Last update: April 10, 2012 08:19:37 AM E-mail Print

 

Is Vitamien A-aanvullings Voordelig Vir Skape In Die Karoo?

G. N. LOUW en B. D. H. van NIEKERK

 

 

DIE gebruik van vislewerolie en ander produkte as vitamien A-aanvullings vir skape het in die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem. Daar word glo verklaar dat vitamien-aanvullings gedurende die wintermaande, wanneer die voedingswaarde van die natuurlike weiding op sy laagste is, op verskeie maniere 'n voordelige uitwerking op die liggaamsgewigtoename, vrugbaarheid, ens. van skape het.

Ten einde vas te stel of dit in Landboukollege uitgevoer in gelyke mate waar is van verband met die groei van speenskape wat op karooveld loop, is lammers gedurende die winterproewe by die Grootfonteinse maande, die lampersentasie van ooie wat in die lente gedek is, en die hoeveelheid vet wat in wol voorkom.

 

GEWIGSTOENAME

Die eksperimente is gedurende die winter, lente en vroeë somer van 1957 uitgevoer - 'n tydperk wat uiters geskik geblyk het vir die doel, aangesien die toestand van die veld ten gevolge van 'n ietwat droë tydperk taamlik swak was. Drie proewe is uitgevoer om die uitwerking van vitamien A op die groeisnelheid van skape te bepaal. Die lammers is toegelaat om op veldtipes te wei wat verteenwoordigend van die gebied was en wat van 'n mengsel van gras en karoobossies tot hoofsaaklik bossies gewissel het. Altesaam 260 lammers is in die drie eksperimente gebruik, en elke proef het 'n eksperimentele en 'n kontrolegroep ingesluit. Die diere het in aIle opsigte presies dieselfde behandeling ontvang behalwe dat die eksperimentele groepe die vitamien A-aanvulling gekry het. Die vitamien is toegedien in die vorm van 'n visolie-ekstrak in aanbevole hoeveelhede (240,000 I.E. per skaap) met tussenposes van drie maande. Toediening het aan die begin van Junie 'n aanvang geneem en het tot die eerste goeie reëns in Desember voortgeduur. Die lammers is elke maand geweeg en die gewigte aangeteken.

Soos uit Tabel 1 blyk, het die toename of afname in lewende gewig by albei groepe feitlik dieselfde verloop oor die hele eksperimentele tydperk getoon.

 

 

LAMPERSENTASIE

In die Karoo is die persentasie lammers wat by ooie aankom wat in die lente gedek is, gewoonlik aansienlik laer as die in die geval van ooie wat in die herfs gedek is. Met die oog op die feit dat vitamien A 'n baie groot invloed op vrugbaarheid het, en verder dat die laer vrugbaarheid van ooie wat in die lente gedek is moontlik aan 'n vitamien A-tekort toegeskryf kan word, is dit belangrik geag om die uitwerking van vitamien A-aanvullings in die verband te ondersoek.

Vir hierdie doel is proewe uitgevoer waarin 280 skape gebruik is. Eksperiment 1 is met 170 kudde-ooie op gewone karooveld gedoen, en die diere het geen aanvullende voedsel in die vorm van groen weiding of bykomstige voer ontvang nie. Die diere is voor die voet in twee gelyke groepe verdeel - 'n eksperimentele en 'n kontrolegroep.

Vyf-en-veertig dae voordat hulle by die ramme gebring is, is die diere in die eksperimentele groep vir 'n tydperk van 6 weke met 240,000 I.E. vitamien A gedoseer. Die resultate van hierdie eksperiment word in Tabel 2 aangegee.

By eksperiment 2 (110 stoetooie) is 'n meer intensiewe stelsel gevolg. Handdekking is op die ooie toegepas en die voer is aangevul deur middel van groen weiding en lusernhooi. Hierdie skape is ook voor die voet in twee soortgelyke groepe verdeel, en die eksperimentele groep is agtien dae voordat die diere deur ramme gedek is, met 240,000 I.E. vitamien A gedoseer. Die resultate is aangeteken en word in tabel 3 weerspieël.

Tabelle 2 en 3 toon duidelik dat die resultate van hierdie ondersoek weereens negatief was; die getal lammers in die kontrolegroepe was ongeveer dieselfde as die in die groepe wat vitamien A ontvang het.

 

 

WOLVET

Daar word glo ook beweer dat oliesoorte wat vitamien A bevat, ook die produksie van wolvet verbeter. Die waarheid hiervan is ook ondersoek. Verteenwoordigende wolmonsters is geneem van die diere in eksperiment 3 (sien Tabel 1) en die “kontrole-" en "eksperimentele" wol is afsonderlik gehou. Die wolstapels van elke dier is middeldeur gesny en die persentasie vet in die boonste en onderste gedeeltes is vasgestel. Ook hier was daar geen verskil tussen die diere wat vitamien A-aanvulling ontvang het en die wat as kontrole gebruik is nie.

 

GEVOLGTREKKING

Vitamien A-aanvullings het hoegenaamd geen uitwerking gehad op die toe name in lewende gewig, lampersentasie of die hoeveelheid wolvet by merino's en lammers wat in genoemde eksperiment gebruik is nie. Hierdie feit kan moontlik aan een of meer van die volgende faktore toegeskryf word:

(1) Groot hoeveelhede vitamien A word in die lewer van skape opgegaar as kos volop is. Hierdie voorraad kan voldoende wees om etlike maande lank te hou.

(2) Aangesien karoobossies gedurende die winter groen bly en skape op hierdie plante wei, kry die diere waarskynlik genoeg vitamien A om in hul behoeftes te voorsien.

Dit is dus hoogs twyfelagtig dat hul natuurlike dieet 'n tekort aan vitamien A het.

 

Published

Boerdery in Suid-Afrika 34 (10)