in die oggend en in die middag, gevoer. Die voer moet in ten minste 'n halfuur opgevreet wees, en enigiets wat daarna nog in die voerbak oorbly, moet verwyder word. As die hoenders te veel op 'n slag vreet, sal hulle hul eetlus verloor en gevolglik nie vet word nie.

Vir vetmaakdoeleindes kan sagte kos gebruik word; dit gee die beste kwaliteit vleis en maak die bors groter. Hoenders kan ook net op geelmielies vetgemaak word, maar daar bestaan 'n neiging dat vetlae aan die buitekant van die buikgedeelte gevorm sal word, wat hulle onaantreklik sal laat lyk. Dit is die kenmerkende voorkoms van 'n vet ou hen.

Vir vetmaakdoeleindes kan gelyke dele mieliemeel en pollard of gemaalde Sussex-hawer, 5 persent vleismeel en 1 persent gewone sout gebruik word. Vyftien dele van hierdie meelkos moet met 20 dele afgeroomde melk in die aand gemeng en die volgende oggend gevoer word. Die mieliemeel moet grof wees (No.2) omdat fyn meel (No.1) die meelkos taai en onsmaaklik maak. Die vleismeel en die sout maak die voedsel nog smaakliker. Twee persent uitgebraaide vet word soms, as dit nie te duur is nie, by die meelkos gevoeg. Groenvoer of drinkwater moenie gedurende die vetmaaktyd gegee word nie.

 

Krop-volstop van Hoenders

Die hoenders kan op drie verskillende maniere gestop word: (a) Met die hand, (b) met 'n tregter, en (c) met 'n masjien.

Hoewel kropstop met die hand 'n moeisame proses is, lewer dit ;vleis van die beste kwaliteit. Die voer, in die vorm van 'n stywe deeg, word in pilletjies gemaak ongeveer 'n halfduim dik en driekwartduim lank. Die persoon wat die hoenders voer, hou die hoender styf tussen sy knieë vas, neem 'n pilletjie, doop dit in melk, maak die hoender se bek met sy linkerhand oop en sit dit in; dan, terwyl die nek goed uitgerek gehou word deur dit saggies met die duim en voorvinger te druk, gaan die kos in die keelgorrel af na die krop. Van 12 tot 15 pilletjies kan gegee word.

As die hoenders met 'n tregter gestop word, word die voer gegee in 'n vloeibare vorm, soos dit gemeng word vir vetmaak in die hok, en die krop word gevul deur middel van 'n tregter met 'n stuk gomlastiekbuis daaraan wat in die keelgorrel afgedruk word. 'n Spesiale tregter met 'n gladde punt is nodig vir die doel sodat die keel nie beseer kan word nie.

Waar met 'n masjien gestop word, word die gemengde voer in die voerhouer gesit; die hoender word styf onder die linkerarm vasgehou, die nek heeltemal uitgerek, die bek versigtig met die duim en voorvinger van die regterhand oopgemaak, en die gomlastiekbuis aan die masjien vinnig in die keel af in die krop gedruk. Die trap van die masjien word dan geleidelik maar saggies met die voet afgedruk sodat daar genoeg kos in die krop kom. Die hoeveelheid word gereguleer deur die een hand op die krop te hou. Voordat die buis uit die keel getrek word, moet die voet eers van die trap afgehaal word sodat daar nie kos in die lugpyp gepomp word en die hoender verstik nie.

Pluimveeboere mag twyfel aan die voordeligheid van stop as 'n vetmaakmetode. Dit sal waarskynlik nie betalend wees nie omdat stop 'n gespesialiseerde werk is en die persoon wat dit doen heelwat ondervinding moet opdoen voordat hy die lewende gewig van die hoender kan vermeerder. Voer in die hok produseer vleis van fyn kwaliteit en die produsent sal waarskynlik nie 'n hoër prys kry vir die addisionele gewig verkry deur die hoender te stop nie. Mens moet taamlik baie ondervinding hê om te besluit op watter stadium van die vetmaakproses die hoenders geslag moet word. As hulle langer as veertien dae gehou word, kan hulle gewig verloor en nie winsgewend wees nie.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 9