Last update: April 3, 2012 02:25:16 PM E-mail Print

 

BENUTTING VAN DROOGTEBESTANDE VOERGEWASSE

 

deur C.W,P. STEENKAMP en F.C. HAYWARD

Karoostreek. Landboukollege Grootfontein

 

Droogtebestande voergewasse soos turksvye, garingbome en soutbosse is reeds lank bekend vir hul aanpasbaarheid, betreklik hoë produksievermoë en lae waterbehoeftes. Ten spyte van herhaalde aanbevelings en pleidooie is hierdie gewasse nog nie in voldoende hoeveelhede deur boere in veral die ekstensiewe boerderystreke aangeplant nie. Vooroordeel spruit waarskynlik uit onkunde betreffende die aanplant, versorging. oes en voer van die gewasse, en ook uit die feit dat dit taamlik onsmaaklik is en nie 'n onderhoudsrantsoen vir hoogs produktiewe diere is nie. As reserwe vir die oorbrugging van droogtes kan hulle egter nouliks geklop word, want hulle voldoen aan die basiese vereistes naamlik:

 

DORINGLOSE TURKSVYE

'n Ontleding van turksvyblaaie toon dat dit 'n redelik hoë energie-inhoud, maar tekorte aan proteïen, fosfor en sout het. Verder bevat dit aansienlike hoeveelhede kalium, magnesium en , kalsium wat waarskynlik daartoe bydra dat skape wat uitsluitlik turksvye ontvang, lakseer. Hierteenoor bevat die vars blaaie ook baie water wat inname beperk. Hierdie gebreke ten spyte, kan turksvye 'n baie belangrike bron van droogtevoer wees.

Die eenvoudigste manier om turksvye te benut is deur beweiding. Daar moet egter streng gewaak word teen oorbeweiding van veral die jong plante wat dikwels doodgevreet word. Daarom is dit wenslik dat die blaaie in blokkies van 2 tot 3 cm gekerf word. Die gekerfde blaaie kan tussen die rye in die plantasie gestrooi word, maar aangesien vermorsing dan baie groot is, moet dit liefs in voerkrippe geplaas word.

Turksvyblaaie kan ook as aanvullende voer by droë veld gegee word. Waar bossieveld oorwegend voorkom kan gekerfde turksvye byvoorbeeld saam met die veld en 'n eenvoudige soutfosfaatlek 'n goeie rantsoen vorm.

Gekerfde turksvye kan op enige skoon, harde oppervlakte gedroog word. Hierdie gedroogde materiaal kan deur 'n 6-mm-sif gemaal word en in meelvorm bewaar word, en is as sodanig baie geskik om rantsoene mee saam te stel. Gedroogde turksvymeel waarby 20 tot 30 persent lusernmeel gevoeg is kan, indien dit ad lib aan skape gevoer word, lei tot toename in die liggaamsmassa.

Alhoewel skape vir lang tye op vars turksvyblaaie kan oorleef, moet dit liefs met 'n proteïenryke ruvoer soos goeie peulgewashooi aangevul word. Gevolglik word aanbeveel dat ongeveer 200g lusern- of ander peulgewashooi per skaap per dag gevoer word met vrye toegang van skape tot vars gekerfde turksvyblaaie.

Waar nie-proteïenstikstof en energie met turksvye aangevul is. was die reaksie teleurstellend en gevolglik word dit nie aanbeveel nie.

Die kwaai laksering wat voorkom wanneer skape bale turksvye vreet, bet nie 'n nadelige uitwerking op die dier nie, behalwe dat die verteerbaarheid van die rantsoen ietwat daal en daar teen brommeraanvalle gewaak moet word.

 

GARINGBOOM

Garingbome is al baie lank bekend as droogtevoedinggewas en toon min of meer dieselfde tekorte as turksvye, behalwe dat dit nie so 'n oormaat kalsium, magnesium en kalium bevat nie. Dit het ook 'n laer energie-inhoud en energie moet dus saam met proteïen, fosfor en sout aangevul word.

Skape wat vanaf 'n vroeë ouderdom aan garingboom gewoond gemaak is. benut dit goed, veral wanneer dit saam met veldweiding voorsien word. Dit is egter nodig dat die dorings gestroop en die blare gekerf word.

As enigste rantsoen moet vars gekerfde garingboom verkieslik aangevul word met 200g van 'n mengsel bestaande uit 300 kg lusernmeel, 300 kg mieliemeel. 50 kg dikalsiumfosfaat en 100 kg melasse.

 

SOUTBOSSE

'n Hele aantal verskillende soutbosspesies word aangetref. maar as droogtevoer is oumansoutbos die belangrikste. 'n Ontleding van oumansoutbos dui aan dat dit 'n goed gebalanseerde samestelling het. Die enigste nadeel is die besonder hoe soutinhoud wat die plant redelik onsmaaklik maak. Hierdie hoe soutinhoud het egter geen nadelige uitwerking op die dier nie.

Alhoewel verskille in smaaklikheid tussen verskillende plante algemeen voorkom, word selfs die onsmaaklike plante naderhand goed gevreet sonder dat die diere noemenswaardig agteruitgaan. Wanneer soutbos bewei word, moet voldoende drinkwater beskikbaar wees, aangesien die vee besonder dors word van die sout in die plante. Verder moet die drinkwater so min moontlik braksoute bevat aangesien brakwater die inname van soutbos nadelig beïnvloed.

Met 'n goeie stand kan een hektaar 4 maande van die jaar voldoende kos vir 22 skape voorsien. Soutbosse herstel ook gou na beweiding en is binne 'n jaar weer geskik vir gebruik. Ooie en ooie met lammers is vanaf ses weke na paring tot en met speen op soutbosaanplantings aangehou en die speenmassas van die lammers kan as heeltemal normaal bestempel word.

Oumansoutbos kan dus ‘n uitstekende voerreserwe daarstel en bet die bykomende voordeel dat dit ook in die minimumbehoeftes van hoogs produktiewe diere soos lammerooie kan voorsien.

 

Published

Bladskrifreeks : Wolproduksie D.3.3/1975