Last update: September 2, 2011 03:29:41 PM E-mail Print

 

DIE VOEDINGSWAARDE EN BENUTTING VAN LUSERN VIR INTENSIEWE

KLEINVEEPRODUKSIE

 

A G BEZUIDENHOUT

Cradockproefstasie

Cradock

 

 

INLEIDING

Kleinveeproduksie in Suid-Afrika is hoofsaaklik afhanklik van natuurlike veld as voedingsbron. Die wêreldwye bevolkingsontploffing stel toenemende eise aan die landboubedryf om genoegsame voedsel en grondstowwe vir klerasie te produseer. Ekstensiewe kleinveeboerdery word bedreig deur knellende droogtes en agteruitgang van natuurlike veld wat gevolglik die horisontale uitbreiding van vleis- en veselproduksie (wol en bokhaar) onwaarskynlik maak. Diereproduksie per eenheidsoppervlakte moet dus verhoog word om duur landbougrond meer doeltreffend te benut. Vertikale verhoging van kleinveeproduksie kan verkry word deur die inskakeling van aangeplante weidings of voerkraalsisteme saam met natuurlike veld. Die praktyk om kleinvee slegs in voerkrale of op aangeplante weidings onder besproeiing aan te hou, vind alreeds groot inslag in besproeiingsgebiede.

Aangeplante weidings en voergewasse verskil aansienlik ten opsigte van seisoenale groeipatrone en voerproduksie, en gevolglik moet die korrekte kombinasie van gewasse verbou word om 'n doeltreffende voervloeiprogram te voorsien. So 'n voervloeiprogram moet voldoende voer produseer om in die diere se voedingsbehoeftes gedurende die verskillende stadia van groei en reproduksie te voorsien. Aangeplante weidings en voergewasse kan slegs voldoende voer van goeie gehalte produseer indien dit korrek verbou en bestuur word. Weens verskille in gewasse se waterbehoeftes moet 'n voervloeiprogram dus ook inpas by die beskikbare besproeiingswater. Verskeie faktore moet dus in aanmerking geneem word in die beplanning en bestuur van diereproduksie op aangeplante weidings.

 

VOEDINGSBENODIGDHEDE VAN KLEINVEE

Dit is noodsaaklik dat die voedingsbenodigdhede van kleinvee bekend moet wees alvorens vasgestel kan word of natuurlike- of aangeplante weidings, of 'n spesifieke rantsoen aan die behoeftes van die diere voldoen. Die voedingsbenodigdhede verskil ook aansienlik as gevolg van verskeie faktore soos, liggaamsmassa, omgewing (ekstensief of intensief) en fisiologiese stadium waarin die dier verkeer (droog, dragtig of lakterend). Jong groeiende vervangingsooie benodig meer voedingstowwe as volwasse ooie wat slegs onderhou moet word. Die daaglikse voedingsbenodigdhede van skare word in Tabel 1 aangedui. Die benodigdhede van ekstensief weidende diere kan aansienlik hoër wees as by diere in 'n voerkraal. Gedurende die eerste drie maande van dragtigheid is die benodigdhede van die ooi ongeveer dieselfde as die van 'n nie-dragtige ooi, aangesien die energie- en ruproteïenbenodigdhede van die fetus gedurende hierdie periode klein is in vergeIyking met die ooi se benodigdhede. Tydens die laaste twee maande van dragtigheid vind daar 'n aansienlike styging in die voedingsbenodigdhede van die ooi plaas, aangesien ongeveer 75 persent van fetale groei gedurende die laaste ses weke van dragtigheid plaasvind (NRC, 1975; Geisler & Jones, 1979). Die stygende benodigdhede van die fetus (laat dragtigheid) en behoeftes vir melkproduksie (laktasie) het tot gevolg dat die ooi se benodigdhede tydens hierdie periodes tot ongeveer 100 persent hoër is as tydens onderhoud.

 

LUSERN AS VOERGEWAS

Sommige weidings kan dwarsdeur die jaar benut word soos byvoorbeeld lusern-grasmengsels en gras-klawermengsels. Hierteenoor het lusern 'n seisoenale groeipatroon en kan slegs gedurende die somermaande bewei of gehooi word. Lusern is alom bekend as die "Koning van die voergewasse" en as een van die beste hooie ter wêreld weens die gewas se smaaklikheid, hoë opbrengs en voedingswaarde. Alhoewel lusern veral 'n proteïenryke voergewas is, word die kwaliteit van die eindproduk beïnvloed deur die stadium van volwassenheid waarop dit gesny of bewei word. Namate lusern die blomstadium bereik, verlaag die blaar tot stingelverhouding daarvan met gevolglike verlaging in voedingswaarde (Martin, Leonard & Stamp, 1976). Die verskil in voedingswaarde tussen blare en stingels word in Tabel 2 aangetoon. Navorsing het getoon dat die tien persent blomstadium die beste snystadium vir hooi is, aangesien die maksimum ruproteïenopbrengs gedurende hierdie groeistadium verkry word, terwyl die stand ook behoue bly met so 'n snytussenpose (Ahlgren, J956; Lamprecht, 1961; Ogden & Kehr, 1965).

 

Lusern onder besproeiing lewer seisoenale hooi-opbrengste van 13,5 ton (na vestiging) tot 21 ton droë- materiaal per ha (derde of vierde seisoen) waarna dit weer begin afneem.

Weens die seisoensgebonde groeipatroon van lusern moet 'n alternatiewe metode van oorwintering van diere gevind word indien lusern as weiding benut word gedurende die somermaande. Surplus lusern moet dus gehooi word om diere in voerkrale te oorwinter. As alternatief kan kleingraanweiding of ander winterproduserende raaigrasse jaarliks gevestig word vir beweiding gedurende die winterrnaande. Die lusern (somer) en kleingraanweiding (winter) verskaf dan 'n voervloei met 'n hoë voedingswaarde en voldoende voerproduksie dwarsdeur die jaar. Met korrekte bestuur van kleingraanweiding is 'n totale droëmateriaalproduksie van 7,51 ton per ha binne bereik gedurende die wintermaande (Mei tot September). Kleingrane se graanopbrengs neem af met 'n toename in die aantal beweidings. Indien kleingraan dus hoofsaaklik as weiding benut word, sal 'n daaropvolgende kontantgewas soos mielies beter benutting van die beskikbare besproeiingsgrond tot gevolg hê as om die kleingraan vir 'n graanoes te laat. Die verbouing van mielies saam met lusern en kleingraanweiding het 'n doeltreffende wisselboustelsel van gewasse tot gevolg. Die mielies voorsien gelyktydig ook in die behoefte vir energie-aanvulling op die weidings.

 

DIE BENUTTING VAN LUSERN AS HOOI

Goeie gehalte lusernhooi (18,31 % RP en 7,98 MJ ME  per kg.) verskaf voldoende voedingstowwe aan nie-dragtige ooie. Oor lang periodes kan 'n rantsoen wat slegs hooi bevat selfs tot gevolg hê dat ooie oorvet word. Hierdie probleem kan oorkom word deur byvoorbeeld 30 persent koringstrooi in die rantsoen in te sluit. Die gemiddelde daaglikse droëmateriaalinname van nie-dragtige Merino-ooie in die voerkraal was 1 400 g lusernhooi per ooi wat ongeveer 46 persent hoër is as die benodigde inname vir onderhoud (960 g). Die ooie se gemiddelde daaglikse massatoename was 34 g per ooi. Lusernpille kan hoër massatoenames tot gevolg he as gemaalde hooi (Robards, 1968).

Gedurende laatdragtigheid en laktasie kan 20 tot 30 persent mieliemeel saam met lusernhooi in 'n voerkraalrantsoen ingesluit word om in die verhoogde voedingsbenodigdhede te voorsien. Die stygende voedingsbenodigdhede tydens laatdragtigheid het tot gevolg dat die ooi meer voer moet inneem om daaraan te voldoen. Navorsing het egter getoon dat ooie se voerinname afneem gedurende laatdragtigheid nadat 'n aanvanklike styging tydens vroeë- en middeldragtigheid voorgekom het (Forbes, 1970; Foot & Russel, 1979; Bezuidenhout, .1983). Weens die afname in die beskikbare rumenvolume van ooie tydens laatdragtigheid, waartydens die voedingsbenodigdhede toeneem, moet die kwaliteit van die rantsoen verhoog word om voldoende inname van voedingstowwe te verseker.

Met 'n lentelamseisoen benodig 'n Merino-ooi (met lam tot ongeveer vyf maande ouderdom) ongeveer 545 kg lusernhooi en 70 kg mieliemeel vir 'n periode van een jaar.

 

DIE BENUTTING VAN LUSERN AS WEIDING

Groeistadium

Op Cradockproefstasie word die benutting van lusern met Merinoskape ondersoek. S A Standaard lusern onder besproeiing is op twee verskillende groeistadiums bewei naamlik tien persent blomstadium (na vier weke hergroei) en 15 tot 20 cm groeihoogte (na twee weke hergroei). Alhoewel die tien persent blomstadium 'n hoër totale droëmateriaalproduksie gedurende die seisoen gehad het (17,76 vs 15,93 ton per ha), is beter benutting van lusern op die 15 tot 20 cm groeihoogte verkry. Die swakker benutting van lusern op die tien persent blomstadium kan toegeskryf word aan die groot hoeveelheid materiaal wat platgetrap word deur die skape asook die kaalgevrete stingels wat as gevolg van selektiewe beweiding nie benut word nie. Gedurende 'n groeiseisoen kan hierdie verliese 1,5 tot 2,5 ton droëmateriaal per ha beloop. Volgens vorige navorsing blyk dit dat indien lusern sodanig bewei word dat min stingels oorbly, die tien persent blomstadium die mees ekonomiese stadium van beweiding is (Sheridan, 1964), terwyl ander van mening is dat lusern op die 15 tot 20 cm groeihoogte bewei moet word (Lamprecht, 1961; Ogden & Kehr, 1965). Met die Merinoskaap het die 15 tot 20 cm groeihoogte die volgende voordele tot gevolg gehad :

 

    hoër gemiddelde seisoenale drakragpeil (53,2 vs 49,3 nie-dragtige ooie per ha)

    hoër gemiddelde liggaamsmassa

    hoër gemiddelde wolproduksie

    laer interne parasietbesmetting

 

Diere

Die aangeplante weidings moet geskik wees vir die tipe diere waarmee dit benut gaan word. Normaalweg word min of geen opblaasprobleme met Merinoskape op lusern ondervind. Hierteenoor is skape wat meer gulsig vreet, meer geneig tot opblaas op lusernweiding. Sulke diere sal met beweiding op die tien persent blomstadium, die lusern beter benut en moontlik minder geneig wees tot opblaas. Gemengde weidings (byvoorbeeld lusern-grasmengsel) of uitsluitlik grasweidings sal dus meer geskik wees vir skaaprasse wat geneig is tot opblaas. Met Angorabokke, wat growwe materiaal verkies, sal lusern tiers op die tien persent blomstadium bewei word aangesien hulle die lusern op hierdie groeistadium baie beter sal benut as byvoorbeeld Merinoskape. Die gewaskeuse van 'n intensiewe stelsel sal dug beïnvloed word deur die  diere waarmee die gewasse benut gaan word. Ooreenstemmend gal die beste groeistadium vir beweiding van lusern ook deur die tipe diere bepaal word.

 

Drakragpeile

Resultate op Cradockproefstasie het getoon dat lusern op die tien persent blomstadium en 15 tot 20 cm groeihoogte onderskeidelik 49,3 en 53,2 Merino-ooie per ha kon dra gedurende die groeiseisoen van ongeveer sewe maande (Oktober tot April). Teen hierdie peile was die nie-dragtige ooie se gemiddelde daaglikse massatoename 42 g per ooi. Gedurende die wintermaande (Mei tot September) is kleingraanweiding (Scheepers 69 koring) bewei teen gemiddeld 37 dragtige ooie per ha.

Tydens laktasie (Oktober tot Januarie) bet die drakrag van lusernweiding afgeneem na 25 en 28 ooie per ha op die tien persent blomstadium en 15 tot 20 cm groeihoogte onderskeidelik. Nadat die lammers gedurende Januarie op 100 dae ouderdom gespeen is, kon aanvanklik ongeveer 67 lammers per ha aangehou word (vir een maand) waarna dit afgeneem het na 40 per ha namate die lammers ouer geword het en die hergroei van die lusern begin afneem het aan die einde van die groeiseisoen (Maart tot April). Genoemde drakragpeile verwys na die aantal ooie of lammers per ha per groeiseisoen van ongeveer sewe maande. Met 'n lente lamseisoen kan jaarliks dus ongeveer 25 ooie (met lammers) per ha aangehou word op 'n lusern-kleingraanweidings-kombinasie. Volgens raming sal dit 30 tot 35 reproduserende Angora-ooie wees.

Die keuse van paar- en lamseisoene bet 'n belangrike invloed op die aantal ooie per ha en gevolglik diereproduksie per ha. Die hoë opbrengs van lusern gedurende die somermaande verseker egter dat voldoende weiding vir beide die ooie en lammers beskikbaar is.

 

Aanvullende voeding

Droë hooi moet verkieslik aan diere op aangeplante weidings voorsien word. Die hoë voginhoud van die weidings bet tot gevolg dat diere wat permanent daarop gehou word, 'n behoefte aan ruvoer het. Dit hoef egter nie die beste kwaliteit hooi te wees nie en dus kan laegraadse hooi en oesreste waardevol gebruik word om aan hierdie behoefte te voldoen. Hooi-aanvulling dra verder by tot die voorkoming van rooiderm en opblaas.

Energie-aanvulling tydens laatdragtigheid en laktasie is noodsaaklik om in die hoer voedingsbenodigdhede van ooie te voorsien. Die meeste aangeplante weidings se energie-inhoud is onvoldoende om bevredigende groei van lammers te verseker. Ooreenstemmend moet lammers na speen ook addisionele energie ontvang om hoë massatoenames te verkry. Mielies in die vorm van "sjokoladernielies" of 'n mieliemeel-soutlek is geskik vir hierdie doel. Daagliks kan hoeveelhede van 200 tot 300 g per ooi of lam gegee word.

 

RESULTATE MET LUSERN AS VOERGEWAS

Reproduksie en massatoenames

Lampersentasie word aangedui as die aantal lammers lewend gebore per aantal ooie beskikbaar vir paring. Resultate met Merinoskape het getoon dat lampersentasies van 148 persent (voerkraal) tot 160 persent (weiding) behaal kan word. Die lammers se gemiddelde daaglikse voorspeense massatoenames wissel van 192 g in die voerkraal tot 247 g op weiding. Na speen het geen energie-aanvulling op weiding tot gevolg gehad dat die lammers se gemiddelde massatoenames afgeneem het na slegs 98 g per lam. Energie-aanvulling is dus noodsaaklik om lammers vinnig af te rond op ongeveer nege maande ouderdom is Merinolammers se karkasmassa 18 tot 20 kg terwyl ook gemiddeld vier kg wol per lam geskeer kan word.

 

Wolproduksie

Reproduserende Merino-ooie se gemiddelde jaarlikse wolproduksie wissel van 9,5 tot 10,4 kg rouwol per ooi. Die hoe voedingspeile en veral hoe ruproteïeninhoud van lusern kan tot gevolg hê dat die wol se veseldikte aansienlik toeneem. Volgens Jones (1970) was die rouwolproduksie van Merinohamels op besproeide grasklawerweidings 6,2 kg per skaap en met 39,5 skape per ha is dit as 'n moontlike wereldwolproduksierekord van 245 kg per ha beskou. Met 25 reproduserende Merino-ooie per ha per jaar en met 'n gemiddelde ruvagmassa van 9,5 kg, beteken dit 237,5 kg wol per ha wat baie goed vergelyk met die resultate van Jones (1970).

 

DIEREGESONDHEID

Kleinveeproduksie onder intensiewe toestande vermeerder die gevaar van voorkoms van sekere siektes en interne parasiete. Die konsentrasie van diere en verhoogde voedingspeil noodsaak dat voorsorg getref moet word teen siektes en parasiete. Kort na geboorte kan veral groot verliese van lammers voorkom.

 

Interne parasiete

Onder intensiewe toestande kan veral rondewurms en lintwurms voorkom. Gereelde ondersoeke van mismonsters kan 'n belangrike hulpmiddel wees in die beheer van inwendige parasiete. Hierdie metode het egter sekere beperkings omdat dit nie die besmetting met onvolwasse wurms aandui nie. Breë spektrummiddels is beskikbaar vir die voorkoming van parasiete. Goeie bestuurspraktyke is egter noodsaaklik om die beheer doeltreffend toe te pas.

 

Koksidiose

Koksidiose kan groot probleme veroorsaak met gevolglike lae massatoenames en ekonomiese verliese. Koksidiose kan egter doeltreffend behandel of liefs voorkom word deur 'n ionofoor (teen die korrekte peil) in rantsoene of lekke in te sluit. In vol rantsoene moet dit volgens instruksies ingesluit word, terwyl die peil daarvan in aanvullende voeding hoër moet wees om inname van die effektiewe dosis te verseker. Dit is egter raadsaam om 'n veearts te raadpleeg vir 'n volledige inentings- en doseringsprogram vir diere onder intensiewe toestande.

 

BESTUUR

Metode van beweiding

Resultate het, ooreenstemmend met vorige navorsing, getoon dat 'n rotasiestelsel van beweiding die beste benutting en instandhouding van lusern tot gevolg het (Robards & Peart, 1967; Thompson, Sheridan & Hamilton, 1976). Met die stelsel van aanhoudende beweiding en teen drakragpeile van drie tot tien skape per ha, is lusern binne sewe maande vernietig (Peart, 1970; Smith, 1970; Brownlee, 1973). Hierdie is die mees ongewenste metode van beweiding en moet verhoed word. Weiperiodes van vyf tot sewe dae per kamp lewer die beste resultate en pas gewoonIik ook goed in by die besproeiingsbestuur van lusern. Langer weiperiodes het onvoldoende besproeiing van die weiding tot gevolg, terwyl selektiewe beweiding dan ook groot variasie in voedingswaarde van die weiding tot gevolg het. Beweiding teen hoë drakragpeile vir kort periodes is dug die ideaal vir beide gewas en dier.

 

Kuddegrootte en kampgrootte

Teen 'n drakragpeil van 50 diere per ha vir sewe maande en met 'n vyfkampstelsel, kan 250 diere per ha aangehou word vir een week. Gedurende die lamseisoen moet die kuddegrootte liefs kleiner as 250 ooie wees, dus moet kampe nie groter as een ha wees nie. Met Merinoskape sal drie tot vier kampe per kudde benodig word, terwyl vyf kampe nodig is vir Angorabokke waarmee lusern op 'n meer volwasse groeistadium benut sal word.

 

Rusperiode

Lusern wat slegs bewei word, veral op 15 tot 20 cm groeihoogte, moet minstens een- of tweekeer gedurende die groeiseisoen toegelaat word om uit te groei tot die tien persent blomstadium. Sodoende kry die gewas kans om weer voldoende wortelreserwes op te bou. Ooreenstemmend moet lusern nie gedurende die winterrusperiode bewei word nie. Om goeie vestiging van die gewas te verseker, moet lusern nie gedurende die eerste seisoen na vestiging bewei word nie, maar slegs gehooi word.

 

Reën

Na reën moet diere onmiddellik uit fiat lande verwyder word om grondverdigting te beperk. Voerkrale of veldweiding moet dus beskikbaar wees om diere  daarheen te verskuif. Besproeiings moet ook sodanig beplan word dat diere nie na nat weidingskampe verskuif word nie.

 

Wisselbou

Die voervloei moet sodanig beplan word dat voldoende voer of weiding sowel as aanvulling (mielies) deurgaans beskikbaar is. Lusern moet jaarliks gevestig word sodat die benodigde oppervlakte altyd beskikbaar is. Eenjarige gewasse soos kIeingraan- of grasweiding moet betyds gevestig word om weiding te voorsien wanneer dit benodig word.

 

Bemesting

Weidings word oor die algemeen onvoldoende bemes terwyl optimale diereproduksie daarvan verwag word. Die diere se mis en urine lewer 'n baie kIein bydrae tot bemesting. Bemesting moet altyd volgens die resultate van grondontledings gegee word.

 

Besproeiing

Ooreenstemmend met bemesting, is die korrekte besproeiing van gewasse noodsaaklik om die maksimum opbrengs te verseker.

 

LITERATUURVERWYSINGS

AHLGREN, G.H., 1956. Forage crops. New York: McGraw-Hill.

BEZUIDENHOUT, A.G., 1983. Die benutting van lusern (Medicago sativa) deur reproduserende Merino-ooie. M.Sc. (Agric)-verhandeling U.O.V.S.

BROWNLEE, H., 1973. Effects of four grazing management systems on the production and persistence of dryland lucerne in central western New South Wales. Aust. J. Expo Agric. Anim. Husb. 13,259 - 262.

FOOT, J.Z. & RUSSEL, A.J.F., 1979. The relationship in ewes between voluntary food intake during pregnancy and forage intake during lactation and after weaning. Anim. Prod. 28,25 - 39.

FORBES, J.M., 1970. Voluntary food intake of pregnant ewes. J.Anim.Sci.31,1222-1227.

GEISLER, PAMELA, A. & JONES,C.M., 1979. A model for calculation of the energy requirements of the pregnant ewe. Anim. Prod. 29,339 - 355.

JONES, G.O., 1970. Irrigated pasture sets a wool production record. J. Agric. Victoria, 582.

LAMPRECHT, M. P., 1961. The control of lucerne determines production. Fmg. S. Afr. 37 (8), 83 - 84.

MARTIN, J.H., LEONARD, W.H. & STAMP, D.L., 1976. Principles of field crop production. New York: MacMillan. N.R.C., 1975. National Research Council. Nutrient requirements of sheep. Washington: NRC.

OGDEN, R.L. & KEHR, W.R., 1965. Better management, better alfalfa quality. Nebr. Agr. expo Quart. 12 (2) 8 - 10.

PEART, G.R., 1970. The grazing management of lucerne. J. Aust. Inst. Agric. Sci. 36,55 - 56.

ROBARDS, G.E., 1968. Liveweights and wool growth of sheep fed various amounts of chaffed roughage and pelleted lucerne. Proc. Aust. Soc. Anim. Prod. 7,59 - 61.

ROBARDS, G.E. & PEART, G.R., 1967. Outstanding results from rotationally grazed lucerne. Agric. Gaz. N.S. W. 78,14-19.

SHERIDAN, K.P., 1964. Management of lucerne. Agric. Gaz. N.S. W. 75 (1),751 - 753.

SMITH, M.V., 1970. The effect of stocking rate and grazing management on the liveweight and wool production of wethers grazing dryland lucerne pastures. Proc. Aust. Soc. Anim. Prod. 8,460 - 465.

THOMPSON, J.A., SHERIDAN, K.P. & HAMILTON, B.A., 1976. The effects of rates of stocking with rotational grazing on the productivity of dryland lucerne at Damworth, N.S.W. Aust. J. expo Agric. Anim. Husb. 16 (83), 845 - 853.

 

Published

Karoo Agric 3 (10), 26-30