Last update: March 29, 2012 11:10:39 AM E-mail Print

 

HOU Oë OOP VIR VOEDINGSPROBLEME VAN SKAPE TYDENS DROOGTES

M Van Tonder 

 

Tydens droogtes ontstaan gebrekkige voeding in die algemeen vanweë onsmaaklikheid en swak verteerbaarheid van weidings en lei gewoonlik tot proteïen- en energietekort wat vermaering en swak produksie tot gevolg het. In lakterende ooie sal 'n verlaging in melkproduksie ook indirek veroorsaak dat die lammers swak uitgroei en blootgestel word aan sekondêre besmettings. So sê dr Marius van Tonder, Hoof van die Veterinêre Streekslaboratorium te Middelburg Kaap.

Te veel droë materiaal met 'n lae verteerbaarheid mag ook aanleiding gee tot droë galsiekte ofskoon dit selde as 'n losstaande entiteit voorkom, het hy gesê.

Domsiekte word gewoonlik gevind in swaar dragtige ooie wat nog in goeie kondisie is en as gevolg van te min energie hulle eie liggaamsvette verteer, met gevolglike skadelike byprodukte wat dan veral die senuweestelsel aantas.

Al drie hierdie voedingsprobleme kan slegs voorkom word deur die verskaffing van kunsmatige voeding, hetsy op 'n algehele basis of as 'n byvoeding. In terme van byvoeding word veral gedink aan groenweidings, energielekke en selfs die toediening van 'n verdunde melasse oplossing met 'n gereelde tussenpose.

Volgens dr Van Tonder is die mees algemene tekortsiektes wat as gevolg van gebrekkige voeding mag ontstaan melkkoors (kalktekort) by lakterende of dragtige ooie, en Vitamien A-tekort by aIle ouderdomsgroepe, maar veral by laat dragtige ooie.

In die geval van melkkoors moet gepoog word om voedingstekorte te vermy en verder moet geen eksterne bronne van fosfaat gevoer word nie, het hy gesê. As laaste vorm van beheer moet voerkalk by aanvullende lekke ingesluit word.

In soverre dit Vitamien A-tekort betref, het dr Van Tonder boere aangeraai om indien moontlik groenvoer tydig te voorsien of andersins Vitamien A-preparate vroegtydig toe te dien. In gevorderde stadiums van droogtes sou dit die beste wees om Vitamien A by wyse van sistemiese inspuitings toe te dien aangesien diere wat reeds aan 'n tekort onderhewig is se opneemvermoë deur die dermkanaal nie baie doeltreffend sal wees nie.

Geelsiekte of kroniese kopervergiftiging is 'n ander probleem wat onder droogtetoestande verwag kan word. Ou skape bou deur die jare groot hoeveelhede koper in hul lewers op, wat dan gedurende spanningstoestande soos droogtes in die bloedstroom uitgestoot word en die rooibloedselle opbreek. Die probleem kan voorkom word deur of 'n oplossing van natriummolibdaat volgens voorskrif te doseer of sinksulfaat in die drinkwater toe te dien.

'n Ander probleem wat gedurende droogtes verwag kan word, is plantballe wat ontstaan as gevolg van die inname van onverteerbare veselagtige plante soos bitterbos, kapokbos en veral ook die sade van steekgrasse. Die vesels koek in die grootpens saam om die plantballe te vorm wat dan verstopping kan veroorsaak. Die enigste oplossing om hierdie probleem te voorkom is om gedurende droogtetye en veral die herfs en wintermaande verdagte weidings te vermy.

Afgesien van gebrekkige voeding wat tydens droogtes ondervind word, is daar ook 'n ander groep van probleme wat ontstaan as gevolg van die verskaffing van aanvullende voeding.

Die mees belangrike hiervan is suurpens, wat die gevolg is van 'n abnormale gisting van konsentrate veral mieliemeel, omdat die voorpenskieme nie by die rantsoen aangepas is nie. Om die probleem te voorkom raai dr Van Tonder boere aan om nie mielies of enige graanprodukte voetstoots en volskaals aan te bied nie. Aanvullende lekke moet streng volgens voorskrif aangebied word sodat die inname beperk kan word of andersins moet voerkalk bygevoeg word.

As gevolg van die feit dat konsentraatvoedings normaalweg groot hoeveelhede fosfaat bevat of dat eksterne bronne van fosfaat ook nog bygevoeg word, is die voorkoms van urienstene by hamels en ramme dikwels 'n groot probleem. Die gebruik van behoorlik gebalanseerde rantsoene vir skape of die byvoeging van voerkalk by bestaande konsentraatmengsels is die enigste wyse waarop die probleem bekamp kan word.

Dr Van Tonder het daarop gewys dat vergiftigings as gevolg van droogtebyvoeding hoofsaaklik tweërlei van aard is. In die eerste plek is ureumvergiftiging 'n wesenlike gevaar aangesien ureum as 'n bron van nie-proteïenstikstof feitlik in elke voorafbereide rantsoen ingesluit is. Aangesien bevindings daarop dui dat ureum baie swak deur skape benut word, voel hy dat hulprantsoene wat ureum bevat liefs vermy moet word. Dit is veral na skielike reënbuie dat ureum in lekke wat in oop houers aangebied word, in oplossing gaan en dan deur diere deur middel van die water ingeneem word.

In die tweede plek is daar 'n groep van vergiftigings wat die gevolg is van gifstowwe wat in sekere plantmateriaal bevat is. Voorbeelde hiervan is tulp wat in lusernhooi voorkom of giftige swamme wat soms in grondboonhooi, mieliekoppe of enige ander vermufte hooi aangetref word.

Daar is ook sekere belangrike tekorte wat as gevolg van byvoeding of algehele droogtevoeding mag ontstaan. Wanneer te klein hoeveelhede of te fyngemaalde ruvoer aangebied word, ontstaan 'n toestand wat bekend staan as gladde-rumen.

Die klein uitsteekseltjies van die rumenwand verklein en gee aanleiding tot swak voerbenutting. Dit mag selfs ook die oorsaak wees van misbek wat in voerkrale aangetref word.

Dikwels word gevind dat lusernhooi afkomstig uit sekere besproeiingsgebiede waar hoe toedienings van kunsmisstowwe aangewend word, 'n seleniumtekort by lammers van ooie wat van die hooi gevoer word, veroorsaak. Afgesien van skielike vrektes wat mag voorkom is die algemene simptoom die van styfheid in die agterbene.

Daar is 'n verdere reeks tekorte wat mag ontstaan as gevolg van die voeding van eensydige rantsoene soos turksvy, garingboom en soutbos, het dr Van Tonder gesê. Probleme wat ontstaan sluit in maagwerk, plantballe, gladde-rumen, die vreet van wol en verlamming as gevolg van garingboom.

 

Published

Karoo Streeknuusbrief, Herfs 1984